In hierdie reeks artikels van “Keerpunte” het ons deurentyd ’n belangrike ontbrekende dimensie in ons moderne wêreldbeskouing asook ons begrip van geskiedenis ondersoek. Terwyl baie mense vandag die bestaan van God betwyfel, het ons herhaaldelik gewys hoe die God van die Bybel op kritieke oomblikke in menslike aangeleenthede ingegryp het om die verloop van die geskiedenis te lei, soos Hy alleen dit kan doen (Job 12:23; Daniël 2:21; 4:25, 32, 34). Ons het gesien hoe God Abraham gebruik het om kennis van die ware God te bevorder en hoe Hy spesifieke beloftes gemaak het oor die toekoms van Abraham se nageslag – beloftes wat in verstommende besonderhede vervul is. Ons het ook gesien hoe God se mag die leiers van antieke nasies verbaas het, hoe die boeke van Moses die wette van vandag se nasies beïnvloed en hoe die koms van Jesus Christus die verloop van die geskiedenis verander het. Ons het gedokumenteer hoe die Bybel en sekere Bybelse waardes die unieke basis van die Westerse beskawing voorsien het en hoe Europa teen die Moslem- en Mongoolse invalle beskerm was en waarom Groot-Brittanje en Amerika na vore getree het om dominante magte te word wat ons moderne wêreld gevorm het – alles volgens God se algehele plan.

Terwyl hierdie en ander onderwerpe wat in hierdie reeks behandel is, onmiskenbare bewys lewer van hoe God deur duisende jare heen in die sake van mense ingegryp het, dui Bybelprofesieë daarop dat nog groter gebeure die toekoms van die wêreld in die komende jare dramaties sal beïnvloed. Hierdie profesieë openbaar ook dat ons op pad na ’n ander kritieke keerpunt in die geskiedenis is – ’n keerpunt wat ’n wêreld, wat God se plan vir die mensdom uit die oog verloor het, sal skok en verras.

Die mensdom se moderne dilemma

Baie geleerdes ignoreer of verwerp deesdae die feit dat God bestaan en die verloop van menslike aangeleenthede lei. As gevolg hiervan skryf hulle die opkoms en ondergang van nasies toe aan niks meer nie as toevallige omstandighede, gelukkige of ongelukkige keuses van leiers, onvoorspelbare weer, natuurrampe en net blote geluk. Vanuit hierdie wêreldse perspektief laat die gevare wat ons in die gesig staar – wêreldwye besoedeling, epidemiese siektes, wydverspreide armoede, ’n tekort aan voedsel en water wat miljoene mense raak, toenemende geweld en terrorisme, stygende onverdraagsaamheid, opkomende nasionalisme, die versameling van wapens in wêreldwye brandpunte en die bedreiging van ’n kernoorlog – die toekoms taamlik donker lyk! Sommige kenners waarsku dat ’n “nuwe donker era” op die horison is, aangesien die pilare van die “beskawing” steeds verder verkrummel. Hulle stel dieselfde vraag as The Telegraph in ’n hoofopskrif van Januarie 2019: “Is hierdie die jaar waarin die wêreld uitmekaar val?”

In ’n onderhoud met NBC News, het Sir Martin Rees, die Britse koninklike sterrekundige, die vraag bespreek of die mensdom hierdie eeu sal oorleef. Hy het opgemerk dat ons in ’n kritieke tydperk leef wat ons toekoms kan bepaal. “Hierdie eeu is van kardinale belang” het hy gesê en gewys op ons potensiaal om “kragtige tegnologie te misbruik en onsself te vernietig” (NBCNews.com, 8 November 2018). Vir sommige mense bevorder die kommerwekkende en hopelose prentjie van die toekoms depressie, ontsnapping deur middel van dwelmmiddels en selfs selfdood onder oud en jonk.

Sal die wêreld egter in 2019 uitmekaar val? Sal ons onsself besoedel tot die dood? Sal ’n kernoorlog alle lewe op hierdie planeet uitwis? Sal die foute en verkeerde berekenings van die mensdom daarop uitloop dat ons “onsself vernietig”? Nader ons dalk ’n uiteindelike en onverwagte keerpunt wat die verloop van die geskiedenis vir altyd sal verander? Is daar ’n dimensie van kennis wat ons vandag vergeet het en wat vorige geslagte verstaan het?

Die ontbrekende dimensie

Wat baie mense vandag nie besef nie, is dat verwarring oor die toekoms en verlies aan die feit dat hulle hoop verloor het, hand aan hand gegaan het met die kwynende invloed van en belangstelling in Bybelse Godsdiens. Baie teoloë en wêreldse geleerdes, asook leiers in die regering en die media, het die duidelike boodskap van die Skrif uit die oog verloor of dit verwerp en hulle bly in die duister oor die ware Evangelie van Jesus Christus. Tog openbaar die Bybel dat Jesus ’n opwindende boodskap oor ’n hoopvolle toekoms gebring het. Jesus het na hierdie aarde gekom om “die evangelie van die koninkryk van God [te] verkondig” (Markus 1:14-15). Hierdie was nie ’n boodskap oor die hemel waar saliges in alle ewigheid ’n harp op ’n wolkie sou bespeel nie. Dit was in teendeel ’n positiewe en kragtige boodskap oor ’n toekomstige wêreldregering wat Hy op hierdie aarde sal vestig om vrede en geregtigheid te bring aan alle mense (Jesaja 9:6-7). Daardie regering sal gegrond wees op die Wette van God, wat van Jerusalem af (Jesaja 2:2-4) verkondig sal word en deur Jesus Christus en die heiliges bestuur sal word (Daniël 7:27; Matthéüs 19:28-29). Volgens die Skrifte het “die koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Alhoewel dit vandag selde verkondig of gehoor word, het die Evangelie – die goeie nuus wat deur Jesus en die Apostels verkondig is – gehandel oor die duisendjarige regering van Jesus en die heiliges op hierdie aarde (Openbaring 20:4). Soos Edward Gibbon in hoofstuk 15 van sy gevierde werk The Decline and Fall of the Roman Empire opgemerk het, was dit hierdie kragtige boodskap wat die vinnige groei van die vroeë Kerk in die jare na Jesus se aardse bediening aangevuur het. Soos Gibbon ook aantoon, is hierdie opwindende boodskap nogtans aangaande die werklike toekoms van die mensdom later slegs as ’n versinnebeelding afgemaak en daarna as kettery verwerp! As gevolg hiervan het die grootste deel van die mensdom nog nooit gehoor van die belangrikste keerpunt wat die wêreld ooit sal beleef nie of het dit uit die oog verloor.

’n Lewensbelangrike boodskap

Kritici beweer deesdae dat die Bybel slegs ’n verouderde boek vol fabels is en nie van toepassing op ons moderne tyd is nie. Tog beweer die Bybel dat dit die geïnspireerde Woord van God is (2 Timótheüs 3:16) en staaf hierdie bewering met bewyse. (Sien ons gratis boekie Die Bybel: Feit of Fiksie? vir meer inligting.) Jesus se ware teenwoordigheid in die geskiedenis is duidelik – sien die geskrifte van Tacitus, Josephus, Plinius die Jongere en Suetonius vir voorbeelde – Sy invloed op die Westerse beskawing is onmiskenbaar. Jesus het egter uitdruklik gesê: “Ek sal weer kom” (Johannes 14:1-3). Dit is die duidelike boodskap van die Skrif (Markus 13:26; 1 Korinthiërs 15:23; Openbaring 3:11; 22:7, 20).

Jesus het voorspel dat Hy sou terugkeer wanneer die toekoms van die mensdom in die weegskaal sal wees. Sy dissipels het gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Jesus sê dat wydverspreide godsdienstige misleiding, oorloë en gerugte van oorloë, internasionale twis, toenemende etniese spanning, hongersnode, siektes en natuurrampe, wêreldtoestande sou weerspieël (Matthéüs 24; Markus 13; Lukas 21). Verder het Hy gewaarsku dat wanneer Hy weer kom, die toestande in die samelewing sal lyk soos in die “dae van Noag” toe die HERE gesien het dat “die boosheid van die mens op aarde groot was ... wat hy in sy hart bedink altyddeur net sleg was ... die aarde was verdorwe ... die aarde was vol geweld ... want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.“ (Génesis 6:5-13) Jesus het gesê dat as Hy nie terugkeer om in menslike aangeleenthede in te gryp nie, sal “geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:21-22) – ’n toestand waarheen ons vandag op pad is. Die Bybel meld ook dat spotters in die laaste dae die spot sal dryf met die idee dat Jesus na die aarde sal terugkeer (2 Petrus 3:3-4). Wanneer Hy weer kom, sal die wêreld geskok en verbaas wees (Matthéüs 24:36-44).

Verder openbaar die Skrif dat die Wederkoms van Jesus Christus “tye van verkwikking” en “wederoprigting van alle dinge” sal meebring (Handelinge 3:19-21). Dit sal ’n tyd van vrede wees wanneer mense nie meer “sal leer om oorlog te voer” nie (Jesaja 2:2-4) en “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE” (Jesaja 11:6-10). Namate die mense sal begin om volgens die Wette van God te leef en Sy seëninge uitgestort sal word, sal die wêreld se natuur herstel word, woestyne sal juig en bloei soos ’n narsing en siektes sal daar nie wees nie (Jesaja 35:1-7). Stede wat verwoes was sal herbou word (Jesaja 61:4; Amos 9:14) en die gesin sal weer die basiese eenheid van die samelewing wees (vergelyk Maleági 4:6).

Dit is nie ’n sprokie wat te goed is om waar te wees nie. Dit is alles deel van God se plan vir die mensdom. Dit sal teweeggebring word deur die belangrikste keerpunt in die geskiedenis: die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde.

Sal u gereed wees?