Bybel profesie lys verskeie tekens wat Jesus Christus se wederkoms sal voorafgaan, maar die apostel Paulus maak spesifiek melding van twee vername gebeurtenisse wat sal plaasvind net voor Christus se wederkoms. Hy skryf: “... eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf” (2 Thessalonicense 2:3). Paulus sê aan ons dat die verskyning van hierdie “mens van sonde” op die wêreldtoneel, gepaard sal gaan met “tekens en wonders van die leuen” wat gedoen sal word deur ’n vals godsdienstige leier, wat gebruik maak van Satan se krag (2 Thessalonicense 2:9). Hierdie vertoon van bonatuurlike demoniese krag sal miljoene mense mislei om hierdie Satan-geïnspireerde individu, en die stelsel wat hy voorstaan, te volg.

Die Westerse nasies is intussen besig om vinnig enige vorige skyn van nominale Christelikheid te laat vaar. “Hoofstroom” kerke wat vir eeue “tradisionele Bybelse waardes” gehandhaaf het, is nou voorstanders van dieselfde-geslag huwelike van predikante (ook vroulike predikante) wat homoseksualiteit beoefen, ook die openlike ontkenning dat die Skrif geïnspireerd is. Teenreaksie teen hierdie neigings dryf sommige van die Episkopaalse en Anglikane na die Rooms-Katolieke Kerk, selfs terwyl baie Rooms-Katolieke hulle kerk verlaat terwyl hulle verslaentheid en ontnugtering aanhaal van die manier waarop die “pedofiel-priester-skandaal” hanteer is. In baie Westerse nasies is Islam nou die geloof wat die vinnigste groei.

Wat het gebeur met die lankgehuldigde veronderstelling dat Jesus Christus sou terugkeer om Sy Koningryk te vestig? Ten spyte van liberale neigings en vals leerstellings, bly dit ’n feit dat Jesus “weer sal kom” (Johannes 14:1-3), dat Sy voete op die Olyfberg buite Jerusalem sal staan en dat Hy oor die hele aarde sal heers (Sagaria 14:1-9). Die Bybel boekstaaf ook dat spesifieke “tekens” Jesus se wederkoms sal voorafgaan: Toenemende geweld en oorloë, herhaaldelike oorstromings, droogtes en hongersnode, siekte-epidemies, aardbewings en ander natuurrampe (sien Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21). ’n Belangrike teken sal egter wydverspreide godsdienstige misleiding wees, wat bevorder sal word deur valse godsdienstige leiers wat “groot tekens en wonders” doen (Mattheüs 24:3-5, 11, 24). Die Skrif meld ook dat Jesus Christus se wederkomsverrassend sal wees vir die wêreld omdat mense nie op die uitkyk sal wees vir die waarskuwingstekens wat gaan aandui dat Sy wederkoms naby is nie (Mattheüs 24:36-41; 25:1-13; 1 Thessalonicense 5:1-6).

In die boek Openbaring beskryf die apostel Johannes ’n dier wat uit die see opkom, wat beïnvloed is en mag gegee is deur Satan (die draak – Openbaring 13:1-5). Hierdie dier sal ’n politieke leier wees wat in Europa mag gaan verkry oor ’n finale oplewing van ’n politieke stelsel wat skakels met die antieke Romeinse Ryk het (sien Daniël 2; 7). Johannes voorspel dan die verskyning van ’n ander dier en “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal ... En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is” (Openbaring 13:11-18). Hierdie wonder-werkende valse profeet sal in bondgenootskap wees met die eerste dier en die mense van die aarde onder druk plaas om deel te word van hierdie herleefde Romeinse stelsel. Saam sal die politieke leier en die wonder-werkende valse profeet die wêreld in ’n Satan geïnspireerde stelsel inlei wat heeltemal teenstrydig met die wette van God is. Dit sal die finale vervulling wees van die “afvalligheid” of “groot geloofsversaking” teen God, wat die apostel Paulus beskryf in 2 Thessalonicense 2:3. Bybel profesieë openbaar dat dit sal plaasvind binne die volgende paar jaar!

Verkeerde aannames

Soos baie lesers van hierdie tydskrif weet, het die organisasie wat vir meer as 50 jaar deur mnr. Herbert W. Armstrong gelei was, ’n groot krisis ondergaan in die vroeë 1990’s, namate sy opvolgers die lank gehuldigde leerstellings van God se Kerk laat vaar het en probeer het om die organisasie te laat saamsmelt met “hoofstroom Christendom”. Duisende lede het die Wêreldwye Kerk van God verlaat namate die leerstellings verander is. Daardie organisasie het selfs sy naam verander en openlik erken dat hulle nie meer hulself langer as ’n “Kerk van God” beskou nie.

Kon dit dus die “afval” gewees het wat die Skrif voorspel? Niemand anders nie as mnr. Armstrong self, sou verskil het van daardie bewering. Op baie geleenthede het mnr. Armstrong duidelik verkondig dat die “wegval” wat in 2 Thessalonicense 2:3 vermeld word, ’n gebeurtenis sal wees wat die oorgrote meerderheid mense regoor die wêreld sal raak. Hy het in ’n medewerkersbrief geskryf: “Christus het ’n wegdraai van Sy boodskap voorspel ... [Paulus] het ’n groot afvalligheid van Christus se ware boodskap voorspel ... die gewilde kerke sal wegdraai van die Waarheid en fabels glo” (11 November 1949). Later het hy in ’n 1982 radio-uitsending gevra: “Het daardie afval plaasgevind? Dit beteken nie ’n paar mense nie, dit beteken nie ’n paar radikales of fanatici nie. Die hele wêreld sal mislei moet wees”.

Was die “hele wêreld” mislei toe mnr. Armstrong se opvolgers hul kerk verdeel het? Alhoewel dit ’n traumatiese gebeurtenis was, het dit slegs ’n relatiewe klein groepie mense geraak, die kerk se leiers het geen kragtige wonderwerke gedoen om die lojaliteit van volgelinge te verkry nie. Daar is geen skriftuurlike manier om die geprofeteerde “mens van sonde” te identifiseer met enigeen van die mans wat mnr. Armstrong opgevolg het as hoof van daardie organisasie nie.

Neem kennis dat die sinsdeel wat as “afval” in 2 Thessalonicense 2:3 vertaal word, van die Griekse woord apostasia kom. Alhoewel Engels-sprekendes geneig is om hierdie woord te vertaal as “apostasy”, en “falling away”, het dit ’n algemeen aanvaarde frase geword, wat nie die beste vertaling is nie. Kyk hoe ’n aantal ander vertalings dit weergee: “... the great revolt” (Williams), “the rebellion” (Moffatt), of “the final rebellion against God” (NEB). Geen geloofwaardige vertaling gee enige aanduiding dat hierdie massiewe wêreldwye gebeurtenis slegs ’n paar duisend lede van een organisasie kon behels nie. Veel eerder behels dit ’n onomwonde wêreldwye opstand van ongekende afmetings, teen enige sweem van geloof in die God van die Bybel. Dit is hoe die Expositor’s Bible Commentary hierdie gewigtige gebeurtenis beskryf: “Toestande sal ryp wees vir mense, veral diegene wat hulself Christene noem ... om God die rug toe te keer ... Hierdie wêreldwye anti-God beweging sal so algemeen wees dat dit vir hulself ’n besondere benoeming verdien: ‘... die afvalligheid’ ... die teenwoordigheid van so ’n afvalligheid en vervalsde god sal nie internasionale waarneming ontgaan nie” (volume 11, bl. 320-323).

Ons leef in ’n tydvak waarin die sogenaamde “Christelike” wêreld meer en meer wegdryf van God en die sedelike beginsels van die Bybel. Nasies wat eens op ’n tyd daarop aanspraak gemaak het dat hulle Christelike nasies is, bevorder nou homoseksualiteit en dieselfde-geslag huwelike – vervolg selfs diegene wat uit die Bybel aanhaal! Wat van Amerika? President Barack Obama het toe hy as presidensiële kandidaat gestaan het, die beroemde opmerking gemaak: “Wat ons ookal eers was, ons is nie meer ’n Christelike nasie nie – ten minste nie uitsluitlik nie. Ons is ook ’n Joodse nasie, ’n Moslem nasie, ’n Boeddhistiese nasie, en ’n Hindoe nasie, en ’n nasie van ongelowiges”. Sommige in-naam gelowiges het aanstoot geneem, was selfs ontstoke, deur sy woorde, maar hy was reg – Amerika beskou Bybelse beginsels nie meer as sy anker nie.

Hierdie tendens sal voortgaan. Binne die leeftyd van die meeste van u wat hierdie artikel lees, sal twee Satan-geïnspireerde individue – ’n wonder-werkende godsdienstige persoon en ’n charismatiese Europese politieke leier – op die wêreld-toneel verskyn en die massas van die mensdom in opstand lei teen die ware God. Uiteindelik, na aan die heel einde van hierdie tydvak, sal hierdie godslasterlike persoon homself as God verklaar. Hy sal die onderdanigheid van miljarde mense afdwing, wat met hom sal saamgaan in ’n finale opstand teen die terugkerende Jesus Christus (2 Thessalonicense 2:4).

U behoort waaksaam en op die uitkyk te wees vir hierdie betekenisvolle eindtydse gebeure sodat u kan vermy om mislei te word wanneer hierdie profesieë gestalte aanneem!