Sedert die aanvalle van 11 September 2001, sowat vier jaar gelede, is ’n wêreldwye oorlog teen terrorisme aan die gang. Dit is ’n oorlog wat op baie fronte gevoer word en daar is nog geen tekens dat dit onder beheer is of afneem nie. Die slagveld bereik elke bewoonde vasteland. Ondanks die feit dat die Verenigde State en sy bondgenote bewindveranderings in Afghanistan en Irak afgedwing het, gaan die oorlog selfs in daardie lande steeds voort.

Berigte van ontploffings en verminkte liggame kom van plekke so uiteenlopend soos Bali en Madrid. Selfmoordbomaanvalle in Israel is so aan die orde van die dag dat dit selde voorbladnuusdekking regverdig. Ontvoerings en terroristetaktiek het buitelandse toeriste se belangstelling in lande soos Colombië en die Filippyne ernstig gedemp. Voeg hierby die periodieke ontdekking van koeverte wat antraks bevat by poskantore, vertragings en tydelike sluitings by lughawens weens sekuriteitsvrese, dan word dit gou duidelik dat terrorisme en terroristedreigemente multi-miljard dollars kos.

In terme van menselewens, word die lewens van duisende burgerlikes wat bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was, by die koste van die oorlog ingereken. Baie mense het familielede, vriende en huise verloor. Duisende lede van die Amerikaanse Nasionale Wag se lewens is omvergewerp toe hul eenhede opgeroep en na die Midde-Ooste ontplooi is. Lede van die Nasionale Wag wat in die verlede “naweekstryders” genoem is, was oor die algemeen betrokke by opruimingswerk na orkane en oorstromings. Nou moet hulle instaan vir die tekortkomings van ’n oorbemoeide Amerikaanse Krygsmag wat ’n oorlog op verskeie fronte probeer veg. Tonele van jong mans en vaders – en selfs jong moeders – wat ontplooi word vir wie-weet-hoe-lank na plekke ver van Amerika se grense, het die hartsnare van miljoene mense wat dit op televisie gesien het, geroer. Nog meer treffend was die stories en foto’s van honderde jong soldate, talle nog in hul tienerjare, wat in militêre doodskiste huis toe gekom het.

Benewens die ekonomiese koste wat miljarde dollar beloop, het die oorlog op terrorisme ook ’n geweldige sielkundige prys gehad. Die alledaagse en gewone plekke is die frontlinies van hierdie oorlog. Restaurante en koffiewinkels, winkelkomplekse en klein winkeltjies, treinstasies en bushaltes was die teiken van terroriste-aanvalle wat slagoffers van alle ouderdomme gedood en vermink het, van babas op die heup tot grysaards. Die lukraakheid van die geweld het ’n ontnugterende en verskrikkende uitwerking gehad.

Nog ’n slagoffer is party van die vryhede wat ons in die westerse wêreld lank as vanselfsprekend aanvaar het. Om gemaklik te reis en vry te wees van onderdrukkende regeringswaarneming was lank reeds as vanselfsprekend aanvaar deur burgers van die Engelssprekende wêreld. Tog, as gevolg van die oorlog op wêreldterrorisme, is daar nou kontrole en beperkings waarteen mense net ’n paar jaar gelede in opstand sou kom. Weens die vrees vir moontlike gevare, verduur mense nou beperkings wat eens beskou was as meer kenmerkend van outoritêre state.

’n Oorlog teen terrorisme word gevoer met die gebruik van die ontsaglike militêre en ekonomiese hulpbronne van die Verenigde State en hul bondgenote. Tog, ondanks al hierdie enorme uitgawes, gaan die oorlog onoorwonne voort. Hoekom? Hoe gebeur dit dat relatief min fanatici in staat is om die agenda vir die wêreld se magtigste nasies te bepaal? Wat voorspel dit alles vir ons wêreld in die onmiddellike toekoms?

Het u geweet dat die dreigement van terrorisme regstreeks genoem word in die profesieë van u Bybel? Nie alleen voorspel die Bybel eeue vooruit die uitwerking van terroriste-aanvalle op ons nasies nie, dit toon ook waarom sulke aanvalle toegelaat sou word.

Besef u dat party van die groot geopolitiese veranderings in die jare wat kort voor ons lê, in antwoord op die uitwerking van wêreldwye terroristebedreiging sal wees? Wil u verstaan wat dit alles werklik beteken en waartoe dit eintlik aanleiding gee? Indien wel, lees verder!

Oorsprong van terrorisme

Wat het so ’n ontploffing van terrorisme op die wêreldtoneel laat opvlam? Baie van ons kan nie die gedagtegang van ’n persoon begryp wat plofstof om sy liggaam bind en kalm na ’n stampvol bushalte stap om homself en soveel ander slagoffers moontlik om die lewe te bring nie. Voor 11 September 2001 sou die idee dat terroriste vliegtuie kaap en dit in twee van die wêreld se hoogste wolkekrabbers vasvlieg, om almal aan boord en duisende daarbinne te dood – en om die geboue totaal te vernietig – soos die intrige van ’n avontuur riller klink.

Party analiste beweer dat die oorsprong van terrorisme in armoede en politiese onderdrukking lê. Soos Walter Laqueur egter in sy boek No End to War; Terrorism in the 21st Century uitwys, kom daar bykans geen terrorisme in die 49 armste lande van die wêreld voor nie. Bowendien, die 20ste eeu se onderdrukkendste regerings – Hitler se Duitsland en Stalin se Rusland – was vry van terrorisme. Laqueur redeneer dat terrorisme floreer in lande wat of demokraties van aard is, of waar die regerings geheel en al ondoeltreffende diktatorskappe is. Hy beweer dat “selfmoordterrorisme” ’n werktuig is van goedgeorganiseerde groepe wat terroriste oplei, leiding gee en bewapen, eerder as ’n doellose gewaarwording van wanhoop.

In ’n artikel vir NewsMax.com, haal Wes Vernon hierdie ontleding van Paul Weyrich van die Free Congress-stigting aan: “Ons is nie in ’n oorlog met ’n bende terroriste gewikkel nie – dit is nie eens dat ons in ’n oorlog gewikkel is met Islam nie. Dit is eerder dat Islam in ’n oorlog met ons gewikkel is” (25 Maart 2003). Vernon haal elders in die artikel die geleerde Daniël Pipes aan wat verklaar dat in voor-moderne tye “djihad hoofsaaklik een ding onder Sunni Moslems beteken het, wat toe, soos ook nou die geval is, die Islamitiese meerderheid was. Dit het die wettig verpligte gemeenskaplike poging beteken om die grondgebied wat deur Moslems regeer word, te vergroot ... ten koste van grondgebied wat deur nie-Moslems regeer word”. Djihad se doel is aanvallend, nie verdedigend nie. Die uiteindelike doel is om Moslem-oorheersing wêreldwyd uit te brei.

Geskiedkundig was daar ’n botsing van beskawings tussen Islamitiese magte vanaf die suide en Europese “Christendom” vanuit die noorde. Vir meer as sewe eeue, het die Bisantynse Ryk (die oorblyfsel van die oostelike been van die Ou Romeinse Ryk) stadig teruggeval voor die aanslag van die naderende Islamitiese leërs. Konstantinopel het in 1453 geval, maar Moslemleërs het deur die Balkan Eilande voortmarsjeer tot in die hart van Europa, totdat hulle in 1529 die hekke van Wenen beleër het.

Nadat hulle vinnig gedurende die agtste eeu deur Noord-Afrika beweeg het, het Moslems die Straat van Gibraltar oorgesteek en Spanje verower. In 732 is hulle uiteindelik deur die leërs van Charles Martel gestuit met die Slag van Tours, nadat hulle Frankryk oor die Pirinese bergreeks binnegeval het.

Moslemleërs vorder ooswaarts en bedreig Rusland vanaf die suide. Hulle steek die Middellandse See oor, verower Rhodes en Ciprus en voer strooptogte uit tot in Sicilië – hulle bedreig selfs Italië. Moslems van Noord-Afrika voer nie net op Middellandse kusdorpies slaafstrooptogte uit nie, maar ook so ver noord soos Ierland en Engeland, waar hulle meer as 1.5 miljoen Europeërs gedurende die 400 jaar tydperk tot die middel 1500’s tot slawe maak.

Die Europese beskawing slaan ook toe teen die Moslembeskawing. Daar was, natuurlik, die historiese Kruisvaarders se pogings om beheer oor Jerusalem van die Moslems oor te neem. Vanaf die 18de en 19de eeue, het die Europese sfeer van invloed geleidelik weer na die Islamitiese wêreld uitgebrei. Hierdie botsing van beskawings het vir langer as 1,000 jaar heen en weer voortgegaan.

Die jongste herlewing van hierdie botsing dateer uit die bewind van die Egiptiese president Gamal Abdel Nasser in die 1950’s. Vir jare het hy teen die Jode, die Britte en die VSA uitgevaar in passievolle tirades wat deur Radio Kaïro oor die hele Midde-Ooste uitgesaai is. In die 1970’s, aangehits deur die onttroning van die Sjah van Iran en die magsoorname van die Moslem-geestelikes, het die voorkoms van terrorisme begin toeneem. Sedert die 1980’s is daar ’n goedgefinansieërde terreurnetwerk wat wêreldwyd in omvang en invloed toegeneem het.

Waar kom die geld vir so ’n onderneming vandaan? Volgens ’n taakmag wat deur die Bush administrasie se Nasionale Veiligheidsraad gestig is, kom die geld hoofsaaklik uit Saoedi-Arabië. “Oor die afgelope 25 jaar, was dié woestynkoninkryk die grootste enkele mag wat Islamitiese fundamentalisme versprei het, terwyl sy groot ongereguleerde liefdadigheidsorganisasies honderde miljoene dollar na Djihadgroepe en al-Qaeda-selle oor die wêreld gekanaliseer het ... sedert die 1980’s ... het Saoedi-Arabië se sogenaamde amptelike liefdadigheidsorganisasies die primêre bron van fondse vir die vinniggroeiende Djihadbeweging geword. In bykans 20 lande was die geld gebruik om paramilitêre opleidingskampe te befonds, wapens aan te koop en nuwe lede te werf” (US News & World Report, 15 Desember 2003, bl. 20). Amerikaanse amptenare erken nou dat dit party van hierdie belangrike “liefdadigheidsorganisasies” was wat gehelp het om skorriemorrie oproerbendes in ’n gesofistikeerde wêreldbeweging te omskep.

Waarheen is die oorlog teen terrorisme op pad?

Terwyl ons kyk na die verskriklike wreedaardigheid wat in vandag se wêreld plaasvind, moet ons wonder waarheen dit sal lei. Sal die VSA en Brittanje suksesvol wees en ’n stabiele demokratiese regering in Irak vestig? Sal Israel in staat wees om vrede te maak met die Palestyne en uiteindelik ’n gevoel van normaliteit geniet?

Ja, terrorisme sal uiteindelik gestuit word en daar sal teen die terroriste opgetree word, maar menslike regerings sal nie langtermyn oplossings meebring nie! Optrede teen die dreigemente van terrorisme met sy aanslag op lewe en eiendom, sal egter ongetwyfeld een van die faktore wees wat gebeure in Europa oor die volgende paar jaar aandryf. ’n Internasionale meningspeiling in Februarie 2004 deur die Pew Sentrum vir Navorsing onthul interessante insig in die denke van baie mense, beide in Europa en die Midde-Ooste. Meerderheidsgroepe in Jordanië, Pakistan, Turkye en Marokko glo dat die oorlog teen terreur bloot ’n rookskerm is wat die Amerikaners in staat sal stel om beheer te kry oor Midde-Oosterse olie en om die wêreld te oorheers. Wat moontlik selfs meer verrassend vir die meeste mense in die Verenigde State is, is dat die meerderheid van mense in Frankryk en Duitsland nie glo dat president Bush se verklaarde “oorlog teen terreur” werklik verteenwoordigend is van ’n opregte poging om internasionale terrorisme te laat afneem nie. Nuus van die wyse waarop die Amerikaners Irakese gevangenes behandel het, het veroorsaak dat selfs baie mense in die VSA die manier waarop die oorlog hanteer word, bevraagteken.

Op die Europese vasteland is daar toenemende agterdog – en selfs weersin – teenoor die Engelssprekende nasies. Soos Andrew Kohut, direkteur van die Pew Sentrum vir Navorsing vir die Mense en die Pers waarneem: “Europeërs wil ons mag in toom hou. Daar is aansienlike ondersteuning om die Europese Unie net so magtig soos die Verenigde State van Amerika te maak”. Ten minste twee derdes van die bevolking van Frankryk, Duitsland en Rusland het as’t ware aan meningspeilers gesê dat hulle glo dat dit goed sou wees as die Europese Unie net so sterk soos die Verenigde State van Amerika kon wees. Waartoe sal hierdie houdings aanleiding gee?

Soos lesers wat hierdie tydskrif al vir ’n geruime tyd lees, besef, onthul Bybelprofesie dat ’n groot magsblok wat op die Europese vasteland gesentreer is, uiteindelik die VSA en Brittanje vir wêreldleierskap sal uitdaag. Hierdie eindtydse oplewing van die ou Romeinse Ryk sal ’n suksesvlak bereik wat die twee rampspoedige pogings deur Duitsland gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu, by verre sal oortref. Gebeure in die Midde-Ooste, tesame met internasionale terrorisme, sal ’n groot deel van die katalisator wees om dit teweeg te bring.

Ons weet dit, nie net omdat die geskiedenis ons vertel van ’n botsing tussen beskawings noord en suid van die Middellandse See nie; Bybelprofesie sê ook so. Die profeet Daniël beskryf meer as ’n millennium voor die opgang van Islam ’n komende botsing tussen ’n toekomstige “koning van die noorde” en ’n “koning van die suide”. Daniël 11:40 verklaar dat ’n heerser “in die tyd van die einde”, naamlik die koning van die suide, teen sy ampsgenoot, bestempel as die koning van die noorde, sal optrek. Dit sal die koning van die noorde uitlok om ’n blitsige aanval te loods teen die Midde-Ooste en verskeie lande te beset, insluitende Egipte en Libië. Die eindtydse koning van die noorde, die heerser van die herrese Heilige Romeinse Ryk, word in Openbaring “die Dier” genoem. Die koning van die suide beskryf ’n komende Midde-Oosterse kragman wat sal poog om ’n konfederasie van Moslemstate te smee. Sy poging om die oorhand te kry in hierdie eskalerende botsing van beskawings sal ’n volskaalse Europeesgeleide aanslag ontketen. (Vir meer gedetaileerde begrip rakende hierdie profesieë, vra asseblief ons gratis boekie, Die Midde-Ooste in Profesie, aan).

Terroristetaktiek is wêreldwyd ’n toenemende bedreiging vir veiligheid en voorspoed. Nie net die Jode wat in Israel leef nie, maar ook die inwoners van die Verenigde State, Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland sal vind dat hulle op merkwaardige wyse uitgesonder word deur die terroriste. Daar sal ’n groeiende wig wees tussen hierdie volke en ’n magsblok wat op die Europese vasteland gesetel sal wees. Wanneer ’n slim en charismatiese leier in Europa op die toneel begin verskyn, sal dit te midde van ’n klimaat van toenemende onsekerheid en krisis wees. Deur te beloof om vrede, veiligheid en voorspoed te herstel, sal hy ’n gesagstaat inhuldig wat die meeste mense vandag hulself skaars kan voorstel. Terwyl hierdie gesagsbeheer die soort terrorisme sal onderdruk wat tans toeneem, sal dit gebeur ten koste van die ontketening van ’n veldtog van staatsbefondste terreur teen almal wat nie hul volle samewerking aan hierdie toekomstige samesmelting van kerk en staat gee nie (Openbaring 13:12, 15-17). Vra asseblief vir ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring: Mite, beeldspraak of werklikheid?, vir meer gedetailleerde inligting oor hierdie belangrike onderwerp.

Waarom word Amerika en Brittanje uitgesonder?

Hoe kan ons werklik weet dat veral die Engelssprekende wêreld die ergste deur hierdie groeiende terroriste veldtog getref sal word? Waarom sal so ’n verskriklike ding gebeur? Moses, wat baie eeue gelede geskryf het, rig ’n direkte waarskuwing aan die nageslag van Israel. Nadat Hy die seëninge wat gepaard gaan met getroue aanbidding van die Skepper beskryf het, teken Moses ’n reeks afgryslike vloeke aan wat sal volg weens ’n houding van minagting en ongehoorsaamheid aan die Almagtige God.

Let op die plegtige waarskuwing van Levitikus 26:14-16: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het ... dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag”. ’n Houding van algehele minagting vir God en Sy Wette het in toenemende mate ons samelewing deurweek en daardie houding sal rampspoedige straf vir ons volke tot gevolg hê.

Verskeie afvallighede, insluitend homoseksualiteit, word bestempel as verfoeilik vir die Almagtige God (vgl. Levitikus 18). Daar word aan antieke Israel gesê dat die beloofde land die vorige inwoners “uitgebraak” het as gevolg van sulke perversie (vers 28) en dat as hulle soortgelyk optree, hulle dieselfde gevolge sal dra. In die 21ste eeu in Amerika, word dit as aanvaarbaar beskou dat ’n regter uit die regbank gelig is, omdat hy weier dat die Tien Gebooie van sy hofsaal verwyder word, soos met hoofregter Roy Moore van die Alabama Hooggeregshof gebeur het. Tog, aan die ander kant, bestempel die media die landdroste as “vooruitstrewend” en “dapper”, wat “huwelike” tussen homoseksuele en lesbiërs voltrek! So ’n ongelooflike agterstevoor situasie sou selfs ’n geslag gelede onbegryplik gewees het.

Eenvoudig gestel, ons volke kan nie ons Skepper en Sy bevele met minagting behandel en verwag om Sy seëninge te behou nie. Namate God Sy beskerming weerhou, sal ons sien dat ons vyande keer op keer met welslae teen ons optree. Ons Engelssprekende nasies sal uiteindelik deur ’n komende Europese Supermag onderwerp word en in nasionale gevangenskap weggevoer word, wat die “tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7) genoem word. Om hierdie profesieë in meer diepte te verstaan, vra asseblief ons gratis boekie aan, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika?

Ná die slegte nuus

Toekomstige terrorisme en nasionale straf is nie die einde van die storie nie. Die profeet Jesaja beskryf ’n tyd ná die slegte nuus. “Vir ’n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In ’n uitstorting van toorn het Ek vir ’n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser” (Jesaja 54:7-8). Terwyl God figuurlik “Sy oë verberg” vir ’n kort tydjie, voorsien Hy ons verlossing en herstel in die nadraai van nasionale bekering.

’n Baie verootmoedigde volk sal werklik begeer om God se weë te leer. Let op hierdie beskrywing van ons volkere nadat hulle van gevangenskap byeengebring word: “En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie” (Jesaja 54:13-14). As ’n regstreekse gevolg van om ons waarlik na God te wend en die begeerte om volgens Sy wonderlike leefwyse te leef, sal daar vrede en ’n afwesigheid van terreur wees.

Die terugkerende Jesus Christus sal ’n regering vestig wat alle nasies sal insluit. Hy sal diegene wat hul bure wil terroriseer kragtig bestraf en ’n nuwe tydperk inlei wanneer seerkry en verwoesting tot ’n einde sal kom. In plek daarvan, sal die kennis van die Skepper en Sy Wette die aarde vul soos die water die seebodem oordek (Jesaja 11:9)!

In die jare tussen nou en daardie glorieryke toekomstige tyd wanneer die Koninkryk van God heerskappy oor die hele aarde sal hê, watter hoop is daar vir u en u gesin? Terwyl terreur en siekte-epidemies groot dele van die wêreld om ons heen sal verswelg, sal diegene wat werklik daarna streef om met hul Skepper te wandel, nie hoef te vrees nie! Hulle sal die woorde van die Psalmis in Psalm 91 herhaal: “Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou ... Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!” (verse 2, 5-6).

Oproerige en ongehoorsame volke sal deur die gebeure van die komende jare tot hul knieë gedwing word. Wêreldwye terrorisme sal ongetwyfeld sy rol speel in hierdie verskriklike tye. Daar is egter goeie nuus wat voorlê vir ’n gekastyde en berouvolle mensdom.

U kan nou deel hê aan daardie goeie nuus, sonder dat dit nodig sal wees dat u die toekomstige straf hoef te verduur, mits u u tot u Skepper sal keer met u hele hart en gewillig sal wees om Hom werklik te gehoorsaam. Dink daaraan – as u met God wandel, hoef u nooit alleen te loop nie! U sal saam met Dawid kan sê: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my” (Psalm 23:4).