Ons leef in ’n wêreld van onmiddellike bevrediging teen die spoed van die Internet. Pornografie is maklik om te kry en baie mense vind dit moeilik om daaruit te ontsnap. Met God se hulp kan u vry wees!

Pornografie is besig om die siel van die Westerse wêreld te verrot. Is daar hoop vir ’n wêreld wat toenemend verslaaf raak aan wellus? Is daar hoop vir u indien u verslaaf is aan pornografie?


 Aan die begin is dit so “onskuldig”. Ten minste, dit lyk so. Net ’n vlugtige blik, ’n vinnige kykie – ’n siddering van opwinding. Dan nog ’n kykie. ’n Oomblik van nuuskierigheid verander in bekoring. Dit trek ’n mens in, totdat u in die dryfsand van skaamte en skuldgevoelens wegsink. Een keer word twee, dan drie. Een minuut word ’n uur. ’n Kortstondige oomblik van vermaak word ’n gewoonte wat oor maande en jare strek. U verloor van die waardevolste dinge in u lewe. Moontlik u werk. Miskien u man of vrou, meisie of kêrel. Die pynlikste van alles is egter, u verloor u integriteit en selfrespek.

Dit is “die nuwe dwelm” in die Westerse kultuur: Pornografie. In die Verenigde State van Amerika alleen is vier miljoen mense verslaaf daaraan – rofweg net soveel mense as wat verslaaf is aan kokaïen, heroïen en metamfetamines tesame40 Miljoen Amerikaners erken dat hulle gereeld na pornografie kyk. Dit is egter nie net ’n probleem in Amerika nie. Twee-derdes van alle Australiërs erken dat hulle af en toe na pornografie kyk en baie is ernstig verslaaf daaraan. Sewentig persent van alle Britse mans tussen die ouderdomme 18–34 erken hulle kyk ten minste een keer per maand na pornografie. In ’n VN-verslag oor die seksualiteit van tieners in Ierland, het 78% van die tienerseuns en 40% van die tienermeisies erken dat hulle na pornografie op die Internet kyk (“Changing the Future: Experiencing Adolescence in Contemporary Ireland”, UNICEF, Desember 2010).

Wat is aan die gang? Is daar hoop vir miljoene mense wat verswelg word deur ’n lewenswyse wat vol wellus is?

Waarom geen “Oorlog teen Pornografie” nie?

Daar is geen beroemde “Oorlog teen Pornografie”-veldtogte soos daar teen dwelms is nie. Daar is geen gesamentlike poging deur regerings en agentskappe om hierdie kanker te beveg nie. Nogtans tas dit die brein op presies dieselfde manier aan as wat onwettige dwelms dit doen. Wanneer ’n persoon na pornografiese materiaal kyk, word die brein oormatig blootstel aan plesier-chemikalieë soos dopamien, serotonien, oksitosien en epinefrien. Die brein herbedraad homself om die ekstra chemikalieë te akkommodeer. ’n Mens bou ’n verdraagsaamheid teenoor en ’n afhanklikheid van die chemikalieë op. ’n Mens gaan dan verder van ’n drang na die plesier-chemikalieë wat mens laat goed voel, na ’n “behoefte” daaraan. Pornografie is die nuwe dwelm-epidemie en dit is besig om die wêreld in die vorm van ’n stille storm in te neem.

Net soos met enige ander dwelm, is duisende mense besig om skaamteloos munt te slaan uit hulle slagoffers. Pornografie is ’n multi-miljard dollar bedryf. Smouse van hierdie verdraaide vorm van “vrye spraak” beveg skaamteloos pogings om onwettige materiaal te bekamp, ongeag hoe vulgêr of afbrekend dit mag wees. Televisie en films beeld dit uit as onskuldige pret. Sommige raadgewers wat onder ’n wanindruk verkeer, moedig selfs paartjies aan om na pornografie te kyk om hulle huweliksprobleme te help oplos. Wat ’n tragiese en verskriklike fout!

Party mense redeneer dat om na ’n paar erotiese beelde te kyk, glad nie so erg is nie – dit is ’n “slagofferlose misdaad”. Wat dan van die mense – oorweldigend vroue – wat hulleself verkoop, of verkoop word om die porno-industrie aan te vuur? Wat van die verslaafdes self? Is hulle werklik vervulde mense en word hulle bevredig deur ’n gewoonte wat hulle vasketting aan ’n siklus van onbeheersde wellus, gevolg deur ’n afwaartse wenteling na selfveragting?

Navorsing wys toenemend op die absoluut vernietigende gevolge wat pornografie op diegene het wat onder sy betowering beland: ’n Verhoogde kans vir ernstige kliniese depressie, ’n gevoel van eensaamheid, verlies van werk, finansiële verlies, ontrouheid in die huwelik en egskeiding. Die verrassendste gevolg van pornografie is moontlik die feit dat baie verslaafdes hulle vermoë verloor om seks te geniet of selfs met ’n werklike persoon daarmee betrokke te raak.

In hulle boek, The Porn Trap, beskryf die skrywers, Wendy en Larry Maltz, die vernietigende gevolge van pornografie. “Omdat die gebruik van pornografie dikwels hoë vlakke van oneerlikheid en geheimhouding meebring, sê diegene wat daarin vasgevang is dikwels dat hulle geïsoleerd, skaam, depressief, vals en sedelik blootgestel voel en in sommige gevalle selfs selfmoord oorweeg ... Die meeste pornografie-gebruikers met wie ons berading gehad het of met wie gepraat is, is verbaas oor hoe maklik pornografie verander van ’n afleiding of fantasie wat nou en dan plaasgevind het, tot ’n probleem van verslawing wat die potensiaal het om byna elke aspek van hulle werklike lewe te vernietig ... dit vernietig hulle verhoudings, hulle werk, hulle selfbeeld en selfs hulle drome en begeertes” (bll. 2-3). Wat is dan nou die oplossing?

Antieke raad

Duisende jare gelede het die patriarg, Job, geskryf dat hy baie versigtig is oor waarheen hy sy oë toelaat om te dwaal: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?” (Job 31:1). Spreuke 6:23-25 gaan voort: “Want die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir ’n slegte vrou, vir die gevlei van ’n vreemde tong. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie”. Die apostel Johannes herhaal dieselfde waarskuwing: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). Seksuele wellus en om te begeer is nie nuut nie, maar ’n baie ou versoeking wat al baie sterk manne laat sneuwel het (Spreuke 7:26).

Die apostel Jakobus verduidelik hoe ons versoek word en waarheen dit lei: “Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep” (Jakobus 1:14 NV). Die volgende vers sê dat wellus tot sonde lei en dat sonde tot die dood lei (Jakobus 1:15). Watter soort dood word deur pornografie veroorsaak? Die dood van jou karakter en jou selfbeeld. Die dood van vertroue en integriteit. Die dood van eer en selfvertroue. Die dood van die genot van normale, gesonde verhoudings. Die potensiële fisiese dood deur seksueel-oordraagbare siektes as gevolg van losbandigheid. Die uiteindelike dood is in die poel van vuur, die “tweede dood”, waar die “ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars” sal verbrand (Openbaring 21:8). God wil nie hê dat enige iemand moet sterf nie, maar eerder dat hulle hulle bekeer en leef. “So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Esegiël 33:11). God haat pornografie want dit vernietig die lewens van Sy kinders wat Hy in Sy Koninkryk wil hê.

Indien u verslaaf is aan pornografie, maar wil verander, is daar goeie nuus – u kan! Eers moet u egter verstaan dat u ’n magtige, geestelike vyand, Satan die duiwel, het wat nie wil hê dat u moet verander nie. Hy het die hele wêreld mislei en mense na die sonde toe gelei (Openbaring 12:9). Dit is hy wat wil hê dat u verswelg moet word deur verslawing. Die apostel Petrus waarsku ons egter dat ons bedag moet wees op sy aanvalle. Hy sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is” (1 Petrus 5:8-9).

Satan slaan munt uit skande. Hy wil hê dat verslaafdes oorweldig moet voel. Indien u verslaaf is aan pornografie, wil Satan hê dat u moet voel asof u die enigste een is wat met so ’n probleem worstel. Hy wil hê u moet alleen, geïsoleerd en onwaardig van God se vergifnis voel. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie! Soos die apostel Paulus skryf: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens” (1 Korinthiërs 10:13-14).

Verslawing is afgodediens. Wanneer u aan iets verslaaf is, smag u so na iets of iemand, dat alle ander dinge uitgesluit word. Wanneer u die drang ervaar, word dit allesoorheersend en onmoontlik om dit te keer. ’n Mens kry nooit genoeg nie soos Spreuke 27:20 aan ons sê. Een van die leuens wat verslaafdes hulleself wysmaak is: “Ek kan enige tyd ophou” of “dit is glad nie so ernstig nie”. Indien u verslaaf is aan pornografie, hou op om vir uself te lieg en kry hulp! Indien u vasgevang is in die sonde van begeerlikheid en afgodery dan stel u u begeerte na “’n gemaakte ding” voor die God wat aan u lewe skenk en aan u elke asemteug gee! Hy neem dit baie ernstig op! Paulus sê: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is” (Kolossense 3:5). Om verslaaf te wees aan seksuele voorstellings is regtig nie veel anders as om voor ’n afgod van klip of hout neer te buig nie. Dit is net afgodsdiens van die hart.

God wil hê dat ons vry moet wees. Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Hy gaan voort: “Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde” (vers 34 NV). Die apostel Paulus herhaal dieselfde leerstelling: “Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe” (Romeine 6:16 NV). Paulus verduidelik dat God wil hê ons moet vry wees van die kettings van sonde en slawe word van “... geregtigheid tot heiligmaking” (vers 19). Hy wil hê dat ons “... vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” moet ervaar (vers 22).

Word skoongemaak!

Indien u verslaaf is aan wellus, maar daarvan bevry wil word, dan kan u! Wend u na God met u hele hart – met alles wat u het. Onderwerp u lewe aan Hom met u hele wese. Alles daarvan behoort in elk geval aan Hom, want Hy het u gemaak! Verootmoedig uself voor die ewiglewende God. Soos Jakobus skryf: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jakobus 4:7-10).

Vra die Here om aan u bekering te skenk en om ’n ware verhouding met Jesus Christus te hê. U Verlosser het vlees geword sodat Hy kan verstaan hoe dit is om mens te wees. Hy het die versoekings van die vlees ondervind, maar Hy het nooit gesondig nie (Hebreërs 4:15). Omdat Jesus Christus op aarde was en versoeking ervaar het, kan Hy diegene wat daarna streef om dit te oorwin, vertroos en bemoedig. Hy kan aan hulle deur Sy Gees krag gee om dit waarlik te oorwin! “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18). Met ander woorde, daar is hoop om te kan oorwin!

Indien u werklik die verslawing wil oorkom, sal u noodwendig ’n paar konkrete veranderings in u lewe wou maak. U sal verkies om weg te bly van plekke waar u weer in versoeking gelei kan word (Spreuke 7:25). Indien ou vriende die oorsaak is dat u sal terugval in u ou gewoontes, is dit tyd om nuwe vriende te maak (Spreuke 1:10)! U ou kennisse mag dalk nie so opgewonde wees oor u nuwe standaarde nie (1 Petrus 4:4) – maar die ewige lewe maak die opoffering die moeite werd!

Dit is nodig om persoonlike gedragsreëls te hê wat ’n mens ver weg hou van die “afgrond” af. Vir die porno-verslaafde beteken dit Internet-filters en vennote wat u sal help met die verantwoordelikheid – iemand op wie u kan staatmaak om van tyd tot tyd seker te maak of u by die reëls hou. Dit is die moeite werd! God raai ons nie net aan om weerstand te bied teen immorele gedrag nie – Hy sê vlug ver weg daarvan (1 Korinthiërs 6:18)! Leer aan wat die “snellers” vir u verslawing is. Wanneer kom u in die versoeking? Wanneer u onder druk verkeer? Depressief is? Verveeld is? Wanneer u nie gebid of gestudeer het nie en nie naby aan God is nie. Deur uself te ken en u gedragspatrone te ontleed, kan u beter toegerus wees om te weet wanneer u in gevaar verkeer en die regte stappe neem om te verhoed dat u “oor die afgrond stort”.

Wees gevul met God se Gees!

Die uiteindelike oplossing vir verslawing is groter geestelike diepte en doelgerigtheid – ’n dieper verwantskap met God, om werklik magte wat so sterk is soos verslawing te oorkom, het ons God se hulp nodig. Soos Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof [van] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Pornografie is nie ’n onoorkombare vyand nie. Oorwinning verg egter toewyding aan uself en u verhoudings. Soos skrywers Stephen Arterburn en Fred Stoeker skryf inEvery Man’s Battle: Winning the War on Sexual Temptation One Victory at a Time: “Die stryd om reinheid gaan daaroor om ... u vrou se held te word en nie haar nagmerrie nie en om te bewys dat u mans genoeg is om getrou te bly aan u verpligtings teenoor haar” (bl. 229). Die Christelike lewe is ’n stryd – al die pad tot die einde toe! “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag na die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe” (1 Timotheus 6:11-12). Indien u sukkel, moet nie moed verloor nie! Jesus Christus wat in u leef kan u denke verander. Hy kan u lewe verander! U sal egter moet kies!