Selfs die meeste skeptici stem saam dat daar heel moontlik in die eerste eeu ’n man was wat in die Romeinse provinsie Judea gewoon het, wat ’n omstrede boodskap verkondig het en gedood was omdat hy dit gedoen het. Was hierdie Jesus egter slegs maar nog ’n rondtrekkende prediker rondom wie ’n klompie legendes ontwikkel het? Of was dit die Seun van God wat gekom het om ’n boodskap te verkondig wat min mense vandag verstaan? Selfs indien u dink dat u in Jesus glo, mag die antwoord u verbaas!


Omtrent een-derde van die aardse bevolking noem hulself Christene. Selfs tussen hulle is daar egter relatief min wat weet wat Jesus geleer het, of wat die Bybel onthul aangaande die werklike Jesus Christus. Hyself het gesê dat daar baie nabootsers sal wees – Hy het hulle “valse christusse” genoem (Mattheüs 24:24). Die apostel Paulus het gewaarsku teen “’n ander Jesus ... as wat ons verkondig het, of ... ’n ander gees ... wat julle [nie] ontvang het [nie], of ’n ander evangelie ...” (2 Korinthiërs 11:4). Ken u die ware Messias – die werklike Jesus Christus?

Wat openbaar die Bybel? Was Jesus net ’n leermeester? Of was Hy dit en meer? In Johannes 4 praat Jesus met ’n vrou by “die fontein van Jakob” naby die Samaritaanse stad Sigar. Hierdie vrou het oortuig geraak dat Hy die beloofde Messias – die Christus is. Sy het die hele gemeenskap van hierdie man vertel wat, soos sy gesê het, “my alles vertel wat ek gedoen het” (vers 39). Die gevolg was dat baie ander Samaritane gekom het om na Jesus te luister en hulle het Hom oorreed om twee dae by hulle te bly. Wat was hulle indruk van Jesus? “En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is” (Johannes 4:41-42).

Die naam Jesus beteken “Verlosser”. Was Jesus die Verlosser van die wêreld? Mens moet liewer vra: “Is Hy die Verlosser van die wêreld?” Die bevestiging van vervulde profesieë, geskiedkundige akkuraatheid, die behoud van die teks en die openbaring van die lewe se geheimenisse en betekenis, ondersteun in totaliteit die waarheid dat Hy is! Ja, Jesus het die Verlosser van die wêreld geword. Hoe het Hy dit egter geword? Hy was Immanuël, “God met ons” – God in die vlees! Waarvandaan het Hy gekom? “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3).

Hierdie Woord van wie die apostel Johannes gepraat het, was die Een wat Jesus Christus in die vlees geword het. Let daarop: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Johannes 1:14). Hy het Sy lewe opgeoffer om vir die sondes van die wêreld te betaal, soos net Hy dit kon doen. Hy was uitgebeeld as die offerlam. Let daarop hoe Johannes die Doper van Hom getuig het: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Hy was verraai vir dertig silwerstukke, soos geprofeteer in Sagaria 11:12-13. Nadat Hy Jerusalem op ’n esel binnegery het, sou Hy soos ’n geslaande herder wees (Sagaria 9:9, 13:7).

Daar is in die Ou Testament altesaam meer as 100 profesieë wat die koms van die Messias voorspel. Sommige siniese mense sê dat Jesus op een of ander manier Sy bediening so “gereël” het om hierdie profesieë te vervul, of dat die skrywers van die Nuwe Testament die evangeliese verhale uitgedink het om te bewys dat hulle vervul is. Het honderde van Jesus se eie tydgenote – wat geleef het gedurende die tyd wat Paulus sy briewe geskryf en diegene eerstehands geken het wat getuie was van die gebeure wat beskryf was (1 Korinthiërs 15:6) toegelaat dat hulle doodgemartel word vir ’n verdigsel? Ja, daar is altyd skeptici – net soos daardie mense wat deesdae die eerstehandse verslae van oorlogtydse wreedhede tydens die Tweede Wêreldoorlog, in Kambodja en Irak in twyfel trek – maar Paulus en die ander skrywers van die Bybel het aan hulle tydgenote geskryf in ’n tyd toe duisende gewillig was om onder vervolging vir hulle geloof te sterf as gevolg van wat hulle self gesien en gehoor het!

Ja, u kan in die woorde van die Bybel glo! Dit is egter skokkend om te besef dat so baie predikante aan u sê om te glo – maar u nooit sê om te bekeer nie. Jesus het egter Self aan ons almal gesê om ons te bekeer! Ons Verlosser beveel elke mens op aarde om hom te bekeer en te glo. Vereis God werklik enige handeling van diegene wat glo? Die apostel Petrus het gesê dat Hy dit wel doen. Wat het Petrus gesê op die Pinksterdag toe hy duisende mense toegespreek het tydens sy eerste geïnspireerde preek op die dag toe die Nuwe-Testamentiese Kerk begin het? Hy het gesê: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). Duisende van die mense wat hom aangehoor het, was oortuig van hul sondes en is op daardie dag gedoop, waarna hulle die beloofde gawe van die Heilige Gees ontvang het.

U voel moontlik die pyn van skuld en sonde. Daar is ’n manier om ’n omwenteling in u lewe te laat plaasvind. Jesus, die Lam van God, het u sondes op Hom geneem. Ten einde egter met God versoen te kan raak, moet u die ware evangelie glo – en daarop reageer. Soos Jesus verkondig het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15).

’n Revolusionêre Jesus?

Toe ek omtrent 12 jaar oud was, het ek die leringe wat ek in die kerk gehoor het, bevraagteken. Ek het aan myself gesê: “Ek wonder of Jesus ooit bestaan”. Ek het dus gedink: “Ek sal net maar lees wat die biografieë van Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes van Hom sê”. Selfs as ’n twaalfjarige was ek verstom met wat ek gevind het, veral toe ek die “Bergpredikasie” begin lees het. Neem as voorbeeld toe Jesus gesê het: “Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Mattheüs 5:39). Ek het gedink: “Die dinge wat Hy ons leer, is revolusionêr!” Op my eie, beperkte manier het ek my lewensuitkyk begin verander, hoewel ek nie tot werklike bekering geroep sou word tot baie jare later nie.

Wanneer hul uiteindelik die Bybel self begin lees, het baie mense dieselfde ondervinding as ek ervaar. Die skrywer Bruce Barton was “afgehaal” deur die valse Jesus wat in sy Sondagskoolklas opgedis was. Hy het geskryf: “Die klein seuntjie [Barton, hy het van homself geskryf] het na die prent gekyk wat teen die Sondagskool se muur gehang het. Dit het ’n bleek jong man met papperige voorarms en ’n hartseer uitdrukking uitgebeeld. Die jong man het ’n rooi bakkebaard gehad. Toe het die klein seuntjie na die oorkantse muur gekyk. Daar was Daniël, goeie ou Daniël, wat die leeus op ’n afstand gehou het. Die klein seuntjie het van Daniël gehou. Hy het ook van Dawid gehou, met sy getroue slingervel waarmee hy die klip reg in die middel van Goliat se voorkop laat beland het. Ook Moses met sy staf en sy groot koperslang. Hulle was wenners – daardie drie ... maar Jesus! Jesus was die ‘Lam van God’. Die klein seuntjie het nie geweet wat dit beteken het nie, maar dit het na Maria se klein lammetjie geklink. Iets vir dogtertjies – meisieagtig. Jesus was ook ‘sagmoedig en nederig’, ’n ‘man van smarte en bekend met krankheid’. Hy het drie jaar rondgegaan en aan mense gesê om nie dinge te doen nie” (The Man Nobody Knows, bll i-ii).

Net soos Barton het ek ook eenmaal ’n vals idee van Jesus gehad. U miskien ook. Indien u egter die Bybel self sal lees, mag u verras wees om te ontdek dat baie van die populêre voorstellings, konsepte en leringe wat dikwels aangebied word as “Christelikheid”, heeltemal anders is as die waarhede wat in die Bybel te vinde is.

Barton het tot die besef gekom dat daar ’n teenstrydigheid is tussen wat Jesus verkondig het en die wêreld se vals beeld van Hom. Barton het geskryf oor sy herontdekking van die Bybelse Jesus Christus. “Hoe meer preke hy [Barton] gehoor het en hoe meer boeke hy gelees het, hoe meer dronkgeslaan was hy. Een dag het hy besluit om sy gedagtes skoon te kry van boeke en preke. Hy het gesê: ‘Ek sal lees wat die mense wat Jesus persoonlik geken het oor Hom gesê het. Ek sal van Hom lees asof Hy ’n nuwe historiese karakter is, iemand van wie ek nog nooit iets gehoor het nie’. Die man was verbaas. ’n Fisiese swakkeling! Waar het hulle aan daardie idee gekom? Jesus het ’n skaaf hanteer en ’n byl geswaai; Hy was ’n suksesvolle timmerman. Hy het in die oopte geslaap en Sy dae deurgebring deur langs Sy geliefde meer te loop. Sy spiere was so sterk dat toe Hy die geldwisselaars se tafels omgekeer en hulle uitgedryf het, niemand gewaag het om Hom teen te staan nie! ’n Pretbederwer! Hy was die mees gesogste dinee-gas in Jerusalem! Ordentlike mense het Hom gekritiseer omdat Hy te veel tyd saam met tollenaars en sondaars deurgebring het ... en die sosiale lewe te veel geniet het. Hulle het hom ’n ‘vraat en ’n wynsuiper’ genoem ... Toe die man klaar gelees het, het hy uitgeroep: ‘Hierdie is ’n man wat niemand ken nie’” (ibid., bll iii-iv).

Waarheid weggesteek

Hoe kan ons egter die ware Jesus leer ken? Dit is heel verbasend, baie van die algemeenste godsdienstige tradisies kan misleidend wees – selfs oor iets so basies as Sy geboorte. Waarom is Jesus gebore? Let daarop wat die engel aan Maria gesê het nog voor Sy geboorte: “En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:31-33).

Jesus se boodskap het gegaan oor die Koninkryk van God op aarde! Hy sal weer kom as die Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 17:14, 19:16). Hy sal op die troon van Dawid sit en oor alle nasies regeer. Soos Jesaja geskryf het: “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:6). Dit is wonderlike nuus en ons behoort almal te bid, soos Jesus ons geleer het: “Laat u Koninkryk kom”!

Wanneer is Jesus gebore? Is Jesus in Desember op Kersdag gebore? Dit mag party mense verras, maar ons kan seker wees dat dit nie die geval is nie. Lukas vertel dat Josef en Maria na Bethlehem teruggereis het vir die sensus wat Keiser Augustus gelas het. Die stad was oorvol, dus moes Josef en Maria akkommodasie aanvaar wat nie van die allerbeste was nie. Nadat Jesus in Bethlehem gebore is, was Hy in ’n krip neergelê (Lukas 2:7). Gee ag op watter tyd van die jaar dit was: “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8).

Die meeste Bybelse geleerdes erken ruiterlik dat daar nie skaapwagters in die oop veld is in Desember nie. Die koue, reënerige seisoen begin lank voor 25 Desember. Jesus is moontlik in laat September of vroeg in Oktober gebore, soos die meeste geloofwaardige Bybelkommentators erken. Waarom aanvaar ons so dikwels tradisies en leerstellings sonder om die juistheid daarvan na te speur? Party van ons begrippe en idees strook nie met die Bybel nie! Jesus het nooit Sy verjaarsdag gevier nie, nog minder die Apostels! Soos die Encyclopædia Britannica dit stel: “Volgens die Romeinse kalender was die Christelike Fees van Kersfees in Rome gevier teen 336 n.C.” (“Christmas”, bl. 903). Slaan ook ag op die volgende: “Die Vaders van die tweede en derde eeue, soos bv. Clemens van Alexandrië, Origines en Epifanus het aangevoer dat Kersfees ’n namaaksel was van ’n heidense fees” (“Christianity”, bl. 499).

Wanneer u die boek Handelinge lees, sal u opmerk dat die Apostoliese Kerk van die eerste eeu – die Kerk van die Nuwe Testament – nooit Kersfees of die geboortedag van Christus gevier het nie. Die ware Apostoliese Kerk van die eerste eeu het wel die Bybelse feeste soos die Nuwe-Testamentiese Pasga, Dae van Ongesuurde Brode, Pinkster, die Fees van Basuine, die Versoendag, die Huttefees en die Laaste Groot Dag, gevier. Die Bybel toon duidelik dat Jesus Christus die Laaste Groot Dag van die Fees gevier het. Die apostel Johannes het verwys na hierdie Feesdag toe hy geskryf het: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Johannes 7:37-38).

Jesus het die Bybelse feesdae gevier en ware Christene streef daarna om Sy voorbeeld te volg. Die apostel Petrus stel dit immers duidelik: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).

Volg tradisionele Christelikheid in Jesus se voetstappe? Onderhou dit die weeklikse Sabbat – die sewende dag van die week – net soos Jesus? Christus het gesê dat Hy, “die Seun van die mens Here ook van die Sabbat” is (Markus 2:28). Soos ons uit Genesis 2:3 weet, het God die sewende dag tydens die skepping geheilig. Vir wie was die Sabbat egter gemaak? Jesus het verklaar: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie” (Markus 2:27). Die Sabbat is vir die hele mensdom gemaak as ’n dag van rus en as ’n herdenking van God se groot skepping. Onthou, God het alle dinge, insluitend die Sabbat, deur Jesus Christus geskape (Efesiërs 3:9).

Die historiese Jesus

Die Joodse historikus, Josefus, het verwys na Jesus se broer, die apostel Jakobus, wie die boek Jakobus in die Nuwe Testament geskryf het. In die eerste eeu na Christus, het Josefus as volg geskryf: “Festus was nou dood en Albinus was net oppad; daarom het hy die Sanhedrin van regters saamgeroep, en die broer van Jesus, wat Christus genoem word, wie se naam Jakobus is, en ook ander [of, van sy metgeselle], voor hulle gebring; en nadat hy ’n aanklag van wetverbreking teen hulle geformuleer het, het hy hulle oorgelewer om gestenig te word” (Antiquities of the Jews, Bk. 20, hoofstuk 9, deel 1).

Ja, daar is geskiedkundige bewys van Jesus Christus se bestaan. Dit is verstommend, maar party mense sal die getuienis van ’n geskiedskrywer soos Josefus aanvaar, maar die getuienis van ooggetuies van Jesus se tydgenote, Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes wat almal getuig het van en geskryf het oor die lewe, wonderwerke en leringe van ons Verlosser, ignoreer. Die apostel Johannes het selfs geskryf: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe – en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is” (1 Johannes 1:1-2).

Die apostel Johannes getuig in hierdie paragraaf dat hy en die ander Apostels nie slegs die Woord van die Lewe – Jesus, die Messias – gesien en gehoor het nie, maar hulle het Hom ook aangeraak. Na Sy opstanding het Jesus aan die ongelowige Thomas gesê om sy hand in die spieswond wat Hom gedood het, te steek. “Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (Johannes 20:27). Wat was Thomas se reaksie? “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” (vers 28).

Jesus Christus het gesterf en het weer opgestaan. Hy lewe vandag. Indien Hy nie sou lewe nie, sou ons nog steeds in ons sondes wees. Soos Paulus geskryf het: “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (1 Korinthiërs 15:16-17). Die goeie nuus word egter net hierna gegee: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens” (verse 20-21).

Dus, wie was Jesus? Die belangriker vraag is egter – wie is Jesus? Hy is ons lewende Verlosser! Hy is ons groot Hoëpriester, soos die apostel Paulus verduidelik in Hebreërs 3:1 en 4:14. Hy sit tans aan die regterhand van God in die hemel, waar Hy “vir ons intree” (Romeine 8:34). Hy sal binnekort na die planeet Aarde terugkeer as die Koning van die konings en die Here van die here (Openbaring 19:16), om die Koninkryk van God reg hier op hierdie aarde te vestig en wêreldvrede te bring! Sal u gereed wees vir Sy wederkoms? Sal u Sy offer aanvaar, u bekeer en ’n lewe van gehoorsaamheid aan Hom leef? Dank God dat die Bybel Jesus Christus openbaar – die lewende, liefdevolle Verlosser van die wêreld!