Vroeër in 2020, toe die egskeidingshowe op 1 Maart in die Chinese provinsie Xian heropen het – nadat miljoene inwoners meer as ’n maand saam met hulle gesinne onder “inperking” geïsoleer was – het amptenare ’n rekord aantal afsprake vir egskeidings gerapporteer

. Een hofbeampte het verduidelik dat “baie paartjies al langer as ’n maand by die huis ingeperk was, wat onderliggende konflikte te voorskyn gebring het” (“Chinese city experiencing a divorce peak as a repercussion of COVID-19,Global Times, 7 Maart 2020).

Selfs in normale tye vind baie van ons dit moeilik om mekaar te vergewe. In tye van spanning kan ons dit nog moeiliker vind om diegene rondom ons te vergewe. Ons as onvolmaakte menslike wesens weet dat dit nodig is dat ander mense ons vergewe. Ons mag dalk skuldig voel wanneer ons dink dat ons nie regtig vergifnis verdien nie, hoewel ons dit ernstig begeer – veral wanneer ons nie daarin slaag om ander mense te vergewe nie.

Net so graag as wat ons vergifnis in ons menslike verhoudings wil hê, hoeveel te meer begeer ons vergifnis van God? Baie van ons het van die “onvergeeflike sonde” gehoor en wonder of ons iets so verskriklik gedoen het dat selfs God ons nie sal vergewe nie. Jesus Christus se baie ernstige waarskuwing is in die Skrif opgeteken: “Voorwaar Ek sê vir julle, al die sondes sal die mensekinders vergewe word en al die lasteringe wat hulle mag uitgespreek het; maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel” (Markus 3:28-29).

Miskien het u God in ’n oomblik van wanhoop of depressie vervloek of die werklikheid en krag van Sy Heilige Gees betwyfel. Beteken dit dat u vir ewig van God afgesny is, sonder enige geleentheid om verlos te word? Het hierdie gedagte nog dieper wanhoop veroorsaak of het u selfs kwaad geword vir ’n God wat u sou afsny sonder enige hoop op verlossing?

Die goeie nuus is dat indien u hierdie bekommernisse het – indien u regtig daaroor besorg is en geteister word deur die vrees dat u die onvergeeflike sonde gedoen het – dan het u dit nie werklik gedoen nie! Soos ons in hierdie artikel sal sien, kan slegs diegene wat nie daaroor bekommerd is nie en wat hulle harte verhard het, daardie vreeslike sonde gepleeg. Indien u u bekeer, is u sonde vergewe – met God se hulp kan u u bekeer indien u u hart daarop sit!

Bekeer of brand?

U Bybel verduidelik dat daar ’n toekomstige tyd van vurige oordeel sal kom – ’n poel van vuur vir diegene wat volhard om willens en wetens te sondig en wie die Gees van genade belaster. Die Skrif rig ’n waarskuwing aan almal wat as Christene, met “die Heilige Gees deelagtig geword het” (Hebreërs 6:4). Onthou dat God die Heilige Gees gee aan “die wat Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Indien gehoorsame Christene opsetlik na boosheid terugkeer – as hulle met ’n verharde en permanente gesindheid van ongehoorsaamheid volhou, dan leer die Skrif ons dat dit onmoontlik is om hulle “weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulle self die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak” (Hebreërs 6:6).

Ons behoort egter te verstaan dat God nie probeer om mense om die bos te lei om te sondig, sodat Hy ’n verskoning kan vind om hulle te vernietig nie. Satan kan Christene ook nie dwing om teen hulle wil, hulleself van God te distansieer nie. Die waarheid is dat God ons as deel van Sy gesin wil hê en dat ons sal deel in Sy liefdevolle lewenswyse. Hy wil hê dat ons uit ons foute sal leer, bekeer en ons lewens verander.

Pla u gewete u? Die Skrif verduidelik dat diegene wat werklik die onvergeeflike sonde gedoen het, hulle gewetens “toegeskroei” het – hulle word heeltemal verteer deur opstand teen God. Hulle is nie daaroor bekommerd om die uiterste sonde te pleeg nie. Hulle mag dalk bang wees vir hulle uiteindelike straf, maar daardie vrees is nie genoeg om hulle te keer om voort te gaan op hulle moedswillige bose en slegte weë nie. Indien u gewete u pla, is dit dalk nodig dat u uself bekeer en u weë verander. Gelukkig, indien u volgens u gewete handel, uself bekeer en teen Satan weerstand bied, kan u vry wees van vrees en skuld. Lukas vertel ons van ’n tollenaar wie se berouvolle gesindheid vir God aanvaarbaar was (Lukas 18:9-14) en wys daarop dat ’n eiegeregtige gesindheid nie aanvaarbaar is nie.

Kan u dus waarlik tot bekering kom na ’n leeftyd van sonde? Ja! Dit maak nie saak hoe ernstig u gesondig het nie, u kan tot bekering kom. Om egter te volhard in u bekering, sal u God se hulp nodig hê – die hulp wat slegs kom deur die gawe van Sy Heilige Gees. God se Gees is die Gees van krag en van liefde en selfbeheersing. Die apostel Paulus skryf so: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande. Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timótheüs 1:6-7).

Sonder daardie geestelike krag, het u en ek nie die bo-menslike krag wat nodig is om ’n voorbeeld te wees van God se heilige en regverdige karakter in ons eie lewens nie. Hoe wonderlik is dit dat God bereid is om daardie geskenk aan ons te gee, die waardevolste geskenk buiten die geskenk van Sy Seun vir die sondes van die wêreld. Wat moet ons dus doen om daardie geskenk te ontvang? Op Pinksterdag, aan die heel begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk, het die apostel Petrus die antwoord gegee: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Christene ontvang wel daardie geskenk, maar dit is ’n geskenk wat waardeer moet word en selfs aangewakker word, soos die apostel Paulus vir Timótheüs vermaan het.

“Bekeerde” Christene is diegene aan wie God die Heilige Gees gegee het (Romeine 8:9). Natuurlik sal selfs bekeerde Christene sondig – maar hulle beoefen nie sonde as ’n lewenswyse nie. Hulle ondersoek hulleself gereeld en is daartoe verbind om hulle altyd weer te bekeer. Hulle het ’n berouvolle ingesteldheid nodig en streef altyd daarna om hulle gedrag en gesindheid te verander. God is geduldig, maar dit is nodig dat ons op Sy geduld reageer, want ons tyd raak min. Streef altyd na bekering. Begeer altyd om u lewe ten goede te verander – selfs wanneer u soms deur swakheid voor versoeking swig. Vra God vir ’n gees van berou! God sal aan u berou skenk (Handelinge 11:18). Dit beteken dat Hy u die vermoë sal gee om u menslike natuur – u sondige gedagtes en gedrag – raak te sien en so jammer te wees oor u sondes dat u intens sal begeer om u lewe te verander en Sy vergifnis te ontvang. Hoe wonderlik is dit om te weet dat ons deur die bloed van Christus vergewe en deeglik gereinig kan word (1 Johannes 1:7-10).

Lastering teen die Heilige Gees

Jesus het gesê dat al die sondes van die boetvaardige vergewe sal word. Die enigste onvergeeflike sonde is lastering teen die Heilige Gees. Wat beteken dit? Hoe belaster ’n mens die Heilige Gees?

Om te laster, is om oneerbiedig van God te praat of om die Heilige dinge van God te beswadder. Een Evangelieverslag gee aan ons ’n kragtige voorbeeld hiervan: “TOE het hulle ’n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?” (Matthéüs 12:22-23).

Die skare het besef dat die geprofeteerde Messias, die Seun van Dawid, hierdie wonder sou kon verrig, maar die Fariseërs het valslik beweer dat Jesus die mag van Satan gebruik het. “Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie” (Matthéüs 12:24).

Hierdie aanklaers het gelaster – hulle het spesifiek kwaad gespreek van God se wonderbaarlike werk deur die Heilige Gees en beweer dat dit die mag van die duiwel was. Jesus het hulle kragdadig gewaarsku teen hierdie besondere vorm van Godslastering: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie” (Matthéüs 12:31-32).

Dit is nodig dat ons almal op daardie waarskuwing ag slaan. Let op die apostel Paulus se waarskuwing aan Christene: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:26).

Die opsetlike sondaar is hardnekkig. Hy of sy het ’n gewete wat ingestel is om kwaad te doen. Hierdie soort sondaar sal nooit eers daaraan dink om homself te bekeer en te begeer om terug te keer na God se lewenswyse nie (vgl. 1 Timótheüs 4:2). Die onboetvaardige goddelose is nie verblind soos die res van die wêreld nie; anders as die onkundiges, het hulle “kennis van die waarheid”. Hulle weet wat die uitwerking van Christus se offer is en tog ontheilig hulle dit doelbewus. Sulke mense het “’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer” (Hebreërs 10:27).

“As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:28-29).

U kan Christus nie onder u voete vertrap as u nog nooit waarlik van Hom gehoor het nie. U kan nie kwaadpraat oor iets waarvan u nie weet nie. Een van die mees vertroostende en bemoedigende waarhede van die Bybel is dat die meeste mense deur die geskiedenis heen – individue wat volgens baie mense vir ewig verlore is – in werklikheid geestelik verblind was. Die meeste van die miljarde mense wat geleef en gesterf het, het nog nooit eers die naam van Jesus Christus gehoor nie. Selfs die meeste mense wat Sy naam gehoor het, het nog nooit waarlik gehoor wat Hy verkondig het nie, naamlik die ware Evangelie van die Koninkryk van God. Sonder God se Waarheid was hierdie mense beslis vleeslik en wêrelds. Sommige van hulle was selfs boos. Hulle sal beslis geoordeel word soos wat die goddelose mense van Sodom en Gomorra geoordeel was. Het hierdie verblinde mense dan die onvergeeflike sonde gepleeg? Jesus het gepraat van die mense in die stede wat hulle moes bekeer tydens die prediking van Sy dissipels: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad” (Matthéüs 10:15). Dit dui daarop dat selfs die goddelose mense van Sodom en Gomorra hulle geleentheid sal hê om gered te word. Net soos die miljarde mense wat in onkunde oor die boodskap van Christus geleef en gesterf het. Vir hulle berei God die Groot Wit Troon oordeel voor (Openbaring 20:11-15), waar hulle vir die eerste keer die Waarheid sal ontvang en hulle eie geleentheid sal hê om dit te aanvaar of te verwerp.

Is u besig om u hart te verhard?

U wonder miskien: Hoe en waarom sou iemand die verskriklike keuse maak om die Heilige Gees te belaster en tot doelgerigte, opsetlike rebellie teen God oor te gaan? Mnr. Herbert W. Armstrong, ons voorganger in hierdie werk, het beskryf hoe daardie doelbewuste keuse gemaak kan word: “Dit kan dalk voortspruit uit verkeerde denke; van ’n verkeerde begeerte wat bedink is en oorgaan in ’n finale vaste, permanente besluit aangaande Sy lewenswyse; of om in sy hart wrewel te koester teenoor óf God óf iemand wat hom kwaad aangedoen het. Om toe te laat dat wrewel hom verbitter, totdat hy sy hele lewenspad verander en homself van God distansieer” (What Do You Mean – “The Unpardonable Sin”?, bl. 34, 1972).

Dit gebeur selde dat iemand een oggend wakker word en besluit: “Vandag gaan ek myself heeltemal van God distansieer”. Dit gebeur dikwels geleidelik en begin met ’n verharde en voortdurende verwaarlosing van ons geestelike prioriteite. Sodanige verwaarlosing sal lei tot ’n “traak-my-nie-agtige” houding – ’n gesindheid wat kan lei tot ’n verharde hart en die onvergeeflike sonde. “DAAROM moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1). Anders, “hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam” (vers 3)? Ja, as Christene moet ons onsself daartoe verbind om die Here te soek terwyl Hy gevind kan word. Volhard in gebed en Bybelstudie. Kies om geestelik wakker te bly. Ons moet daartoe verbind wees om geestelik aktief en oplettend te bly!

Vermy bitterheid!

Gekrenkte gevoelens lei dikwels tot wrokkigheid en dit verander in haat en bitterheid. Dra u ’n wrok en is haatdraend teenoor iemand? Ons moet altyd waak teen sulke gevoelens. Onthou: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie ...” (1 Johannes 3:15). Indien u sulke gevoelens koester, is dit nodig dat dit oorwin word, deur te kies om God te vrees en om die erns van haat en wrewel te verstaan.

In die Bergpredikasie het Jesus ’n ander teenmiddel gegee vir gevoelens van haat en die begeerte om wraak te neem.

“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matthéüs 5:43-45).

Hoe belangrik is hierdie opdrag? Onthou wat Jesus ons leer in Sy modelgebed – dikwels die Onse Vader genoem: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Matthéüs 6:12). Bid u so? Vergewe u ander mense met dieselfde ywer waarmee u wil hê dat God aan u Sy vergifnis skenk?

Ja, hierdie is ’n totaal ander lewenswyse. Dit is in teenstelling met vandag se selfsugtige, hebsugtige, “ek-eerste” filosofie. Dit is egter die lewenswyse wat die Seun van God ons leer en die lewenswyse wat almal in die Millennium sal aanleer – Christus se toekomstige duisendjarige heerskappy op aarde. Probeer dit! Staan letterlik op u knieë en bid vir die welstand van iemand wat u selfs haat. U sal verbaas wees oor die verligting van spanning wat u sal ervaar. Natuurlik kan sommige van ons wat ouer is, gesondheidstoestande hê wat dit moeilik maak om op ons knieë te bid. Doen dus wat u kan en weet dat God die gesindheid van u hart ken, selfs al is u net figuurlik “op u knieë”.

Wanneer u bid, vertrou dat God volgens Sy oordeel, onreg sal wreek. Soos die apostel Paulus skryf: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Wanneer ons tyd aanbreek, moet ons almal voor die regterstoel van Christus staan (Romeine 14:10). Vertrou God om die goddelose te straf, net soos wat Hy sê Hy sal.

Wees ’n vredemaker!

Slaan ag op nog een sleutel om bitterheid te oorwin: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:14-15).

Jesus sê in die Bergpredikasie: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matthéüs 5:9). Hy het ook gesê: “[D]oen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:44). Sal u Sy uitdaging aanvaar? Sal u uself voor God verootmoedig en vir u vyande bid? Dit is al ’n groot stap in die rigting van oorwinning oor enige wortel van bitterheid wat u mag hê.

’n Mens kan ook die Heilige Gees verloor en die weg volg na die onvergeeflilke sonde deur voortdurende verwaarlosing. Verwaarloos u gebed, Bybelstudie en samesyn met bekeerde Christene?

Hierdie wêreld vereis soveel van ons aandag dat ons van ons geestelike prioriteite afgelei kan word. Wat is u persoonlike doel in die lewe? Jesus het gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Volgens ons Verlosser behoort dit ons doel in die lewe te wees! Wanneer ons ons geestelike prioriteite verwaarloos, lei dit tot geestelike swakheid en laat ons kwesbaar vir die bitterheid wat uiteindelik kan veroorsaak dat ons God verwerp.

Hoop vir u toekoms!

Nadat God Sy beloftes aan die aartsvader Abraham gegee het, het dit op die oog af gelyk asof die vervulling van hierdie beloftes onmoontlik was. Let egter op wat die Bybel oor Abraham se gesindheid sê: “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees” (Romeine 4:18).

Abraham het teen alle hoop, in hoop geglo – die Nuwe Vertaling stel dit so: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo”. Daar is egter nie net hoop nie, maar ook belofte – die belofte van ’n nuwe wêreld, die Koninkryk van God op aarde en die duisendjarige regering van Jesus Christus. Jesus het beloof om na die aarde terug te keer en ’n blywende wêreldwye vrede te vestig. Die Bybel is gevul met God se beloftes aan u. U kan sekerheid hê, ’n verwagting en ’n hoop vir die toekoms. Paulus het verder gesê: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus” (Efésiërs 2:13).

Verbind uself tot verandering!

Wanneer u van God afgesny voel, kan u versoen raak! U kan hoop hê. Deur die bloed van Christus kan u nader aan God gebring word. Indien u advies van ’n leraar wil hê, skakel of skryf aan die streekkantoor die naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif.

Indien u daartoe verbind is om u lewe te verander en indien u werklik jammer is oor u sondes en u wil regtig bekeer, sal u vergewe word. ’n Noodsaaklike sleutel om die onvergeeflike sonde te vermy, is om altyd ’n berouvolle gesindheid te hê. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Dit is nodig om ons sondes aan ons God en Verlosser te bely. Ja, God wil na aan u wees – nie net aan die mense wat deur die wêreld as “belangrik” of “spesiaal” beskou word nie. Dink aan die Evangelieboodskap van die tollenaar van wie Jesus gesê het dat hy, éérder as die Fariseër, geregverdig na sy huis gegaan het. Hy het gebid: “o God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13-14). Indien u aan uself dink as ’n nederige sondaar wat opreg vergifnis begeer, het u nie die onvergeeflike sonde gepleeg nie en ja, u kan vergewe word!

Mag God u help om Hom heelhartig te soek, want Hy kan u sondes vergewe en u van alle ongeregtigheid reinig. Wanneer ons hierdie berouvolle gesindheid handhaaf, kan ons weet dat ons nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie en dit nie sal pleeg nie!