Kan die woorde van menslike digters en filosowe die waarheid in die Bybel oortref?

Het die stof wat op Bybels in die Verenigde State versamel het, dit vir altyd begrawe? Amerikaners “ondersoek toenemend hulle eíe waarheid” en beweer dat hulle betekenis en belangrikheid “van binne” vind. Vir sommige mense het gister se lompe godsdiens sy eie onbuigsame vertakkings ontgroei en dien nou net om moderne, humanistiese vooruitgang te beperk.

Alhoewel die meeste Christene beweer dat God die Bybel geïnspireer het, sal min mense ontken dat die “skryfwerk” deur ménse gedoen is. Hoe kan ons verseker weet dat ’n onsigbare Gees daardie manne geïnspireer het?

’n Studie van Mei 2020, wat deur dr. George Barna van die Christelike Universiteit van Arizona uitgevoer is, word deur sommige mense gesien dat dit as ’n meer verligte Amerikaanse opinie beskou kan word. Vandag glo 58% van die Amerikaners dat daar individueel oor morele waarheid besluit kan word. ’n Verbasende 46% evangeliste verwerp absolute morele waarheid. In die studie is ook gevra waar Amerikaners waarheid vind: Minder as die helfte (42%) van hulle glo dat God die basis van Waarheid is, terwyl 16% nou op “innerlike sekerheid” vertrou, 15% gebruik wetenskaplike bewyse, 5% vertrou op tradisie en 4% persent vind waarheid deur middel van openbare ooreenstemming. “Die oorblywende twee uit elke tien volwassenes het gesê dat daar nie iets soos waarheid bestaan nie (5%) of dat hulle nie die basis van waarheid ken nie (13%)” (“A Nation Unmoored – CRC Study Shows Americans Reject Moral Truth Rooted in God’s Word”).

Met die postmoderne mensdom wat die basis vorm van vandag se norm van waarheid, kan daar dálk nuwe heilige boeke wees? Hierdie idee het nie so vergesog gelyk vir Ralph Waldo Emerson, die vader van die Amerikaanse transendentalisme nie. Emerson, ’n voorstander van “innerlike goddelikheid”, het in ’n joernaalinskrywing van Julie 1836 aanbeveel: “Maak u eie Bybel. Kies en versamel al die woorde en sinne wat u al gelees het wat vir u soos die trompetgeskal uit Shakespear [sic], Seneca, Moses, Johannes en Paulus was”.

Die vleeslike verstand

Die menslike ras het sulke prestasies in tegnologie en ingenieurswese behaal soos die Skrif aandui: “... nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie” (Génesis 11:6). Ons suksesse is egter in kontras met volslae mislukking op die gebied van verhoudings, harmonie, moraliteit, gesondheid en blywende vrede. Soos die Duitse filosoof Immanuel Kant aangedui het, kan ons menslike persepsie van die werklikheid nie sonder tekortkoming ooreenstem met die werklikheid self nie, omrede ons gebind is deur ons eie vyf sintuie. Die menslike oog, sonder hulp van mikroskoop of teleskoop, kan nie die wêreld van selle, mikrobes en amoebas of verre planete en sterre peil nie.

Kan ander aspekte van lewe verborge wees vir menslike harte en denke wat nie deur geopenbaarde Waarheid gesteun word nie?

Die Skrif sê beslis so: “... omdat wat die vlees [natuurlike, fisiese verstand] bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7). “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14). Kan selfs die mees briljante menslike verstand onkundig wees oor ’n hele wêreld wat nie deur fisiese sintuie waargeneem kan word nie en alle geestelike waarhede as “dwaasheid” beskou?

Die humanistiese verstand stel vertroue in mens se eie ervaring. Het ú “innerlike sekerheid” u egter al ooit in die steek gelaat en was u al ooit verkeerd?

Indien u voel dat u nog nooit verkeerd was nie, is dit ook nie só ongewoon nie, soos ons uit Psychology Today kan aflei:

“Watter soort emosie is geneig om ons op ’n dwaalspoor te bring? Wel, een van die kragtigste is die behoefte om in beheer te voel. Talle sielkundige eksperimente het getoon dat hulpeloosheid in die aangesig van gevaar vir mense asook diere uiters spanningsvol is. Wanneer ons glo dat ons mag oor ons eindbestemming het, help dit om hierdie negatiewe ervaring te verlig, selfs wanneer daardie geloof ongegrond is. Vandaar die geweldige aantrekkingskrag van “betowerende denke” – die oortuiging dat ’n mens se gedagtes en private gebare op sigself die wêreld om ons kan beïnvloed” (“The Grandeur of Delusion”, 8 Maart 2013).

“Wat is waarheid?

Byna 2,000 jaar gelede het ’n trotse Romein die vervolging van ’n ongewone Man gelei. Hierdie Romein se wêreld was gevul met praktiese militêre en regeringsake. “Wat is waarheid?” het Pontius Pilatus gevra (Johannes 18:38). Die Man wat voor hom verskyn het, het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Was hierdie Man ’n fiksie, ’n leuenaar, ’n misleide dwaas of God in die vlees en die Bron van die ewige Waarheid? Dit sal beslis die moeite werd wees om die antwoord aan uself te bewys.

Waarheid is ’n kernaspek van God se natuur. Daardie Waarheid sal die mensdom verlos (Johannes 8:32). Daar is net een manier om gered te word: Deur Jesus Christus, daardie Man wat voor Pilatus gestaan het (Handelinge 4:12).

Kortom, God se Woord is Waarheid (Johannes 17:17). Jesus Christus word ook die Logos genoem, wat vertaal kan word as Woord of Woordvoerder (Johannes 1:1). Die Bybel is nie sommer net deur enige mense geskryf nie, “maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Die hele Skrif is “deur God ingegee” (2 Timótheüs 3:16), wat beteken dat dit “deur God geasem” is. U sou God moes wees om ’n ware heilige boek te kan skryf wat u eie is. U sou die son, maan, sterre en al die biologiese lewe moes kon skep. U sou die toekoms met perfekte akkuraatheid moes kon voorspel. U sou konings moes kon vestig, nasies op hulle knieë bring en dooies lewend kon maak.

Kan die Bybel misbruik word? Ja – daar is baie verkeerde benaderings tot die Skrif. Die dienaars van die duiwel hou hulle voor as dienaars van geregtigheid (2 Korinthiërs 11:13-15). Baie van hulle wat die Skrif aanhaal, verdraai en verwring dit “tot hul eie verderf” (2 Petrus 3:16). Het die wêreld se oorheersende vorms van Christendom bewys dat hulle beter is as die ander godsdienste wat bestaan? Klaarblyklik nie, aangesien twis, oorlog en lyding selfs die mees “Christelike” nasies teister. Bestel gerus ’n gratis eksemplaar van Satan se Vervalste Christendom of lees dit aanlyn by wvm.co.za om uit te vind waarom baie dinge wat as Christelik beskou word, glad nie Bybels is nie.

Lewend en kragtig

Waarheid is meer as ’n gevoel. Wanneer God die mens se verstand open, verstaan ’n mens dít wat voorheen nie verstaan kon word nie (Lukas 24:45). God se stem vloei uit die Heilige Skrif voort – lewendig en dinamies en kry dieper betekenis vir Christene namate hulle op God reageer en die lewe ervaar. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12).

Dalk het Pontius Pilatus ’n front van selfvertroue en trots voorgehou – of ten minste volgens die geskiedskrywer Eusébius – het hy uiteindelik tot sy eie skande selfdood gepleeg. Selfs die rykste en magtigste individue is nie bestand teen twyfel wat in hulle harte en gedagtes opkom nie. Moenie die waarhede soos wat dit in die Bybel vervat is misloop nie – gee die Bybel kans om te help. U kan begin deur ’n gratis eksemplaar van Die Bybel: Feit of Fiksie? aan te vra of u kan dit aanlyn lees by wvm.co.za.