Die somer van 2015 kenmerk die duisendste jaar sedert die Viking-inval in Engeland deur Knoet en die aanvang van sy veldtog om koning van Engeland te word. Watter lesse kan uit die legendariese lewe van koning Knoet geleer word? Op watter wyse maak Knoet se begrip van die ware Bron van Gesag ’n impak op ons siening van die wêreld se moderne politieke stelsel?

Koning Knoet die Grote

Knoet is as die seun van koning Swegen (Sweyn) Gaffelbaard van Denemarke gebore ongeveer 990–1000 n.C., hoewel die presiese datum onbekend is (Cnut: Engeland’s Viking King, M.K. Lawson, bll. 20, 160). Swegen is in 1013 n.C. koning van Engeland gemaak, maar het minder as ’n jaar later gesterf. Die voormalige koning van Engeland, Ethelred (Æthelred) die Onvoorbereide, wat gevlug het toe Swegen die land binnegeval het, is summier opgeroep om na Engeland se troon terug te keer (ibid., bl. 48).

Intussen het Knoet in 1015 n.C. na Denemarke teruggetrek, ’n leër op die been gebring en na Engeland teruggekeer om Ethelred se magte uit te daag. In die loop van die volgende jaar het Knoet die grootste deel van Engeland, met die uitsondering van Londen, beset. Na die dood van Ethelred, het die Engelse raad Knoet as hulle koning gekies, terwyl Londenaars Ethelred se seun, Edmund II Ironside, as hulle koning gekies het.

Knoet se oorwinning in Ashingdon tydens die slag van Assandun op 18 Oktober 1016 n.C., het hom aangespoor om ’n ooreenkoms tussen homself en Edmund aan te gaan om die koninkryk te verdeel. Edmund het egter sowat ses weke later gesterf aan beserings wat hy op die slagveld opgedoen het. Gevolglik het Knoet heerser oor die hele Engeland geword (Oxford Popular History of Engeland, bll. 108-9).

Die Viking oorwinnaar Knoet, het as koning Knoet die Grote bekend geword. Hy het oor, wat destyds ’n ontsaglike groot ryk was, regeer. Hy het oor Engeland, Denemarke, Noorweë en dele van Swede gesag uitgeoefen tot sy dood in 1035 n.C. ’n Groot deel van Knoet se lewe is aan die stuur van ’n groot moondheid bestee. Waarin word werklike mag egter gesetel? Dit wil voorkom of Knoet die antwoord op hierdie lewensbelangrike vraag verstaan het.

Heerser van die golwe

In ’n ou en bekende legende het koning Knoet langs die see op die strand geloop. Terwyl al sy dienaars gevolg het, het hulle die koning lof toegeswaai in misleide eerbied en gesê dat hy selfs die golwe kan beheer. Knoet het gevra dat sy troon na die strand gebring word, waarna hy daarop gaan sit het. In ’n doelgerigte vergeefse poging, het hy die branders bevel gegee om op te hou breek.

Ten spyte van Knoet se bevel het die branders voortgegaan met hulle meedoënlose aanslag op die strand en op sy voete. In teregwysing het Knoet gereageer: “Laat almal weet hoe leeg en waardeloos die mag van konings is, aangesien niemand waardig vir die naam is nie, behalwe God, wat deur die hemel, die aarde en die see gehoorsaam word”.

Die 19de eeuse Engelse skrywer, William Makepeace Thackeray, kom in sy gedig met die titel “Koning Knoet”, tot die volgende gevolgtrekking:

“En hy beveel hulle streng om nooit meer

Te kniel voor menslike klei,

Maar om slegs te loof en te aanbid

Dit wat die aarde en die see gehoorsaam:

En sy goue kroon van die ryk

Het hy nooit weer gedra sedert daardie dag.

Koning Knoet is dood en weg:

Parasiete bestaan vir altyd”.

Volgens die digter, het koning Knoet se parasitiese adviseurs op sy prestige geteer terwyl hulle probeer het om sy ego op te blaas. Die koning se bevel aan die branders is uitgereik om aan sy volgelinge te bewys dat God, wat deur die branders gehoorsaam word, die werklike bron van mag is.

Terwyl die storie op talle maniere vertolk was, het die Universiteit van Cambridge se Professor Simon Keynes, aangevoer dat, “die storie bedoel is om sy godvresendheid te illustreer – ’n uitstaande kenmerk van sy koningskap ... Hy weet sy mag is niks vergeleke met dié van God nie” (“Is King Canute misunderstood?”, BBC News, 26 Mei 2011).

Keynes gaan voort, “[Knoet] was ’n standvastige heerser ... Alhoewel hy gekom het om met wapengeweld oor die Engelse te heers, het hy verstandig met die situasie gehandel en altyd met skerpsinnige politieke verstandigheid opgetree” (ibid.).

Politiek versus God se wil

Wanneer verkiesingstyd aanbreek sal baie opregte kiesers, in die geloof dat hulle hulle burgerlike plig uitvoer, na die stemlokaal koers kies. Behoort Christene hulleself dus af te vra: “Vir wie sou Jesus stem?”

Dit is eintlik die verkeerde vraag om te vra. Christus het duidelik verklaar dat Sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Diegene wat Hom wil volg sal hulleself nie met die politieke of militêre sake van hierdie wêreld bemoei nie (Johannes 15:19; 18:36). Die apostel Paulus leer ons: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel” (Romeine 13:1).

Christene is ambassadeurs van die Koninkryk van God, met hulle burgerskap in die hemel (2 Korinthiërs 5:20; Filippense 3:20). Hulle sal die menslike regering respekteer, terwyl hulle bewus is dat Satan die duiwel tans oor die nasies van hierdie wêreld heers (Matthéüs 4:7-10; Efésiërs 2:2; Openbaring 12:9). God het toegelaat dat dit vir nou so sal wees.

Terwyl dit die geval is, sal ware Christene nie aan die politieke stelsels van hierdie wêreld deelneem nie. Hulle sal hulleself eerder ten volle daarop toelê om God se wil te soek en om die verkondiging van die Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God te ondersteun (Johannes 4:34).

Die profeet Daniël voeg by: “Op ’n besluit van die bodes berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:17).

By tye mag God persone van wie ons nie hou nie in verskeie politieke ampte plaas, maar in Jesaja 46:10 sien ons dat God die “einde van die begin af” verklaar. Ons behoort te besef dat God se doel en plan sal staan, ongeag die uitslag van die politieke veldtog en die stemmery.

Aansluiting by die Bron van Gesag

Ware Christene sal op God vertrou om uit te sorteer wie in gesag behoort te wees. Ons kan dit in Sy almagtige hande laat. Intussen kan ons, deur middel van ’n aktiewe gebedslewe, ’n innige verhouding met Hom ontwikkel. Hy kan en sal kragtig namens u ingryp, indien u Hom heelhartig soek. Lees ons inspirerende gratis boekie, Twaalf Sleutels tot Verhoorde Gebed, om meer te leer.

Volgens die legende het koning Knoet erken dat die God wat deur die branders gehoorsaam word, die werklike Bron van Gesag is. Sal u ook?