VRAAG: In Exodus 20:5 sê God dat Hy ’n jaloerse God is, maar in Galásiërs 5:20 word jaloesie onder die sondige werke van die vlees genoem. Is dit ’n teenstrydigheid?


ANTWOORD: God kan nie sondig nie en ook kan Hy nie deur die kwaad versoek word nie (Jakobus 1:13; 1 Johannes 3:5). Die “jaloesie” wat in Exodus 20 genoem word, verwys in hierdie geval nie na ’n sonde nie, maar na ’n kwaliteit van God se geregtigheid. Daar word vir ons gesê: “Want jy mag jou nie neerbuig voor ’n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers – ’n jaloerse God is Hy” (Exodus 34:14). “Jaloers” is nie net ’n kenmerk van God nie, maar ook een van Sy name wat Sy karakter beskryf.

Wanneer God beskryf word, gebruik die Bybel hierdie term in die konteks van Sy Wette teen afgodediens (vgl. Deuteronómium 4:23-24; 5:8-9; 6:14-15). Afgodery is ’n verbreking van die Verbond wat God met Israel gesluit het – ’n Verbond wat die nasie groot voorspoed en ’n rol as God se spesiale volk beloof het. Kort voordat Hy die Tien Gebooie gegee het, het God verduidelik: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5-6).

Toe Hy die Tien Gebooie gegee het, sê God: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” (Exodus 20:2). Met hierdie stelling, beskryf Hy Sy unieke verhouding met Israel – ’n verhouding wat hulle met geen ander “god” gedeel het nie. Hulle is nie deur die Kanaänitiese “gode”, Baäl of enige van die “gode” van die Egiptiese mitologie uit Egipte gebring nie. Hulle is deur “die Here” uitgebring.

Die naam “Here” (Lord), alles in hoofletters, wat in baie Engelse en Afrikaanse Bybelvertalings voorkom, dui op die unieke Hebreeuse naam vir God: YHVH en dit beteken: “the Eternal, the Immutable One, He Who WAS, and IS, and IS TO COME” (The Companion Bible, aanhangsel 4, afdeling II). Toe Hy aan Israel duidelik gemaak het dat dit spesifiek “die Here jou God” was, het Hy dit beklemtoon dat hulle getrouheid en aanbidding aan Hom alleen verskuldig is in hierdie Verbond wat Hy met hulle gesluit het – ’n verbondsverhouding wat uitgebeeld word deur die menslike huwelik (Jeremia 3:14, 20; vergelyk Efésiërs 5:31-32). Vanuit God se perspektief is afgodery, geestelike owerspel. Soos wat ’n man of vrou liefdevol getrou aan sy of haar huweliksmaat behoort te wees en verstaanbaar jaloers mag wees wanneer hulle met ontrouheid gekonfronteer word, vereis God dieselfde getrouheid van Sy mense. Hy verwag dat ons Hom moet liefhê soos wat Hy ons liefhet (1 Johannes 4:19; Matthéüs 22:37-38).

Aan die ander kant is daar ’n sondige afguns en hatigheid teenoor ’n mens se naaste wat aangevuur word deur hebsug en wat jaloesie in die New King James Weergawe genoem word. Daardie ingesteldheid is een van die werke van die vlees wat in die lys in Galásiërs 5:20 voorkom. God beny niemand nie en begeer niks nie. Hy is immers die Skepper van alle dinge en het volkome gesag oor Sy hele skepping: “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie” (Jesaja 40:25-26). Inderdaad, voor God is die nasies “... soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken” (vers 17). Dit behoort ons dus nie te verbaas dat God beveel: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” en dat Hy daarop aandring dat ons nie poog om afbeeldings van God te maak of enige afgode, prente of godsdienstige voorwerpe aanbid nie (Exodus 20:3-6) – wat ons aandag sal aflei van die aanbidding wat ons direk aan God alleen verskuldig is.

Die betekenis is dus duidelik. Goddelike jaloesie beskryf God se grootsheid as die enigste ware God en Skepper – Sy absolute mag om te red, Sy tere barmhartigheid, Sy waaksame versorging, Sy ewige liefde en Sy ywer om Sy beloftes na te kom. Hy alleen besit die absolute reg om aanbid te word – Hý uitsluitlik. Enigiemand wat ’n verbondsverhouding met Hom wil hê moet besef dat Hy geen mededingers duld nie. God se “jaloesie” dui op Sy unieke Goddelike reg en Goddelike geregtigheid, nie die sondige gevoelens van hebsug, afguns of mededinging wat mense soms ondervind nie.