Net meer as ’n jaar gelede het die leiers van die Groep van Agt ekonomiese magte verklaar dat die wêreldwye ekonomie in “’n goeie toestand” is. Nogtans, minder as ’n jaar later, verklaar ’n toonaangewende finansiële ontleder: “Die uitkyk het drasties verdonker ... Deur die bank het dinge na die slegste verander” (The Charlotte Observer, 5 Julie 2008). ’n Onlangse verslag van die Verenigde Nasies kom tot die gevolgtrekking dat hoofde van nasies, hoofde van finansiële instansies, regeringsbeplanners en die gemiddelde landsburger almal ’n groeiende angs deel ten opsigte van sosiale en ekonomiese verwikkelinge wat hulle nie by magte is om te beheer nie.

Binne hierdie laaste jaar het oliepryse verdubbel vanaf $70 [ongeveer R50] per vat tot meer as $140 [ongeveer R980] per vat. Dit het die prys van voedsel die hoogte laat inskiet, selfs terwyl die aanvraag na voedsel geweldig toegeneem het weens die vinnig groeiende bevolkings van Indië en China. Verder is voedselproduksie verwoes deur onverwagte klimaatskommelings, insluitend uitgebreide droogtes en oorstromings in die graan- en rysproduserende gebiede van Australië, Suid-Afrika, Suidoos-Asië en Amerika. Stygende voedselpryse het aanleiding gegee tot onluste in sommige lande en het die politieke stabiliteit bedreig.

Pryse van olie en edelmetale skiet die hoogte in as gevolg van ’n toenemende aanvraag vir beperkte en verminderende voorrade. Die finansiële krisis wat veroorsaak is deur slegte vaste-eiendomslenings in die Verenigde State en Brittanje is besig om uit te brei, en dreig om die ekonomië van ander nasies regoor die wêreld te oorspoel.

Waarom gebeur die uitbarstings en samevloeiing van al hierdie dinge op dieselfde tyd? Waarheen lei dit? Waarom vind hierdie rampspoedige gebeure juis nou plaas?

Deskundiges oordink die situasie en skarrel rond vir redes en oplossings, maar dit skyn asof niemand regtig weet wat aangaan, of waar hierdie gebeure heen lei nie. Daar isegter ’n bron wat sin kan maak uit wat op die wêreldverhoog aangaan. Die Bybel verduidelik waarom al hierdie dinge saamvloei, wat voorlê en wie daardeur geraak gaan word.

In ons tyd dink baie mense dat die Bybel niks meer is as ’n versameling van mites en stories nie. Nogtans bevat die Skrif ’n gedetailleerde reeks profetiese waarskuwings watvandag besig is om gestalte aan te neem!

Antieke waarskuwings

God het lank gelede die nasate van Abraham, Isak en Jakob (die twaalf stamme van Israel, wat nie slegs in die moderne nasie van Israel gevind word nie maar ook onder die volke van die Verenigde State van Amerika, Brittanje, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en ander nasies wat van die volkere van noordwestelike Europa afstam) vertel dat hulle geseënd sal wees indien hulle Sy Wette gehoorsaam – Wette wat Hy aan hulle gegee het sodat hulle ligte en voorbeelde vir die wêreld kan wees (Deuteronomium 4:1-10). God se uitverkore volk (Deuteronomium 7:6-7; Jesaja 43:1, 10, 20-21) was egter ook gewaarsku dat indien hulle sou verkies om God se Wette nie te gehoorsaam nie en indien hulle Sy insettinge sou minag, hulle ernstige gevolge sou moes dra. God sê deur Moses: “ ... Ek sal verskrikking oor julle beskik ... sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers ... En Ek sal julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:14-19).

Ons sien dat daardie profesieë vandag begin gestalte aanneem. Brittanje, die nasie wat eens oor een kwart van die hele mensdom regeer het, het haar ryk verloor en word stadig van binne deur die Europese Unie oorgeneem. Die EU het alreeds beslag gelê op Britse visvangregte in wat voorheen Brittanje se eie gebiedswaters was, en het daardie regte herverdeel aan ander Europese nasies. Die EU ondersoek nou moontlik geskikte skepe van die Britse vloot vir ’n Europese seemag. Die VN se Menseregte Raad het onlangs ’n verslag uitgereik waarin aanbeveel word dat Brittanje haar monargie moet afskaf (Daily Express, 13 Junie 2008).

Die Amerikaanse invloed rondom die wêreld is ook besig om te kwyn. Die Amerikaanse dollar, wat lank as die wêreld se reserwe betaalmiddel gedien het, verloor steeds waarde en mag spoedig deur die euro vervang word. Die V.S. se sentrale bank – die Federale Reserwe Bank – is onlangs meegedeel dat dit aan ’n algemene ondersoek onderwerp gaan word deur die Internasionale Monetêre Fonds. ’n Duitse nuusbron stel dit so: “In die Amerikaanse geskiedenis was geen hoof van die Fed al ooit gedwing om hom te onderwerp aan die vernedering wat Ben Bernanke in die gesig staar nie” (Der Spiegel, 28 Junie 2008). Die trots van Amerika en Brittanje, die twee nasies wat die verloop van die wêreld se geskiedenis vir die afgelope 200 jaar bepaal het, is besig om gebreek te word, net soos God voorspel het dit gaan gebeur. Wat anders is egter besig om kop uit te steek?

Skielike rampe voorspel!

Wanneer u die profesieë aangaande die toekoms van die Israelitiese nasies in die Bybel bestudeer, dan kom daar ’n kommerwekkende tema na vore – hulle sal ’n skielike en dramatiese verandering in hul toekoms ondervind namate God selfs nog meer kragtig in die geskiedenis begin ingryp. Moses het gewaarsku dat “... as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie ... dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal ... Die Here sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het” (Deuteronomium 28:15-20). Die profeet Jesaja skryf op dieselfde trant: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg ... omdat hulle die wet van die Here van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het. Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen sy volk” (Jesaja 5:20-25).

Israelitiese nasies wat geseënd en die Wette van God gegee was – Wette wat die sondes en gruwels van owerspel, hoerery, leuens, diefstal, maklike egskeiding en homoseksualiteit verbied – keur nou boosheid en perverse handelinge goed en bevorder dit selfs. Jesaja waarsku verder: “Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun”, sal God die nasies van Israel “heeltemal onverwags” breek (Jesaja 30:12-13).

Ander profete regdeur die Skrif het dieselfde boodskap om oor te dra! Jeremia waarsku: “Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die Here is vir hulle ’n smaad, hulle het daar geen behae in nie ... Ek sal oor hulle vier soorte besoekinge doen, spreek die Here: die swaard om dood te maak en die honde om weg te sleep en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om op te eet en te vernietig. En Ek sal hulle ’n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde ... Ek laat skielik op haar val angs en verskrikkinge” (Jeremia 6:9-26; 15:1-4, 8). Salomo waarsku, “... hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7). Die V.S. het die grootste skuldenaar-nasie in die geskiedenis geword – en het selfs geld geleen van potensiële teenstanders. Die V.S. en die nasies wat van die Britte afstam het dit geniet om van die hulpbronne van die wêreld te leef, maar die profeet Habakuk waarsku “... dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan en jou sal kaalstroop. Jy het baie nasies geplunder, maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder” (Habakuk 2:7-8, NV).

In ’n profetiese boek waar die sondes van die Israelitiese nasies gelys is, (Hosea 4:1) lewer die profeet Hosea hierdie plegtige waarskuwing: “Ek het hom [Israel] tienduisendeleringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag ... Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het ... daarom sal Ek ’n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer ... Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel” (Hosea 8:12-14; 10:15).

Bybelprofesieë voorspel duidelik dat God se uitverkore mense skielike rampe gaan beleef wat effektief hulle trotse mag gaan verbreek en hulle aan die genade van vreemde nasies sal oorlewer, omdat hulle hul God vergeet en Sy Wette verwerp het. Amerika se vinnig-groeiende buitelandse skuld, die Westerse wêreld se rampspoedige afhanklikheid van buitelandse olie wat enige oomblik afgesny kan word, en die bankwese se vrese dat die wêreld se ekonomie ’n “totale ineenstorting” in die gesig staar, blyk die verhoog voor te berei vir hierdie antieke profesieë om enige oomblik gestalte aan te neem. Indien ons oë het om te sien en ore om te hoor, behoort ons op ons hoede te wees vir hierdie profetiese waarskuwings!