Geagte Wêreld van Môre Leser,

Ek het die volgende artikel in Februarie 2020 begin saamstel terwyl ek op ’n lughawe in Thailand gesit het tydens ’n voorafbeplande reis om ons kerke en leraars regoor die wêreld te besoek. Dit was juis op dieselfde tyd toe COVID-19 geleidelik uit die Chinese stad Wuhan begin versprei het en die impak en omvang van die krisis nog nie verstaan was nie. Selfs toe het daar ’n onheilspellende atmosfeer geheers en in die groot skares mense wat op die lughawens saam gehok was, het baie mense beskermende maskers gedra. Wanneer ek terugkyk na wat ek net ’n paar maande gelede geskryf het, is ek verbaas oor hoevéél daar in ons wêreld verander het én hoe vinnig. Hoewel sommige van die opmerkings hieronder verouderd mag lyk, behoort in ag geneem te word hoe nuut en vars die situasie was toe ek dit geskryf het. Ek wil steeds hierdie eerstehandse waarnemings met u deel, saam met die meditasies wat dit geïnspireer het. Aan die einde van die artikel volg ’n opdatering.

My reis was maande tevore beplan en min het ek toe geweet dat ek op die Suvarnabhumi-lughawe in Bangkok sou sit, net soos waar ek nou hier besig is om oor hierdie onderwerp te skryf. Ek het hierheen gekom om Wêreld van Môre-medewerkers van agt Asiatiese lande te ontmoet en ’n paar dae saam met hulle deur te bring om eerstehands die werk van ons instelling hier te sien. Die eerste besoek op my reisplan was ’n besoek aan ons kantoor in Kanada, vir die grootste deel van ’n week, om vier Tomorrow’s World-beeldsendings vir ons Kanadese gehoor op te neem, waarna ek na Manila in die Filippyne gereis het om ’n Tomorrow’s World-aanbieding te lewer, asook om dáár van ons medewerkers te ontmoet.

Ek het nooit tydens die beplanning van die reis kon droom dat ek deur skares besorgde reisigers wat duidelik net een ding op die brein gehad het, omring sou wees nie. ’n Onsigbare bedreiging wat besig was om wêreldwyd vanaf Wuhan, China te versprei. Feitlik alle lughawepersoneel rondom my – sekuriteitspersoneel, restaurantpersoneel – dra allerhande soorte maskers. Vervaardigers het munt geslaan uit die krisis deur ’n verskeidenheid maskers aan te bied, baie soos wat die meeste van ons nog nooit vantevore gesien het nie. Om die waarheid te sê, ek het self een gedra, saam met baie ander Westerlinge, terwyl ek in stampvol rye gestaan het – al was dit vir geen ander rede nie as om my vrou wat tuis op my gewag het, asook al die ander mense wat oor my gesondheid bekommerd was, tevrede te stel.

Handewas, alkohol-lappies en ander vorms van ontsmettingsmiddels is oral – maar hoe kan ’n mens besmetting deur ’n onsigbare virus, wat op enige oppervlak kan skuil, heeltemal vermy? Alhoewel ek nie al te vreeslik bekommerd was nie, is dit ’n feit dat enigiemand wat in ’n stampvol vliegtuig, trein of bus op enige plek in Asië sit, die koronavirus op sy brein het, met die wete dat daar tog ’n geringe kans is om hierdie lewensgevaarlike gogga teë te kom.

Die uitdaging is natuurlik nie net in Asië nie. Ek merk op dat mense nie op vliegtuie mag klim wat na ander lande vlieg, indien hulle gedurende die laaste veertien dae in China, Macau, Taiwan of Hong Kong was nie. Personeel deel nuwe verklaringsvorms uit vir die sifting van passasiers. By hotelle, winkelsentrums en ander openbare plekke word mense se temperatuur geneem voordat hulle toegelaat word om binne te gaan. (Let wel: Nadat ons uit Thailand weg is, waar ek die grootste gedeelte van hierdie artikel geskryf het, kon ons nie in Suid-Afrika van die vliegtuig afklim voordat elke passasier individueel ’n temperatuurskandering ondergaan het nie. Selfs Lesotho – ’n land wat reg rondom deur Suid-Afrika begrens word – vereis ’n temperatuurskandering voordat iemand in die land toegelaat word. Hierdie is weldeurdagte maatreëls wat die besorgdheid van die owerhede regoor die wêreld bewys.)

Terwyl ek hier op die lughawe sit, wonder ek: Wat as COVID-19 uitloop op ’n pandemie soos wat die wêreld in 1918 beleef het, toe 25 tot 50 miljoen mense weens die Spaanse griep gesterf het? Is COVID-19 regtig so ernstig of is hierdie stappe ’n kwessie van ’n oefening in (verskoon die woordspeling), oordrywing? Is hierdie vrees geregverdig?

Ek moet sê dat om eerstehands te sien watter uitwerking die koronavirus op die wêreld het, insiggewend was. Indien dit wel op ’n wêreldwye pandemie sal uitloop en of dit slegs ’n ongerieflike vals alarm is, sal waarskynlik bekend wees teen die tyd dat u hierdie artikel lees. Ek hoop dit sal laasgenoemde wees.

Die ekonomiese impak en ons tragiese onkunde

Behalwe dat dit vrees oor die hele Asië en elders versprei, mag die grootste nalatenskap van COVID-19 die impak wees wat dit op die wêreld se ekonomieë het. Weens verstaanbare vrees word reis en toerisme verbied, wat die persoonlike lewens van miljoene mense beïnvloed. Mens kan dit aflei van die aantal gekanselleerde vlugte, veral dié wat na en van Sjanghai, Wuhan en Beijing reis. Dit is sigbaar by toeriste-oorde waar die verwagte vakansiegangers nie opdaag nie. Die getal toeriste by die Grand Palace in Bangkok is maar min in vergelyking met die aantal toeriste wat gewoonlik op ’n gewone dag daar saamdrom. Die Chinese Nuwejaar bring normaalweg duisende mense na Phuket, maar nie in 2020 nie. Dit het ’n invloed op privaat- en korporatiewe verblyf en alles wat met ’n toeristedorp gepaard gaan. Soortgelyke situasies heers oor die hele streek.

Dit is duidelik dat die gevolge van hierdie virus baie verder as Asië sal strek. Ek en my vrou was van plan om ter viering van ons 50-jarige huweliksherdenking, ’n seevaart na Alaska te onderneem, maar wie sou dit wou waag om vir wie weet hoeveel weke in ’n kiemfabriek opgesluit te wees? In so ’n scenario is die kans nou goed dat mens die virus self sal vryspring, maar nie die kwarantynmaatreëls nie, indien selfs net een besmette passasier of bemanningslid aan boord van die skip kom. Dit raak nie net die reuse korporatiewe skeepvaartmaatskappye self nie, maar ook duisende werkers wat afhanklik is van volgelaaide skepe vir hulle lewensonderhoud.

Geagte Intekenaars, ek kan sien hoe die vrees, die lewensverlies en die persoonlike en wêreldwye ekonomiese uitwerking van COVID-19 ons begin omring. Soos wat ek in twee vorige beeldsendings van Tomorrow’s World verduidelik het kon dit vermy gewees het. Dit was nie nodig dat dit gebeur het nie. Nee, die mensdom het nie die “lesse van SARS” geleer nie en het ook nie verstaan dat “Ebola voorkom kon gewees het” nie. Gaan na ons webwerf, soek na daardie programme en kyk self daarna. U sal sien dat die waarheid só voor die hand liggend is. Hierdie tragedies is onnodig en heeltemal voorkombaar. Hierdie koronavirus herinner ons aan hoe kwesbaar ons vir siektes is en hoe tydelik ons lewens is. Dit behoort ons ook te herinner aan wat gebeur as die mens dink dat hy meer as sy Skepper weet. Die meerderheid van mense het ongelukkig nie enige lesse hieruit geleer nie.

Sal daar egter ooit ’n tyd wees wanneer siektes iets van die verlede is – net ’n hoofstuk in ’n antieke geskiedenisboek? Die antwoord was nog deurgaans duidelik en dit mag u verras.

Ons liggame is wonderbaarlik geskep met wonderlike verdedigingsmeganismes teen die meeste gevare. Ons vel bied ’n kragtige beskermende versperring teen ’n wêreld van patogene wat rondom ons wemel soos haaie wat rondom ’n beseerde prooi swem. Ons bloedstroom is gevul met aanpasbare en “intelligente” teenliggaampies wat gereed is om moontlike indringers aan te val en om moordselle opdrag te gee om dit te vernietig. Ruimte vir hierdie artikel laat my nie toe om reg te laat geskied aan al die verdedigingsmeganismes waaroor die menslike liggaam beskik nie – dit is egter voldoende om te sê dat ons baie natuurlike verdedigings- en aanvalswapens in ons liggame beskikbaar het om die normale biologiese gevare af te weer. Wallace Smith het twee volledige bladsye gewy aan hierdie wonderlike aspek van God se ontwerp in sy artikel “Oorlogvoering onder u vel” wat in ons Maart-April 2019-uitgawe verskyn het.

So wonderlik as wat daardie stelsel is, weet ons al te goed dat patogene soms deur ons verdediging dring en dat ons siek word – gewoonlik net tydelik – totdat ons immuunstelsel die oorhand kry en ons weer normaal met ons lewe kan aangaan. Af en toe kry ’n virus soos SARS of Ebola egter die oorhand en ... vind ons onsself vinnig oppad om die antwoord op die eeue-oue vraag te vind: Is daar lewe na die dood en indien daar is, is ek voorbereid daarop?

Indien daar ’n liefdevolle God is ...

Ons wil almal graag verstaan, as God liefde is, waarom laat Hy toe dat die mensdom so baie ly as gevolg van siektes. Kon Hy nie ’n ander wapen sáám met ons ander verdedigingstelsels skep om die toevallige pandemies te voorkom nie? Wat van kanker, diabetes, hartsiektes en honderde ander aftakelende en dodelike siektetoestande? Watter soort God sal sulke lyding oor die mensdom bring?

Die antwoorde op hierdie vrae lê by onsself. Dink aan die vele siektetoestande waarvan ons weet, wat deur die mens sélf veroorsaak word en heeltemal voorkombaar is. Ons weet al dekades lank dat die rook van sigarette longkanker en ’n magdom ander siektetoestande veroorsaak. Mense wat oorgewig is, wat weinig oefening kry en wie se dieet te veel suiker en koolhidrate bevat, loop ’n hoër risiko om diabetes en hartsiektes te ontwikkel. Die oormatige gebruik van alkohol dra by tot lewersirrose en maak ons meer kwesbaar vir beserings en dood. Ten spyte van hierdie wydverspreide kennis, hoeveel mense hou op rook, begin oefen en verander hulle dieet? Is dit nie tyd dat ons ophou om God vir ons siektes te blameer nie, terwyl dit vir baie van ons duidelik is dat sommige van ons eie besluite veroorsaak dat ons siek word?

Wat van lewensgevaarlike siektes soos SARS, MERS, Ebola en COVID-19? Ons is tog sekerlik onskuldige slagoffers – of ís ons?

Daar bestaan geen twyfel dat die virusse wat hierdie siektes veroorsaak, nie tussen mense diskrimineer nie en mense tref wat toevallig op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is, sonder dat hulle enige misdryf begaan het. Hoe verrassend dit ookal mag klink, is die oorsaak van hierdie besmettings egter bekend én voorkombaar. Indien ons die vraag ter syde stel of hierdie koronavirus uit ’n “voedselmark” of ’n “Bioveilige graad-4” laboratorium ontsnap het, weet ons dat hoefystervlermuise ’n besmettingsbron vir koronavirusse is. Indien hierdie vlermuise in hulle natuurlike omgewing gelaat was, sou hulle nie geëet of bestudeer word om vas te stel hoe om die siektes wat hulle dra te voorkom nie. SARS en MERS sou voorkom kon gewees het en COVID-19 sou die ramp gewees het wat nooit plaasgevind het nie.

Koronavirusse soos SARS en COVID-19 sal onder die mensdom bly voortbestaan – of dit nou in China of op enige ander plek ter wêreld is – solank as wat mense voortgaan om vlermuise, sivetkatte en ander eksotiese diere te eet. Let op hierdie verslag van ongeveer 15 jaar gelede:

In hulle soektog na ’n virusbron het die mikrobioloog Kwok-yung Yuen van die Universiteit van Hong Kong (HKU) en sy kollegas monsters van ape, knaagdiere en verskillende vlermuise in die afgeleë gebiede van Hong Kong geneem. Die SARS-agtige virus is gevind in 39% van die anale deppers wat van Chinese hoefystervlermuise versamel is, wat geëet word en ook in tradisionele Chinese medisyne gebruik word (“SARS Found in Chinese Bats,” ScienceMag.org, 12 September 2005).

Sulke bevindings word gereeld bevestig, soos in die geval van SARS:

Navorsers van die V.S. was nie die eerstes wat beweer het dat vlermuise die bron van SARS is nie, maar het gesê dat hulle die grootste en omvattendste ontleding gedoen het van die oorsprong van die koronavirus wat SARS veroorsaak. Die navorsers het genetiese data bestudeer van honderde virusmonsters wat van mense, verskeie vlermuise, sivetkatte, wasbere en varke geneem is ... Die navorsers het vasgestel dat die SARS-virus oorgedra word vanaf vlermuise na mense, na sivetkatte en varke en laat in die uitbreking, terug na mense (“Blame bats for SARS, U.S. researchers say,” CBC.ca, 19 Februarie 2008).

Volgens die artikel van die Kanadese Uitsaaikorporasie behoort ons “vlermuise te blameer”, maar hoeveel vlermuise dwing mense om hulle te eet?

Dit is ook ’n absolute feit dat Ebola sal voortduur om in Wes-Afrika op te duik solank as wat die plaaslike mense primate (ape) en vrugtevlermuise eet. Vlermuise word ook by ’n ander dodelike koronavirus betrek, soos wat dit in ’n Medical News Today-artikel van 2017 verduidelik word: “Wáár die Midde-Oosterse respiratoriese sindroom koronavirus (MERS-CoV of MERS) vandaan kom, bly ’n raaisel, maar dit het waarskynlik in ’n dier begin. Dit is in kamele en ’n vlermuis gevind” (“MERS-CoV: What you need to know,” 19 Desember 2017).

Varke word ook dikwels met dodelike griepuitbrekings geassosieer en dit is bekend dat hulle genetiese mengbakke is wat veroorsaak dat virusse van een dier, mutasies kan ondergaan en verander in vorms wat dan die oordrag van mens-tot-mens moontlik maak. Soos wat die BBC verduidelik: “Ons glo dat die vrugtevlermuis die bron van die Nipah-virus is wat in 1998 en 1999 in Maleisië voorgekom het, maar dit moes eers in varke ingaan voordat dit mense kon besmet” (“Bats a ‘likely source’ of Sars,” BBC News, 29 September 2005).

Alhoewel vlermuise, varke, sivetkatte, knaagdiere en ander diere wat in die Asiatiese en Afrika-vleismark aangetref word, ’n waarskynlike faktor by hierdie uitbrekings is, hoeveel mense besef die werklike betekenis van hierdie feite? Hoeveel mense erken die voor die hand liggende gevolgtrekking dat hierdie verwoestende siektes heeltemal voorkom kan word? Hoeveel mense verstaan dat gehoorsaamheid aan die Een wat alle lewe op aarde geskep het en aan ons liefdevolle voorskrifte vir ons eie beswil gegee het, die vrees, lyding, dood en die groot ekonomiese impak op die wêreld wat ons tans sien, sou voorkom het?

Die waarheid is dat vlermuise, primate (soos ape), katte, slange en baie ander diere wat gereeld geëet word, nooit as voedsel vir die mensdom bedoel was nie. Ons Skepper het baie eenvoudige reëls aan ons gegee om te volg met betrekking tot watter diere se vleis geskik is om te eet en watter is nie goed vir ons as voedsel nie. Indien u nuuskierig en dapper genoeg is om dit te doen, kan u hierdie Wette in die boek lees wat die Bybel genoem word. Ons leer uit Levítikus 11 en Deuteronómium 14 dat sekere diere, voëls en seelewe geskik is as voedsel, maar dat ander diere vermy behoort te word. Dit is geen toeval dat die diere wat deur God beskryf word as ongeskik vir menslike verbruik, pandemies skep as hulle wel verbruik word nie.

Ons blameer vir God terwyl ons van beter weet

Dit is waar dat ons nie weet wat die oorsaak is van elke kwaal wat ons tref nie, maar ons weet baie meer as wat ons wil erken. Die oorsake van die mees algemene siektetoestande is welbekend en ons het sterk vermoedens ten opsigte van baie ander. Omgewingsbesoedeling hou verband met baie soorte kanker. Seks buite ’n monogame huwelik is ’n bekende oorsaak van baie pynlike, aftakelende en dodelike siektes. Dwelmmisbruik gaan gepaard met ’n hele aantal kwale. Dit is egter baie makliker om God te blameer as om persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar.

Miskien is dit tyd om op te hou om God te blameer en om in die spieël te begin kyk. In plaas daarvan om gewoontes te verander wat ons probleme veroorsaak, is dit baie aanlokliker om die maklike uitweg te volg en die “slagoffer”-kaart te speel.

Die Skepper het aan die antieke volk Israel gesê: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Exodus 15:26). Let daarop dat die nasie “getrou” na God moes luister en “al sy insettinge” moes hou.

Het enige nasie dit gedoen? Wat van u eie nasie?

Nee, ons verwerp God, blameer Hom en kies om te doen wat reg is in ons eie oë – waag ’n kans op die onbekende, as dit bewys is dat die bekende beter werk! Dan blameer ons Hom vir die resultate van ons hardkoppige, eiewyse besluite.

Die Bybel wys daarop dat daar ’n baie pynlike toekoms vir die mens wag, met toenemende siektes, oorlogvoering en natuurrampe. Daar kom egter ’n tyd daarna – nadat ons Skepper ons aandag verkry het – wanneer Satan, die groot misleier, uit die weg geruim sal word en die waarheid sal seëvier (Openbaring 12:9; 20:1-3). Jesus Christus sal dan ’n tyd van vrede en voorspoed oor die hele aarde inlei, want die kennis van God se Wette, met inbegrip van al Sy gesondheidswette, sal oral verstaan en beoefen word (Jesaja 11:2, 9). Dit is daardie goeie nuus waaroor die Wêreld van Môre gaan. Ek hoop dat die krisis verby sal wees teen die tyd dat u hierdie artikel lees – maar selfs al is dit, sal meer krisisse aanbreek totdat die mensdom uiteindelik sy baie pynlike les geleer het.


OPDATERING: Op 11 Maart 2020 – twaalf dae nadat ek eindelik teruggekeer het huis toe in Charlotte, Noord-Carolina – het openbare gesondheidsowerhede die COVID-19-krisis amptelik as ’n pandemie verklaar. Eers is dit deur reisigers vanaf China, Hong Kong en Macau versprei. Daarna het die verspreiding van die virus vinnig deur die gemeenskap versprei. Terwyl ek hier in vroeg April 2020 sit om hierdie opdatering te skryf, het die storie van die koronavirus wat verantwoordelik is vir COVID-19, die meeste lande bereik en die regerings spook om die kurwe “af te plat” en die infeksiesyfer te verlaag in die hoop dat daar spoedig effektiewe terapieë of entstof tot hulle redding sal kom.

Wanneer lande in die eerste wêreld spartel om kop bo water te hou, hoe kan derde-wêreld lande dan die virus hanteer? Wat sal in Indië gebeur met hulle hoë koers van tuberkulose of regoor Afrika waar baie miljoene mense deur MIV/VIGS verswak is? Hierdie mense mag dalk ver verwyderd wees van die meeste lesers van hierdie tydskrif, maar hulle is mense wat na God se beeld geskape is, met dieselfde ewige potensiaal as ek en u.

Dit sal eers in 2021 wees voordat hierdie tydskrif u posbus bereik en terwyl ek hier skryf, kan enigeen maar net raai waar ons wêreld teen daardie tyd sal wees. Selfs nou, terwyl ek skryf, heers daar chaos in Italië. Europa is besig om te verbrokkel en lande regoor die wêreld staar dreigende bankrotskap in die gesig. Groot korporasies sowel as individue wat van die een salaristjek tot die volgende salaristjek leef, kyk toe hoedat miljoene mense se inkomste soos mis voor die son verdwyn. Regerings leen geweldige groot bedrae om verligting te bring en uitgawes te dek waarop nie een van hulle voorbereid was nie. Dit mag wees dat die grootste nalatenskap van COVID-19, die verwoesting van lewensbestaan, ekonomieë en die huidige wêreldorde sal wees.

Hierdie groter vraagstukke behoort geringe ongerieflikhede soos om ’n bootreis uit te stel of ’n konsert te mis, in perspektief te plaas. Daar is niks soos ’n wêreldoorlog, ’n depressie of ’n pandemie om ons lewens in perspektief te plaas nie.

Hoe vinnig kan ons wêreld vandag verander! Mag die wêreld van môre dit spoedig vervang.