Vroeg in die oggend van 4 Desember 2012, het ’n foon in die hospitaalsaal van Londen se King Edward VII-hospitaal gelui, waar Jacintha Saldanha gewerk het. Saldanha, ’n 46-jarige verpleegster en ma van twee, het geantwoord omdat geen ontvangsdame aan diens was nie.

Tot Saldanha se verbasing het die inbeller gesê sy is Koningin Elizabeth II van Engeland en gevra om met Catherine, Hertogin van Cambridge, te praat. Catherine was in die hospitaal weens ’n swangerskapverwante ongesteldheid. Die oorblufte verpleegster het die oproep deurgeskakel na die privaat verpleegster wat aan diens was, wat toe die inbeller op hoogte gebring het van die Hertogin se toestand.

Daar is later vasgestel dat die oproep ’n gekskeerdery was, wat gepleeg is deur twee Australiese radio-persoonlikhede, Mel Greig en Michael Christian. Hulle het hul voorgedoen as die koningin en haar seun, prins Charles. Nadat ’n opname van die gesprek uitgesaai is, het ’n amptenaar van die hospitaal gesê: “Die oproep was ’n dwase grap wat ons almal betreur. Vertroulikheid van ons pasiënte is vir ons baie belangrik en ons hersien ons telefoon-protokol nou deeglik”. Die radiostasie het ’n verskoning uitgereik “... vir enige ongerief wat die navraag kon meebring. Die radio-segment is egter met lighartige bedoelings aangebied” (Radio DJs pretend to be queen, make prank call to Catherine’s hospital, CNN.com, 7 Desember 2012).

Die voorval kon daar geëindig het, soos so baie ander “segmente met lighartige bedoelings” deur radio-persoonlikhede regoor die wêreld. Ongelukkig is verpleegster Saldanha, drie dae ná die DJ’s se oproep dood aangetref na selfmoord. Wat begin het as ’n bietjie “pret” het in ’n tragedie ontaard en ’n gesin het ’n eggenoot en moeder verloor.

“Ons is verskriklik jammer”

Een les wat ons kan leer uit die Australiese DJ’s se poets wat skeefgeloop het, is dat ons onverskillige of onbesonne pogings om grappe te maak, ernstige nagevolge kan hê. Die Skrif sê aan ons: “Soos ’n mal mens wat dodelike pyle rondskiet, so is iemand wat ’n ander bedrieg en sê: Ek speel sommer” (Spreuke 26:18-19 NV). Niemand het natuurlik die tragiese gevolge van wat baie mense as ’n skadelose grap sou beskou, verwag nie, maar die skade was ernstig en permanent. “Die bedoeling was nooit dat dit so ver sou gaan nie. Dit moes net ’n simpel grap gewees het, soos wat soveel mense voorheen al gemaak het”, het Greig gesê. Christian het bygevoeg: “Vir die rol wat ons daarin gespeel het, is ons verskriklik jammer” (ibid.).

Hierdie tragiese voorval herinner ons weereens aan die publiek se dors na uiterste humor as “vermaak”. Baie mense sal seker die TV-reeks Candid Camera onthou, waartydens daar poetse gebak is op niksvermoedende “gemiddelde Amerikaners”. Meer onlangs het gehore gaande geraak oor die meer bitsige reeks Punk’d, op MTV, waarin ’n versteekte kamera gefokus het op beroemdes. Inderdaad is vermaak wat probeer om humor te skep ten koste van ’n ander persoon, lankal reeds gewild. In die mededingende “shock jock”-genre wat mense wil skok en wat ontwikkel is deur aanbieders soos Howard Stern, probeer radio-persoonlikhede mekaar voortdurend oortref met meer verregaande snaaksighede wat ’n kultuur van lag-ten-alle-koste aanwakker.

Maak dit saak dat so baie van ons populêre vermaak humor bevat wat daarop gemik is om iemand anders belaglik te laat lyk? Baie mense het geen probleem daarmee om in hulle grappies ander mense te terg nie. Dink hulle egter ooit ’n bietjie na en vra hulleself af hoe hulle sou voel as die bordjies verhang is en hulle aan die ontvangkant was? Wanneer hulle die verleentheid moes verduur en die slagoffer sou wees? Die Amerikaanse komediant Will Rogers het opgemerk: “Alles is snaaks, solank dit net met iemand anders gebeur”. Miskien sou minder mense seergemaak word as die poetsbakkers net eers deeglik sou besin oor die ander persoon se reaksies.

’n Persoonlike les

Ek onthou toe ek as ’n tiener, ondervind het hoe my eie humor in my gesig ontplof het. ’n Vriend wat pasgetroud was, het eendag alleen by die kerk opgedaag en ek het hom ewe skertsend gevra of sy vrou hom dan verlaat het. Hy het bedruk geantwoord dat sy vrou hom wel verlaat het, waarna ek gevoel het asof ek in die maag geskop is.

My vriend se reaksie het my laat besef dat ek ’n onverskillige houding ontwikkel het jeens humor en baie dinge wat ek as snaaks beskou het, was ten koste van ander mense. My tienderjare was beïnvloed deur die ligsinnige komedie van opnames van Cheech & Chong, saam met ander TV-programme soos Saturday Night Live – waarin die primêre slaankrag daarvan die algemene gebrek aan respek vir een en almal is. Ek kon die pyn in my vriend se oë sien as gevolg van my wrede poging tot humor, toe het ek besef dat daar ’n duur prys te betaal is vir hierdie tipe ligsinnigheid; opregte mense kan daardeur seergemaak word. Terwyl die gevolge nie so ernstig was soos in die Australiese DJ’s se poets nie, was my bedoeling in wese dieselfde as hulle s’n – om ’n lag-ten-alle-koste uit te lok.

Ons kan ons self soms beskerm teen die werklikheid van die pyn wat ons humor veroorsaak het, wanneer hulle wat seergemaak is, ’n paar grade verwyder is van ons ongevoelige en kwetsende wreedheid. Dit is egter altyd wys om te onthou dat ons onverskillige en ondeurdagte pogings om snaaks te wees die potensiaal het om terug te slaan, met verwoestende gevolge.

Goeie advies

Beteken dit dat ons humorlose mense behoort te wees, ten einde die moontlikheid van enige skade te vermy? Natuurlik nie! Koning Salomo van die antieke Israel het geskryf: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd ... ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag” (Prediker 3:1, 4). Die sleutelgedagte is om te weet wat om te sê onder die regte omstandighede, soos Salomo elders opmerk: “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek” (Spreuke 25:11).

Humor dra by tot die genot van die lewe en kan selfs help om swaarkry draagliker te maak. Wanneer humor goed gebruik word is dit ’n aangename deel van ’n goed-afgeronde persoonlikheid. Wat is dan die verskil tussen ’n aanvaarbare sin vir humor en een wat die potensiaal het om seer te maak? Die Bybel bied belangrike beginsels om hierdie vraag te beantwoord.

Jesus se opdrag: “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31), is die beste plek om te begin. “Hoe sal ander my humor ervaar?” is ’n vraag wat vooraf oorweeg behoort te word en nie agterna nie. Vra jouself af: “Sal ek iemand verkleineer of in die verleentheid bring met wat ek wil sê of doen net om ander te laat lag?” Indien jy nie daarvan sou hou as iemand anders jou die slagoffer van sodanige humor sou maak nie, is dit ’n goeie teken dat jy nie behoort “voort te gaan” daarmee en die kans waag om ’n ander persoon seer te maak nie. Dit mag vir ons moeilik wees om hierdie beginsel te onthou wanneer ons vasgevang is in ’n gesellige gesprek. Daarom is dit belangrik om dit ’n fundamentele deel van ons lewensbeskouing – ons lewenswyse – te maak sodat, wanneer dit nodig is, hierdie gedagte natuurlik sal kom.

Dink ook daaroor na of jou humor gemotiveer word deur liefde. Selfs gemoedelike gekskeerdery tussen vriende kan geskied in ’n konteks van goedheid en liefde. Kyk hoe die apostel Paulus liefde beskryf: “Die liefde is ... vriendelik [goedhartig] ... die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie” (1 Korinthiërs 13:4-5). Is jou humor vriendelik [goedhartig], of is dit opgeblase? Is dit onbeskof en selfverheffend? Baie van wat ons samelewing as “humor” beskou, is in werklikheid die teenoorgestelde van liefde.

Ten slotte behoort jy daaraan te dink of jou humor opbou of afbreek. Al ons onderlinge kommunikasie – met inbegrip van ons humor – behoort opbouend te wees. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29). As ons humor positief, opbouend en gemotiveer word deur liefde, sal ons nie later spyt wees nie, soos diegene wat moet verduidelik: “Dit was net ’n grap!”