Dit gebeur uiteindelik! Die panorama van gebeure in die laaste dae wat lei tot die Wederkoms van Christus raak sigbaar vir diegene wat oë het om te sien.


Vir baie jare het ek die geleentheid gehad om die “Esegiël-waarskuwing” aan ’n groot deel van die Engelssprekende wêreld te verkondig en daaroor te skryf. Met die spesifieke kennis van ons volke se identiteit, soos geopenbaar in Bybelprofesie, het ek en my kollegas gepoog om die Anglo-Saksies-Keltiese volkere te waarsku teen die naderende Groot Verdrukking. Ons het herhaaldelik via die radio, televisie asook die geskrewe woord verduidelik dat die “trots en mag” van die volke van Britse herkoms asook die Amerikaanse volk absoluut gebreek sou word en dat hulle later die brandpunt van die Groot Verdrukking sou wees soos voorspel in Mattheus 24:21-22 asook elders. Keer op keer het ons verklaar dat ’n magtige unie van volkere in Europa tot stand sou kom, teen Amerika en Brittanje sou draai en ons uiteindelik in die grootste nasionale gevangenskap in menseheugenis sal neem!

My vriende, die stukke van die legkaart is besig om nou in mekaar te begin pas! Die groot nasies van Europa is besig om te verenig. Die Britte sal inderdaad die “vyfde wiel aan die wa” wees. Hulle sal nie deel vorm van die uiteindelike Europese Ryk nie. Neem kennis! Dit is ’n spesifieke voorspelling wat ek maak, gegrond op my kennis van Bybelprofesie.

Die Rooms-Katoliek gedomineerde volke van Sentraal-Europa begin reeds om hulself te laat geld soos nog nooit tevore sedert die Tweede Wêreldoorlog nie. Stadig maar seker begin hulle teen Amerika en Brittanje draai. Die eerstydse respek en selfs liefde tussen die VSA en sy bondgenote begin grootliks afneem wat te danke is aan onlangse gebeure en buitelandse beleidsbesluite.

Patrick Tyler, korrespondent van die New York Times, berig oor hierdie verskynsel: “Die verklaring wat Woensdag deur Duitsland, Rusland en Frankryk uitgereik is teen die oorlog in Irak – met ’n stilswyende dreigement van ’n veto – mag blyk die luidste ‘Nee!’ regoor die Atlantiese Oseaan te wees in die afgelope halfeeu of meer .... Maar die feit dat Europa se magtigste lande verplig voel om ter elfder ure teen president Bush te protesteer, vergroot die skeurings wat in die afgelope jaar tussen die grootste bondgenote ontstaan het .... Bo en behalwe die onmiddellike oorlogskwessie, is dié verklaring ’n groot belediging vir Washington. Dit vermaan die Bush administrasie dat die internasionale stelsel ’n ‘keerpunt’ bereik het na die Koue Oorlog in die daarstelling van voorskrifte en dat die Frans-Duitse blok ’n te groot mag is om te ignoreer – indien nie militêr nie, dan in beide ekonomiese en kulturele terme” (aangehaal uit The Charlotte Observer, 6 Maart 2003).

Ja, ’n herleefde Europese Ryk is verseker in wording! Dit sal binnekort in ’n posisie wees om die VSA uit te daag om die leierskap in groot dele van die wêreld. Dit is voorspel dat hierdie herleefde Europese Ryk die herlewing van die “Heilige Romeinse Ryk” is. Met die situasie in Irak, verskille oor handelsbeleid, konflik oor die Internasionale Geregshof en ander basiese kwessies, ontwikkel ’n dieper wordende gaping tussen Amerika en sy voormalige bondgenote.

’n Kloof ontstaan tussen Amerika en Europa

In die Prospect, ’n invloedryke joernaal, skryf Robert Kagan: “Dit is tyd om op te hou voorgee dat Europeërs en Amerikaners ’n gemeenskaplike siening van die wêreld het of selfs dieselfde wêreld beset. Oor die allerbelangrike vraag van mag – die kragdadigheid van mag, die moraliteit van mag, die begeerlikheid van mag – is Amerikaanse en Europese perspektiewe uiteenlopend .... Dit is waarom Amerikaners en Europeërs mekaar vandag al hoe minder verstaan oor sleutelkwessies van strategiese belang. Hierdie toedrag van sake is van ’n nie-verbygaande aard en is dus nie die produk van een Amerikaanse verkiesing of een katastrofiese gebeurtenis nie. Die redes vir die transatlantiese skeuring is diepliggend en blykbaar blywend. Wanneer dit kom by die stel van nasionale prioriteite, die bepaling van bedreigings en implementering van buitelandse- en verdedigingsbeleid, het die VSA en Europa se paaie uiteengeloop” (Augustus 2002).

Wat mnr. Kagan en die meeste joernaliste nie besef nie, is dat daar ’n baie wesenlike God is wat die lotsbestemming van mense en volke beheer. Wanneer Hy besluit om in te gryp, is Hy die Een wat die uitslag van veldslae bepaal (Spreuke 21:31). Hierdie grote God sê vir koning Nebukadnésar van ouds dat hy gestraf sal word totdat hy weet dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:25).

Die Skepper van die mensdom begin nou ingryp deur die volke te tug wat Hy die afgelope 200 jaar soveel geseën het. Gereelde lesers van hierdie tydskrif weet dat Amerika en die lande van Britse herkoms, naamlik Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en natuurlik Brittanje self, almal afstam van die “Huis van Josef” in die Bybel. Aan hierdie volke is die “eersgeboortereg” seëninge deur Josef gegee wat aanvanklik aan Jakob, Josef se vader, belowe is. Onthou, hierdie was fisiese seëninge wat aan Josef gegee is – nie aan Juda nie, soos so baie mense verkeerdelik aanneem. “En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel – want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad” (1 Kronieke 5:1-2). Hoewel Juda dus die eerskomende Heerser, die Messias, sou voortbring, is die “eersgeboortereg” seëninge van groot welstand en mag aan Josef gegee.

Hierdie “eersgeboortereg” seëninge het ingesluit groot nasionale welstand, mag en militêre oorheersing. Josef se oudste seun, Manasse, sou die grootste enkele nasie op aarde word. Efraim, die jonger seun, sou die groot “gemeenskap” of gemenebes van nasies word (sien Genesis 48:14-20; 35:9-11). Ter beskrywing van wat in die “laaste dae” (49:1) met Jakob se seuns sal gebeur, sê God van Josef: “Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (vers 26).

Moderne “Huis van Israel” word gestraf

In ’n tweevoudige profesie wat definitief op die laaste dae van toepassing is, beskryf God wat die lot van die Engelssprekende volke is wat so geseënd was: “En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos ’n leeu onder die diere van die woud, soos ’n jong leeu onder troppe kleinvee; wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red. Jou hand sal bo jou teëstanders verhewe wees, en al jou vyande sal uitgeroei word” (Miga 5:7-8).

Let daarop dat die “oorblyfsel” – die laaste geslag van die mense van Israel (nie Juda of die Jode nie), die oorheersende wêreldmag sou wees wat sy vyande sou “afsny” net soos Amerika en Brittanje dit wel in die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gedoen het. Hulle sou wees soos “dou van die Here” – ’n groot seën vir ander nasies, net soos dou ’n groot seën vir boere is. Die weldadigheid van Amerika en Brittanje – wat gehelp het om die grootste gedeelte van Europa te herbou na die Eerste Wêreldoorlog en toe weer deur die Marshallplan na die Tweede Wêreldoorlog – is bykans ongeëwenaard in die geskiedenis. Daarbenewens het nog geen ander volk soveel voedselhulp oor die wêreld heen verleen en dokters, verpleegsters en opvoeders uitgestuur om ander lande te help soos Amerika en die lande van Britse herkoms nie.

God gaan egter voort in die profesie: “En in dié dag (in dieselfde tydperk toe ons so magtig was), spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig. Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek. Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie. En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie. En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes. En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie” (9-14). 

God voorspel ’n vinnige en skokkende keerpunt in wêreldsake! Dieselfde volke wat – in mensesake – die “grootste” was, sal skielik tot ’n val kom en in die oorlog wat volg verneder word; hulle stede sal ingeneem en vernietig word. Daarna sal hulle in nasionale slawerny geneem word! Dan sal God “wraak neem” op die heidennasies van die wêreld, wat Hy gebruik het om die moderne volke van die Huis van Israel te straf (vers 14).

Dit is duidelik dat die bogenoemde profesie nooit op die moderne Staat van Israel van vandag van toepassing kon wees nie! Israel was nog nooit in die moderne era ’n groot volk en ’n “gemenebes van volke” nie. Israel het nog nooit die geleentheid of mag gehad dat ander volke in hulle geseënd sal wees soos met Amerika en Brittanje vir dekades die geval was nie. Dit is deurslaggewend om te weet – baie min Bybelstudente weet wél – dat Israel en Juda vir baie geslagte afsonderlike volke was, soos tans die geval is.

Die eerste keer wat die Bybel die woord “Jood” noem, is toe Israel in oorlog teen die Jode gewikkel was (sien 2 Konings 16:5-6)! Dit is noodsaaklik om te besef dat die term “Huis van Israel” dikwels nie na die Jode verwys nie! In die meeste van die hoofprofesieë van die Bybel, verwys dit eerder na die “Tien Verlore Stamme van Israel”. Dit verwys, in moderne tye, na die volke van Amerika, die volke van Britse herkoms en die vredeliewende volke van Noordwes-Europa. Ongelukkig verstaan baie sogenaamde “studente” van Bybelprofesie óf nie, óf hulle verwerp opsetlik die kennis, daarom is hulle geheel en al “in die duister” wanneer dit kom by begrip van die steierende gebeure wat nou in Europa, die Midde-Ooste en rondom die wêreld aan die gebeur is!

Die komende Groot Verdrukking

Die boek Jeremia bevat hoofsaaklik eindtyd profesieë, want soos kenners erken, is dit tussen 605 en 585 v.C. geskryf – meer as 100 jaar na die val van antieke Israel. Tog voorspel dit ’n toekomstige – duidelik eindtydse – straf en gevangenskap vir die “Huis van Israel” en ook vir die Jode!

Let daarop dat Jeremia 30:4 verwys na “Israel en Juda” – twee afsonderlike volke sedert Israel teen Juda gerebelleer het en ’n afsonderlike volk geword het (sien 1 Konings 12:15-20). God beskryf die eindtydse verdrukking wat op beide dele van die Huis van Israel sal kom: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jeremia 30:7). Let daarop dat hierdie kragtige profesie – wat geskryf is oor die 100 jaar nadat die antieke Huis van Israel in gevangenskap weggevoer is – ’n toekomstige straf en gevangenskap vir die moderne Huis van Israel voorspel. Hierdie komende Groot Verdrukking is die “tyd van Jakob se benoudheid”. Hierdie tyd, nog in die toekoms, wanneer die volke van die moderne Huis van Israel – die volke van Amerikaanse en Britse herkoms – in slawerny (vers 8), weggevoer sal word tot die Wederkoms van Christus. Dit is duidelik binne die afsienbare toekoms, waarná God sê dat Hy ons uit ver plekke sal “verlos”, “uit die land van [ons] gevangenskap” (vers 10).

Waarom sal God hierdie straf toelaat? God se geïnspireerde Woord antwoord: “Al jou minnaars [geallieerdes] het jou vergeet, hulle vra nie na jou nie; want Ek het jou geslaan soos ’n vyand slaan, met ’n wrede tugtiging, omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes” (vers 14).

Dit is welbekend dat Amerika en die volke van Britse herkoms in absolute plesiersoekery, materialisme en korrupsie verval het. Ons het ons van God weggekeer. Ons is in owerspel, ontug en sodomie verswelg, om nie eers te praat van die voortgesette gemors en eksplisiete seksualiteit in ons vermaak nie. Ons samelewing staan leuens, kullery, steel en geweld van elke soort voor. Dis geen wonder dat ’n regverdige God, wat ons soveel groot nasionale seëninge gegee het nou – in Sy groot liefde en besorgdheid – besluit het om in te gryp en ons te straf met die grootste nasionale gevangenskap in menseheugenis nie, ten einde ons mense tot ware bekering te bring!

Na Sy beskrywing van ons gevangenskap en God se verlossing van moderne Israel, sê Hy: “Aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” (vers 24). Ons leef nou in daardie laaste dae! Die Chicago Tribune plaas ’n gesaghebbende artikel verlede jaar hoe daardie eindtyd gebeure begin ontvou! Die skrywer Andrew Reding sê: “Terwyl die VSA se media fokus op Europa se oorgang na die euro, wil dit voorkom asof Washington nie verstaan wat die volle implikasie van ’n verenigde kontinent anderkant die Atlantiese Oseaan sal wees nie. Die ingebruikneming van die euro deur 12 Europese lande gee die toon aan vir iets belangriker as wat enigeen aan hierdie kant van die Atlantiese Oseaan blyk te besef. Europa tree geleidelik na vore as die wêreld se nuwe supermoondheid. Binne ’n paar dekades sal die Europese Unie die Verenigde State inhaal – indien nie oortref nie – as die oorheersende ekonomiese mag op die wêreldtoneel” (6 Januarie 2002). Die opskrif van Reding se artikel is: “EU in posisie om die wêreld se volgende supermoondheid te wees”. Sê dit iets vir ons?

’n Moderne “Babilon”

Die Bybel is baie beslis omtrent Europa se oorheersing in die laaste dae. In Openbaring 17 beskryf God die “groot hoer” wat op “volke en menigtes en nasies en tale” sit (vers 15). Dit beskryf hierdie hoer – ’n groot vals godsdiensstelsel – wat op die “Dier” ry. Dit is duidelik dat hierdie Dier die Romeinse Ryk is, wat tot nou toe reeds ses maal herrys het, met die sewende herrysing op die horison! “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier” (verse 9-12).

Aan die hoof van hierdie laaste of sewende dier staan ’n menslike koning of diktator wat self ook die “Dier” genoem word. In Bybelprofesie word die term “koning” en “koninkryk” dikwels verwissel. Hierdie laaste diktator leef ongetwyfeld reeds nou êrens in Europa! Anders as Adolf Hitler, sal hy met groot slinksheid en diplomasie voor die dag kom. Tien mindere konings of leiers sal hulle “mag” en gesag aan hom gee (vers 13). Die leiers van hierdie verdorwe staatsgodsdiens georiënteerde mag sal totaal so arrogant wees dat hulle selfs sal poog om teen Christus Self te veg met Sy Wederkoms! “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (vers 14).

Die Almagtige God sal hierdie “dogter” van die Babilon van ouds gebruik om die moderne Huis van Israel wat God se “eersgeboortereg” volk is, te verneder en te straf. Die Bybel sê immers: “Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel! Sit op die grond sonder troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die vertroetelde en verwénde nie ... Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie. Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou juk baie swaar laat druk en gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie” (Jesaja 47:1, 5-7).

Die volgende paar verse beskryf hierdie “dogter” van antieke Babilon verder: “Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie. Hierdie twee dinge sal dan in ’n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe” (verse 8-9).

Jesaja 47 identifiseer hierdie dogter van Babilon as die mag wat die “juk” van slawerny op God se mense van die moderne Huis van Israel plaas. Op haar beurt, sal sy egter ook gou haar straf ontvang van Jesus Christus wat terugkeer na die aarde! “En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:2-3). Let dan ook daarop dat die volgende twee verse die boodskap van Jesaja 47:8-9 feitlik herhaal: “Daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien” (verse 8-9).

Die ware Jesus Christus van u Bybel keer binnekort terug as Koning van konings om die volke van hierdie aarde te regeer. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Wanneer Christus terugkeer, sal Hy Sy mense – beide die Jode en die tien sogenaamde “verlore” stamme van Israel – verlos van die mag wat hulle verslaaf het: “Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die HERE; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak” (Jeremia 30:10).

Dan “berispe [Hy] hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond tot stand sal bring – nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Hebreërs 8:8-10). Mag God daardie dag vinnig laat kom!

Kom uit Babilon uit!

In die moeilike tye wat voorlê, terwyl hierdie magtige stelsel in dieselfde lande ontvou waar dit tevore bestaan het, moet alle Christene wat in die Bybel glo gewillig wees om God ten volle te vertrou om na hulle en hul geliefdes om te sien. Dit sal vorentoe toenemend moeiliker word, selfs vir ons wat by hierdie Werk betrokke is, om u regstreeks teen hierdie stelsel te waarsku! Dit sal “polities nie reg wees nie”. Dit sal toenemend meer moeilik word want, namate die tyd uitloop, sal dit toenemend duidelik word – ten minste vir diegene wat die Bybel bestudeer en verstaan – wie hierdie profesie vervul.

Hierdie eerskomende staatsgodsdiens georiënteerde unie van nasies sal ’n magtige stelsel wees, nie net militêr nie, maar ook op handelsgebied en in alle soorte van welstand. Dit sal so weelderig wees, sê God, dat wanneer dit uiteindelik deur die terugkerende Christus vernietig word: “... [sal] die handelaars van die aarde ... ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie” (Openbaring 18:11). Hierdie stelsel sal baie aanloklik wees vir die meeste mense op aarde. Dit sal baie moeilik wees om nie by hierdie stelsel aan te sluit nie, want vervolging en teistering sal op diegene kom wat nie deel daarvan is nie. Tog doen die grote God van die skepping deur Sy Woord ’n beroep op ons: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:4-5).

In hierdie Werk van die lewende Christus wil ons nie enige van u wat hierdie artikel lees te na kom nie, maar ons is terdeë bewus en weet dat hierdie gebeure verseker op ons wag! Daarom moedig ons u ernstig aan, in die Naam van Christus, om wakker te word en sommige van u godsdienstige idees, gebruike en leerstellings opnuut te deurdink. Wees gewillig om die Waarheid in die gesig te staar, want die Waarheid is magtig! Waarheid is die uiteindelike werklikheid!

In die Naam van Jesus smeek ek u om die werklikheid in die gesig te staar, naamlik dat die basiese Bybelprofesieë, wat ons in hierdie Werk vir dekades al verkondig, nou besig is om te ontvou. Amerika en Brittanje word ernstig verswak deur aanstoot te gee aan ’n groot deel van die Moslemwêreld; hulle spandeer hulle groot nasionale rykdom in ’n poging om die “wêreld se polisieman” te wees en dan keer hulle nog die rug op die God wat hulle soveel seëninge gegee het – daarom plaas ons onsself onder Sy oordeel. Net soos ’n liefdevolle vader elke seun tugtig wat hy liefhet, so sal die almagtige God wat ons liefhet, ons volke tugtig voordat dit te laat is (sien Hebreërs 12:5-7).

Mag God u help om te verstaan. Mag Hy u help om op Sy Waarheid te reageer, terwyl u nog die geleentheid het. Mag God gee dat u die krag en moed van u oortuiging het om Sy wil te doen en sodoende beskerm te word tydens die Groot Verdrukking wat in hierdie geslag oor ons sal kom!