Vir byna vyf eeue het die Westerse nasies groot gedeeltes van die wêreld oorheers. Gedurende hierdie era het Europese nasies en later die Verenigde State, mag verkry en die invloed van die Westerse beskawing oor die grootste deel van die wêreld versprei. China en Japan is deur middel van geweld vir Europese en Amerikaanse handel toeganklik gemaak. Afrika, Indië en die grootste deel van Asië was oorweldig en deur Westerse magte verdeel. Die Russiese Ryk is deur die kommuniste tot ’n val gebring en het daarna die Koue Oorlog teen die Weste verloor.

Tog het die verloop van die geskiedenis in die afgelope dekades ’n ander rigting ingeslaan en ons het ’n nuwe era betree. Geleerdes merk op dat “die uitbreiding van die Weste” in die twintigste eeu tot ’n einde gekom het en “die opstand teen die Weste” begin het namate ander beskawings weer op die wêreldtoneel tevoorskyn gekom het (The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order, Samuel P. Huntington, bl. 53). Vandag staan ons voor ’n ander belangrike keerpunt in die geskiedenis – “een van daardie seldsame oomblikke in die geskiedenis wanneer die politieke en ekonomiese spil van die wêreld verskuif” – weg van die Weste af en nader na die Ooste beweeg (The Dawn of Eurasia, Bruno Maçães, bl. 1).

Hoe sal hierdie groot verskuiwing die wêreld beïnvloed wanneer beskawings in die Ooste na vore tree om die eens-dominante Westerse magte uit te daag? Terwyl wêreldse ontleders probeer om die geopolitieke toekoms uit te pluis, besef min mense vandag dat dáárdie belangrike toekomstige gebeure lank gelede al in antieke Bybelprofesieë voorspel is. Selfs nog minder mense begryp die profetiese betekenis in van huidige gebeurtenisse wat begin ooreenstem met gebeure wat al voorspel was om plaas te vind vóór die Wederkoms van Jesus Christus. Vandag het baie mense ook vergeet dat God die verloop van die geskiedenis lei en dat Hy nasies se opkoms en ondergang, ooreenkomstig Sy doel, teweegbring (Job 12:23; Daniël 2:21; 4:17).

Eindtydse Bybelse profesieë

Terwyl die Hebreeuse profeet Daniël omstreeks 539 v.C. tussen die Joodse ballinge in Babilon was, is ’n droom aan hom gegee in fyn besonderhede in verband met die verre toekoms. In Daniël 11:40-45 teken hy aan dat “in die tyd van die einde sal die koning van die Suide” (’n Arabies-Moslem-moondheid) teen “die koning van die Noorde” (’n eindtydse Europese moondheid) “in botsing kom, en die koning van die Noorde” sal dan die Midde-Ooste binnegeval en Jerusalem beset. Daniël skryf ook in vers 44: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.” Vandag lê Rusland noord van Jerusalem en Irak, Iran en China lê na die ooste. Ander profesieë in Openbaring 9, dui aan dat hierdie Europese mag ’n vyf-maande lange aanval in die noorde en ooste aan die gang sal sit wat ’n groot militêre reaksie sal ontketen waartydens een- derde van die mensdom uitgewis sal word. Uit die perspektief van Bybelse profesieë, is dit nie toevallig dat ’n aggressiewe Rusland en ’n meer aanmatigende China weer na vore gekom het terwyl die mag en invloed van die Weste afgeneem het nie.

Terugkeer van Rusland

Die huidige leier van Rusland, Vladimir Putin, is ’n toegewyde nasionalis en voormalige KGB-lid met sterk Ortodokse oortuigings. Ontnugter deur die ineenstorting van die USSR en die mislukking van Marxisme, was dit sy doel om ’n gebroke land te herenig en as ’n moderne Peter the Great, die nasionale trots van Rusland te herstel. Hy herinner die Russe daaraan dat hulle die invalle van die Weste wat geloods was deur Napoleon en Nazi-Duitsland afgeweer het. Onder sy wakende oog het die Ortodokse Kerk, die kommunistiese party as die grondslag van die Russiese samelewing vervang. Soos Samuel Huntington opgemerk het: “Vyande is noodsaaklik vir mense wat hulle identiteit en etnisiteit wil herontdek” (Huntington, bl. 20). Vir baie mense, soos Putin, is Amerika en ander nasies van die Westerse Beskawing, geskikte kandidate vir daardie rol.

As leier van een van die kernnasies van die Ortodokse beskawing, is Putin bekommerd oor die verspreiding van NAVO in Oos-Europa asook oor China se ekonomiese en kulturele vooruitgang in Wes-Eurasië. Putin se alternatiewe plan is om ’n sone van Russiese invloed, die Eurasiese Ekonomiese Unie (EEU) te skep wat as teenwig sal dien vir die Europese Unie asook die invloed van China se Nuwe Syroete Inisatief [’n vroeëre handelsroete] sal teenstaan – selfs al deel China en Rusland ’n kommunistiese verlede asook ’n historiese vervreemdingseffek van Westerse waardes. Indien Putin se KGB verlede in gedagte gehou word, is dit nie verbasend dat Rusland namate sy mag toegeneem het, verhoogde staatsgesag asook die brutale onderdrukking van meningsverskille ervaar het nie. Die onlangse anneksasie van die Krim en Oos-Oekraïne (wat beide hoofsaaklik Russies en Ortodoks is), bied insig in hoe ’n aggressiewer Rusland in die toekoms sal optree.

China ontwaak

Eurasië, die wêreld se grootste vasteland en die gebied waar ’n groot gedeelte van die wêreld se bevolking en hulpbronne voorkom, is oos van Jerusalem geleë. Hierdie streek bevat verskeie van die wêreld se grootste ekonomieë. Die mees gedugte en dinamiese land in Eurasië is China en sy huidige leier, president Xi Jinping, probeer om die land se grootheid te herstel ná meer as ’n eeu van vernedering deur Westerse magte. Net soos Rusland het die Chinese regering ook ’n vyand nodig “om ’n stut te wees in sy oproep vir Chinese nasionalisme en sy mag te wettig” – ’n rol wat deur Amerika en die Weste vervul word (Huntington, bl. 224). Onder president Xi se leiding, is China se doel om sy geskiedkundige rol as die leier in Asië te hervat en om ’n belangrike speler op die wêreldtoneel te word. Tot nou toe bevorder hy ’n Belt and Road Initiative wat enorme hulpbronne aan die bou van paaie, spoorweë, hawens, kragstasies en pypleidings regoor Asië en regoor die wêreld verskaf. Hy streef daarna om handel en geopende markte vir Chinese arbeid en produkte te verbeter en om aan China toegang tot hulpbronne te gee – olie, gas, steenkool en minerale – wat sy groeiende ekonomie desperaat nodig het.

President Xi se aggressiewe leierskap het nogtans kommer onder China se bure en ander wêreldmagte gewek. Enorme lenings aan minder ontwikkelde nasies sal daardie lande onder ’n groter verpligting plaas om China se belange te ondersteun. Sommige mense vrees dat sy ontwikkelende infrastruktuur en vervoer projekte gebruik kan word om Chinese troepe te verskuif. Soos Putin, het Xi gewys dat hy gewillig is om streng op te tree teen interne verdeeldheid en hy het ’n belofte gemaak om sy land se belange en inwoners te beskerm wat in die buiteland woon. China het onlangs ’n militêre basis by die Rooi See in Djiboeti gestig om Chinese belange te beskerm. Terwyl sommige mense, China se militêre vooruitgang en aktiwiteite in die Suid-Chinese See as uitdagend sien, beskou China hierdie dade as verdedigend – om te verseker dat hulle nooit weer bedreig sal word deur buitelandse magte nie. China en Rusland het gesamentlike militêre oefeninge uitgevoer en nie een van hulle het enige voorneme om onder beheer van Westerse nasies te wees nie. Hulle doel is om die Weste verby te steek en te vervang en hulle werk daaraan om ’n nuwe politieke orde te vestig wat voordeliger vir hulle eie belange sal wees (Maçães, bll. 121-122).

Wanneer ons vandag die tydperk van Westerse oorheersing tot ’n einde sien kom en die wêreld se swaartepunt na die Ooste verskuif, waarsku goedingeligte waarnemers: “Die opkoms van China is die potensiële bron van ’n groot oorlog tussen beskawings van wêreldmagte” (Huntington, bl. 209). Terwyl sommige nasies sal probeer om hierdie magsverskuiwing te verhoed of in bedwang te hou, sal ander nasies met die opkomende beskawings wil saamwerk. Tom Miller, Ekonomiese ontleder, herinner lesers in sy boek, China’s Asian Dreams, daaraan dat Napoleon al tevore vir China as ’n slapende leeu beskryf het, wat die “wêreld sal skud” wanneer dit wakker word. In die komende botsing tussen beskawings wat al lank gelede in Bybelprofesie voorspel is, sal die brul van daardie leeu en sy bondgenote inderdaad oor die wêreld heen gehoor word.