Dit is regtig tyd om “wakker te word”! Raak baie van ons by die skakelaar “aan die slaap”? ’n Algemene gesindheid by miljoene mense is om “saam met die stroom te gaan net om in tel te wees”. Dit is dikwels makliker om saam met die stemming van die algemene publiek te gaan as om daarteen op te staan en jouself daardeur kritiek of selfs vervolging op die hals te haal. Dus swig die meeste mense voor die “aanvaar dit so en gaan saam met die stroom” benadering. Ons godsdienstige en politieke leiers vertel ons dikwels dat “alles wel is”. My vriende, dit is nie alles wel nie!

Net voor die Tweede Wêreldoorlog het miljoene Jode in Europa gehoop teen die hoop dat “alles wel is” en dat die Nazi-vervolging van die Joodse volk ander plekke en nie hulle stad of hulle huise sou bereik nie. Ten spyte daarvan het sowat ses miljoen Jode met hulle lewens geboet!

’n Onlangse artikel wat in die Times of Israel gepubliseer is, behoort “ons wakker te maak” indien ons nie alreeds bewus is van die gevare wat voorlê nie:

“Iran het ’n 27 meter-lange missiel gebou, wat in staat is om ’n plofkop tot ‘ver anderkant Europa’ te stuur en het dit op ’n lanseerblad op ’n terrein naby Teheran gemonteer, het ’n Israelse televisieverslag Woensdag berig en ook gewys dat wat hulle sê, die eerste satellietbeelde van die vuurpyl is wat nog ooit in die Weste gesien is ... Die missiel is in staat om ’n bemande ruimtetuig of satelliet die ruimte in te neem ... Dit is ook in staat om ’n konvensionele of nie-konvensionele plofkop tot ‘ver anderkant Europa’ te dra”, het die verslag bygevoeg (“Israeli TV shows ‘Iranian missile’ that ‘can reach far beyond Europe’”, 21 Januarie 2015).

Die geïnspireerde Woord van God waarsku die moderne volke van Britse afkoms en die Amerikaanse nasies gereeld oor wat in die nabye toekoms vir ons voorlê. Ons probeer ook om baie van hierdie profesieë in detail aan u te verduidelik in hierdie tydskrif. In die Nuwe Testament waarsku God diegene van ons wat gedurende die eindtyd sal leef – wat die “Laodicea Era” in die Bybel genoem word – om bedag te wees op die “vat dit rustig” gesindheid wat ons so algemeen rondom ons waarneem. Hy waarsku elkeen wat wil luister dat dit vir elke mens nodig is om te leer om ywerig aan sy Skepper gehoorsaam te wees en om God se Waarheid te “soek”. “Streef” u persoonlik, ywerig daarna om God se Waarheid te volg en u deel in God se Werk te doen aan die einde van hierdie tydperk?

Ballingskap lê voor

Baie profesieë beskryf die verwarde mense van die eindtydse “Huis van Israel” wat teruggebring sal word van die ballingskap wat God beskryf en wat teen die eindtyd oor Sy mense sal kom. God het deur Jeremia gepraat en gesê: “En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore. En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het” (Jeremia 33:7-8). Die Almagtige God sê aan ons: “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister” (Deuteronomium 4:29-30).

Ja, aan die “einde van die dae” sal dit vir ons nodig wees om Hom met ons hele hart te soek, soos Hy soveel kere aan ons gesê het! Is u en u gesin werklik besig om dit te doen?

Leer u om God se Woord te bestudeer sodat u dit regtig kan verstaan? Is u gewillig om “alle dinge te beproef” sodat u nie net sommer met die heersende godsdienstige idees van hierdie wêreld “saamdryf” nie, maar eerder aan uself bewys wat God eintlik in Sy geïnspireerde Woord sê? Leer u om uself te dissiplineer om te vas en God voortdurend te soek – om daardeur u algehele toewyding te toon om u Skepper te soek en u bereidwilligheid om Sy wil te doen?

Glo my, my vriende, God sien dit raak! Hy gaan nie die ewige lewe aan diegene gee wat “saamgaan net om in tel te wees” nie. Verstaan dit asseblief, tot u eie beswil en die beswil van u gesin en geliefdes. Ek moedig u dus almal aan om te begin om die talle kragtige boekies van hierdie Werk wat ons absoluut gratis uitstuur te bestudeer. Verder bid ek dat al hoe meer van u uself sal beywer om u gratis inskrywing van ons Wêreld van Môre Bybelstudiekursus aan te vra en om werklik die lesse te voltooi en God se Woord te bestudeer, sodat u waarlik in staat sal wees om die volle Waarheid en doel van God te bewys op ’n manier soos wat u dit nog nooit voorheen kon doen nie. Daarna, nadat u werklik bewys het wat God sê en waar Hy werk, kan u deel van die “span” word en u deel doen om te help om Sy boodskap met toenemende krag in hierdie wêreld uit te dra. Soos Jesus Christus self gesê het: “My voedsel [Sy krag en rede vir bestaan] is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34).

Gedurende die laat 1940’s en 1950’s, was ek bevoorreg om deel te kon wees van die oorspronklike “span” wat mnr. Herbert W. Armstrong gehelp het om hierdie Werk mettoenemende krag te doen. Ons het dit egter nie “alles self” gedoen nie. Hy het ons bemoedig – ons het mekaar bemoedig en God se geïnspireerde Woord het ons bemoedig – om werklik “voluit daaraan te werk” om ons lewens aan God te gee in ons soeke na begrip van Sy Woord en om dit te verkondig en hierdie wêreld na die beste van ons vermoë te bereik. Ek is baie dankbaar dat ek daardie geleentheid gehad het.

Staan vir iets!

Terwyl ek die einde van my lewe nader, dink ek dikwels terug aan daardie dae en wens ek met my hele hart dat ons daardie selfde ywer opnuut onder God se mense kan aanwakker om werklik bereid te wees om saam te werk, om saam op te offer en Sy boodskap te verkondig, sodat ons werklik ’n groter “impak” op die wêreld kan hê. Namate die duisternis oor hierdie wêreld se samelewing en sy regerings toesak, laat ons almal daarna streef om “kinders van die lig” te wees. Laat ons in opregtheid ons lewens aan God oorgee en gewillig wees om vir iets te “staan”, terwyl ons die geleentheid het. Die apostel Paulus is geïnspireer om aan ons te sê: “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie. Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Romeine 13:12-14).

In hierdie Werk van God aan die einde van hierdie tydperk, is ons hier om u te help. Indien u graag met een van ons predikers wil praat, kontak ons asseblief onmiddellikby die Streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif. Ons het verteenwoordigers in baie lande, regoor die wêreld. Ons probeer heelhartig om die pad voor te berei vir die toekomstige Regering van God aan die einde van ’n era. Ek bid dat u almal sal begin om “die visie na te streef” en waarlik ywerig sal wees in die soeke na God se wil en om Sy Werk te doen. Dit sal meer betekenis aan u lewe gee. Dit sal ’n reuse stap vorentoe wees om u voor te berei vir God se beskerming en seën en lidmaatskap te verkry in die Koninkryk en Gesin van God, wat binnekort op hierdie aarde gevestig sal word.