Die bekende Engelse staatsman, William Wilberforce, het in sy 1789-toespraak tydens die opening van ’n parlementêre debat oor slawerny, die ellende van Afrika-slawe in transito na die Amerikas beskryf. Hy het die verskriklike statistiek bekendgemaak dat 4% van die slawe aan hulle einde gekom het nog voor die seilvaart begin het. Tydens hulle reis het 12% omgekom en nog 33% het baie gou kort na hulle aankoms gesterf. Hierdie man, wie se onvermoeide pogings byna eiehandig meegebring het dat die wetgewing om slawerny in Brittanje te beëindig, het aan sy gehoor gesê: “U kan anderpad kyk, maar u sal nooit weer kan sê dat u nie geweet het nie”.

Wilberforce het die grootste deel van sy lewe daaraan gewy om hom te beywer vir die afskaffing van slawehandel en sy volharding oor die jare het sy mede-politici gedwing om die wesenlikheid van die smart en lyding van die slawe raak te sien en om nie “anderpad te kyk nie”.

In 1833 het die Parlement die Wet op die Afskaffing van Slawerny goedgekeur en aan die Koninklike Vloot is opdrag gegee om enige skip op die oop see voor te keer en te deursoek en alle slawe aan boord vry te laat. Indien daar gevind is dat lande volhard met hierdie praktyk, is hulle gestraf en baie het waardevolle handelsooreenkomste met Brittanje verloor.

Slegs twee jaar nadat koningin Victoria die troon in 1840 bestyg het, is die heel eerste Wêreld-Teen-Slawerny Konvensie in Londen gehou. Hierdie belangrike optrede het gedien om ’n nuwe, verligte vlaag van bevrydende wetgewing te stimuleer wat Brittanje geweldig sou verander. “Teen 1857 was daar vyf-en-veertig verdrae, maar dit was nie voor die 1860’s dat al die groot inskepingshawens van die Atlantiese slawehandel gedek is nie” (David Eltis, The Abolition of the Slave Trade).

Was dit die einde van slawerny? Geensins nie.
Waar menslike gierigheid en selfsug kan floreer, sal die boosheid van menslike uitbuiting noodwendig voortduur – ongelukkig is die eeue-oue vloek van slawerny vandag nog steeds met ons.

Vroue en kinders word slawe

In 2009 het die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad (VNKDM) ’n verslag aangevra oor slawehandel, wat ’n vinnig groeiende moderne bedryf geword het.

Die VNKDM-opname is in 155 lande uitgevoer en het onthul dat “byna 20% van alle slagoffers in mensehandel wêreldwyd, kinders was. In sommige dele van Afrika en die Mekong-streek [van Indochina], is kinders in die meerderheid (selfs tot 100% in Wes-Afrika)” (UNODCReport on Human Trafficking Exposes Modern Form of Slavery, 12 Februarie 2009).

Aan die begin van 2013 het die Britse Minister van Binnelandse Sake, Theresa May, gesê dat om hedendaagse slawerny in die Verenigde Koninkryk te beveg, strenger sanksies ingestel sal word. BBC News berig: “Die aantal gevalle wat in die Verenigde Koninkryk ontdek is, het in die afgelope jaar volgens regeringsgetalle met 25% toegeneem”, (Theresa May on tougher sanctions for slavery crimes, 18 Oktober 2013). “’n Nuwe verslag het onthul dat 1,186 slagoffers in 2012 na die owerhede verwys is ... Die verslag het aan die lig gebring dat die grootste aantal slagoffers afkomstig is uit Nigerië, Viëtnam, Albanië, Roemenië en China” (BBC NewsHuman trafficking gets life term in drive on slavery, 18 Oktober 2013).

David Hanson, die Arbeider opposisie se skimminister van Immigrasie het die regering vir sy swak vervolgingsrekord bestraf. Hy het die feit beklemtoon dat van die 946 slagoffers wat in 2011 aangemeld is, slegs ses veroordelings teen hulle oortreders aangeteken is. Hy het gesê: “Die regering behoort ook wakker te word vir die feit dat 60% van die ontvoerde kinders in die Verenigde Koninkryk eenvoudig net weer verdwyn nadat hulle onder die aandag van die owerhede gekom het” (ibid.).

Verder sluit 79% van alle mensehandel seksuele uitbuiting in. Met die koms van massa vervoermetodes kan ’n jong vrou van ’n straat in Birmingham geneem en verdoof word en ’n paar uur later in die hande van seksslaaf-eienaars in die Midde Ooste gevind word. Dit is dalk geen verrassing dat vroue en meisies die belangrikste teikens van die sekshandel is nie, maar wat wel ’n verrassing is, is dat 30% van die smokkelaars vroue is.

“Diensknegte” goedgekeur in die Bybel?

Sommige mense is verbaas om te leer dat God in die Ou Testament toegelaat het dat ’n sorgvuldig gereguleerde vorm van gekontrakteerde knegskap beoefen mag word. Dit behoort egter glad nie gelykgestel te word aan slawerny nie. Een van die baie belangrike verskille tussen daardie stelsel en moderne slawerny is dat die dienskneg ’ngewillige deelnemer was. Dit is dus nie baie anders as diegene wat deesdae verkies om by die weermag aan te sluit nie.

’n Israeliet wat ’n slaaf was, kon sewe jaar lank vir sy meester werk en dan as vryman weggaan. Indien hy egter wou, kon hy vra om permanent ’n slaaf te wees.

“Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie – dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ’n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien” (Exodus 21:5-6). Vir iemand in antieke Israel wat nie in staat was om sy of haar eie finansiële sake te bestuur nie, kon dit ’n regte en selfs welkome opsie wees.

Soos gesien kan word, kon hierdie soort welwillende vorm van knegskap eintlik dien om kwesbare mense te beskerm, hoewel dit nog steeds misbruik kon word.

Voormalige slawehandelaars word slawe?

Die Bybel voorspel ’n tyd in die nabye toekoms wanneer slawe op groot skaal as roerende eiendom aangehou sal word. In die jare net voor Jesus Christus se wederkoms as “Koning van die konings en die Here van die here”, sal die wêreld gelei word deur ’n wrede Babiloniese stelsel. Terwyl dit vernietig word, sal diegene wat voordeel getrek het uit sy korrupte en verkeerde weë “... ween en weeklaag” (Openbaring 18:9), want hulle handel sal skielik tot ’n einde kom.

Vers 11-13 sê: “En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar [Babilon], omdat niemand hulle koopware meer koop nie, koopware van goud en silwer en edelgesteente ... en van koper en yster en marmer ... en slawe en mensesiele”. Ander skrifgedeeltes identifiseer wie baie van hierdie slawe sal wees.

Lesers wat die Wêreld van Môre-tydskrif al lank lees, verstaan dat die volke van Britse afkoms, sowel as dié van die Verenigde State en ook ander van die noordwestelike Europese lande, voortspruit uit die ou antieke volke van Israel van die Bybel. God waarsku hulle deur Sy profesieë dat hulle verkwistende en kwaadwillige lewenswyses Hom sal verplig om hulle deur nasionale ballingskap te straf. Die agent wat Hy sal gebruik om hulle gevange te neem, sal die herleefde Babiloniese stelsel wees, wat in Europa gesentreer is.

Oordink die volgende uit ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?: “Dieprofeet Eségiël vertel van ’n toekomstige tyd wanneer Israel herversamel sal word ná die wederkoms van die Messias in krag en heerlikheid. ‘Die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; ... Nou sal ek die lot van Jakob verander en My ontferm oor die hele huis van Israel ...’” (Esegiël 39:23-25) (bl. 56).

Dit mag moeilik wees om te glo dat hierdie groot nasies wat die wêreldhandel en militêre mag oorheers het, verneder sal word tot ’n staat van wrede slawerny. Dit is egter die woorde van die Almagtige God.