Elke jaar op die elfde uur, op die elfde dag, van die elfde maand, staan die wêreld vir twee minute stil in herinnering aan die Wapenstilstand. Op hierdie presiese oomblik erken ons die opoffering van elkeen wat in die Eerste Wêreldoorlog gesterf het om die beginsels van vryheid te verdedig. 2018 was die honderdste keer dat ons die einde van hierdie verskriklikste “oorlog om alle oorloë te beëindig” sal onthou.

In Brittanje vind die land se gedenkdiens plaas by die Praalgraf in Londen se Whitehall. Praalgraf beteken “leë graf” en op hierdie een is die woorde, “The Glorious Dead”, uitgebytel. Dáár kom die volk saam – op televisie, Internet en in persoon – gelei deur die koninklike gesin, politici, gewapende magte, verteenwoordigers van geloofsgemeenskappe en die Statebond. Die atmosfeer is met emosie gelaai wanneer die alledaagse bestaan regdeur die land vir twee minute tot stilstand kom in herinnering aan diegene wat gesterf het, sodat ons kan lewe. Trompetgeskal deurdring die respekvolle stilte om “The Last Post” te laat weerklink. Kranse word gelê. Liedere word gesing. Daar word gebid. Die orkes speel. Die lang verbymars van veteraan-groepe begin.

Al die herinneringe van diegene wat in die Eerste Wêreldoorlog gedien het, is nou vir ons verlore omdat dit saam met die betrokkenes na die graf geneem is. Ons sal egter nie hulle offer vergeet nie. Ook nie die offers van diegene wat sedertdien in oorloë gesterf het nie. Jaar na jaar refrein die volk dieselfde plegtige gelofte: “Ons sal hulle onthou!”

In 2014 tydens die honderdjarige herdenking van die begin van die Eerste Wêreldoorlog, is bykans 900,000 keramiekpapawers voorberei – een vir elke Britse en koloniale dienspligtige wat in die oorlog gesneuwel het. Dit is gerangskik om ’n see van “bloed” te skep wat vanaf en rondom die toring van Londen gevloei het – gestorte bloed, wat die lewe vir toekomstige geslagte bewaar het. Daarna is hierdie keramiekpapawers aan die publiek verkoop – een per gesin – as ’n persoonlike herinnering aan die gesneuweldes – die prys van vryheid.

Dit is werklik teenstrydig met die feit dat terwyl ons die gesneuweldes van vorige oorloë onthou en vir vrede bid, ons nasies steeds besig bly om vir oorlog voor te berei! Die mensdom wat verdeeld is deur ideologie, godsdiens, nasionale ambisies en die persoonlike soeke na mag, hou aan veg. Is dit dan nie tyd om daaraan te dink om dinge anders te doen nie?

’n Radikale oplossing

Hoe sou dit wees indien ons ook vrede en die weg na vrede kon herdenk? Hoe sou dit wees indien ons ’n plan kon herdenk wat die menslike natuur verander en ’n einde aan alle oorloë maak? Hoe sou dit wees as die “glorieryke gesneuweldes” na die lewe kon terugkeer? Glo dit as u wil, maar sulke wonderlike idees is nie wensdenkery of die verwarrende rondtasting van geestesversteurdes nie. Dit is die hoop van u Bybel!

Hierdie Boek vestig ons aandag op ’n heel ander gedenkwaardigheid – een wat opvallende ooreenkomste toon met die Wapenstilstand, maar met ’n heel ander doel in gedagte. Hierdie is ’n herdenking van baie groot omvang, met allesomvattende trefkrag en uiters belangrik vir lewe, meer as wat ons ons kan voorstel. Tog word dit afgeskeep, geïgnoreer en grotendeels deur die meeste mense vergeet.

Hierdie is nie die herdenking van ’n opoffering wat deur miljoene vegtende mans vir die lewens van toekomstige geslagte gemaak is nie. Dit is die opoffering van net een Man wie se bloed gevloei het vir u en vir my en vir almal wat nog ooit geleef het – ’n lewe wat geoffer is, sodat ons vergewe kon word, vrygemaak kon word van ons sondes en God se gawe van die ewige lewe kan ontvang (Romeine 5:6-10; 6:22-23; Johannes 3:16-17).

Indien Sy bloed nie vir ons gestort was nie, sou ons geen hoop op ’n beter lewe as hierdie een gehad het nie. As gevolg van Sy opoffering sal almal wat ooit geleef het – met inbegrip van elkeen wat in ’n oorlog gesterf het – ’n terugkeer na die lewe geniet, met die vooruitsig van die ewige lewe.

Die Man van wie ons praat, is natuurlik Jesus die Messias, wat ongeveer 2,000 jaar gelede in Jerusalem op die dag van Pasga gesterf het. Soos ons jarelange lesers van hierdie tydskrif reeds weet, gaan getroue Christene regoor die wêreld voort om die gebeure van daardie dag te herdenk as nagedagtenis van Sy dood en die betekenis daarvan. ’n Bloedrooi papawer is nie hier ter sprake nie, maar wel ’n bietjie rooiwyn en ’n klein stukkie brood wat Sy gestorte bloed en gebroke liggaam versinnebeeld.

Behoort elkeen nie hierdie Man, God se eie Seun (Matthéüs 14:33; 16:16), wat die hoogste offer gebring het, te onthou sodat ons almal kan lewe nie? Is dit nie die moeite werd om die gewone lewe net vir ’n kort tydjie opsy te skuif om erkenning te gee aan Sy dood en die opoffering wat Hy vir ons gemaak het nie?

Onthou die hoogste offer

Die meeste mense wat in die “Groot Oorlog” gesterf het, het net bevele uitgevoer. Met die bevel om die vyand te bestorm, was hulle: “Soos ’n skaap (is Hy) gelei om geslag te word”. Hulle het geweet dat die kans op oorlewing baie skraal was, maar dit was hulle plig. Hulle het geen keuse gehad nie. Hulle was “opgeroep” om vir hulle land te veg en indien nodig, die hoogste menslike offer te bring. Dus het hulle gereageer. Die keur van elke nasie se jeug het oorlog toe gegaan en gans te veel het nooit teruggekeer nie.

Die “Lam van God” was bewus van Sy roeping en bestemming van die “grondlegging van die wêreld af” (Johannes 1:29; Openbaring 13:8). Hy het nooit Sy plig ontduik nie, alhoewel Hy gehoop het dat dit op ’n ander manier kon gebeur (Matthéüs 26:39, 42). Hy het vrywilliglik Sy lewe vir die hele wêreld opgeoffer. Hy het ’n lang en verskriklike dood gesterf wat voorafgegaan is deur vernederende mishandeling wat sy liggaam uitmekaar geskeur het. Terwyl Sy einde nader gekom het, het ’n digte duisternis neergedaal en vir ’n paar uur het die lewe tot stilstand gekom. Met Sy dood het die grond geskud as gevolg van ’n aardbewing. Getuies het met groot oë en vreesbevange die woord versprei dat dit inderdaad die “Seun van God” was wat daardie dag gesterf het (Matthéüs 27:45-54).

Hierdie Seun het egter nie in die graf gebly nie. Sy Vader het Hom tot die lewe opgewek! Hy het ook ’n leë graf agtergelaat – Sy eie praalgraf – maar as ’n simbool van die lewe, eerder as van die dood. Hy sit nou aan die regterhand van Sy Vader, ywerig besig om voor te berei vir Sy Wederkoms na hierdie aarde. Sy Wederkoms sal waarlik glansryk wees (Titus 2:13-14), want Hy sal Sy Regering oor die hele wêreld vestig, alle oorloë beëindig en blywende vrede bring (Jesaja 2:2-4; 9:6-7).

Terwyl ons dink aan die groot aantal menslike lewens wat in die oorlog vir ons vryheid opgeoffer is, onthou, laat ons nie die hoogste offer van Jesus, die Messias – die Seun van God – vergeet nie. Hy het Sy lewe gegee om ons van sonde te bevry sodat ons persoonlike vrede en die hoop op die ewige lewe kan hê. Laat dit vir altyd deur elkeen van ons gesê word: “Ja, ons sal Hom onthou!

Indien u meer wil weet met betrekking tot God se verlossingsplan deur Jesus Christus en die vrede en vryheid wat dit uiteindelik aan die HELE mensdom sal bring, kontak ons gerus en vra vir u gratis boekies, Johannes 3:16: Verborge waarhede van die goue vers; U uiteindelike Lotsbestemming en Die Heilige Dae – God se meesterplan.