As gevolg van ’n dokument wat uitgelek het is die hooggeregshof in party-politiek betrek. Wat voorspel dit vir Amerika?

In die opgetekende geskiedenis van hofbeslissings is dit onwaarskynlik dat die frase Dobbs vs. Jackson Women’s Health Organisation ooit die emosionele slaankrag van Roe vs. Wade sal hê. Die Hooggeregshof van die Verenigde State (SCOTUS) was in Mei 2022 nogtans geruk deur die ongemagtigde uitlek van ’n voorlopige konsepbeslissing van daardie saak – ’n saak wat heel moontlik die beskikbaarheid van aborsie regoor die V.S. kon beperk – baie mense het opgemerk dat die uitlek van die dokument net so deurslaggewend soos die besluit self kon wees.

Voordat SCOTUS sy omstrede uitspraak oor Roe vs. Wade in Januarie 1973 uitgereik het, was aborsie onwettig in 30 van die 50 Amerikaanse state. Dit was wettig – net op versoek – in vier deelstate naamlik Alaska, Hawaii, New York en Washington. In ander state was aborsie toegelaat indien ’n swangerskap ’n vrou se lewe in gevaar gestel het – met ’n definisie van “gevaar” wat dikwels so vaag en subjektief was dat ’n welgestelde persoon gewoonlik ’n gewillige dokter kon vind om ’n aborsie uit te voer.

Roe vs. Wade het aborsie in al 50 state laat wettig. Byna onmiddellik nadat SCOTUS die uitspraak gelewer het, het waarnemers begin wonder of die besluit die toets van die tyd sou deurstaan. Regter Harry Blackmun, wat die meerderheidsopinie geskryf het, het dit erken toe hy geskryf het, “... dit nie nodig is dat ons die moeilike vraag van wanneer lewe begin hoef op te los nie. Wanneer diegene wat in die onderskeie onderrigstelsels van geneeskunde, filosofie en teologie opgelei is, nie in staat is om eenstemmigheid te bereik nie, is die regbank op hierdie stadium in die ontwikkeling van die mens se kennis, nie in ’n posisie om te spekuleer oor die antwoord nie” (U.S. Reports: Roe vs. Wade, bl. 113). Blackmun het erken dat sy mening tydgebonde was – deels bereik as gevolg van ’n gebrek aan wetenskaplike eenstemmigheid oor wanneer ’n menslike lewe begin.

Dit is dus geen verrassing dat byna 50 jaar later – na vyf dekades van mediese vooruitgang wat ons ’n veel beter begrip van lewe in die baarmoeder gegee het – Roe vs. Wade toenemende ondersoek in die gesig staar.

Aan die een kant het vooruitgang in chirurgiese tegnieke aborsie baie veiliger gemaak as ooit tevore – vir die moeder. Ons behoort dit egter in perspektief te plaas; belangrike aborsieregte-voorstanders het reeds lank gelede, voor Roe vs. Wade, erken dat hulle syfers aangaande veronderstelde “agtersteeg”-aborsies grootliks denkbeeldig was. Die voormalige aborsiekundige, dr. Bernard Nathanson, skryf in sy outobiografie, The Hand of God: “Daar was heel moontlik sowat driehonderd sterfgevalle jaarliks in die Verenigde State in die sestigerjare as gevolg van kriminele aborsies, maar NARAL [the National Abortion Rights Action League] beweer in hulle persverklarings dat hulle data het wat op ’n syfer van vyfduisend aborsies neerkom” (bll. 89-90). Hierdie leuens wat lank reeds onder verdenking was, maak steeds baie mense woedend wat die herinstelling van minder toegeeflike aborsiewette vrees.

Kongres, SCOTUS en partydigheid

Al kan Roe vs. Wade nie die ondersoek van moderne mediese wetenskap oorleef nie, waarom kon aborsie-ondersteuners nie die toets deurstaan van die politieke steun om wettige aborsie deur middel van ’n ander uitgangspunt te wettig nie? Neem in ag dat die V.S. Kongres nie wetgewing goedgekeur het wat aborsie sou wettig en die kwessie van die howe se bevoegdheid systap nie. Waarom? Is dit dat, ten spyte van Roe vs. Wade, individuele wetgewers weet dat die aborsiekwessie steeds ’n uiters sensitiewe saak is wat ’n politieke party ’n verkiesing kan laat wen of verloor? Is dit so dat aborsie vir sommige wetgewers belangriker is as ’n “betwisbare” kwessie vir fondsinsameling as ’n uitgemaakte saak wat die lewens van hulle kiesers raak?

Ons is gewoond daaraan om aan die Kongres te dink as ’n partydige politieke liggaam en dit is presies wat dit is. Die Hooggeregshof het egter sedert sy stigting in 1789 as deel van die V.S. se federale regering se drie takke homself verhewe en afgesonderd van sy land se party-politiek beskou. Hoofregter John Roberts het toe hy in Februarie 2016 met regstudente by New England Law gepraat het gesê: “Ons werk nie as Demokrate of Republikeine nie” (ABAJournal.com, 5 Februarie 2016). Regter Neil Gorsuch het daardie sentiment herhaal tydens sy bevestigingsverhoor in Maart 2017: “Ek sien nie Republikeinse regters nie en ek sien nie Demokratiese regters nie. Ek sien regters”. Gedurende die afgelope 15 jaar was die meeste SCOTUS-meerderheid inderdaad 9-0. Dit is die bekrompe besluite – die 5-4 geringe meerderhede – wat die meeste aandag trek, al het dit die afgelope paar jaar verantwoording gedoen vir minder as 30 persent van sake en slegs 5 persent so onlangs as 2015.

Is die Hooggeregshof egter werklik onpartydig – van die regters tot die regsklerke tot die personeel? Dit was ’n lid van die binnekring wat regter Alito se konsepmening na die webwerf Politico.com uitgelek het. Hulle beskou hulleself as “die wêreldwye gesag wat betref die oorvleueling van politiek, beleid en mag”. Voordat hierdie inligting uitgelek het, het joernaliste af en toe afskrifte van SCOTUS-besluite vóór vrystelling gekry, maar waarnemers kan nie enige vorige uitlekking van ’n nie-amptelike konsep onthou nie.

Kwessies van vertroue

Hofwaarnemers het vinnig hulle teorieë gelig oor waarom die konsep van Dobbs vs. Jackson Women’s Health Organisation uitgelek het. Was dit om opposisie te werf of om die Kongres aan te spoor om wetgewing aan te neem om wettige aborsie te beskerm? Was dit ’n poging van die “binnekring” om ’n gematigde regter te oortuig om Roe vs. Wade onveranderd te laat? Wat ook al die motief, dit was ’n verwoestende slag vir die hof se interne begrip van vertroue, beeld en sin vir ordelike funksionering.

“Ek dink wel dat wat by die hof gebeur het, uiters sleg is”, het regter Clarence Thomas gesê. “Ek wonder hoe lank ons hierdie instellings gaan hê teen die tempo wat ons hulle ondermyn”. Hoofregter Roberts het vinnig ’n interne ondersoek aangekondig om die fluitjieblaser te vind, maar dit lyk of ernstige skade reeds aangerig is. Thomas het dit só gestel: “Die dae is verby toe ons mekaar werklik vertrou het. Ons was dalk ’n disfunksionele gesin, maar ons was ’n gesin”.

Benewens die kwessie van vertroue in die Hooggeregshofkamers, is die lekkasie gebruik om die integriteit van verskeie regters aan te val weens hulle vorige uitsprake oor Roe vs. Wade. In die uitgelekte konsep skryf regter Alito dat “Roe van die begin af verskriklik verkeerd was”. Voorstanders van aborsie het vinnig daarop gewys dat Alito ’n baie matiger standpunt ingeneem het tydens sy bevestigingsverhoor, toe hy erken het dat hoewel Roe vs. Wade oop was vir verdere regsgedingvoering, dit nietemin “’n belangrike presedent” was. Regter Brett Kavanaugh het tydens sy bevestigingsverhoor Roe vs. Wade “as ’n gevestigde presedent” genoem en een senator – Susan Collins (R-ME) – sê regter Kavanaugh het die besluit in ’n privaat gesprek ’n “gevestigde wet” genoem. Met sulke beskuldigings hoop van Roe vs. Wade se ondersteuners om die regters as bedrieglik of onbetroubaar voor te stel in hulle vorige, versigtig bewoorde verklarings aan die Kongres.

Die uitgelekte inligting het openbare sentimente oor die omverwerping van Roe vs. Wade versterk. Die vooruitsig om te sien dat aborsie deur individuele state besluit word, soos dit voor 1973 was, het vurige emosies aangewakker. Die Axios-nuusverslag het berig dat federale agentskappe “besig is om dreigemente op sosiale media te ondersoek deur die gebou waarin die Hooggeregshof gesetel is af te brand of te bestorm en regters en hulle klerke te vermoor, asook om plekke van aanbidding sowel as aborsieklinieke te teiken” (“DHS berei voor vir geweld ná aborsie-beslissing” 18 Mei 2022). Aborsieregte-aktiviste het reeds betogings voor regters se huise gehou wat ook hulle woonbuurte ontwrig het.

Indien die finale SCOTUS-mening enigsins iets soos die uitgelekte konsep is, kan ons inderdaad nie ’n vreedsame oplossing verwag nie, maar eerder ’n verskerpte reeks plaaslike gevegte. Sestien state het wette goedgekeur wat wettige aborsie sou behou, terwyl 22 state se wette meer beperkend sou word sonder Roe vs. Wade. Ons behoort nie veel beredeneerde debat te verwag nie. Sommige mense sal sê dat politiek dikwels veel minder oor konsekwentheid gaan as om ’n ideologie te vind wat ’n mens se persoonlike voorkeure pas. Oorweeg die gewilde refrein: “My liggaam, my keuse!” Hoeveel mense wat vashou aan daardie frase te midde van die aborsie-omstredenheid, het net maande tevore daarop aangedring dat entstofmandate op elke Amerikaanse liggaam afgedwing word?

Antieke praktyk in teenstelling met Bybelse waarhede

Regter Blackmun het erken dat aborsie selfs in antieke tye omstrede was en dat die antieke Hippokratiese eed, wat die eerste keer deur heidense Griekse dokters afgelê is, ten minste drie eeue voor Christus, die belofte ingesluit het: “Ek sal nie aan ’n vrou ’n voorwerp gee wat in die uterus geplaas word om aborsie te bewerkstellig nie”. Blackmun, wat die Roe vs. Wade meerderheidsmening geskryf het, het ook erken dat aborsie al duisende jare deel van die menslike samelewing is.

Daar word aan ons vertel dat in die tyd van die Persiese Ryk vrugafdrywingsmiddels bekend was en dat kriminele aborsies swaar gestraf is. Ons word egter ook meegedeel dat aborsie in die Griekse tyd sowel as in die Romeinse tyd toegepas is en dat “dit sonder gewetensbesware toegepas is”. Griekse en Romeinse reg het min beskerming aan die ongeborenes gebied. Wanneer aborsie in sommige plekke wel tot vervolging gelei het, blyk dit gegrond te wees op ’n beginsel van ’n skending van die vader se reg op sy nageslag.

Wat is egter die Bybelse perspektief op aborsie? Heel eenvoudig, ’n aborsie maak ’n mens dood aan wie God lewe gegee het. God het Jeremia in sy moeder se skoot geken (Jeremia 1:5). God haat hande wat onskuldige bloed vergiet (Spreuke 6:17).

Dit is waar dat vir baie eeue lank, selfs baie mense wat hulleself as Christene beskou het, algemeen aanvaar het dat dit wat ons “lewe” noem, begin met ’n baba se eerste asemteug buite die baarmoeder. Noudat ons egter soveel meer van die lewe in die baarmoeder weet, is dit nodig dat ons baie versigtig sal wees dat ons nie in onnodige en valse argumente vasgevang word nie. Sommige mense probeer die Skrif verdraai deur te sê dat alhoewel ’n ongebore kind leef, die moord daarvan minder van ’n oortreding is as om ’n baba wat reeds gebore is te vermoor en dat hierdie verskil op een of ander manier die moord aanvaarbaar maak. Indien ons egter dáárdie redenasie volg, sal ons gou besef dat ons kindermoord en genadedood goedkeur. Sou ons dit waag om te sê dat ’n baba of kleuter wat nog nie die ouderdom van logiese redenasie bereik het nie of ’n volwassene wat aan ernstige Alzheimer se siekte ly, op een of ander wyse nie ten volle mens is nie? Ongelukkig sê toenemende getalle mense, selfs dokters, nou “ja” vir daardie idee, asook vir die idee dat genadedood en “ondersteunde selfmoord” van bejaardes nie net moreel aanvaarbaar is nie, maar selfs sosiaal wenslik.

U besluit

Teen die tyd dat hierdie artikel ter perse gaan, weet ons nie wat die identiteit van die fluitjieblaser is of wat die Hof se finale beslissing oor Dobbs vs. Jackson Women’s Health Organisation is nie. Roe vs. Wade mag of mag dalk nie onaangetas bly nie en SCOTUS mag of mag dalk nie in staat wees om ’n mate van sekuriteit en vertroue binne sy advokatekamers en met die Amerikaanse mense te herstel nie. Gelukkig kan Christene besluit om die Bybelse standaard te handhaaf en dit maak nie saak wat anders gebeur nie. Die vroegste Christene het belasting betaal as onderdane of burgers van ’n Romeinse Ryk waar ongewenste pasgebore babas gewoonlik in die koue gelaat is om aan blootstelling te sterf, maar hulle sou nie self aan hierdie tipe gedrag deelneem nie. Ongeag menslike wette of gebruike, het Christene ’n Goddelike verpligting voor God om deur hulle voorbeeld te wys hoe om ’n lewenswyse te volg wat werklik pro-lewe is, nie net met betrekking tot ’n kind se geboorte nie, maar om kinders groot te maak om hulle Here en Verlosser, die gewer van lewe, lief te hê en te dien.

In ’n tyd waarin instellings mense se vertroue verloor, gaan ons by Die Wêreld van Môre voort om daarna te streef om die waarheid met ons lesers te deel. Ons hoofredakteur, Gerald E. Weston, is baie duidelik oor die feite met betrekking tot aborsie. Sien die artikels in twee dele in die 2018 uitgawes van die Tomorrow’s World: “Abortion: The Real Story”, asook sy kragtige TV-uitsending “Tiny Fingers and Toes!” Indien u nog nie mnr. Wallace G. Smith se “Seven Lies About Abortion” in ons Januarie 2022 Tomorrow’s World gelees het nie kan u dit gerus doen. Ons by Die Wêreld van Môre verseker u dat ons sal voortgaan om u in te lig oor die waarheid wat betref die kultuur se skokkende bereidwilligheid om die mees onskuldiges onder ons te vermoor en wat dit vir ons toekoms beteken.