Die gebeure op 11 September 2001 het geweldige emosies opgewek wat nog steeds ’n invloed op miljoene Amerikaners het. Oor die algemeen is daar die een enkele vraag: “Waar was God op 11 September?” My vrou en ek het ’n paar weke gelede gekyk na ’n spesiale openbare uitsending getitel, “Geloof en Twyfel op ’n Laagtepunt”, toe hierdie spesifieke vraag gestel is.

Tydens hierdie uitsending is God deur die “Bybels ongeletterde” Amerikaanse publiek “geoordeel” aan die hand van elke denkbare vorm van verwarde redenasie. Baie vra: “Hoekom het God nie ingegryp en dit gekeer nie?” Diegene wat ’n geliefde verloor het wonder weer: “Hoekom het God my geliefde gekies om te sterf en nie iemand anders nie?” Ook is God van “barbaarsheid” beskuldig, omdat Hy toegelaat het dat die aanval plaasvind!

Vanwaar kry hierdie mense hulle valse opvattings oor God en Sy opperdoel? Die meeste van hulle is skynbaar “godsdienstig” - hulle het eenvoudig maar net uiting gegee weens ’n gebrek aan kennis oor God se Plan vir hierdie wêreld. Hierdie mense se kennis strek ook maar net so ver as wat hulle van hulle onderskeie godsdienstige leermeesters geleer het. Ook het niemand ’n werklike begrip oor God se manier van optrede in hierdie wêreld nie en hoe Hy sal voortgaan om op te tree teenoor die ses miljard mense wat hierdie planeet bewoon!

Ek sê “voortgaan”, want daar mag nog meer terroriste aanvalle wees, asook voortslepende oorloë, droogtes, vloede, weghol veldbrande, hongersnood, siekte-epidemies en kragtige aardbewings (vgl. Matteus 24:3-8; Lukas 21:7-11)! Wie gaan die mense blameer vir dit alles?

Sekerlik nie hulleself nie!

Die ware God van die Bybel het aan almal die reg tot ’n vrye keuse gegee. Hy dwing niemand en geen volk om die regte ding te doen nie. Daarom is dit so dat miljoene egbreuk pleeg en hoereer, hulle oorgee aan seksuele verdorwenheid, diefstal, bedrog, leuens en die ydellike gebruik van God se Naam. Ironies is dit juis hierdie miljarde wat gebelgd is as hulle Christelikheid bevraagteken word. Hulle verdedig dan die kerk van hulle keuse met alles waaroor hulle beskik - ongeag hoe onbybels hulle leerstellings mag wees. Hulle gee hulle mening sonder ophou - terwyl hulle in die praktyk weier om die geïnspireerde Woord van God regtig te bestudeer en om dit te aanvaar as die absolute outoriteit in hulle lewens. Sommige - soos hierbo vermeld - sal selfs God as ’n “barbaar” beskou, omdat Hy die mens toelaat om hulle eie gang te gaan gedurende hierdie tydperk van 6,000 jaar. Ons lesers is oor en oor meegedeel dat die Ewige God 6,000 jaar afgesonder het vir die mens om onder die invloed van Satan die duiwel te eksperimenteer met sy eie idees oor godsdiens, opvoeding en vermaak.

Satan is die “god” van hierdie huidige samelewing. Hy het ’n geweldige invloed wat betref die perverse temas en stories op televisie, in rolprente, musiek en literatuur. Daarom sê Paulus dat Satan die “owerste van die mag van die lug [is], van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Ef. 2:2). Satan neem leiding in die gesindhede en gelowe van mense in hierdie wêreld se atmosfeer. Hy is die “owerste” van die lug in ons gemeenskap.

Paulus sê dan ook dat Satan die wêreld verblind omtrent die waarheid oor die ware God en Sy weë: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4). Die apostel Johannes beskryf die Satan as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Op. 12:9).

Die mensdom, met ’n vrye keuse, is in staat om met hulle eie idees te eksperimenteer oor wat reg en wat verkeerd is. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het direk teen God se bevele opgetree en eerder Satan gehoorsaam (Gen. 3:1-19) en sedertdien volg die mens nog steeds dieselfde pad! God beskryf die groot “denkers” van die verlede as volg: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Rom. 1:22). God inspireer Paulus om hierop uit te brei: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid” (verse 28-29).

Kan u sien dat daar ’n vals gesindheid aan die werk is in hierdie wêreldse samelewing? Kan u sien waarom die mens se wysheid “dwaas” is in die oë van God? (1 Kor. 1:20).

God het slegs ’n paar individue geroep om Hom te dien en te leer ken gedurende hierdie tydvak. Jesus noem Sy mense die “klein kuddetjie” (Luk. 12:32) en verklaar omvattend: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:44). Hierdie aspek word benadruk deur dit te herhaal in Johannes 6:65: “Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie”.

Behalwe die paar wat “geroep” is, het God toegelaat dat die mensdom sy eie weg volg sedert Adam en Eva. Wanneer nodig, gryp hy in groot aangeleenthede in die wêreld in om sodoende Sy algehele doel op koers te hou. Hy gryp ook in om diegene te help en te lei wat Hy uit die huidige wêreld uitgeroep het. Maar, oor die algemeen laat God die mens toe om hulle eie besluite te neem in hierdie wêreldgemeenskap wat van Hom afgesny is. Dit is hoekom die Bybel sê: “Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal” (Prediker 9:11).

Nee, die ware God sonder nie enigiemand se dogter of seun uit of kies hulle om in ’n algemene tragedie te sterf soos met die slagting van die Jode deur die Nazi's in die Tweede Wêreldoorlog of gedurende die aanvalle van 11 September in Amerika nie. Jesus Christus het die gedagtegang van God uitgespel in geval van so ’n tragedie: “En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het - dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Luk. 13:1-5).

Sedert die begin van die menselewe op hierdie aarde het God die mens met ’n vrye keuse gelaat om hulle eie weg te kies. Oor die algemeen het die mens nog altyd gekies om ongehoorsaam te wees aan God en sy gebooie. Daarom sê die Bybel dan ook: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jes. 59:1-2).

Misleide individue en leraars wat bedrieg is kan met God argumenteer en hulle eie tipe godsdiens opdis. Maar, uiteindelik sal hulle deur beproewinge gedwing word tot ware nederigheid om God te soek en eerlik en opreg begin doen wat Hy sê. Anders sê God vir ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 14:12). Sonde word regdeur die Bybel beskryf as die verbreking van die groot geestelike wet van God, die Tien Gebooie. Die Bybel sê spesifiek: “... sonde is wetteloosheid” (1 Joh. 3:4).

So lank as wat die mens aanhou met die verbreking van God se geestelike wet sal ons verwarring ervaar, “geestelose lyding”, aanhoudende tragedies en die dood. Individue kan hierdie lyding ontkom deur hulle met hulle hele hart te wend tot die God van die Bybel en te doen wat Hy duidelik uitspel in Sy Woord. So deel Jesus dan ook die jongman mee wat Hom vra na die pad tot die ewige lewe: “... as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:17).

Ook Paulus sê: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God” (1 Kor. 7:19). Johannes weer beskryf die ware heiliges van die Allerhoogste: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Op. 14:12). Selfs om in staat te wees om die Tien Gebooie te onderhou, moet jy egter waarlik jou lewe aan God oorgee en Jesus Christus as jou Saligmaker, Heer en Meester aanneem. Dan - deur die Heilige Gees - sal Christus sy gehoorsame lewe in jou leef soos Paulus dan ook sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

Net so min as wat God die gebeure van 11 September veroorsaak het, net so min sal Hy u dwing om Sy gebooie te onderhou. Elkeen moet kies watter weg hy wil volg. Daarom sê God dan ook aan Sy Heilige volk Israel: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut. 30:19).