Indien u genesing benodig, behoort u die antwoord op hierdie vraag te ken!


Midde in ’n krisis, vra ons dikwels: “Waar is God?” Ons wonder: “Waarom laat Hy toe dat ek so ly?”, of selfs: “Waarom laat Hy toe dat my geliefde sterf?” Hierdie soort vrae mag deur ons gedagtes gaan in spanningsvolle en wanhopige oomblikke, wanneer ons gekonfronteer word met siekte en pyn – selfs die wrede werklikheid van die dood.

Ons vra moontlik egter die verkeerde vrae. In plaas van om God te oordeel omdat Hy nie gou ingryp nie, behoort ons egter ’n ander vraag te vra. Indien ons God se genesing nou benodig, moet ons die fundamentele vraag vra: Waarom skenk God genesing?

Om genesing te verstaan, moet ons ’n beter perspektief van siekte en dood verkry. Wat is God se perspektief van ’n menslike lewe? Ten eerste, die menslike lewe is van korte duur! Vergelyk dit met God se lewe, en die verskil is ontsaglik! Die profeet Jesaja verduidelik: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam ...” (Jesaja 57:15). God het in die verlede die ewigheid bewoon en Hy sal in die toekoms vir ewig daarin voortleef. Dit is vir ons verstand moeilik om te begryp! Boonop is Hy ook besig om ons voor te berei om daardie nimmereindigende lewe met Hom te deel deur die opstanding uit die dood (Johannes 5:24). Ons het ’n verstommende toekoms wat ons, uit ons huidige perspektief, maar net kan begin om te verstaan!

Terwyl hy oor die kortstondigheid van die menslike lewe nagedink het, het Koning Dawid opgemerk: “My dae is soos ’n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek” (Psalm 102:12). Ons kortstondige lewe lei egter na ’n grootse en wonderlike toekoms: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11).

God laat soms genadiglik toe dat ’n persoon sterf – selfs ’n regverdige persoon – om ’n toekomstige tyd van swaarkry gespaar te word. Hierdie is ook ’n belangrike begrip om te verstaan. “Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid” (Jesaja 57:1), of, soos die Nuwe Lewende Vertaling dit stel, “... om aan boosheid te ontkom”. Desnieteenstaande, genees God wel dikwels.Waarom?

Om genade te bewys

Ten spyte van alles is ons God ’n barmhartige en genadige Vader wat weet waaruit ons saamgestel is, wat ons fisiese swakhede en ons broosheid ken (Psalm 103:14). Jesus Christus Self het gekom sodat ons “lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Hy het Sy lewe opgeoffer vir ons sondes en Hy het ook Sy liggaam aangebied om gebreek te word vir ons siektes – vir ons genesing (1 Petrus 2:24). Ons lees dat toe Jesus die groot skare sien wat Hom volg, het Hy “innig jammer vir hulle gevoel en Hy het hulle siekes gesond gemaak” (Mattheüs 14:14).

Sommige mense dink dat om na God op te sien vir genesing, vir die minderontwikkelde Christene is en dat wonderbaarlike genesings slegs beperk was “tot ’n meer primitiewe tyd” wat minder gesofistikeerd was as ons eie (Healing, Francis McNutt, bll. 17, 20). Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie! Goddelike genesing is vir God se getroue mense van alle eeue. Baie van ons wat vandag leef, kan getuig in ons eie lewens soos wat Koning Dawid van weleer duisende jare gelede geskryf het: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke. Die Here sal hom red op die dag van nood, die Here sal hom beskerm en in die lewe hou ... Die Here sal hom bystaan in sy siekte. As hy siek is, sal U hom genees” (Psalm 41:2-4 NV).

God genees ons omdat Hy vir ons lief is en aan ons genade betoon, soos ons na Hom opsien in geloof en gehoorsaam is aan Hom. Net soos enige liefhebbende Vader, put Hy baie vreugde daaruit om aan Sy kinders gawes te skenk wat vir hulle goed is. God het egter ook ander redes vir genesing. Wat is hulle?

As beloning vir geloof

Wanneer ons genesing benodig, doen ons wat vanselfsprekend is? Gaan ons na God en vra Hom daarvoor? Jesus Christus het Sy dissipels beveel om tot hulle Vader te bid, “te vra, te soek, en te klop” vir die dinge wat hulle nodig het. Hy verduidelik: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mattheüs 7:11).

Die beginsel is: Dit is nodig dat ons vra! God wil hê dat ons na Hom moet kom om ons versoeke voor Hom te stel en dan om verligting te vra. Nogtans, soos die skrywers James en Carol Garlow uitwys: “Ironies genoeg, is dit gewoonlik wanneer ons God se helende krag die meeste nodig het, dat ons dit die moeilikste vind om daarvoor te vra” (God Still Heals, bl. 20).

Waarom is ons soms bang om te vra? Voel ons verwyderd van God, skaam oor ons sondes? Voel ons onwaardig om God se ontsaglike seëninge te ontvang? Ons moet nie toelaat dat enigiets ons daarvan weerhou om God nederig om genesing te vra nie. Indien u genesing nodig het, gaan na God en roep uit tot Hom! Bekeer u van sonde en vra Hom om u te vergewe. Vra Hom om u te help om Hom meer ten volle te gehoorsaam. Maak seker dat Hy weet dat u ernstig is met u versoek. Moet nie moed opgee nie! Leer uit die voorbeeld wat Jesus gegee het van die weduwee wat volhard het (Lukas 18:3-7).

Die profeet Hosea het die ongehoorsame nasie van Efraïm streng bestraf omdat hulle ’n uitwendige vertoon van godsdienstigheid gehad het, maar nie werklik uit hul hart uit gebid het nie! “Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde” (Hosea 7:14). Indien ons desperaat antwoorde op ons gebede benodig, behoort ons werklik ’n hartstogtelike poging aan te wend om nader aan God te beweeg.

Om God in geloof te vra, beteken ook om Sy antwoord te aanvaar – maak nie saak wat dit mag wees nie! Sommige mense aanvaar dat indien God nie hul versoek toestaan nie, Hy nie hul gebede verhoor het nieVerslaggewer William Lobdell is die skrywer van Losing My Religion: How I Lost My Faith Reporting on Religion in America – And Found Unexpected Peace. Die boek beskryf sy reis van ongeloof na hoofstroom Christelikheid, dan terug na ateïsme. In ’n onderhoud wat met hom gevoer was oor sy boek, het Mnr. Lobdell gesê: “’n Groot keerpunt in my ommekeer van bekering het gekom omdat daar geen wettige studies is om te bewys dat gebed wel werk nie” (“Losing his religion, finding peace”, Charlotte Observer, 7 Maart 2009).

Werk gebed nie? Uit wie se oogpunt? Gaan gebed slegs oor wat ons wil hê – of gaan dit eerder oor ons soeke na God se wil eerder as ons eie? Alhoewel die apostel Paulus God drie maal gesmeek het om hom te genees van die “doring in sy vlees”, kom dit tog voor asof God gesê het: “Nee!” Het Paulus gereageer deur sy “godsdiens te verloor”? Geheel en al nie! Hy het in die geloof aanvaar dat God se wil oorheersend is. “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Korintiërs 12:10).

Dawid was ’n man van God wat vuriglik en herhaaldelik gebid het dat God hom moes verlos. Hy het uitgeroep tot God: “Keer terug, Here, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil. Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” (Psalm 6:5-6). Wat het Dawid werklik gesê? Hy het eintlik aan God gesê: “Ek wil graag langer tyd hê om volgens U weg te lewe, Here. Ek wil graag meer tyd hê om U werk te doen. Ek wil graag meer tyd hê om, in my lewe, my aan U wil te onderwerp”. Wanneer ons God vra om genesing en verlossing, probeer ons werklik om nader aan Hom te kom? Vra ons Hom dalk slegs om ons pyn weg te neem?

Die apostel Jakobus verduidelik wat die rol van God se leraars is in ons genesing. Wanneer ons goddelike genesing nodig het, beveel die Skrif dat ons Sy leraars moet laat kom en vra om gesalf te word. “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word” (Jakobus 5:14-15). Daar is geen magiese krag in die leraar self of in die olie wat hy gebruik om mee te salf nie. Dit is God wat die genesing laat plaasvind, ongeag of die leraar self sy hande op die sieke lê, of slegs ’n gesalfde lappie aan die sieke stuur. Indien u God se genesing nodig het, moet nie huiwer om met een van God se ware leraars in verbinding te tree om berading en salwing aan te vra nie.

Om Homself te openbaar

In die afgelope dekades het baie mense in ons Westerse nasies belang verloor in God en baie het heeltemal tred verloor met Hom. ’n Onlangse artikel in die Associated Pressbeskryf hierdie kommerwekkende tendens: “’n Wyduiteenlopende opname oor Amerikaanse godsdienstige lewe ... het bevind dat die persentasie Christene in die nasie afgeneem het en meer mense sê dat hulle geen godsdiens beoefen nie” (“More Americans say they have no religion”, 9 Maart 2009). Die navorsers het bevind dat die persentasie persone wat aandui dat hulle “geen godsdiens beoefen nie” bykans verdubbel het in die jare tussen 1990 tot 2009. Met ander woorde, groter getalle mense in ons moderne wêreld erken dat hulle God eenvoudig nie ken nie!

Nogtans het God in antieke tye wonderwerke, soos goddelike genesing, verrig om te openbaar wie Hy is! Toe God Israel verlos het uit Egiptiese slawerny, moes Hy Homself – insluitende Sy mag – weer bekend maak aan ’n ongelowige en skeptiese nasie. Bykomend tot die openbaring van Sy Sabbat, Sy Heilige Dae en Sy Gebooie, het God Homself openbaar deur dade van wonderbaarlike genesing.

Toe Moses en die Israeliete by Mara aangekom het, het hul gevind dat die waters aldaar bitter en ondrinkbaar was. God het egter die waters genees en aan die volk gesê: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Eksodus 15:26).

Moontlik het u ’n beslissende keerpunt in u lewe beleef toe God u dramaties genees het of beskerm het teen ’n verskriklike ongeluk. Vir baie mense is ’n gebeurtenis soos dit een van die eerste en kragtigste tekens dat God hulle tot bekering en doop roep. Daar is niks soos ’n bonatuurlike genesing om ons te laat besef dat God betrokke is in ons lewens nie. Dit trek werklik ons aandag!

Indien God u in die verlede genees het, wees dankbaar. Bedank Hom daarvoor en dink na oor waarom God u genees het. Hy mag u uit ’n ongelowige geslag geroep het na ’n hegter en meer gehoorsame verhouding met Hom (Johannes 6:44).

Om aandag te vestig op Sy Werk

Jesus Christus het verstommende wonderwerke verrig toe Hy op hierdie aarde was. Een rede waarom Hy Sy dramatiese genesings gedoen het was om die aandag te vestig op Sy Werk om die Evangelie te verkondig. Johannes se dissipels het na Christus gekom en Hom gevra of Hy wel die Messias is. Let op hoe Hy reageer het: “En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig” (Lukas 7:21-22).

Bybelse profesie toon aan ons dat vals leraars teen die eindtyd misleidende wonderwerke sal doen (Mattheüs 24:24). Die Skrif profeteer die verskyning van ’n “wettelose” mens (NV) wat sataniese “tekens en wonders van die leuen” sal verrig (2 Thessalonicense 2:9) en diegene sal mislei wat nie werklik tot die liefde van die Waarheid gekom het nie. Hierdie bose persoon sal in staat wees om “ook groot tekens [te doen], sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:13).

Christus het egter aan Sy dissipels vertel dat hulle bemagtig sal word om werklike wonderwerke van God te verrig – insluitende die genesing van siekes (Markus 16:18). Hierdie wonderwerke sal in die konteks wees van verkondiging van die Evangelie en voorbereiding vir die wederkoms van Christus na die aarde. “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word” (Markus 16:15-18).

Hoe sal u in staat wees om te onderskei tussen die “tekens en wonders van die leuen” en die wonderwerke van God se getroue, ware dienaars? God se ware wonderwerke laat die klem val op die Werk om die ware Evangelie te verkondig. Hulle bevestig die waarheid van die Bybel. God se wonderwerke vestig ons aandag op Sy boodskap wat deur Sy ware dienaars verkondig word. Satan se “wonderwerke” probeer om ons aandag af te lei van God se Waarheid. Moet nie toelaat dat u gefop word deur “wonderwerke” wat poog om die duidelike, eenvoudige waarheid te misken wat deur Jesus verkondig en in u Bybel aangeteken is nie!

Om Sy kinders te toets

Kan genesing ’n toets wees? Indien u daaroor nadink, kan groot seëninge soms ’n onverwagte toets wees. In die geval van goddelike genesing mag die beproewing en toets nie eindig wanneer ons genees is nie. Nadat God ons gesond gemaak het, behoort ons onsself af te vra: Het ons lewens verander? Indien ons beloftes aan God gemaak het toe ons gely het, het ons daardie beloftes gehou en blywende verandering in ons lewens aangebring? Of, nadat God ons uit ons pyn verlos het, het ons moontlik maar weer teruggeval in ons ou gewoontes en gesindhede?

Moontlik het u dit self waargeneem – iemand word dramaties genees van ’n ernstige siekte, om na ’n paar maande of jare van blakende gesondheid, weer weg te dryf van God se manier van lewe af, of om selfs hoegenaamd nog in God te glo. Wat is die les? Fisiese genesing waarborg nie geestelike groei nie, nogtans is geestelike groei en diepte uiteindelik God se doel met die beproewings en toetse wat ons ervaar.

Terwyl Jesus deur Samaria en Galilea gegaan het, het Hy ’n dorpie binnegegaan waar tien melaatses gewoon het. Terwyl Hy nader gekom het, het hul uitgeroep om genade. Hulle het om verlossing van hul gevreesde siekte gesmeek. Jesus het reageer deur te sê: “Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ’n groot stem verheerlik” (Lukas 17:14-15).

Dink net! Nadat hulle deur hierdie verskriklike en ongeneeslike siekte aangetas was, was al tien skielik en wonderbaarlik daaruit verlos. Hul lewens het skielik en dramaties ten goede verander! Slegs een van die tien melaatses het egter moeite gedoen om terug te draai en God vir sy wonderbaarlike genesing te bedank. Wat van ons? Hoe gou vergeet ons ons wroeging en ontsteltenis – en die beloftes wat ons aan God gemaak het – sodra ons uit ’n beproewing verlos is? Hoe belangrik is dit egter om dankbaarheid en eer aan God te bewys asook vernuwing van ons verbintenis en gehoorsaamheid aan Hom wanneer Hy ons seën – met inbegrip van goddelike genesing.

Dus, waarom skenk God genesing? Deur Homself te openbaar, om die aandag te vestig op Sy Werk, asook om Sy mense te beproef. Hy genees omdat Sy seuns en dogters Hom daarom vra in geloof en gehoorsaamheid, Hy genees uit Sy onbeperkte genade en goedertierenheid.

Het u tans ‘n gesondheidsprobleem wat u laat ly? Benodig u goddelike genesing? Indien wel, maak seker dat u nie God daarvoor blameer nie. Sien eerder met dankbaarheid op na Hom vir Sy wysheid en Sy plan, wetende dat Hy Sy wil in u lewe kan en sal volbring namate u na Hom opsien in vertroue en gehoorsaamheid.