Verlede Junie het Pous Benediktus die Sestiende 'n skare van 50 000 mense op die St. Pietersplein daaraan herinner dat die grondslag van sy gesag die rots is waarop Jesus die Katolieke Kerk gestig het – daardie rots bedoelende die apostel Petrus. In sy opmerkings het hy bepleit: “Laat ons bid dat die opperkerkvoogdyskap van Petrus ... toenemend in die regte bedoeling erken sal word deur broeders wat nog nie in gemeenskap met ons is nie” (Zenit News Agency, 7 Junie 2006). Benediktus het verkondig dat almal wat hulself Christene noem, die Roomse pous as enig en alleenhoof van die Christenwêreld moet erken.

Sy aanspraak – die sogenaamde “St. Petrus teorie” – is reeds vir eeue 'n standaard Rooms-Katolieke lering. Baie mense besef egter nie dat nóg die Bybel nóg die geskiedenis so 'n bewering van pouslike outoriteit ondersteun nie. Trouens, Benedict se idee van pouslike opperkerkvoogdy-skap is een van godsdiens se langdurendste misleidings!

Roomse leerstellings versus die Bybel

Die “opperkerkvoogdyskap van Petrus-leerstelling” maak daarop aanspraak dat Jesus aan Petrus en sy opvolgers die outoriteit verleen het om as alleenbewaarders van die ware Christelike leerstellings op te tree. Soos Pous Benediktus aangevoer het: “Hierdie oppervoogdyskap is vir alle tye” (ibid.). Ondersteuners van hierdie leerstelling wys na een sleutelvers in die Skrif waar Jesus sê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou... En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees” (Mattheus 16:18-19).
'n Deeglike studie van hierdie vers en ander skrifdele openbaar egter iets heeltemal anders as wat Benediktus in gedagte het. Jesus se stelling in die oorspronklike Griekse teks is eintlik 'n woordspeling. Die Griekse woord vir “Petrus” is petros (wat 'n klein klippie beteken), en die Griekse woord vir “rots” is petra (wat 'n massiewe rots of berg beteken). Die Bybel toon duidelik dat Jesus Christus die Rots is (sien 1 Korinthiërs 10:4; 1 Petrus 2:4; sien ook Psalm 118:22; Jesaja 28:16). Hy het na Homself verwys as die Petra en na Sy dissipel Petrus as die petros.

Die Skrif toon ook dat die Kerk nie net op Petrus gebaseer is nie, maar is ook “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efesiërs 2:20). Jesus beskryf Sy petros – Petrus – as 'n fondasiesteen van die Kerk, saam met die ander Apostels en profete. Jesus Christus en Sy lering sal egter die ware fondasie van die Kerk bly. Dít is die ware bedoeling van Mattheus 16:18-19. Pogings om hierdie vers te verdraai tot 'n stelling van Petrus se uitsluitlike outoriteit, is eenvoudig nie Bybels nie. Dit is waarom die Roomse aanspraak op mag, wat gebaseer is op Petrus se gewaande opperkerkvoogdyskap, nooit deur die Oosterse Ortodokse kerke aanvaar is nie, en waarom dit deur die Protestante hervormers verwerp is (sien Civilization Past & Present, Wallbank, bl. 133).

Petrus se rol volgens die Bybel

Wat openbaar die Bybel omtrent Petrus se rol in die vroeë Kerk? Petrus se naam word eerste genoem waar die twaalf apostels opgenoem word (Mattheus 10:1-4; Lukas 6:13-16). Hy was dikwels die spreekbuis vir die groep (Mattheus 16:13-16), en hy het die eerste preek op Pinksterdag gelewer (Handelinge 2). Petrus was, tesame met Jakobus en Johannes, een van die drie pilare in die Jerusalem Kerk (Galasiërs 2:9). Petrus, Paulus en Barnabas het tydens 'n konferensie oor leerstellings in Jerusalem insette gelewer, maar Jakobus – nie Petrus nie – het voorgesit tydens die konferensie en die finale beslissing gemaak (Handelinge 15). Petrus was die apostel vir die Jode, en Paulus die apostel vir die heidene – maar geen een word bo die ander genoem nie (Galasiërs 2:7). Paulus het selfs vir Petrus tereg gewys (Galasiërs 2:11-14). Petrus het eerbetoon geweier toe dit aangebied was (Handelinge 10:25-26); niemand het sy ring gesoen nie. Die Bybel toon dat Petrus 'n leier onder die Apostels was, maar hy het nie opperkerkvoogdyskap oor die ander gehad, of daarop aanspraak gemaak nie.

Geskiedkundige feite

Was Petrus egter die eerste pous wat voorsitterskap in Rome beklee het? Selfs Katolieke bronne erken dat die term “pous” nie in die Weste in gebruik was “voor die eerste helfte van die 5de eeu nie” (Short Biographies of All the Popes, Lozzi Roma, bl. 2). Soos die skrifgeleerde Hans Küng dit stel: “Katolieke teoloë gee toe dat daar geen betroubare bewyse bestaan dat Petrus ooit as opperhoof of biskop in beheer van die kerk in Rome was nie” (The Catholic Church, Küng, bl. 20). Professor Küng sê ook “daar is geen moontlikheid van 'n wettige opperkerkvoogdyskap – of selfs 'n voorrang wat op die Bybel gebaseer is – van die Roomse gemeenskap of selfs van die Biskop van Rome in die eerste eeue nie” (ibid., bl. 49). Die Nuwe Testament verbind Petrus nie met Rome nie en maak geen melding van 'n opvolger vir Petrus nie. Die Apostels het Christene dit op die hart gedruk om na Jerusalem en die kerke in Judea te kyk as hul rolmodelle – nie na Rome nie (Galasiërs 1:18; 1 Tessalonisense 2:14).

Geskiedskrywers weet dat die biskop van Rome “aanvanklik slegs een van verskeie patriarge was” (Civilization Past & Present, Wallbank, 6de uitgawe, bl. 133). Daar was ook patriarge in Konstantinopel, Antiogië, Jerusalem en Alexandrië wat as gelykes beskou is. Die geskiedenis getuig dat hulle ook gewedywer het en magsugtig was. In ongeveer 160 n.C. het biskop Anacetus van Rome druk op Polikarp, biskop van Smirna uitgeoefen om die Roomse Paasfees te hou in plaas van die Bybelse Pasga op 14 Nisan. Anacetus was onsuksesvol omdat Polikarp gesê het dat hy die tradisie volg wat hy by die apostel Johannes geleer het. Vyftig jaar later het 'n ander Roomse biskop, Victor, gedreig om die Oosterse kerke te ekskommunikeer omdat hulle nie die Roomse datum vir die Paasfees wou aanvaar nie. Hulle het weereens geweier en voortgegaan om die ware apostoliese lering te volg.

Die St. Petrus-teorie sê dat Petrus se opvolgers moet besluit oor sake aangaande leerstellings vir die Kerk. By die Raad van Nicea in 325 n.C., toon die rekord egter dat die Roomse biskop, Sylvester die Eerste, afwesig was en geen opperkerkvoogdyskap gehandhaaf is nie toe die datum van die Paasfees vasgestel is as plaasvervanger vir die Bybelse Pasga, en toe Sondag-aanbidding amptelik die sewendedag Sabbat vervang het. Die Raad van Nicea was byeengeroep en gelei deur die Romeinse Keiser, Konstantyn, en nie deur 'n Roomse biskop nie. As keiser, het Konstantyn die titel Pontifex Maximus gehad in die heidense godsdiens van die Romeine – 'n titel wat die Roomse biskop Leo die Eerste 'n eeu later sou aanneem toe hy gestry het vir St. Petrus se opperkerkvoogdyskap oor al die ander biskoppe. Die Raad van Chalcedon het Leo egter in 451 n.C. afgewys en afgevaardig dat die biskoppe van Rome en Konstantinopel dieselfde outoriteit het. Pous Innosentius die Derde het in 1200 n.C. daarop aanspraak gemaak dat hy die “Stedehouer van Christus” en Opperheerser van die Kerk en die wêreld was (Halley's Bible Handbook, bl. 776). Gedurende die Middeleeue het die Roomse biskoppe vir ongeveer 600 jaar na die “Donation of Constantine-dokument” verwys as bewys van hul reg om voor te sit oor al die ander biskoppe, maar dit is later bewys dat die dokument ’n vervalsing was (Küng, bl. 50).

Profetiese waarskuwings

Beide die Skrif en die geskiedenis dui daarop dat die vroeë kerk nie die Roomse teorie van St. Petrus-opperkerkvoogdyskap erken het nie. Dit was veel eerder eersugtige Roomse biskoppe wat die leerstelling ontwikkel het om mag oor ander biskoppe en hul kerke te verkry. Jesus Christus waarsku dat baie mense aan die einde van hierdie tyd mislei sal word deur vals leraars wat daarop aanspraak maak dat hulle Hom verteenwoordig (Mattheus 24:3-5). Paulus waarsku dat huigelagtige leraars in die laaste tye leuens sal versprei (1 Timotheus 4:1-3) en mense sal mislei om antieke dwaalleer en onbybelse oorleweringe te volg (2 Tessalonisense 2:1-15). Hierdie ou waar-skuwings neem nou gestalte aan!