Facebook, Twitter, Instagram en soortgelyke media was veronderstel om ons almal nader aan mekaar te bring. In plaas daarvan is dit besig om ons samelewing te verdeel en ons denke te hervorm.

Almal van ons word intens deur veranderende tegnologie geraak. Baie van u wat hier lees, het ’n Facebook-bladsy of ’n Twitter-rekening of gebruik moontlik ander platforms soos Instagram en Snapchat. Ons beskou rekenaars en soortgelyke platforms as vanselfsprekend, asof dit nog altyd bestaan het. Hoe het ons wêreld nie die afgelope 30 jaar verander nie!

Die Internet is ’n ensiklopedie van maklik toeganklike inligting. Vra u slimfoon ’n vraag en ’n vroulike stem sal binne ’n paar sekondes die antwoord verskaf. Nou kan kinders opdrag gee aan Alexa en Cortana: “Alexa, stofsuig my kamer”. “Cortana, skakel die lig aan”.

Die voordele van hierdie nuwe tegnologiese, toestelle en programme is voor die hand liggend, maar begin daar krake in ons elektroniese mediastruktuur verskyn? Sommige gesaghebbendes sê ja en skakel die gevaarligte aan. Daar is byvoorbeeld besorgdheid oor privaatheid. Hoeveel van ons private lewens word verkoop en aan wie? Is Google, Amazon, Microsoft of ander besig om ons af te luister? Wie kan inbreuk maak op ons huis se sekuriteitstelsels? Rede tot kommer strek egter verder. Hoe is hierdie nuwe wêreld besig om ons te beïnvloed en waarheen is ons oppad? Die Wêreldwye Web, sosiale media en toestelle wat dit alles moontlik maak, is besig om hóé ons ons tyd spandeer, hóé ons kommunikeer en hóé ons met mekaar kontak hou te verander.

Neem as voorbeeld Alexa en soortgelyke “digitale bystand”-toestelle. Sommige owerhede is daaroor bekommerd dat klein kindertjies verwar kan raak met die verskil tussen ware en denkbeeldige mense. Hulle is bekommerd oor kommunikasievaardighede. Wie leer die kinders van asseblief en dankie? Wie monitor die stemtoon en gesindheid? Is ons besig om ons kinders te leer om baasspelerig te raak – onvriendelike gebruikers van “gebruikersvriendelike” toestelle? Sal hulle op dieselfde manier met werklike mense omgaan?

Is Alexa of Cortana besig om God in hulle lewens te vervang? Dink hieraan: “Alexa, vra die meditasie-ateljee om ’n meditasie te speel”. U kind mag die volgende antwoord ontvang: “Stadige asemhaling is joga-oefening wat die suurstofvlakke in u brein verhoog en gifstowwe uitskei, stres verminder, die immuunstelsel opkikker en die longe en hart versterk”. Dit klink vir baie mense onskuldig genoeg maar is dit? Help dit mens eenvoudig ontspan of maak dit mense ontvanklik vir Hindoe-praktyke en idees en waaroor meditasie eintlik gaan?

Onbedoelde gevolge

U mag hierdie bekommernisse gering ag maar party van die grootste name in die bedryf spreek nou hul spyt uit oor die rigting waarin hulle ons gelei het. Dit het so vinnig gebeur en as daar een feit is wat goed oorweeg kan word, is dit die wet van onbedoelde gevolge. Terwyl sommige van hierdie sosiale media-entrepreneurs voortgaan om geld op te raap, spreek ander ernstige kommer uit oor die monsters wat hulle persoonlik help skep het. Hulle besorgdheid gaan oor kinders en die samelewing in die algemeen.

Miskien is dit tyd om voorraadopname te doen en uself af te vra: Wat is sosiale media en al sy verwante tegnologieë besig om aan my en my gesin te doen? Die pad is mooi, maar waarheen neem dit my?

In ’n onlangse RT-artikel met die titel “Studie vind dat telefoonverslawing die breinchemie deurmekaar kan krap”, word ons vertel: “Wetenskaplikes by die Universiteit van Korea het bevind dat tienderjariges wat hulle mobiele toestelle obsessief gebruik, hoër punte op gestandaardiseerde toetse wat geestesversteurings opspoor behaal het. Die toets het gemeet hoeveel Internet en slimfoongebruik, die daaglikse roetines, sosiale lewe, produktiwiteit, slaappatrone en gevoelens beïnvloed het”. Dieselfde bron het die volgende rapporteer: “’n Onlangse studie het bevind dat 46% van Amerikaners sê dat hulle nie kan lewe sonder hul slimfone nie, volgens ’n studie van die Pew Research Center. Wetenskaplikes bestudeer toenemend die ontwrigtings in glutamaat-/Gaba-glutamien-siklus as gevolg van ’n verskeidenheid neurologiese afwykings en toestande soos epilepsie, Alzheimer se siekte en outisme” (RT.com, 14 Desember 2017).

Dit is natuurlik ’n oordrywing om te beweer dat “hulle nie sonder hul slimfone kan leef nie”, maar dit bewys die verslawende effek van hierdie toestelle en die belangrikheid daarvan in te veel mense se lewens, terwyl die “verslawende aard” nie oordrewe is nie. Sommige “tech execs” en sosiale media stigters erken dit nou. Noemenswaardige Silicon Valley rolspelers maak alarm. Sean Parker is nie só ’n huishoudelike naam soos Mark Zuckerberg nie, maar sy invloed word deur elke Facebook-gebruiker ondervind.

Leef met berou

Parker is ’n reus wanneer dit by sosiale media kom en “’n liefhebber van die tegnologiese wêreld volgens sy inskrywing op Biography.com. Parker het as ’n skelm kuberkraker in sy tienerjare begin en sy vroeë aanleg as medestigter van die rekenaardiens, Napster, wat dit moontlik gemaak het om lêers met andere te deel, getoon. Later het hy die stigterpresident van Facebook geword. Hy is, volgens berigte, meer as $2 miljard werd”.

Parker het eers onlangs die gevare en die skade wat berokken word aan kulture en individue as gevolg van platforms soos Facebook en Twitter bekend gemaak. Hy het dit laat in 2017 aan Axios, ’n Internet nuusbron vertel en verduidelik hoe Facebook doelbewus ontwerp is om mense verslaaf te maak aan die gebruik daarvan.

“Die denkproses wat in die bou van hierdie prosesse bestee is, waarvan Facebook die eerste was ... het alles gegaan oor: ‘Hoe kan ons soveel van u tyd en bewuste aandag as moontlik verbruik,’” het hy gesê. “Dit beteken ook dat ons u so nou en dan so ’n bietjie van ’n dopamien-inspuiting toedien, want iemand het daarvan gehou of kommentaar gelewer op ’n foto of ’n plasing of wat ookal ... Dit is ’n kringloop van terugvoering vir sosiale geldigheidsverklaring ... presies die soort ding waarmee ’n kraker soos ek mee vorendag sou kom, omdat mens ’n kwesbaarheid in menslike psigologie uitbuit. Die uitvinders, die skeppers – dit is ek, dit is Mark [Zuckerberg], dit is Keven Systrom op Instagram, al hierdie mense – het dit bewustelik verstaan”, het hy bygevoeg. “Ons het dit nogtans gedoen”.

Parker het ook vroeër in die onderhoud gebieg: “Ek weet nie of ek regtig die gevolge verstaan het van wat ek besig was om te sê [in die bevordering van sosiale media] nie, omdat die onbedoelde gevolge van ’n netwerk, wanneer dit groei tot ’n miljard of 2 miljard mense en ... dit verander letterlik u verhouding met die samelewing, met mekaar ... Dit meng waarskynlik in met produktiwiteit op vreemde maniere. God alleen weet wat dit aan ons kinders se breine doen” (Mike Allen, “Sean Parker unloads on Facebook: ‘God only knows what it’s doing to our children’s brains’” Axios.com, 9 November 2017).

Pandora se boks

Nog ’n reus in sosiale media is Evan Williams. Hy is mede-stigter van Blogger en ’n Twitter-skepper, waarvan hy die grootste aandeelhouer is – nie ’n geringe getuigskrif nie. ’n New York Times-artikel bestempel hom as “die man wat Pandora se boks oopgemaak het”\ en sê, “Totdat hy na vore getree het, het min plekke bestaan waarheen mense kon gaan met hulle oorvol emosies en onbeteuelde sienswyses, buiten om ’n brief aan die koerant te skryf of die bure die leviete voor te lees. Wanneer hy gevra word hoe hy dink dit gaan, het hy geantwoord: “‘Ek dink die Internet is beskadig’. Hy het dit eintlik al vir ’n paar jaar geglo. Dinge raak net erger. ‘Dit is ook vir baie mense heelwat duideliker dat dit wel beskadig is.’”

Die New York Times-artikel gaan voort om te verduidelik: “Mense gebruik Facebook om realiteits-selfmoorde, -aanrandings en -moord op die presiese tye van die daad te vertoon. Twitter is ’n byenes van praatjies en misbruik wat lyk asof dit nie kan ophou nie. Fopnuus, hetsy geskep vir ideologie of wins, vier hoogty”.

Ev, soos hy dikwels genoem word, was daar. Hy is wat die meeste mense as uiters suksesvol beskou, maar die vraag behoort gevra te word: Is hy gelukkig? “Na beroemdheid en voorspoed kom spyt. Mnr. Williams probeer nou om ’n paar dinge reg te stel. Só ook Google, Facebook en selfs Twitter, probeer op verskillende maniere om dit te doen. Dit is ’n oomblik vir probeerslae en beloftes. Mnr. Williams sê die probleem met die Internet is dat dit uiterstes beloon. Veronderstel jy ry met die pad af en sien ’n motor ’n ongeluk maak. Natuurlik kyk jy. Almal kyk. Die Internet interpreteer gedrag soos hierdie as ’n aanduiding dat almal vra vir motorongelukke, dus probeer dit om mense daarvan te voorsien”. Hy het voortgegaan om te bely: “Ek het aanvanklik gedink dat as almal eers openlik kan praat en inligting en idees uitruil, die wêreld outomaties ’n beter plek sal wees’, sê mnr. Williams. ‘Ek was verkeerd daaroor’” (Streitfield, David. “‘The Internet Is Broken’:@ev Is Trying to Salvage It”, NYTimes.com, 20 Mei 2017).

Vryheid van spraak is verby

Die oortuiging bestaan dat die Internet oor die algemeen en sosiale media in besonder, vryheid van spraak bevorder. Dit is ’n mite! Dit is goed bekend dat die Silicon Valley se uitvoerende hoofde die mees liberaalste mense is en die wêreld verander soos dit hulle pas deur politieke korrektheid. Jong millennialiste boots idees na wat deur sosialistiese universiteitsprofessore ondersteun word. Dit het ’n teenreaksie van individue wat sien dat hulle nasies besig is om hulle identiteite en geskiedkundige waardes te verloor, uitgelok. Die teenreaksie kom soms in die vorm van Nazi en wit heerssugtige haatspraak, wat op sy beurt weer pogings “regverdig” om enige iets wat soos haatspraak klink te onderdruk.

Ware haatspraak bestaan en behoort oral deur alle regdenkende mense veroordeel te word, maar hier is die probleem: Presies hoe definieer mens haatspraak? Dit is nie naastenby so maklik soos wat dit lyk nie, want nie almal kan saamstem oor wat dit is nie. Baie van dit wat die bekrompe linkses as haatspraak bestempel, is niks anders as polities nie-korrekte meningsverskille nie.

Pro-lifers [voorstanders van lewe] wat opreg glo dat aborsie moord is en voorspraak doen vir die kwesbaarste en weerlose mensies, word dikwels as fascistiese haatsprekers uitgekryt. Diegene wat egter ten gunste van vrye keuse is en goedkeur dat klein kindertjies uitmekaar geskeur en dan uit hul moeders se baarmoeder uitgesuig word, word feitlik nooit as lede van ’n “haatgroep” gebrandmerk nie. Indien enige iemand nie van hierdie beskrywing van aborsie hou nie, maak vrede daarmee! Maak u oë oop, want dit is presies wat in baie gevalle gedoen word. Hoekom is dit “haat” wanneer die waarheid vertel word?

As gevolg van werklike haatspraak wat mense probeer aanhits tot geweld, saam met fopnuus en vulgêre bespreking, is dit egter verstaanbaar dat daar ’n oproep is om sulke plasings op sosiale media en die Internet in die algemeen, te monitor en te skrap. In 2017 het Google 10,000 mense vir hierdie doel gehuur. Twitter het ook dieselfde gedoen. Fox News het die volgende oor hierdie stap berig:

Die veranderings wat verlede maand aangekondig is [November 2017] brei Twitter se “haatlike gedragsbeleid” uit om enige rekening permanent op te skort ... wat “gewelddadige dreigemente, meervoudige beledigings, byname, rassistiese of seksistiese dubbelsinnighede uiter of wat vrees inboesem of iemand tot minder as menslik verneder” ... Hatige beeldspraak sal nou onder die rubriek van Twitter se “sensitiewe mediabeleid” val en dit sal enige “logo’s, simbole of beelde insluit waarvan die doel is om vyandigheid en boosheid teenoor ander te bevorder, gebaseer op hul ras, godsdiens, gestremdheid, seksuele oriëntasie of etnisiteit/nasionale oorsprong”. Hierdie beleid is “sowel op as af van die verhoog, voor of uit die publieke oog” van toepassing (Carbone, Christopher. “Twitter begins purge of far-right accounts as new hate speech rules take effect”. FoxNews.com, 18 Desember 2017).

Sien u die gevaar? Hoe sal hulle “seksistiese dubbelsinnighede” definieer, of vreesinboeseming of om iemand tot “minder as menslik te verneder”? Hoe sal hulle bepaal wat beteken die aanhitsing van vyandigheid teen godsdiens of seksuele oriëntasie? Gegewe politieke korrektheid, geringe aggressie en die gemak waarmee liberale universiteitsprofessore studente oortuig dat hulle gekrenk behoort te voel, kan ons nie sien waarheen dit op pad is nie?

Indien enigiemand die bekromptes se vooroordeel en groeiende sensuur van regmatige gesprekvoering betwyfel, dink aan die geval van die PragerU-kanaal op YouTube. So baie video’s Van PragerU is op die platform geblokkeer dat hulle in 2017 ’n regsgeding teen Google, die eienaar van YouTube, aanhangig gemaak het. Enigeen wat vertroud is met PragerU, weet dat dit geen Google-verbod oortree het nie. Tot en met die skrywe van hierdie artikel bevat hulle video’s geen skadelike of gevaarlike inhoud, geen naaktheid en geen seksuele materiaal nie. Hulle het geen gewelddadige of grafiese inhoud nie. Hulle respekteer kopieregwette, vermy spam [gemorspos], misleidende inligting met betrekking tot ander data en bedrog en hulle doen niks om kinders in gevaar te stel nie.

In PragerU se persverklaring wat hulle saak teen Google en YouTube aankondig, haal hulle die voormalige Kaliforniese goewerneur Pete Wilson aan: “Dit is spraakdiskriminasie uit en gedaan, sensorskap totaal gebaseer op ongespesifiseerde ideologiese beswaar teen die boodskap of op die veronderstelde identiteit en politieke standpunt van die spreker” (“PragerU neem regstappe teen Google and YouTube vir diskriminasie”, PragerU.com, 2017).

Waldorf school in Silicon Valley

Die New York Times het in 2011 ’n berig oor ’n privaatskool in Los Altos, Kalifornië, in die hart van Silicon Valley geplaas: “Die hoof tegnologiese beampte van eBay stuur sy kinders hierheen. So ook werknemers van Silicon Valley se reuse soos Google, Apple, Yahoo en Hewlett-Packard” (Richtel, Matt. “A Silicon Valley School That Doesn’t Compute”, NYTimes.com, 22 Oktober 2011). ’n Mens sou verwag dat die kinders van hierdie elite-werknemers, wat meer as $17,000 per jaar vir die onderrig van elke laerskoolkind betaal, ’n beduidende voordeel bo die res van ons behoort te hê. Of dit nou waar is of nie, sal nog gesien word, maar hier is wat so opvallend is: Die Waldorf School van die skiereiland, een van ’n reeks van 160 skole oor die Verenigde State, skram weg van tegnologie – soveel so dat daar geen rekenaars, geen iPads en geen iPhones is nie! Soos die artikel verduidelik:

Die skool se belangrikste toerusting vir onderrig is alles behalwe hoë tegnologie: Penne en papier, breinaalde en soms modder. ’n Rekenaar kan nie gevind word nie. Geen skerms nie en dit word nie in die klaskamer toegelaat nie, terwyl die skool selfs frons oor die gebruik daarvan by die huis. Skole landwyd het gehaas om hulle klaskamers van rekenaars te voorsien en baie beleidmakers sê dat dit dwaas is om iets anders te doen. Die teenstrydige standpunt kan by die episentrum van die tegnologiese ekonomie gevind word, waar sommige ouers en opvoeders ’n boodskap het: Rekenaars en skole kan nie gemeng word nie.

Die Universiteit van New York se professor Adam Alter, verduidelik: Dit is opvallend dat “75% van die studente [by die Waldorf School van die skiereiland] die kinders van Silicon Valley se tegnologiese uitvoerende beamptes is. Dit is mense wat in die openbaar sal uitwy oor die wonders van die produkte wat hulle vervaardig maar wat terselfdertyd in al hulle wysheid besluit het dat hulle kinders nie in ’n skool hoort wat dieselfde tegnologie gebruik nie” (Yates, Eames. “This Silicon Valley school shuns technology – yet most of the students are children of tech execs”, BusinessInsider.com, 23 Maart 2017).

Toni Hassan, wat vir Australië se Sydney Morning Herald skryf het ’n artikel met die titel: “Facebook skeur die gemeenskap uitmekaar en ander redes om sosiale media te verban”. Hy begin met die beskrywing van ’n ander magtige ontnugterde speler. “Toe Chamath Palihapitiya in 2007 by Facebook aangesluit het, het dit 50 miljoen gebruikers gehad. Teen die tyd dat hy dit na vier jaar verlaat het, het dit 800 miljoen gebruikers gehad. Hy was die vise-president van verbruikersgroei. Deesdae voel hy geweldig skuldig”. Hassan sê self in hierdie artikel:

Ek dink ons het dit almal in ons agterkoppe geweet, selfs al het ons ons verbeel dat hierdie hele bedryf waarskynlik geen slegte nagevolge sal hê nie, dink ek dat ons in die diepste skuilplekke van ons onderbewussyn tot ’n mate bang was dat iets sleg kan gebeur ... Die korttermyn, dopamien-gedrewe kringloop wat ons geskep het, vernietig hoe die samelewing werk. Geen beskaafde redevoering, geen samewerking, vals inligting, onwaarhede – dit is nie ’n Amerikaanse probleem nie – dit gaan nie oor Russiese advertensies nie, dit is ’n wêreldwye probleem (SMH.com.au, 15 Desember 2017).

Dit is interessant om daarop te let dat Mark Zuckerberg sielkunde sowel as rekenaarwetenskap by Harvard bestudeer het. Niks in hierdie artikel is egter bedoel om hom of enige van hierdie manne, as kwaadwillig uit te beeld nie. Hulle het as baie intelligente jong mans begin wat probeer het om suksesvol te wees en van hulle het gemeen dat hulle die wêreld in ’n beter plek kon verander – maar daar is altyd daardie wet van onbedoelde gevolge. Party van hulle spreek nou hulle berou uit en probeer om dinge ten goede te verander. Dit verg moed om openlik daaroor te praat soos sommige van hulle gedoen het. Daar is egter ’n geestelike wese wat die Bybel “die owerste van die mag van die lug” noem en hy lei die “die loop van hierdie wêreld” (Efésiërs 2:2). Hy is die een wat die hele wêreld mislei (Openbaring 12:9).

Tem die veelkoppige monster

Die belangrikste struikelblok vir verandering is nie om aan uself te erken dat verandering nodig is nie. ’n Alkoholis lewe in ontkenning en diegene wat verslaaf is aan een of meer sosiale media-platforms, weier gewoonlik om te aanvaar dat hulle verslaaf is. Daar is weer ander wat opgewek erken dat hulle verslaaf is, maar sien dit nie as ’n groot probleem nie. Soos ons in hierdie artikel gesien het, dink sommige van die binnekring wat hierdie tegnologieë en platforms geskep het, dat dit wel ’n groot probleem is. Soos Sean Parker verklaar het, “God alleen weet wat dit aan ons kinders se breine doen”.

Sosiale media het ’n monster met meer as een kop geword wat onmoontlik is om nou in ons huidige wêreld te tem. Daar is die kop van verslawing, die kop van vals inligting deur middel van fopnuus, die kop van vernietiging van aangesig-tot-aangesig-kommunikasie, die kop van fisiese onaktiwiteit, die kop van gewelddadige, onbeskofte en haat-gevulde spraak. Terselfdertyd het ons die kop van sensuur van gewettigde idees. Hierdie artikel sal niks doen om die spoed waarteen ons voortsnel, te verminder nie. Dit kan u egter aanmoedig om die monster in u huis te tem.

Die eerste stap is om u oë oop te maak vir die realiteit van die probleem. Ja, almal wil tred hou met kinders, kleinkinders, ouers, ooms en tantes. Ons geniet dit om hulle foto’s te sien en te lees wat verlede week met hulle gebeur het, maar soos met televisie wat voor sosiale media daar was, moet ons die gebruik daarvan beheer. Ons moet onthou dat dit spesifiek geskep is om “soveel as moontlik van u tyd en bewuste aandag te verbruik ... Dit beteken dat ons u min of meer elke nou en dan ’n bietjie dopamien sal inspuit ... Dit is ’n kringloop van terugvoering vir sosiale geldigheidsverklaring”. U mag dalk nie presies verstaan hoe dit werk nie, maar meer as een stigter van ’n sosiale media platform erken nou dat dit van die begin af hulle voorneme was. Dit sal goed wees as ons hulle bekentenisse aanvaar!

Sodra u besef dat daar ’n probleem is, moet u gewillig wees om te erken dat miskien, net miskien, u in die lokval getrap het. Eers dan kan u beheer van die probleem neem. Sodra u dit erken, moet u tot aksie oorgaan. Stel reëls vir uself en u gesin vas om die monster te tem. Hier is ’n paar voorstelle:

• Maaltye behoort “aftye” te wees vir sosiale media en tegnologiese toestelle – sit dit weg!

• Stel beperkte gebruikstye vas vir elke dag en hou daarby

• Hou ’n tydkaart en teken elke minuut aan wat u op sosiale media spandeer

• Teks nooit of kyk nie na u sosiale media wanneer u by ander mense kuier nie – dit is ongeskik!

• Moet nooit, nooit teks of mobiele toestelle gebruik terwyl u bestuur nie!

• Weerhou u van sosiale media een dag in die week

• Dit is “aftye” wanneer u visvang, gholf speel of ander ontspanningsaktiwiteite geniet

Hier is ’n bietjie wyse raad uit die Bybel: “alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie” (1 Korinthiërs 10:23). In hoofstuk 6 vers 12 van dieselfde boek is die eerste deel van die Skrifgedeelte dieselfde, maar die tweede helfte is anders: “... alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.” Neem beheer! Tem die monster!