Is die Skrif slegs maar ’n verborgenheid? Is die beelde daarin slegs onbegryplike simbole wat niemand kan verstaan nie? Of het God aan ons die middele voorsien om uit te ken wat Bybelse profesieë vir ons toekoms beteken – asook vir die hedendaagse lewe?


Mense wou nog altyd graag weet wat die toekoms inhou en hulle raadpleeg dikwels elke moontlike bron, behalwe die Bybel. Koerante met ’n groot oplaag publiseer dikwels ’n horoskoop. Die idee is dat mens se geboortedatum op een of ander manier jou karakter en profetiese gebeure tydens sekere tye van die jaar bepaal, en dit word kwansuis bepaal deur die posisie van sterrebeelde in die hemele.

Ander mense betaal mediums om ’n kristalbal te lees en probeer soms kontak maak met afgestorwenes. Andere weer, lees tarotkaarte vir profetiese interpretasies. Miljoene mense kyk na séances, ander kommunikasiekanale en astrologie vir mag en insig. Hulle hou hulself besig met die okkulte en soek antwoorde van waarsêers en mistici. Hulle gaan selfs om met hekse, mediums en towenaars. Sal al hierdie goed God se wil aan u openbaar? Natuurlik nie! God noem hierdie gebruike ’n gruwel (Deuteronomium 18). Daar is ’n wêreld van geestelike misleiding. God sê aan ons dat Satan die duiwel die hele wêreld mislei (Openbaring 12:9). Hy het u en my mislei. God kan ons egter help om deur die slinkse planne en misleidings van die duiwel te sien.

Bybelse profesie onthul die volgorde van gebeure aan die eindtyd en die gevaarlike tye wat voorlê. U Bybel openbaar dat Armageddon en die Derde Wêreldoorlog net om die draai lê. Die wêreld word gekonfronteer met terrorisme, grootskaalse hongersnood, siekte-epidemies en ernstige natuurrampe soos aardbewings, tsunamis, siklone en orkane. Met oorlog, siektes, lyding en pyn reg rondom ons, sal baie mense in die versoeking wees om moed op te gee. Het u egter geweet dat Bybelse profesieë wesenlike waarhede aangaande die toekoms van die wêreld openbaar – en u eie lotsbestemming? Aan die ander kant van die vinnig naderende tyd van groot verdrukking lê ’n toekomstige tyd van wêreldvrede onder die Koninkryk van God. U Bybel openbaar dat die Vredevors, Jesus Christus, sal terug keer om alle nasies die weg na vrede te leer. Onder Christus se liefdevolle heerskappy, in die geprofeteerde tyd bekend as die duisendjarige Vrederyk of Millennium, sal die wêreld floreer met skoon lug, skoon water en volhoubare landbou.

Ons leef in die geprofeteerde tyd wat u Bybel identifiseer as die eindtyd. Wanneer u die profesieë in u Bybel begin verstaan, sal u besef dat hierdie opwindende tye is, wat lei tot Jesus Christus se wederkoms as Koning van konings en Here van die here en die vestiging van Sy Koninkryk op die aarde!

Bybelse profesieë mag opwindend vir baie mense wees, maar sekere Bybelse profesieë mag moeilik wees om te verstaan. Die boeke van Daniël en Openbaring word gekenmerk deur verskeie simbole en beeldspraak. Toe antieke koning Nebukadnésar van Babilon gedroom het van ’n geheimsinnige beeld wat uit verskillende metale en klei gemaak was, het die profeet Daniël die droom se betekenis vertolk (Daniël 2:1-45). Die bekende Vier Perderuiters van Openbaring stel verwoesting en misleiding voor (Openbaring 6:1-8). Die Dier van Openbaring 13 wat uit die see uit opkom, het sewe koppe en tien horings. Die Dier van Openbaring 17 wat uit die afgrond opkom, het ook sewe koppe en tien horings, maar daardie dier word deur ’n hoer gery. Die apostel Johannes skryf wat hy in ’n visioen sien: “En op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5).

Hoe kan ons hierdie geheimsinnige simbole en die baie ingewikkeldhede van Bybelse profesieë verstaan? In hierdie artikel gaan ons kortliks aandag skenk aan vyf beginsels om die profesieë in u Bybel te verstaan.

Sleutel 1: Vertrou die Skrif om die Skrif te interpreteer

Waarheen moet u draai om die waarheid te leer? Jesus, in Sy innige gebed die nag voordat Hy gekruisig is, het vir Sy dissipels gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). God se woord, die Bybel, is die waarheid. Dit is die geskrewe woord van God. Indien u die toekoms wil verstaan wat God vir u en vir die hele mensdom beplan het, behoort u na die Bybel te gaan, nie na waarsêers en mediums nie.

Die boek Openbaring bevat simboliese taal in die beskrywing van die verheerlikte Messias, die Seun van die Mens, waar Hy tussen die sewe kandelare staan. Ons lees: “En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Wat simboliseer hierdie sterre en kandelare? Dit is nie nodig dat ons raai nie; die Bybel self gee aan ons die betekenis daarvan! “Die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (vers 20).

In Bybelse simboliek is sterre engele – en kandelare is kerke of gemeentes. Die skrywer van Openbaring, of die Apokalips, gaan in die volgende twee hoofstukke voort om God se boodskap en vermaning aan die sewe kerke [gemeentes] in Klein Asië – moderne Turkye – neer te skryf. Die apostel Johannes het natuurlik hierdie boek na aan die einde van die eerste eeu n.C. geskryf.

U is heel waarskynlik vertroud met die relaas van Koning Nebukadnésar se droom. Die profeet Daniël was ontbied om voor Koning Nebukadnésar te verskyn en het voortgegaan om die groot beeld in die koning se droom te beskryf: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het” (Daniël 2:31-34).

Wat het hierdie standbeeld gesimboliseer? Daniël het aan Koning Nebukadnésar gesê: “U is die hoof van goud” (vers 38). Die geskiedenis bevestig Daniël se vertolking van die opeenvolgende ryke wat deur die standbeeld gesimboliseer is. Daardie ryk was vervang deur die Medo-Persiese Ryk (558-330 v.C.), voorgestel deur die bors en arms van silwer. Die buik en lendene van koper het die Grieks-Masedoniese Ryk van Alexander die Grote voorgestel (333-31 v.C.). Die twee bene van yster stel die Romeinse Ryk voor (31 v.C. tot 476 n.C.). Laastens, die tien tone aan die twee voete van yster vermeng met pottebakkersklei stel ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk voor.

Daniël se profesie het vier historiese wêreldoorheersende ryke openbaar. Die geskiedenis bevestig dat die voorspelling van hierdie vier ryke wel plaasgevind het.

Sleutel 2: Verstaan profetiese tydgapings

Die Evangelie van Lukas beskryf wat gebeur het toe Jesus Sy tuisdorp Nasaret besoek het en uitgenooi was om op die Sabbat uit die Skrif te lees. “En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (Lukas 4:17-21).

Jesus het die boek waarin Hy gelees het toegemaak reg in die middel van ’n vers. Hy het die tweede deel van die vers wat na die dag van wraak verwys, uitgelaat. Waarom? Omdat die res van Jesaja se profesie verwys na Christus se wederkoms – wanneer die Dag van die Here, die Dag van God se wraak, sal plaasvind. Ja, daar is ’n tydgaping van nagenoeg 2,000 jaar tussen die vervulling van die eerste gedeelte van die vers en die tweede gedeelte van die vers.

Nog ’n aspek van profetiese tydgapings is die beginsel van “tweeledigheid”. In die Bybel vind ons dikwels ’n vroeëre vervulling van ’n profesie, en dan later, ’n meer klimaktiese vervulling van die profesie. Die beginsel van tweeledigheid word regdeur die Bybel gevind. As voorbeeld lees ons: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees” (1 Korinthiërs 15:45). Wie was die laaste Adam? Die Skrif gee aan ons die antwoord: “Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel” (vers 47). Ja, die tweede Adam was Jesus Christus.

Profesie is dikwels tweeledig – ons behoort die lesse van die geskiedenis te leer. Die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeinse leërs was slegs die voorloper van die groot verdrukking wat nog voorlê.

Sleutel 3: Vind hedendaagse nasies in die Skrif

Waar word na die Verenigde State van Amerika in die Bybel verwys? Of, onder watter naam kan ons dit miskien vind? Waar kan ons Groot Brittanje in die Bybel vind? Dit is duidelik dat die hedendaagse name nie voorkom nie, maar die voorsate van hierdie nasies is prominente name in die Bybel.

Die Bybel maak wel melding van nasies soos Egipte, Libië en Ethiopië – en dit mag u verras dat Assirië, in die duisendjarige Vrederyk, saam met Egipte en Israel, uiteindelik een van die toonaangewende nasies sal wees (Jesaja 19:23-24). Maar watter hedendaagse nasie is Assirië?

In ons gratis herdrukte artikel, Heropgestaande Duitsland: ’n Vierde Reich?, verduidelik die Wêreld van Môre skrywer Douglas S. Winnail: “Die meeste moderne historici huiwer of faal om die verband te sien tussen die verdwyning van die Assiriërs en die verskyning van die Germaanse stamme. Duitsland se kulturele geskiedenis en nasionale karakter stem egter ooreen met Assirië soos geen ander nasie nie ... wanneer die Bybel van Assirië in die eindtyd praat, praat dit van Duitsland. By geen ander moderne nasie pas die beskrywing so volmaak nie”. Indien u dit nie alreeds gedoen het nie, skryf asseblief om u gratis kopie van hierdie belangrike artikel.

U kan begin om baie meer begrip te hê van eindtydse Bybelse profesieë wanneer u die juiste kennis het van die moderne afstammelinge van antieke Bybelse nasies. Ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, sal aan u die historiese en Bybelse inligting voorsien om die Verenigde State van Amerika en ander belangrike nasies in profesie uit te ken.

Sleutel 4: Ken God se profetiese raamwerk

Hierdie is ’n uiters belangrike sleutel om Bybelse profesie te verstaan. Dit is ’n sleutel waarvan relatief min belydende Christene weet. Daar is baie verskillende idees en scenario’s aangaande Bybelse profesie. U mag al van postmillennialisme en amillennialisme gehoor het. Hulle verkondig verkeerdelik dat Jesus Christus ná die geprofeteerde duisendjarige Vrederyk sal terugkom, of dat Hy geheel en al gladnie sal terugkom nie.

Die waarheid lê in wat pre-millennialisme genoem word – die leerstelling dat Christus sal terugkeer om ’n letterlike koninkryk hier op aarde te vestig vir ’n letterlike tydperk van ’n duisend jaar. Die boek Openbaring beskryf ’n tydperk van 3½ jaar wat sal lei tot die wederkoms van Christus. Die eerste vyf seëls van Openbaring, soos uiteengesit in Openbaring 6, dek ’n tydperk van 2½ jaar – die Groot Verdrukking waarvan Jesus gepraat het in Mattheüs 24.

Die sesde seël is die Hemelse Tekens. Die hele wêreld sal tot aandag geroep word wanneer hierdie gebeure plaasvind. Die apostel Johannes skryf: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit” (Openbaring 6:12-14).

Die hele wêreld sal geskok en verskrik wees. Die wêreld sal dan besef dat die tyd van God se oordeel aangebreek het! Die Hemelse Tekens lei die een-jaar lange profetiese tyd bekend as die Dag van die Here, in. Die beroemde Dag van die Here word in omtrent 30 profesieë in u Bybel vermeld. Die Dag van die Here in eindtydse profesie, die tyd wat Christus se wederkoms voorafgaan, is ’n tydperk van een jaar (Jesaja 34:8; 63:4), wat volg op die Groot Verdrukking en die Hemelse Tekens.

Dit is die jaar van God se straf oor die nasies, en dit bereik ’n hoogtepunt met die aankondiging van Christus se wederkoms en die vestiging van die Koninkryk van God op aarde. Dit is die opwindende goeie nuus van profesie! “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Ons behoort almal uit te sien na die wederkoms van Christus. Ons behoort geestelik voor te berei vir daardie gebeurtenis wat binnekort sal plaasvind. Soos u kan sien, gee die Bybel aan ons ’n oorsigtelike raamwerk vir profesie. Dit is nodig dat u daardie raamwerk verstaan!

Sleutel 5: Leer wat is die doel van Bybelse profesie

Daar is baie mense vir wie godsdiens ’n stokperdjie is en hulle kom met baie ongegronde idees en wanvoorstelling oor profesie na vore. Wat is die doel van profesie? Unger se Bybelse Woordeboek gee hierdie waarskuwing: “Profesie is nie bedoel om die toekoms te openbaar vir ydele nuuskierigheid nie, maar vir die hoër doel om lig aan diegene te voorsien wie se geloof versterking nodig het”. Het u geloof versterking nodig? “Die openbaring van toekomstige gebeure mag nodig wees in tye van ontmoediging om hoop aan te wakker of dit te onderskraag, om vertroue in te boesem te midde van algemene afvalligheid, en om te waarsku teen boosheid wat ’n bedreiging is vir die getroues. Die voorspellings teen Babilon, Tirus, Egipte, Nineve en ander koninkryke, was aan God se volk gegee om hulle te vertroos, deur aan hulle die lot van hulle vyande te onthul” (Unger’s Bible Dictionary, bl. 892).

Verstaan dat Bybelse profesie ook volke en nasies waarsku om hulle te bekeer, sodat hulle straf kan vryspring. Johannes die Doper het geweldige groot skares mense gedoop wat almal deur sy prediking geraak was. Die Evangelieskrywer Mattheüs beskryf wat gebeur het: “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 3:1-2). Jesus Christus het natuurlik later dieselfde boodskap gepreek (Markus 1:14-15). Wat was die reaksie op Johannes se prediking? “En Jerusalem en die hele Judéa en die hele omtrek van die Jordaan het uitgegaan na hom toe. En hulle is deur hom in die Jordaan gedoop met belydenis van hulle sondes” (Mattheüs 3:5-6).

Is u besig om voor te berei vir Christus se Wederkoms? Begrip van die werklikheid van Bybelse profesie sal u help om voor te berei! Op Pinksterdag in 31 n.C., het die apostel Petrus die duisende in sy gehoor aangespoor om hulle te bekeer en te laat doop (Handelinge 2:38). Petrus het die skare gemotiveer om hul lewens te verander. Hy het gesê: “En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring” (Handelinge 2:40-41). Indien God u tot die punt van berou tot bekering gebring het en u die verpligting van die doop verstaan, moet asseblief nie huiwer om een van ons verteenwoordigers by die streekkantoor die naaste aan u – soos gelys op bl. 2 van hierdie uitgawe – te nader nie.

Die Bybel skets duidelik die oordeel wat oor die Westerse nasies gaan kom as ons volhou met ons onsedelike lewenswyses wat strydig is met God se weë. Indien u egter Bybelse profesieë verstaan, kan u groot lyding gespaar word en kan u individueel God se seëninge ervaar, selfs wanneer u nasie God se oordeel ondergaan. Profesie openbaar kommerwekkende eindtydse gebeure wat net om die draai lê, maar dit openbaar ook die goeie nuus van God se vinnig naderende koninkryk. Mag God daardie wonderlike dag bespoedig!