Die belangrikste vlootoorwinnings in die geskiedenis is gedurende die Tweede Wêreldoorlog beleef. Watter belangrike waarheid word deur geskiedkundiges en Hollywood geïgnoreer wanneer hulle die verhaal van Midway vertel?

Wat Hollywood en geskiedkundiges vergeet het

Die onlangse vrystelling van die film Midway het die aandag weereens op een van die belangrikste veldslae van die Tweede Wêreldoorlog gevestig en ook op ’n verstommende keerpunt in die oorlog in die Stille Oseaan. Die toekoms van die Verenigde State en die Japanese Ryk was op die spel in hierdie dodelike stryd. ’n Reeks merkwaardige gebeure tydens hierdie verwoede seegeveg het skielik die verloop van die stryd asook die verloop van die oorlog dramaties verander – om nie te praat van die verloop van die geskiedenis nie.

Wat was die merkwaardige gebeure wat dié skielike ommekeer veroorsaak het vir die Amerikaners sowel as vir die Japanese? Watter lesse kan ons leer uit ’n baie betekenisvolle veldslag wat byna 80 jaar gelede geveg is naby twee klein eilandjies in die sentrale Stille Oseaan? Waarom is hierdie lesse vandag vir elkeen van ons belangrik?

Daar is in talle boeke al probeer verduidelik waarom die Japanese ’n deurslaggewende geveg verloor het terwyl hulle vol vertroue was dat hulle sou wen en waarom die Amerikaanse magte skielik die oorhand gekry het toe húlle eintlik vernietig moes gewees het. Geskiedkundiges wys op besluite van bevelvoerders, gevegsfoute, verskillende gevegstaktieke, beter inligting met betrekking tot intelligensie en spesifieke weersomstandighede. ’n Ander faktor wat dikwels krediet kry vir die verrassende ommekeer van gebeure tydens die Slag van Midway, is net eenvoudig geluk! In die 1976-film Midway het die akteur Henry Fonda, in die rol van Admiraal Chester Nimitz, die welbekende vraag gevra: “Was ons beter as die Japanese of net gelukkiger?” Dit het inderdaad gelyk of die Amerikaners voordeel getrek het uit meer as net ’n bietjie “geluk”, terwyl dit gelyk het of die Japanese telkens weer aan die kortste end getrek het tydens die geveg.

Soos ons in hierdie artikel sal sien, was daar meer aan Midway verbonde as net ’n saak van “gelukkig” of “ongelukkig” te wees! Daar was ’n ander belangrike faktor in die verstommende ommekeer van sake – ’n faktor wat geskiedkundiges dikwels aanvoel en daarop sinspeel, maar selde direk daarna verwys. Soos wat ons die merkwaardige reeks gebeure ondersoek wat bygedra het tot die verrassende afloop van die Slag van Midway, sal die aard van hierdie belangrike faktor duideliker word.

 

Die toneel word voorberei

Hoe het Amerikaanse en Japanese magte hulleself in ’n stryd van lewe en dood bevind in die middel van die Stille Oseaan, duisende kilometers van hulle vaderlande af? Die twee nasies is in ’n dodelike konflik ingedwing ná ’n verrassende en verwoestende aanval deur Japanese vliegtuie op 7 Desember 1941 op die Amerikaanse vlootbasis in Hawaii. Die destydse president Franklin Roosevelt het dit “’n datum wat eerloos sal voortleef” genoem. Die aanval op Pearl Harbor was deel van Japan se plan om die Amerikaanse vlootmag in die westelike Stille Oseaan te vernietig en die mag en invloed van die Japanese Ryk uit te brei. Die aanval teen dagbreek het Amerika se vlootmag in die Stille Oseaan lamgelê en in die daaropvolgende dae het die Japanese die Filippyne binnegeval, twee Britse oorlogskepe in die Indiese Oseaan gekelder en Singapoer – die “Gibraltar van die Ooste” – oorgeneem. Gedurende die ses maande na die aanval op Pearl Harbor was die Japanese aanvalsmagte onstuitbaar en hulle het die een oorwinning na die ander behaal, terwyl Amerika en sy bondgenote van een nederlaag na die ander voortgesteier het. Gedurende hierdie tyd het ’n Japanese duikboot langs die kus van Kalifornië opgeduik en vir byna ’n halfuur lank ’n olie-raffinadery naby Santa Barbara gebombardeer, voordat dit op die oppervlakte kuslangs gevaar het en uiteindelik onder die water ingeduik en in die Stille Oseaan verdwyn het.

In ’n poging om ’n teenaanval te loods, het Luitenant-kolonel James Doolittle, 16 Amerikaanse bomwerpers vanaf ’n vliegdekskipbasis gelei in ’n verrassingsaanval op verskeie Japanese stede, wat vir die film Thirty Seconds Over Tokyo in toneelvorm verwerk is. Baie van die Amerikaanse bomwerpers het egter as gevolg van ’n tekort aan brandstof, buiklandings langs die kus van China uitgevoer. In reaksie op die aanval het die Japanese weerwraak teen die Chinese geneem deur die dorpies te verwoes wat die lewens van ongeveer 250,000 burgerlikes geëis het in gebiede waar inwoners daarvan verdink was dat hulle Amerikaanse vlieëniers wat moes land, gehelp het.

Verheug met hulle sukses en vol selfvertroue en dalk ’n bietjie wraaksugtig, het die Japanese Admiraal Yamamoto beplan om die Amerikaanse vlootmag in die Stille Oseaan uit te wis deur Midway, wat ’n uiters belangrike punt vir die beheer van seeroetes in die Stille Oseaan was in te val. Hy het gehoop om die Amerikaanse vliegdekskepe in ’n lokval te lei waar hulle in een laaste ramspoedige geveg deur Japanese oorlogskepe vernietig sou word, waarna die verslane Amerikaners dan vir vrede sou vra. Dit was die plan. Wat die Japanese nie besef het nie, was dat die Amerikaners enkele dae voor die Slag van Midway die Japanese militêre kode ontsyfer het en so die ligging van die dreigende aanval kon vasstel. Toe die magtige Japanese aanvalsmag in die waters net voor Midway aangekom het, was die Amerikaners reeds in posisie – in afwagting en op die uitkyk.

 

Noodlottige stryd

Op die oggend van 4 Junie het ’n Amerikaanse verkenningsvliegtuig van Midway die Japanese aanvalsvloot raakgesien, net toe die vliegtuig se brandstof byna gedaan was. In reaksie hierop is Amerikaanse bomwerpers van Midway af gestuur, maar ure later toe hulle die Japanese aanvalsvloot bereik het, het nie een van hulle bomme hulle beoogde teikens getref nie – ’n aanduiding van hoe moeilik dit is om ’n bewegende teiken op die oseaan vanaf ’n groot hoogte te tref.

Die eerste eskader vliegtuie wat Midway vanaf die Japanese vliegdekskepe aangeval het, het aansienlike skade aangerig, maar die aanvoerder van die eskader het gevoel dat ’n tweede aanval nodig sou wees: Dus het die Japanese Admiraal Nagumo beveel dat die terugkerende vliegtuie met bomme herlaai moes word. Nadat hy egter verneem het dat Amerikaanse vliegdekskepe in die omgewing was, het hy beveel dat die vliegtuie met torpedo’s herlaai moes word. Dit het alles kosbare tyd in beslag geneem.

Gedurende hierdie tyd het vliegtuie van die Amerikaanse vliegdekskepe die Japanese vliegdekskepe begin aanval. Die Japanese skepe het van koers verander en dus was hulle nie waar die Amerikaanse vlieëniers gedink het hulle sou wees nie. Trouens die meeste vegvliegtuie en duikbomwerpers van een vliegdekskip het, toe hulle nie die Japanese vloot kon opspoor nie, na die vliegdekskip teruggekeer of as gevolg van ’n tekort aan brandstof ’n noodlanding op see uitgevoer. Die eskaderleier van die Amerikaanse torpedobomwerpers het egter ’n ingewing gekry, die Japanese vliegdekskepe gevind en onmiddellik aangeval. Die Amerikaanse torpedobomwerpers was egter stadig en moes in ’n reguit lyn net bokant die golwe vlieg om hulle torpedo’s te kon lanseer. In hierdie posisie en sonder die beskerming van vegvliegtuie, was die bomwerpers uiters kwesbaar vir lugafweergeskut en die baie vinniger Japanese vegvliegtuie, die “Zeros”. Al die torpedo-bomwerpers is vernietig sonder om die Japanese vliegdekskepe skade te berokken. Tydens die aanval het ’n Amerikaanse duikboot ’n torpedo na die Japanese torpedojaer Arashi gelanseer, maar die torpedo het die teiken gemis en die torpedojaer het die duikboot verjaag.

Duikbomwerpers van die Amerikaanse vliegdekskepe het geen Japanese skepe gevind toe hulle by hulle aanvanklike bestemming aangekom het nie. Die leier van die eskader het egter toevallig die kielwaterskuimspoor van die Japanese torpedojaer Arashi opgemerk waar dit in dolle vaart was om weer by die Japanese vloot aan te sluit en hy het dit direk na die Japanese vliegdekskepe gevolg. Toe die Amerikaanse duikbomwerpers gearriveer het, het hulle gevind dat daar geen Japanese vegvliegtuie in die lug bokant die vliegdekskepe was nie. Die Zeros vegvliegtuie was almal beveel om te daal om Amerikaanse torpedo-bomwerpers wat laag vlieg aan te val. Die verstommende resultaat was dat daar binne ongeveer vyf minute drie Japanese vliegdekskepe deur ontploffings uitmekaar geruk is en in vlamme gehul was as gevolg van ongehinderde aanvalle deur Amerikaanse bomwerpers. Die bedreiging van die magtige Japanese armada is binne enkele minute lamgelê. ’n Paar uur later is die vierde vliegdekskip van die Japanese vloot dieselfde slag toegedien. Die aanvallende Japanese mag, wat vas van plan was om die Amerikaanse vliegdek-vlootmag vas te keer en te vernietig, het self in ’n dodelike lokval ingevaar. Hulle is oortuigend verslaan, met die verlies van vier vliegdekskepe, 330 vliegtuie en 2,500 soldate wat onvervangbare vlieëniers en hoogs opgeleide grondbemanning ingesluit het. Die Amerikaners het een vliegdekskip, een torpedojaer, 147 vliegtuie en 307 man verloor.

Die militêre geskiedskrywer John Keegan, het dit beskryf as die “mees indrukwekkende en beslissende slag in die geskiedenis van see-oorlogvoering” (The Second World War, 2005, bl. 275). Die onverwagse Amerikaanse oorwinning by Midway het ’n ommekeer van sake in die oorlog in die Stille Oseaan veroorsaak en die verloop van die geskiedenis verander.

 

Die wonderwerk van Midway

Op die oggend van 4 Junie 1942 was die vreesaanjaende Japanese vliegdekskip-vloot op pad na Midway. Dit was die magtigste militêre armada wat ooit byeengebring is. Nogtans, teen sononder op dieselfde dag, is hierdie ontsaglike versameling van skepe en vliegtuie vernietig en Japan se hoop om hulle Ryk in die Stille Oseaan uit te brei, was geruïneer. Voor Midway het die Japanese magte slegs oorwinnings geken. Na Midway het hulle ’n reeks nederlae deur die toedoen van Amerika en sy bondgenote gely.

Was hierdie verstommende wending maar net ’n kwessie van geluk, toeval of noodlot? Met inagneming van die merkwaardige reeks gebeure wat gelei het tot die Amerikaanse oorwinning en ommekeer van die oorlog in die Stille Oseaan, het baie mense gevoel het dat daar meer by die verhaal betrokke is as gelukkige toeval.

Net toe die Japanese armada vertrek het, het een van Admiraal Nagumo se lugbevelvoerders blindedermontsteking ontwikkel en moes hy van sy pligte onthef word. ’n Paar dae later is die hoofbevelvoerder wat die lugaanval op Pearl Harbor beplan het, met longontsteking platgetrek. Enkele dae voordat die armada sou aanval, het Amerikaanse kodebrekers Midway geïdentifiseer as die teiken van ’n komende aanval. Alhoewel Admiraal Nimitz met teenstand van sy hoofde in Washington te kampe gehad het, het iets hom laat besluit om die inligting te vertrou wat deur sy intelligensiespan verskaf is. Dan was daar die element van verrassing. Was dit net toevallig dat die Amerikaanse verkenningsvliegtuig die aanvalsmag eerste opgemerk het nét toe die vliegtuig byna sonder brandstof was en die vlieënier gereed gemaak het om terug te keer? Hierdie vroeë waarskuwing van die dreigende aanval het die V.S. se magte op Midway asook die Amerikaanse vliegdekskepe in staat gestel om voor te berei om die vyand te ontmoet.

Was dit net toevallig dat toe die Amerikaanse loodse nie die Japanese vloot as gevolg van laasgenoemde se koersverandering kon opspoor nie, dit vir die eskaderleier van die Amerikaanse torpedo-bomwerpers moontlik was om die Japanese vloot op die ingewing van die oomblik op te spoor? Was dit net ”geluk” dat die eskaderleier van die Amerikaanse duikbomwerpers, wat ook op soek was na die ontwykende Japanese vloot, ’n paar minute later skielik die kielwater van die Japanese torpedojaer Arashi raakgesien het, wat hom direk na die Japanese vloot gelei het? Was dit toevallig dat hy net betyds opgedaag het om te sien hoe die Zeros vegvliegtuie laer daal om die Amerikaanse torpedobomwerpers wat laag vlieg aan te val en die Amerikaanse duikbomwerpers ’n kans te gee om uit die bloute, skielik af te duik en die kwesbare Japanese vliegdekskepe te vernietig? Was dit net toeval dat die Japanese Admiraal Nagumo besluit het om sy vliegtuie met torpedo’s te herlaai om die bomme te vervang, wat die Amerikaanse duikbomwerpers die tyd gegee het wat hulle nodig gehad het om op te daag en hulle verwoestende aanvalle op die Japanese vliegdekskepe te begin?

Hierdie onwaarskynlike besonderhede is slegs enkele van die merkwaardige gebeure waarna gesamentlik as die “wonderwerk” van Midway verwys word (sien Seven Miracles that Saved America deur Chris en Ted Stewart, bll. 198-248). Daar is egter nog méér om oor na te dink.

 

’n Goddelike plan

Die meeste rolprentvervaardigers van Hollywood, geskiedkundiges en akademici wat oor die Slag van Midway nadink, neem slegs die fisiese aspekte van hierdie groot gevegte in aanmerking. Tog is daar ’n geestelike aspek van die geskiedenis wat al te dikwels oor die hoof gesien en geïgnoreer word. In die Roland Emmerich-film Midway van 2019 word God se naam slegs in vloektaal gebruik en dit deur ’n jong matroos wat vra waarom dit nodig is dat hy stoele vir ’n kerkdiens moet regsit as hyself nie eers in God glo nie. Sulke opmerkings kom al hoe meer voor in ons wêreldse samelewing, waar dit die norm word om godsdiens te bespot – veral die Christendom. In so ’n omgewing is dit nie verbasend dat wêreldse geleerdes en skrywers nie rekening hou met God se hand in geskiedkundige gebeure nie.

Die Bybel openbaar egter dat daar ’n God is wat die verloop van die geskiedenis lei. Ons lees in die Skrif van God: “Hy maak nasies groot en laat hulle omkom” (Job 12:23), ook, “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21) en dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens” (sien Daniël 4:17, 25, 32). Anders as die mensdom, voorspel die God van die Bybel die toekoms en bring dit ten uitvoer om Sy plan en doel te bereik (Jesaja 46:8-11).

Die Bybel openbaar ook dat God gekies het om met ’n man met die naam Abraham en sy nageslag te werk as deel van ’n allesomvattende plan. As beloning vir sy gehoorsaamheid, beloof God dat die nageslag van Abraham ’n groot nasie sou word en ’n seën sou wees vir die volke van die aarde (Génesis 12:1-3; 18:18-19). Hoe daardie beloftes op ’n merkwaardige manier vervul is, word in ons boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, uiteengesit. God het ook antieke Israel (en sy nageslagte) vir ’n spesiale verantwoordelikheid gekies (Exodus 19:5-6; Deuteronómium 7:6). Omdat die Wette van God aan hulle gegee is, was die Israeliete veronderstel om ’n lig vir die wêreld te wees, wat ’n ander lewenswyse demonstreer (Deuteronómium 4:6-8). Daar is aan hulle gesê: “En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard. Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tienduisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard” (Levítikus 26:7-8) en “Die Here sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug” (Deuteronómium 28:7) Dit was beslis die geval in die Slag van Midway, waar God hierdie beloftes vervul het in ’n merkwaardige reeks gebeure wat die verloop van die geskiedenis verander het en wat toegelaat het dat Amerika die magtigste nasie in die wêreld geword het – alles in ooreenstemming met God se plan en Sy beloftes aan Abraham.

Om egter in so ’n geseënde situasie te kon bly, sou bepaal word deur Israel se toewyding en gehoorsaamheid aan God. God het gewaarsku dat indien die Israelitiese nasies God sou vergeet en van Sy Wette afvallig sou word, dit ernstige gevolge sal hê – hulle sal die verowerdes word, nie die oorwinnaars nie: “... soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie” (Deuteronómium 8:20). Moses het ook aan hulle gesê dat indien hulle van hulle Skepper afvallig sou word, hulle vyande oor hulle sou regeer omdat God hulle “trotse mag sal verbreek”, deur toe te laat dat die Israeliete verslaan word, onder die nasies versprei word en hulle sou dien en dat hulle stede wildernis en puinhope word, terwyl hulle magteloos sou wees om hulleself te beskerm (sien Levítikus 26:14-15, 17, 19, 33, 37).

Die Skrif openbaar dat, hoewel hierdie profesieë sekerlik van toepassing was op gebeure uit die antieke tye van die Israelitiese geskiedenis, dit uiteindelik vervul sal word wanneer ons die einde van hierdie huidige tydperk nader. Moses het gewaarsku: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronómium 31:29). Die woorde van Moses sal vervul word aan die einde van hierdie tydperk, in “’n tyd van benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7) – omdat die nageslag van Abraham vergeet het wie hulle is en hoe God hulle op talle geleenthede in hulle geskiedenis geseën en beskerm het, met inbegrip van die Slag van Midway.

 

Lesse vir vandag

Sal hedendaagse toeskouers wanneer hulle na die jongste rolprent oor Midway kyk en die wonderlike uitkoms van ’n merkwaardige reeks gebeure sien waartydens die geveg skielik ten gunste van die Amerikaanse magte omgeswaai het en die verloop van die geskiedenis verander het, erken dat daar werklik ’n God is wat ingryp in wêreldsake? Dieselfde God wat die hedendaagse Israelitiese nasies verlos het van wat ’n onvermydelike ramp moes gewees het, sal dieselfde volke binnekort swaar straf, omdat hulle Sy Wette verwerp en hulle eie wonderlike geskiedenis van verlossing vergeet het. Tensy die hedendaagse Israelitiese nasies van koers verander en hulle bekeer van hulle veragting van God se Wette – soos wat hulle voortdurend doen deur die bevordering van homoseksualiteit en dieselfde-geslag huwelike, moord op ongebore kindertjies en ander nasionale sondes, sal toekomstige ontmoetings met vyandelike nasies baie anders eindig as die Slag van Midway. Alhoewel Bybelprofesieë daarop dui dat ons nasies nie sal verander nie, kan u dit wel doen indien u opreg na God begin soek en leer uit hierdie duidelike lesse van die geskiedenis.