Wat is verkeerd met oënskynlik onskuldige woorde soos “gosh” of “geewiz”?

VRAAG: Ek verstaan dat dit nie beleefd is om “vloekwoorde” te gebruik nie, aangesien baie mense dit as vulgêr en beledigend beskou. Waarom maak sommige mense beswaar teen sulke oënskynlik onskuldig uitbarstings soos “gosh” of “geewiz” of “Jiminy Cricket”? Dit is sekerlik meer aanvaarbaar as sommige van die growwe en vulgêre woorde wat deur sommige mense in die plek daarvan gebruik word. Is ek verkeerd?

ANTWOORD: Met die eerste oogopslag mag baie mense dalk dink dat hierdie en ander soortgelyke woorde oënskynlik veel makker is as verskeie “vierletter woorde” wat in omloop is en dus verkiesliker is as daardie ander vulgêre uitdrukkings. Vir ’n Christen kan van hierdie “onskuldige” uitdrukkings selfs minder geskik wees as die skynbaar meer “vulgêre” uitdrukkings. Waarom? Want dit is eufemismes vir die name van God die Vader en Jesus Christus – diegene wat dit gebruik, gebruik God se naam ydellik.

Die Skrif waarsku: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Exodus 20:7). Die Psalms is vol lof vir God se Naam. “[L]aat hulle die Naam van die Here loof! Want sy Naam alleen is hoog: sy majesteit is oor aarde en hemel!” (Psalm 148:13). Ook: “Juig tot eer van God, o ganse aarde! Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!” (Psalm 66:1-2).

Sommige mense sal beswaar maak: “Maar ‘gosh’ is nie ‘God’ nie en ‘Jiminy Cricket’ is nie Jesus Christus nie!” “Wat is verkeerd met die gebruik van ’n ‘verfynde eed’ of ’n ‘eufemisme’ in plaas van God se Naam?” Wel, soos die woordeboek verduidelik, ’n “eufemisme is ’n versagtende woord of uitdrukking: Verbloeming, byvoorbeeld heengaan, ontslaap of die tydelike met die ewige verwissel i.p.v. sterf” [HAT Woordeboek van die Afrikaanse Taal]. ’n Vae verwysing na God se Naam is nog steeds ’n verwysing na God se Naam en behoort dus nie ’n “vervangende skelwoord” te word nie. Indien ons terloops God se Naam of ’n eufemisme vir God se Naam gebruik om skok, verbasing of selfs godslastering uit te spreek, betoon ons minagting aan ons Skepper, ongeag of diegene rondom ons ons woorde as “vulgêr” beskou of nie.

Mense se idee oor wat vulgêr is kan verskil met verloop van tyd, omdat ’n gemeenskap se gebruike en taal veranderings ondergaan. Die bewoording van 1 Samuel 25:22 sou in 1611 nie vir lesers van die King James Version vulgêr geklink het nie, hoewel vandag se lesers moontlik ongemaklik kan wees wanneer hulle sien hoe die King James Version vertalers ’n frase weergee wat die Hebreeuse woord shathan (Strong’s 8366) bevat. Die New King James Version vertalers, daarenteen, het die duidelike betekenis van die Hebreeuse idioom verskaf sonder om ’n ander woord te gebruik wat die meeste mense vandag as vulgêr sou beskou. Ons behoort verseker teenoor ander mense bedagsaam te wees in die manier waarop ons ons woorde kies en dus daardeur vulgariteit vermy. Om God se Naam egter ydellik te gebruik is ’n ander saak – ’n geestelik baie ernstiger saak.

Hoe behoort ons God se Naam te gebruik? In die Nuwe Testament beveel Christus Sy dissipels om in Sy Naam tot God die Vader te bid. “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word” (Johannes 14:13). Wanneer ons bid, behoort ons eer aan God se Naam te gee. “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Matthéüs 6:9).

Die dissipels het die siekes deur die Naam van Jesus Christus genees. “Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” (Handelinge 3:6). Jakobus beveel Christene om voort te gaan om daardie voorbeeld te volg. Hy sê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14).

In die boek Handelinge lees ons dat die dissipels die Evangelie deur die Naam van Jesus Christus verkondig het (Handelinge 9:15) en gedoop het in die Naam van Christus (Handelinge 8:16; 19:5). Paulus het aan die Christene in Éfese gesê: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efésiërs 4:29).

Die woorde wat ons gebruik is vir God belangrik. Ons moet seker maak dat dit wat ons sê, ons eer en respek aan Hom weerspieël.