My vriende, soos die meeste van u wat die Wêreld van Môre lankal reeds lees weet, hierdie Werk is verseker anders! Die wêreldwye Werk van nie slegs hierdie tydskrif nie, maar ook van die Tomorrow’s World se televisieprogram, sowel as die www.wvm.co.za webtuiste, ons talle insiggewende boekies, ons Wêreld van Môre-Bybelstudiekursus en baie ander fasette, strek baie wyer as wat feitlik al die ander godsdienstige werke op aarde in staat is om te vermag. Wat bedoel ek daarmee? Hoe is dit moontlik?

U as intekenaars verdien om te weet. Om dié rede gaan ek hier kortliks vyf sleutelvoorspellings omskryf wat ons, in hierdie Werk, gemaak het en steeds voortgaan om te maak, wat sekerlik nie verstaan word deur hoofstroom Christelikheid of selfs deur die meeste ander mense wat voorgee dat hulle Bybelse profesieë verstaan nie. Hierdie voorspellings is ontsettend belangrik! Hulle gaan ’n uitwerking hê op u lewe, u toekoms en die toekoms van u gesin en geliefdes. Lees dus verder!

  • Brittanje sal padgee – of uit die Europese Unie geskop word. Baie min mense verstaan dit werklik. Met die begrip wat ons in hierdie Werk van Bybelse profesieë het, het ek persoonlik hierdie toekomstige gebeure vir baie, baie jare aangedui. Wees bedag daarop!
  • Die Europese Unie sal reorganiseer en baie meer welvarend as China word! Weereens, baie politieke kenners is van mening dat hierdie “China se Eeu” sal word. Hulle sien dat die Europese Unie nou skynbaar uitmekaarval as gevolg van verskeie knelpunte – insluitend die finansiële krisis en die opkoms van Islam, ens. Binne die volgende paar jaar egter sal ’n gereorganiseerde Europese Unie – wat moontlik iets anders genoem sal word – ontsaglik ryk word en die hele wêreldtoneel oorheers, insluitend China!
  • ’n Charismatiese godsdienstige leier sal binnekort in Europa herrys en nie net Europa nie, maar feitlik die hele wêreld beïnvloed. Dit sal “lyk” asof hierdie godsdienstige leier baie liefdevol en ’n baie toegewyde dienaar van God is. Voordat alles verby is, sal hy selfs kragtige wonderwerke verrig wat die hele wêreld sal skok en sal veroorsaak dat mense hul na sy omhelsing sal haas, op ’n manier wat die meeste Amerikaners nie nou kan verstaan nie. Hierdie magtige godsdienstige beweging in Europa – onder die invloed van hierdie godsdiensleier – sal u lewe grootliks verander.
  • Europa sal voortgaan om te worstel met die dubbele aanslag van sekularisme en radikale Islamisme. In antwoord op die God-verwerpende sekulariste en die Islamisme wat poog om weg te doen met historiese Europese waardes, sal die magtige godsdiensleier – en die militêre mag onder sy beheer – ’n kragtige teenaanval loods teen die wêreldse en Islamitiese magte wat nou begin om Europa binne te dring en die hele voorkoms van die Europese gemeenskap te verander. Dit sal binne die volgende paar jaar gebeur. Wees bedag daarop!
  • Alhoewel ons in Amerika baie lief is vir ons land, sal die Verenigde State van Amerika nie hierdie keer op een of ander manier “deurploeter” nie. Ons finansiële, militêre, sedelike en geestelike verval sal voortduur. Amerika het werklikwaar hulle rug op die God van die Bybel gedraai. Tensy daar ’n waaragtige nasionale bekering is soos daar nog nooit voorheen was nie, sal ons geliefde nasie – met rukke en stote – voortgaan met sy afwaartse spiraal van finansiële, sedelike en uiteindelik, militêre ineenstorting.

Verskeie ander “sleutel”-gebeure kan ook genoem word. Net maar hierdie vyf gebeure van wêreldskuddende afmetings behoort genoeg te wees om my punt te staaf, aangesien hierdie dinge alleen alles rondom u sal verander! U persoonlike “wêreld” – u vriende, u werk en alles wat u omring – sal nooit weer dieselfde wees nie!

Baie min mense verstaan!

Alhoewel baie godsdienstiges praat van die “einde van die wêreld”, doen hulle dit byna altyd so in die algemeen. Alhoewel baie predikers oor Christus se wederkoms preek, is hulle eenvoudig nie in staat om die spesifieke gebeurlikhede – soos ek dit hierbo gedoen het – te lys wat Sy wederkoms vooraf sal gaan nie. Verder het hulle gewoonlik nie ’n idee hoe lank dit sal duur voordat hierdie dinge sal plaasvind nie.

Hoe kan ek enigsins “weet” dat hierdie werklik ontsaglike gebeure binnekort sal plaasvind – binne die leeftyd van die meeste van u wat hierdie artikel lees?

Die antwoord behels dít wat die Wêreld van Môre-tydskrif en die Tomorrow’s World se televisieprogram baie “anders” maak as ander organisasies! Alhoewel baie kerke en godsdienstige leiers oor stukkies en brokkies van die Bybelse waarheid beskik, kan hulle nie – en durf inderdaad ook nie – hierdie besondere voorspellings maak soos ek dit so pas gedoen het nie, omdat hulle definitief nie verstaan nie.

Waarom nie?
Omdat God se geïnspireerde Woord herhaaldelik aan ons sê dat die oorgrote meerderheid van die mensdom verblind is vir die ware God en Sy Waarheid. Selfs die meeste belydende Christene is eintlik deel van hierdie wêreld en sal mislei wees deur Satan die duiwel. Onthou u hierdie grondliggende Skrifgedeeltes wat ons herhaaldelik aan u voorgehou het?

  • Openbaring 12:9 beskryf die magtige geestelike wese “wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]”. Glo u hierdie geïnspireerde Skrifgedeelte?
  • 2 Korinthiërs 4:3-4: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie”. Hier vertel die apostel Paulus duidelik aan ons dat Satan “die god van hierdie wêreld”, die meeste mense verblind het.
  • Efesiërs 2:2: Die geïnspireerde apostel Paulus beskryf Satan die duiwel hier as die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”want Satan is besig! Hy is eintlik “in beheer” van hierdie wêreld – die samelewing, die politiek en regerings, die media en die onderwysstelsels. Hy gebruik hierdie middele en meer om die oorgrote meerderheid mense heeltemal te mislei, soos Openbaring 12:9 dit so duidelik stel.
  • Mattheüs 7:21-23: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” of “die wet van God oortree”, soos die Nuwe Vertaling dit stel!

Kennis en Gehoorsaamheid

Jesus Christus Self sêdat “baie” oënskynlik godsdienstige mense wat dink dat hulle “die Here ken”, daarop sal aanspraak maak dat hulle Jesus gedien het. Hy help hulle reg deur te sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” of “die wet van God oortree”! Dit is duidelik dat hierdie mense dink dat hulle Jesus “liefhet”. Hulle mag oor Hom praat en beweer dat hulle Hom volg, maar hulle doen nie wat Hy sê nie. Hulle is nie gewillig om Sy voorbeeld te volg en letterlik God se Tien Gebooie te gehoorsaam en die lewensweg te volg wat Christus uitgebeeld het dwarsdeur Sy hele bediening nie. Jesus was immers die volmaakte voorbeeld. Jesus Christus het God se gebooie gehoorsaam. Hy het gesê: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:10). Sy geïnspireerde Woord sê ook aan ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Dus, deur Christus wat in ons leef deur die werkingvan die Heilige Gees, is ware Christene in staat om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te onderhou!

Waarom dink mense dat hulle “God ken” en Sy seëninge verwag as hulle eenvoudig weier om Sy wonderlike geestelike wet wat Hy gegee en wat Jesus herhaaldelik verduidelik en uitgebrei het gedurende Sy hele bediening, te gehoorsaam?

Omdat hulle geestelik “verblind” is, lyk dit of die meeste mense onbewus is van die letterlik dosyne stellings in die Nuwe Testament, soos in Openbaring 14:12: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”. Soos u kan sien, gee hierdie vers aan ons God se beskrywingvan ware heiliges, nie Katolieke helde wat as afgode aanbid word nie, nog minder Protestante wat eenvoudig “die Here liefhet” nie. Dit beskryf liewer daardie opregte heiliges wat gewillig is om hul Skepper te gehoorsaam en hulle te onderwerp sodat Christus Sy lewe in hulle kan leef deur die werking van die Heilige Gees (Galasiërs 2:20). Dit lyk asof verblinde kerkgangers nie in staat is om te verstaan waaroor die geïnspireerde apostel Johannes se beskrywing van wat ware Christelike “liefde” is, gaan, of hoe om dit toe te pas nie: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

Dus, in “daardie dag” wanneer Christus terugkeer as Koning van die konings (Openbaring 11:15), sal Hy daardie godsdienstige mense wat eenvoudig nie God se Wette wil gehoorsaam nie, verwerp! Aangesien hulle hulself eenvoudig nie onderwerp om God toe te laat om in hulle Sy ware karakter te bou nie – die karakter wat hulle sal nodig hê om die konings en priesters te wees wat Christus en die Vader nou besig is om voor te berei om Christus by te staan om in die Wêreld van Môre oor hierdie aarde te kan heers(Openbaring 2:26-27, 5:9-10).

God se geïnspireerde Woord sê verder aan ons: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid;almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid” (Psalm 111:10). Dus, alhoewel baie mense dink dat hulle die toekoms verstaan en aanneem dat hulle die geïnspireerde profesieë van die Bybel verstaan, word slegs aan diegene wat werklik God se Gebooie gehoorsaam, ware begrip verleen. Onthou asseblief, Adam en Eva het van “die boom van die kennis van goed en kwaad” geneem (Genesis 2:9). Sedert daardie tyd het die mensdom voortdurend van hierdie selfde boom geëet – ’n “mengsel” van waarheid en dwaling! Die godsdienste van hierdie wêreld het van hierdie selfde boom geëet. Dus het selfs die belydende “Christelike” godsdienste van hierdie wêreld ’n mengsel van goed en kwaad. Hulle het letterlik dosyneleerstellings en gebruike direk uit die heidendom oorgeneem – soos ons talle kere geboekstaaf het. Hulle het heeltemal die pertinente opdragte in die Nuwe Testamentverwerp om al tien van God se Tien Gebooie te onderhou – nie slegs party “nuwe gebooie” wat deur Jesus gegee sou wees nie. Nou, namate die basiese sedelikheid van ons Westerse nasies voor ons eie oë verkrummel, wonder miljoene mense: “Wat gaan aan?”

Ons moet natuurlik onthou dat God die meeste van hierdie mense verblind het – soos Sy Woord dit duidelik stel. Ons wat verstaan behoort dus alle simpatie en volleuitgaande besorgdheid te hê vir hierdie verblinde mense, totdat God hulle in Sy tyd roep! Intussen moet almal van u wie se oë wel geopen is, nie mislei word deur hierdie “mengsel” van goed en kwaad en hierdie mengsel van “veralgemeende” profetiese verklarings wat uitgereik word deur onderskeie godsdienstige leiers wat eenvoudig net nie in staat is om die spesifieke eindtydse profesieë wat ons duidelik in ons beeldsendings en in hierdie tydskrif aan u verduidelik, te verstaan of te begryp nie. Ons het ’n verantwoordelikheid om u te help om die Waarheid te verstaan! Dit is dus slegs in daardie lig dat ek hierdie stellings maak.

’n “Klein kuddetjie” beskerm

Iewers op hierdie aarde het die Ewige God ’n “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) – Sy Kerk. Twaalf keer in die Nuwe Testament toon God se geïnspireerde Woord dat Sy Kerkvolgens Sy Naam genoem word. Soos ons gesien het, het God herhaaldelik Sy getroue mense beveel om Sy Gebooie te onderhou. In Openbaring 12:6 beskryf God die ware Kerk – uitgebeeld deur ’n “vrou” – wat “na die woestyn” moes vlug. In die verlede het dit gedurende die vroeëre jare van die Middeleeue gebeur, toe God se Kerk vir 1,260 profetiese “dae” – wat 1,260 letterlike jare beteken – tot buite die grense van die Romeinse Ryk moes vlug. Daar lê nog ’n vlug voor vir God se mense; vers 7 beskryf ’n geweldige groot oorlog wat in die hemel sal uitbreek wanneer Satan en sy demone teen die eindtyd, een laaste aanslag sal maak op God se troon – maar hulle sal nie slaagnie. Aan God se mense word vertel dat, nadat Satan neergewerp is, daar vir hulle “weë” voor die deur lê, “want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12, laaste deel). God laat in verse 13-14, aangaande die ware Kerk, opteken: “... maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd” [drie-en-’n-halwe jaar].

Die Ewige God sal ’n plek voorsien – iewers op hierdie aarde – waar Hy Sy heel getrouste volgelinge bonatuurlik sal beskerm gedurende hierdie tyd van “groot woede” nadat Satan neergewerp is, ’n tyd wat Jesus die “Groot Verdrukking” noem. Die “vrou” van wie regdeur Openbaring 12 gepraat word, is geïdentifiseer as die Kerk – insluitende diegene teen die heel einde van hierdie tydperk “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (vers 17).

In Openbaring 3:7-13 beskryf God die sesde era van Sy Kerk – die heel getrouste van alle eras – wat kort voor Christus se wederkoms aangetref sal word. Hy sê aan hulle in vers 10: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel”. Dit is God se belofte om Sy mense te beskerm gedurende die toekomstige “uur van beproewing” wat nie baie jare van nou af sal begin nie. Dit sal oor die inwoners van die hele “aarde” kom – soos hierdie vers bevestig – dus is dit baie belangrik dat ons deel moet wees van God se ware getroue volgelinge indien ons heelhartig begeer om te ontvlug en indien ons werklik in God se Koninkryk wil wees in die eerste opstanding, wat God die “beter opstanding” noem (Hebreërs 11:35).

Geliefde vriende en intekenaars, ek het kortliks aan u vyf “sleutel”-gebeure geskets wat binnekort miljarde mense sal raak. Hierdie gebeure sal u lewe verseker verander – en sal direk in die Groot Verdrukking in lei. Namate profetiese gebeure versnel voel ek verantwoordelik om u by geleentheid te waarsku sodat u kan begin verstaan – indien u gewillig is. Dus, indien u meer wil leer en wil handel volgens die waarheid, maak seker dat u ons belangrikste boekies wat hierdie dinge in besonderhede verduidelik, aanvra – en dit opreg bestudeer. Selfs nog belangriker as dit, bestudeer en bewys hierdie waarhede uit u eie Bybel. Hulle is nie gebaseer op een of ander geheime teorie nie. Hulle is nie gebaseer op een of ander boek wat deur ’n mens geskryf is nie, of ’n “visioen” wat ek of iemand anders glo in hierdie moderne tye gehad het nie. Hulle is gebaseer op diegeïnspireerde Woord van God.

Ons leesstof sal altyd heeltemal gratis aan u gestuur word! Ons is hier om te gee, te dien en om u te help verstaan wat binnekort gaan gebeur asook om u te help voorberei vir die werklike Wêreldregering wat binnekort onder Jesus Christus op hierdie aarde gevestig sal word. Dit is nodig dat u verstaan en voorberei vir u deel in die wonderlike Koninkryk wat ware vrede, voorspoed en vreugde na ’n baie verwarde wêreld sal bring.

Maak seker dat u ons dadelik skakel of aan ons skryf – voor u vergeet! Vra vir ’n gratis kopie van ons baie insiggewende boekie: Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms Aankondig. Vra ook vir u kopie van ons kragtige boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Indien u graag wil weet hoe die wêreld se godsdienste die spoor byster geraak het – en watter Bybelse en historiese bewyse ons stellings onderskraag – bestel ons belangrike boekies: Hervestig die CHRISTENSKAP van die APOSTELSasook Satan se vervalste Christendom.

My vriende, die tyd raak min. Alhoewel daar nog verskeie jare mag wees waarin ons kan studeer, bid, oorwin en hierdie waarhede vir onsself kan bewys, kan elkeen van ons enige oomblik sterf – of dit nou die gevolg is van ’n ongeluk, siekte of iets anders. Moet dus nie uitstel nie! Ek smeek u in die naam van Jesus Christus, as Sy dienaar, om nou te handel! Moet asseblief nie “ons woord neem” vir enigiets nie! Maak seker dat u u Bybel werklik bestudeer – en bestudeer ons insiggewende boekies – dan sal u in staat wees om duidelik uit u eie Bybel te bewys wat u Skepper nou, aan u sê deur Sy eindtydse dienaars!