In tye van ekonomiese ellende is daar niks wat die harte van die Britse publiek so kan ophef as ’n koninklike troue nie. Op Vrydag, 29 April sal Prins William en Kate Middleton in Westminsterabdy, Londen, trou. Dr. Rowan Williams, Aartsbiskop van Kantelberg, sal die plegtigheid waarneem, terwyl Richard Chartres, Biskop van Londen, die rede sal voer. Die biskop is ’n ou familie-vriend van Prins William. Die eersteminister het aangekondig dat die dag as ’n openbare vakansiedag verklaar sal word, sodat die Britse publiek hulle saam met die koninklike paartjie kan verheug.

Buckingham Paleis is gretig om ’n media-sirkus met hierdie geleentheid te vermy. Foto-honger joernaliste het dikwels William se ma se lewe ondraaglik gemaak. Al was sy dikwels die liefling van die pers, blameer baie mense die oorywerige pogings van die “paparazzi” vir Lady Diana se ontydige dood in ’n Paryse padtonnel in 1997.

Prins William word wyd gerespekteer omdat hy in sy lewenswandel ’n balans handhaaf tussen koninklike waardigheid terwyl hy omgang met die gewone mense behou. Hy het onlangs sy opleiding voltooi as ’n helikopter-vlieënier in die Verenigde Koninkryk se Soek-en-Red-Eenheid. Dit is ’n tradisie onder die seuns van die koninklikes dat hulle hul militêre opleiding in hul twintigerjare kry. Prins Charles het in 1971 gedien as ’n vlieënier in die Koninklike Lugmag en daarna, tot 1976, as ’n bevelvoerder in die Koninklike Vloot.

Die volgende koning?

Vir etlike jare al het baie mense in die pers bespiegel dat Prins William na die dood van Koningin Elizabeth II, ’n meer geskikte opvolger sou wees as sy pa, prins Charles. Die sentiment het vir ’n tyd afgeneem nadat Prins Charles met Camilla, Hertogin van Cornwall, getrou het, maar het weer opgevlam noudat William en Kate gaan trou.

Volgens ’n verslag van Reuters persburo op 21 November 2010, kort nadat William en Kate hul verlowing aangekondig het, het ’n “verslag in die News of the World getoon dat 64 persent van die mense William en sy toekomstige bruid wou hê as die volgende in lyn vir die troon ... Die ICM opname het ook bevind dat minder as een uit elke vyf mense wil hê dat die kroon moet oorgaan na Charles en Camilla”.

Waarom sou so ’n vraag ontstaan? En hoekom nie ’n referendum hou om uit te vind wie die Britse publiek sou verkies as hul volgende koning nie? Die antwoord lê in ’n eeue-oue tradisie wat die huidige Huis van Windsor se aanspraak op die troon voorafgaan. So lank gelede as die tye van die Saksers en Normandiërs, was Engeland regeer deur die seun (of by tye die dogter) van die vorige monarg.

Die reëling agter die aanwysing van die koning staan bekend as Eersgeboorte [Primogeniture]. Die Beknopte Oxford woordeboek definieer dit so: “Pry-moh-jen-i-cher /naamwoord1. Die status om die eersgebore kind te wees. 2. Die stelsel waarvolgens die eersgebore kind, veral die oudste seun, al sy ouers se eiendom erf”.

Die woord kom van die Latynse primo (“eerste”) en genitura (“geboorte”). Daar is verskeie variasies van hierdie beginsel onder die koninklike families in Europa, maar in Engeland is die reël heeltemal eenvoudig en skryf voor dat Prins Charles volgende in lyn vir koning is – ongeag wat die publiek of die pers ook al mag sê. Slegs wanneer Charles eerste doodgaan of vrywillig afstand doen van sy reg op die troon – iets wat die meeste mense as onwaarskynlik beskou – kan William dit erf in die plek van sy vader.

Die beginsel van ’n monargie is vreemd vir baie mense wat in ’n republiek woon. Hulle kan nie verstaan hoe en waarom so ’n argaïese en anachronistiese instelling nog kan bestaan nie. Nietemin is baie Kanadese, Australiërs en Nieu-Seelanders tevrede om ’n Engelse monarg as hul hoof slegs in naam te hê. Daar is ’n gevoel van standvastigheid wat voortspruit uit die Westminster se konstitusionele-monargiale vorm van regering.

In Genesis 49 het God belowe dat, in die “laaste dae”, Jakob (Israel) se seuns geseën sou word met groot rykdom en mag. Die afstammelinge van hierdie twaalf stamme word tans hoofsaaklik gevind in die gebiede van die noordwestelike Europese kuslyn en die Britse Eilande – saam met hulle afstammelinge reg oor die wêreld. Mense wat die Wêreld van Môre lank reeds lees, verstaan dat die Engelse en Amerikaanse volke afstammelinge is van die antieke twaalf stamme van Israel. Hulle was hoofsaaklik die begunstigdes, alhoewel ons sien dat daardie seëninge besig is om teen ’n toenemende tempo te verdwyn.

Namate hierdie “laaste dae” hul klimaks nader, word ander profesieë aangaande daardie nasies se probleme en straf deur God, vervul. Wanneer God die Vader Sy Seun na hierdie aarde terugstuur as “Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 17:14), sal Christus Sy regmatige rol as Koning van Sy Vader se Koninkryk aanneem. God die Vader sal Self die beginsel van eersgeboorte volg, met Christus wat inderdaad die “eersgeborene onder baie broers” is (Romeine 8:29), terwyl baie ander konings onder Hom sal regeer (Openbaring 1:5-6).

Die Koning van die konings

Inderdaad, die uiteindelike vervulling van hierdie antieke tradisie sal homself openbaar in die kroning van Jesus Christus as Koning van die konings. Laat ons let op van die wonderlike profesieë aangaande hierdie naderende Koninkryk.

Ons lees: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer ... op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Asook: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Openbaring 19 beskryf die terugkerende Jesus Christus as die Woord van God wat na hierdie aarde kom op ’n wit perd en openbaar dan: “Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (vers 16).

Jesus Christus sal die koning van die konings wees. Wie is die konings oor wie Hy dan Koning sal wees? U Bybel stel dit duidelik dat God – op hierdie oomblik – besig is om Sy mense voor te berei om, onder Jesus Christus, op hierdie aarde te regeer. Openbaring 5:10 beskryf hierdie heersers as “ons” – wat aandui dat Johannes aan Christene in hierdie huidige tydperk geskryf het. Die vorige vers identifiseer die “ons” as diegene wie se sondes skoon gewas is in Christus se eie bloed.

Wat is die beloning van getroue Christene vandag? Dit is dat Christus “... ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen” (Openbaring 1:6). So verstommend as wat dit mag lyk, roep God ware Christene vandag om die nodige karakter te ontwikkel om Jesus Christus by te staan om vrede en voorspoed te bring na hierdie sondige wêreld. So ’n eer sal diegene te beurt val wat die wêreld en hul eie menslike natuur oorwin het. Dit is nie maklik om staande te bly en die geveg te wen teen die voortdurende versoekings van die menslike natuur van binne en die samelewing van buite nie. God sê egter aan ons dat dit die moeite werd is. Openbaring 21:7 verduidelik ons beloning: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees”.

Om meer te verstaan van die ongelooflike menslike potensiaal, kontak asseblief die Streekskantoor die naaste aan u (soos gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif) en vra ons gratis boekie U uiteindelike lotsbestemming aan.