Glo dit of nie, sommige van die sterkste profetiese aanklagte wat in die Bybel gevind kan word, is gerig teen die eindtydse geestelike leiers van die Israelitiese nasies – wat nie slegs die Jode van die hedendaagse nasie van Israel insluit nie, maar ook Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Groot Brittanje en ander noordwestelike Europese nasies wat daarop aanspraak maak dat hulle “Christene” is. Die redes vir hierdie kragtige veroordelings van geestelike leiers was reeds al vir meer as ’n dekadeprominent in nuusopskrifte. Vir enigeen met oë om te sien en ore om te hoor, neem antieke Bybelprofesië vandag gestalte aan!

Verskeie waarskuwings!

Jesus het ons duidelik geleer dat Christene moet leef volgens “elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Hy bestraf geestelike leiers van Sy dag want hulle “nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af ... tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheüs 15:8-9). Jesus het ook gewaarsku dat baie mislei sal word deur predikante wat valslik op Christus se outoriteit aanspraak maak aan die einde van die tydvak (Mattheüs 24:5).

Christus se sterk stellings oor misleide eindtydse geestelike leiers word ook deur Sy dissipels herhaal. Die apostel Paulus het gewaarsku dat “in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees ... lasteraars ... sonder liefde vir die goeie ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God ... wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën hetKeer jou ook van hierdie mense af” (2 Timotheüs 3:1-5). Die apostel Petrus het gewaarsku dat vals leraars “verderflike ketterye heimlik sal invoer... om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word ... Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal” (2 Petrus 2:1-15). Die apostel Judas het gewaarsku aangaande “goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid” (Judas 4). Ons is vandag besig om te sien hoe dit gebeur!

Geestelike leiers haal hoofopskrifte

Onlangs het 160 geloofsleiers in die staat van Iowa ’n dokument aan die staat se wetgewers voorgelê waarin hulle hulle ondersteuning vir dieselfde-seks “huwelike” verklaar. Verlede jaar het die Voorsittende Biskop van die Evangeliese Lutherse Kerk in Amerika – wat daarop aanspraak maak dat “God nog steeds met ons praat” – by Lutherane aangedring om ’n meer “moderne” siening oor seksuele oriëntasie te oorweeg, want “dit lyk nie of die begrip wat ons vandag van homoseksualiteit het, in die konteks van die Bybelse skrywers gereflekteer word nie” – met ander woorde, die Bybel is nie sy kerk se finale gesag nie! (Associated Press, 8 Desember 2009). Hy het voorgestel dat as meer homoseksueel-vriendelike beleide gevestig word, dit die kerkverband mag help om te groei – in weerwil van die feit dat hierdie einste beleide baie gelowiges wegdryf!

Terwyl Baptiste kerke in Amerika worstel met die saak, het leiers van die Presbiteriaanse Kerk (VSA) gestem ten gunste daarvan om homoseksuele tot die bediening toe te laat. Een andersdenkende pastoor het egter met ’n “diep gevoel van hartseer” gesê dat die saak nie daaroor gaan of ’n persoon ’n homofiel is nie. Veel eerder gaan die saak “oor die gesag van die Skrif ... die skending van die leringe van die Skrif en ons belydende geskiedenis en plaas die kerk in ’n posisie waar dit sigself moet aanpas by ’n kultuur wat vereis dat toestemming verleen moet word vir optredes en lewenswyses wat, terwyl dit selfbevredigend is, nie Bybels toelaatbaar is nie” (Charlotte Observer, 26 Februarie 2009).

’n Aantal jare na die goedkeuring van die verkiesing van ’n openlik praktiserende homoseksuele biskop in New Hampshire, het die leiers van die Episkopaalse Kerk V.S.A. die eerste vrou in die geskiedenis verkies om voor te sit oor hulle kerkverband. Hierdie besluite het baie lidmate van die Episkopaalse kerk in die V.S. en oorsee erg aanstoot gegee, wat die handelinge van hulle leiers gesien het as ’n “blatante minagting van die Skrif” (Charlotte Observer, 19 Junie 2006). Hierdie besluite ignoreer en skend duidelike Bybelse opdragte oor homoseksuele gedrag (Levitikus 18:22, 20:13; Romeine 1:24-28) en die rol van vroue in die Kerk (1 Timotheüs 2:12). Die daaropvolgende stryd tussen leiers wat die Skrif wil volg, en leiers wat “verder wil gaan” as dit, dreig om die denominasie te verdeel en te vernietig! Soos die pastoor van ’n gemeente in Virginia, waar George Washington eens op die kerkraad gedien het, staaf: “Die Episkopaalse skip is in die moeilikheid!” (ibid., 17 Desember 2006).

In Brittanje is die storie baie dieselfde. Verlede jaar het die leiers van die Kerk van Skotland gestem ten gunste van die aanstelling van ’n openlik homoseksuele predikant – en daardeur “bewys gelewer” dat dit “’n moderne kerk vir ’n moderne Skotland” is (BBC News, 24 Mei 2009). Teenstanders besef egter dat hierdie optrede die Kerk van Skotland en die Anglikaanse Gemeenskap wat 77 miljoen lede sterk is en waarvan dit deel is, verder gaan verdeel. Die Aartsbiskop van Kantelberg, die hoof van die Kerk van Engeland, het ook lidmate van sy kudde verleë en kwaad gemaak deurdat hy “verskoning gevra het” vir die pogings van sendelinge om die kerkliedere en tradisies van sy geloof onder ander mense regoor die wêreld te versprei en het dit as “sonde” bestempel. Een teleurgestelde Britse rubriekskrywer het die kerkvors aangevat en gesê: “Die kumulatiewe effek van al hierdie kruipery en verskoning vraery is dwaas en gevaarlik ... U Hoogheid, wys ’n bietjie karakter en verdedig die tradisies waarop u erfenis gebou is” (Daily Mail, 3 November 2005). In navolging van hierdie neiging het selfs sommige konserwatiewe Joodse geleerdes begin om hulle verbod op die verordening van homofiele te verslap – “die omkering van duisende jare se voorbeeld” (Charlotte Observer, 7 Desember 2006).

Leuens en roekeloosheid!

Min verslaggewers of kommentators verstaan die ware betekenis van “progressiewe” geestelike leiers wat openlik Bybelse gesag verwerp. Dosyne Bybelse profesieë het egter hierdie dinge voorsien wat aan die einde van die tydvak gebeur – net voor Jesus Christus se wederkoms na hierdie aarde. Die profeet Jeremia het die Israeliete gewaarsku: “Die priesters ... die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie” (Jeremia 2:4, 8), en ook: “Hulle het die Here verloën ... en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie ... Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie” (Jeremia 5:12-13, 14:13-14). In ’n veelomvattende beskuldiging, het Jeremia bekend gemaak: “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi ... gesigte uit hul eie hart verkondig hulle ... die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart ... hulle [is] daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet ... wat leuenagtige drome profeteer ... en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery ... aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan” (Jeremia 23).

Die profeet Esegiël het dieselfde kragtige boodskap gelewer! God het aan hom gesê: “... profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is ... Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel ... Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope ... die Here hulle nie gestuur het nie ... Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle ... julle [wat] met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het ... en die hande van die goddelose versterk het” (Esegiël 13; 34:1-9). Esegiël het uitdruklik gewaarsku: “’n Sameswering van sy profete is in hom, [dit is] soos ’n leeu wat brul, wat prooi verskeur ... Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge” (Esegiël 22:25-26).

Dit is presies wat vandag in die media berig word! Die “progressiewe” idees en beslissings van hedendaagse geestelike leiers – die herders van Israel – ontheilig openlik die duidelike leringe van die Skrif, ondermyn die geloof van miljoene en dryf opregte mense uit die kerke. Miljoene ander word mislei deur misleide herders wie se verskyning en handelinge lankal reeds voorspel is deur profesieë wat vandag besig is om gestalte aan te neem!