Stadig, bietjie vir bietjie, vervang die EU die infrastruktuur en simbole van sy lidlande. Nasionale wette en instellings moet plek maak vir supranasionale entiteite wat vanuit Brussels beheer word. Namate hierdie proses vorder, kom een opvallende afbeelding meer en meer voor op amptelike dokumente van die Europese Unie – ’n bul wat voortbeweeg tussen vyf sterre – ’n afbeelding wat terugdateer na ’n antieke Griekse mite. Presies wat beteken dit egter?
Nadat die Lisbon Verdrag in ’n Junie 2008 volkstemming deur hul verwerp is, het Ierse stemgeregtigdes op 2 Oktober hierdie jaar die omstrede wetsontwerp goedgekeur wat hul nasie effektief hegter in die politieke en ekonomiese unie van die Eurozone bind. Terwyl baie mense oor hierdie verkiesingsuitslag wonder, is dit ’n feit dat kiesers regdeur die Europese Unie verrassend min seggenskap het, aangesien ’n nie-verkose Europese Kommissie die meeste wetgewing inisieer. Die verkose Europese Parlement mag wel in staat wees om oor die voorgestelde wetgewing te beraadslaag, maar dit het nie werklik die laaste sê nie. Het die Ierse openbare mening werklik so dramaties verander tussen Junie 2008 se “Nee” stem en die Oktober 2009 se “Ja”? Of was dit maar slegs nog een van die EU se “magspolitieke” sette wat sy wil op ’n nasie afgedwing het wat geen werklike keuse in die saak gehad het nie?
Vanaf ’n klein begin
Die dryfkrag om ’n Europese Unie te skep het gespruit uit die vernietigende gevolge van twee Wêreldoorloë wat hoofsaaklik op die slagvelde van Europa geveg was, toe die nasies wat nog gesteier het onder die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog
probeer het om hul nasies se ekonomië te stabiliseer en om oorloë tussen Europese buurlande te verhoed.
Wat in 1951 begin het as ’n Europese Steenkool en Staal Gemeenskap het uitgebrei tot ’n Europese Ekonomiese Gemeenskap in 1958, en toe, na 1993, tot die Europese Unie soos ons dit vandag ken. "Euroskeptici" stel voor dat die EU, met dié se vele burokratiese strukture oor en langs mekaar, doelbewus ’n gebrek aan deursigtigheid beoefen het om die werklike uiteindelike doel te verdoesel vir die Europese politici – die samestelling van ’n ware federale unie van Europa. Euroskeptici beskuldig die EU se meester-strateë daarvan dat hul dubbelhartigheid beoefen het om die nasies en hul leiers te kul deur hul te oorreed om by ’n ekonomiese unie aan te sluit wat, soos hulle valslik beloof het, nie in ’n politieke en militêre entiteit sal ontwikkel nie.
Moontlik moes die Europese nasionale leiers gelees het wat die Duitse politikus, Franz Josef Strauss (1915-1988), die Bavariese leier van sy nasie se Christelike Sosiale Unie, geskryf het in sy 1966 toonaangewende boek, The Grand Design: “Ons moet nou die probleem oorweeg oor hoe hierdie Europa tot stand gebring kan word ... Daar is twee moontlike gedagterigtings. Die eerste is die gedagte van ’n Europese gemenebes, ’n welsyngemeenskap van nasies met groeiende ekonomiese, handels- en lewenstandaarde, maar sonder ’n sentrale politieke doelwit of die vasberadenheid om dit te bereik. Die meer verkieslike alternatief is ’n Europa wat in stadia groei, vasberade om sy rol op die wêreldtoneel te speel, terwyl dit meer invloed en aantrekkingskrag uitoefen … en groei in selfvertroue en wêreldbelang” (bll. 21-22, klem my eie).
Strauss gaan voort: "Die magsewewig kan slegs weer op die Europese vasteland herstel word indien die klassieke negentiende-eeuse vyfmanskap van Brittanje, Frankryk, Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Rusland opgevolg word deur ’n konfederasie wat mettertyd sal ontwikkel tot ’n federasie” (bl. 23).
Franz Josef Strauss se tweede opsie het duidelik die voorkeur-keuse vir die nuwe Europa geword.
Zeitgeist
Wat Europa nou ervaar is ’n Renaissance. Dit is nie slegs ’n hergeboorte van kuns en kultuur nie, maar van ’n identiteit. Die Duitsers het ’n woord daarvoor – zeitgeist – om die heroplewing van ’n vervloë tyd te beskryf. Zeitgeist het geen geskikte Engelse of Afrikaanse vertaling nie, maar die konsep is iets soos “die gees van die tyd”. Duitse filosowe en skrywers van die laat negentiende eeu het hierdie woord, wat deur Johann Herder in 1769 geskep was, geneem en dit ontwikkel om ’n “leidende gees” vir Duitsland en dié se lotsbestemming in Europa te beteken. Dit roep die tye van die Teutoniese ridders en Europa se oorheersing deur die Heilige Romeinse Ryk na vore. Ons kan heel moontlik in ’n tyd wees waar ou geeste weer sal opkom en Europa se droom laat opvlam om ’n baie wyer wêreld te beïnvloed as slegs sy eie vasteland.
Stadig, geleidelik, vervang die EU die infrastruktuur en simbole van sy lidlande. Nasionale wette en instellings moet plek maak vir supranasionale entiteite wat vanuit Brussels beheer word. Namate hierdie proses vorder, kom een opvallende afbeelding meer gereeld voor op amptelike dokumente van die Europese Unie – ’n bul wat voortbeweeg tussen vyf sterre – ’n afbeelding wat terugdateer na ’n antieke Griekse mite. Presies wat beteken dit egter alles?
’n Vrou Sit wydsbeen oor ’n Bul
Die bul wat ons op die EU se dokumente vind, laat ons terugdink aan die ou Griekse mite van Europa, waar die god Zeus, in die gedaante van ’n bul, die pragtige, Fenisiese prinses Europa verlei het. “Ongewoon sagmoedig, het die bul geen vrees ingeboesem nie. Sy horings was met blomme versier. Europa het op sy rug geklim, waarna die bul – Zeus – op ’n drafstap afgesit en die see ingeduik het” (European Union Law, Chalmers et al., Cambridge Universiteits-uitgewers, bl. vii).
U Bybel gebruik dikwels die simbool van ’n “vrou” vir ’n kerk. In die hedendaagse EU-dokumente sien ons nog nie ’n vrou wat op die bul se rug sit nie, maar die simboliek is toepaslik. ’n Magtige maar skynbaar onskuldige mag is besig om die lotsbestemming van Europa te vorm. Studente van die Bybel erken dat in die nabye toekoms, wanneer ons ’n verdrag tussen Europa se politieke en godsdienstige instellings sien, sal ’n sleutel-profesie wat Jesus Christus aan die apostel Johannes geopenbaar het, werklikheid word. Wat sê die Bybel sal met die bul en sy ruiter gebeur?
Baie Bybelse geleerdes sien ’n ooreenkoms tussen die Europese mite en die boek Openbaring se relaas oor ’n toekomstige Babiloniese stelsel wat Europa in die dae van die einde sal beheer. In hierdie scenario sit ’n groot godsdienstige stelsel, gesimboliseer deur die Babiloniese vrou, wydsbeen oor ’n magtige politieke en militêre dier.
“… en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken [kleure wat dikwels geassosieer word met godsdienstige drag] en versierd met goud en kosbare stene en pêrels ...” (Openbaring 17:3-4).
Aan die profeet Daniël was ook visioene van hierdie dier gegee. Dit is die vierde van vier diere wat die tyd sou oorbrug vanaf antieke Babilonië tot die tyd wat binnekort voorlê. Ons lees: “Die vierde dier – die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel” (Daniël 7:23).
Die volgende vers stel aan ons ’n ander koning bekend: “... ’n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges ... En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd” (Daniël 7:24-25).
Vir byna drie-en-’n-half jaar sal hierdie geprofeteerde politieke en godsdienstige verbintenis die wêreld deur handel en regulasie domineer. Ons sien alreeds hoe die Europese Unie die handelstandaarde regoor die wêreld stel. Internasionale handelaars het min keuse en moet maar inval by die EU se standaarde en maatstawwe. Dit sal binnekort nie meer moontlik wees om produkte uit te voer tensy dit voldoen aan die EU se streng standaarde nie. Wees dan op die uitkyk vir voorskrifte op die gebied van werkverskaffing. Laastens kan universele monetêre regulasies volg, wat voortbou op die gevestigde monetêre eenheid veroorsaak deur die euro.
Die blomversierde bul van die Europese mite mag dalk na ’n goeie storie klink, maar ons behoort te besef dat dit in die Bybelse weergawe nie in “ewige geluk” eindig nie. Die “sagmoedige bul” verander in ’n tierende monster! Die dier met tien horings (konings of heersers in Bybelse simboliek) sal teen die vrou draai. “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Daar sal ’n dag kom wanneer miljoene mense wat gesoek het na ’n sterk Europa, verenig onder die vaandel van hul gedeelde geloof en politieke erfenis, sal besef dat hulle bedrieg was!
Wil u graag meer weet van hierdie toekomstige polities-godsdienstige stelsel wat die wêreld gaan verander? Indien wel, vra dan om u gratis kopie van ons boekie, Die Dier van Openbaring, wat die Bybelse verwysings agter hierdie duidelike profesieë sal verduidelik. U sal dankbaar wees dat u dit gedoen het.