Kan u glo dat die Verenigde State van Amerika – wat in sy Pledge of Alliance [Akte van Samewerking] daarop aanspraak maak om “een nasie onder God” te wees en op sy muntstukke verklaar, “Op God Vertrou Ons” – se burgers hofsake en tronkstraf in die gesig staar wanneer hulle die Bybel aanhaal of bely dat hulle in Bybelse leringe glo?

Kan u glo dat in Engeland, Kanada – en regdeur die vorige Britse gemenebes nasies waar “God Save the Queen” gesing word – mense gedreig word met boetes en straf omdat hulle dieselfde oortuigings bely as hulle Anglikaanse, Metodiste en Baptiste voorvaders?

Regoor die wêreld word mense wat bely dat hulle die leerstellings van Jesus Christus glo, toenemend as kriminele behandel omdat hulle standpunt inneem volgens Bybelse beginsels. Hoekom gebeur dit, en wat beteken dit?

Geval na geval

In 1954 het die Amerikaanse President, Dwight D. Eisenhower, ’n wet onderteken om die woorde “onder God” by te voeg tot sy nasie se Pledge of Alliance [Akte van Samewerking]. Vyftig jaar later is daardie woorde in die spervuur. Dit is verbode om in publieke skole te bid en inskripsies van die Tien Gebooie word verbied in skole en publieke geboue. Onderwysers wat dit waag om enige woord of enige aksie uit te voer wat sinspeel op ’n Christelike geloof, word toenemend blootgestel aan geregtelike vervolging.

Nie lank gelede nie is ’n onderwyser van Kalifornië daarvan aangekla dat hy die skoolregulasies skend deur die lees van die Bybel as ’n taak te gee en die Bybel in die klas te lees. ’n Skool in Idaho is gedreig om toestemming om as skool te funksioneer te verbeur, omdat die skool beplan het om die Bybel in sy leerplan in te sluit. ’n Onderwyser van Kolorado word gekonfronteer met dissiplinêre stappe omdat hy ’n Bybel op sy lessenaar gelaat het waar skoolkinders dit kon sien. ’n Maatskaplike werker kan moontlik sy lisensie verloor omdat hy aan ’n medewerker gesê het hy glo ’n huwelik moet tussen een man en een vrou wees. In Michigan is ’n student wat gegradueer is in berading, afgedank omdat hy op “godsdienstige gronde” nie berading wou verskaf aan ’n homoseksuele man wat probleme gehad het met sy maat nie. ’n Man het twee godsdienstige uitgewers vir $10 miljoen gedagvaar omdat die Bybels wat hulle uitgee, God se verbod op homoseksuele gedrag korrek oordra (sien The Culture of Disbelief, Carter, bl. 11-12). Dit alles het gebeur in ’n nasie wat eens bekend was vir sy “vryheid” van godsdienstige uitdrukking.

Amerika is nie die enigste land waar belydende Christene aangeval word nie. Nie lank gelede nie, na afloop van homoseksuele aktiviste se weeklange “Trots” feesviering in die weste van Kanada, is ’n man en ’n koerant beboet en aangekla van “haat-misdaad” omdat hulle ’n advertensie gepubliseer het wat Bybelse verwysings bevat – nie eers aanhalings nie – wat God se veroordeling van homoseksuele gedrag beskryf. Alleenlik die verwysing na Bybelverse was as “gevaarlik” beskryf omdat beweer word dat dit homoseksuele persone blootstel aan “haat en bespotting”. In Ontario is ’n burgemeester met $10,000 beboet omdat hy geweier het om ’n “Gay Trots Naweek” bekend te maak. In Swede is ’n predikant na die tronk gestuur omdat hy Bybelverse oor homoseksualiteit gelees het. In Engeland het die polisie ondersoek ingestel na ’n biskop, omdat hy gesê het dat sommige homoseksuele persone hulleself kan “reoriënteer” (sien The Criminalization of Christianity, Folger, bl. 17-31). Die Europese Raad het planne bekendgestel om druk op lande toe te pas wat nog lyfstraf aan kinders toelaat (Mail Online, 22 Junie 2009) – ten spyte van die feit dat die Bybel ouers beveel om lyfstraf verantwoordelik te gebruik om hul kinders te korrigeer (Spreuke 13:24, 19:18, 22:15, 29:15, 17). Oortredings van die Raad se voorskrifte sal onderwerp word aan kriminele vervolging – dit beteken dat EU voorskrifte voorrang sal geniet bo God se opdragte in die Skrif! Gaan daar ’n tyd kom, soos sommige regsgeleerdes nou voorspel, dat wette teen “haat-misdaad” gebruik kan word om selfs die Bybel onwettig te verklaar en om die uiting van Bybelse waarhede te kriminaliseer?

Profesieë neem gestalte aan!

Vir miljoene mense wat die hedendaagse wêreldlike liberale denkwyses aanvaar, mag dit voorkom asof die pogings om duidelike Bybelse leerstellings te verbied, lankal reeds moes plaasvind. Nogtans het ’n beduidende aantal mense – veral in Amerika en in die noordwestelike Europese nasies – hierdie aksies geëien as effens meer dan “politieke korrektheid” en selfs as ’n soort van “theo-phobia” en ’n blatante poging om uitgesproke sekulariste toe te laat om mense van geloof die swye op te lê.

Jesus Christus se dissipels het Hom gevra, “wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). Hy antwoord hulle: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (vers 9). By ’n ander geleentheid waarsku Jesus Sy volgelinge: “Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene” (Mattheüs 10:17-18).

Vir wie was God se waarskuwings bedoel? Nie vir die nie-Christene of valse Christene nie – dit was ’n eenvoudige waarskuwing aan Sy “geestelike Israel” dat hulle ’n getuienis vir die “nie-Christene” sal wees. Ons leef egter vandag in ’n wêreld waar net maar die woord “Christelik” – selfs wanneer van toepassing op vals leringe wat Jesus Christus Self sou veroordeel – genoeg kan wees om vervolging aan te blaas!

Rampspoed lê voor!

Waar gaan vandag se anti-Christelike sentimente heen lei? Wat is die huidige gevolge, en gaan daar toekomstige onverwagte gevolge wees van hierdie skokkende verskynsel?

Oor die laaste paar dekades het bywoning van Protestantse eredienste in Engeland dramaties afgeneem, en aggressiewe ateïste haal die hoofopskrifte. Dit is geen wonder dat in só ’n soort omgewing, meningspeilings vind dat amper twee-derdes van Britse tieners nie aan God glo nie, en dat byna die helfte van hulle voel dat georganiseerde godsdiens geen plek in die wêreld moet hê nie.

’n Ander Engelse studie onthul dat in sommige dele van die toenemend wêreldlike nasie, byna drie-kwart van alle geboortes nou buite die huwelik plaasvind (The Sunday Times, 18 April 2010). Hierdie skokkende syfer bevestig die antieke profesieë deur Hosea rakende die Israelitiese nasies, omdat hulle daarvan hou om “na die gebod van mense te wandel” – verkies om “hulle eie ding te doen” – daarom het hulle “onegte kinders verwek” (Hosea 5:7, 11). Lank gelede het God ’n waarskuwing gerig aan die Israeliete, aan wie, as Sy uitverkore nasie, Hy Sy wette geopenbaar het – “as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie ... [sal] Ek ... verskrikking oor julle beskik ... julle [sal] voor jul vyande verslaan word ... Ek sal julle trotse mag verbreek ... Ek sal julle stede puinhope maak ... Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek” (Levitikus 26:15-33).

In die lig van hierdie antieke profesieë is dit kwalik toeval dat Amerika, Brittanje en ander hedendaagse Israelitiese nasies ernstige finansiële probleme, toenemende maatskaplike twis en verlies aan invloed in die wêreld ervaar – gedurende dieselfde tyd dat hulle hul distansieer van enige voorgee dat hulle God aanbid – en dit selfs ’nkriminele oortreding maak om te praat van of standpunt in te neem vir Bybelse waarhede of, inderdaad, enige leringe in die naam van “Christelikheid”. Dit is verseker ’n droewige dag wanneer regerings besluit dat dit maar reg is om die Bybel uit openbare skole te verban, en wanneer nasies wat hulself “Christelik” genoem het, nou ly aan wat die Engelse Parlementslid, Mark Pritchard, “Christenphobia” genoem het (BBC News, 4 Desember 2007).Tensy ons as nasies ons bekeer, ons foute erken en ons na God wend, is die “skrif teen die muur” vir die hedendaagse nasies wat van antieke Israel afstam!