Kunsmatige intelligensie, oftewel KI, het deel van ons daaglikse lewe geword. Dit is wat die werking van ons rekenaar- en telefoontoepassings moontlik maak. Dit verwerk ons kredietaansoeke, herken gesigte om ons slimfone te ontsluit en kies watter advertensies ons op die Internet sal sien. Dit is feitlik alomteenwoordig – tot so ’n mate dat ons dit skaars meer raaksien. Snapchat-gebruikers maak video’s vir hulle vriende deur grappige filters te gebruik wat hulle soos diere of strokiesprentkarakters laat lyk, heeltemal onbewus van die vooruitgang in KI wat hulle gegiggel moontlik gemaak het.
Nuusopskrifte gaan voort om verstommende nuwe prestasies in KI te rapporteer. Sommige daarvan is opwindend, soos die sukses van DeepMind se AlphaGo-program om die beste Go-spelers in die wêreld te klop alhoewel sommige hiervan senutergend is, soos die Verenigde Nasies se berigte dat KI-hommeltuig-stelsels moontlik in onlangse konflikte gebruik was om menslike vegters aan te val en die “doodmaak”-besluit geneem het sonder dat dit deur ’n mens beheer was.
Ten spyte van al die maniere waarop KI besig is om ons lewens en ons wêreld te verander, kom dit nie eens naby aan wat die meeste mense dink as hulle die woorde “kunsmatige intelligensie” hoor nie. Dit is omdat die meeste KI-toepassings – so wonderlik soos dit mag wees, in vergelyking met die mens – opvallend dom is.
Die landkaart-toepassing [GPS: Universele posisionering-stelsel toepassing] van u slimfoon kan ’n doeltreffende roete terug na u hotel vind, maar dit kan nie met u gesels oor die restaurant wat u pas verlaat het nie. AlphaZero (’n “uitvloeisel” van AlphaGo) sal u met skaak klop maar dit sal nie nadink oor die voordele daaraan verbonde om die skaakbord af en toe weg te bêre om tyd buite deur te bring nie. Die KI-hommeltuie wat uitgestuur is om soldate in die Libiese burgeroorlog aan te val, het nie vir ’n oomblik nagedink oor die morele implikasies van hulle optrede nie.
Soos Dave Gershgorn vir die tydskrif Quartz geskryf het,
“Ons beste KI van vandag kan baie spesifieke take verrig. KI kan ’n beeld met verstommende akkuraatheid en spoed identifiseer. KI kan ons toesprake in woorde omskryf of brokkies teks van een taal na ’n ander vertaal. Dit kan die aktiwiteite van die effektebeurs analiseer en die moontlike resultate voorspel. Dit is egter alles afsonderlike algoritmes – elkeen spesifiek deur mense ingestel om ’n enkele taak foutloos te voltooi. ’n Spraaktranskripsie-algoritme kan nie die woorde definieer wat dit van spraak na teks verander nie en ’n vertaalalgoritme ook nie. Daar is geen begrip nie; dit is net ooreenstemmende patrone” (“Inside the mechanical brain of the world’s first robot citizen,” 12 November 2017).
“Daar is geen begrip nie”. Dit is wat die probleem is.
In die 1950’s, het baie navorsers – gevul met vreugde oor hulle sukses in die relatief nuwe veld van die rekenaar en gemotiveer deur die oortuiging dat die mens in wese weinig meer is as ’n baie ingewikkelde masjien – aangeneem dat daar binne enkele dekades, rekenaars geskep sou kan word met ’n kapasiteit om ’n leer- en begripsvermoë te hê wat gelykstaande sou wees aan dié van die menslike verstand. Met behulp van kabels, stroombaanpanele en ons eie vindingrykheid sou ons eendag met tegnologie kon voortplant en masjiene kon skep wat werklik dink soos ons dink.
Tyd was egter nie in hulle guns nie en die taak het geblyk veel moeiliker te wees as wat die vroeë navorsers hulle dit voorgestel het.
Van KI tot KAI
Die droom leef egter voort en rekenaarwetenskaplikes regoor die wêreld probeer nog steeds om ’n masjien volgens ons eie beeld te skep – ’n werklike, denkende masjien. Om te onderskei tussen die benadering van blote “probleemoplossing” wat baie van die KI-werk oorheers wat ons vandag sien en die groter doel om programme of stelsels te skep wat op dieselfde manier as die menslike verstand kan dink en verstaan, noem baie navorsers laasgenoemde “kunsmatige algemene intelligensie” of KAI.
Soos met KI het ons merkwaardige vooruitgang op die gebied van KAI gesien. Hoe naby is ons egter daaraan om masjiene te skep wat regtig soos ons kan dink en verstaan?
’n Robot met die naam Sophia, is een van die bekendste openbare robotgesigte van KAI. Sophia is deur Hanson Robotics in Hongkong gebou en het baie mediadekking gekry. Sophia is gemaak om dit soos die bolyf van ’n vrou te laat lyk, met ’n maskeragtige menslike “gesig” en sigbare kabels en stroombaanpanele agter op die “kop”. Hierdie masjien is geprogrammeer om menslike gesigte na te boots, menslike gesigsuitdrukkings te openbaar en om op menslike gesprekke te reageer.
Sophia het in Oktober 2017 wye nuusdekking gekry met die aankondiging dat Saoedi-Arabië dit as die eerste nie-menslike burger verklaar het. ’n Maand later het die Verenigde Nasies die titel “Innoverende Kampioen” aan “haar” verleen. Sophia, het toesprake voor groot gehore gelewer en as gas gedien in die deurnag-geselsprogramme en is deur “haar” pers voorgehou as ’n dramatiese stap na vore in robotika en mensagtige denke en interaksie.
Die werklikheid is egter minder indrukwekkend.
Alhoewel daar werklike KI-tegnologie aan die werk is in Sophia en dit ’n geleentheid vir waardevolle navorsing bied, is die animatroniese rekenaar-geprogrammeerde robot ook deels ’n voortdurende reklame-set. “Haar” toesprake word dikwels vooraf geskryf en die skeppers van die robot erken dat Sophia as ’n soort “mensgemaakte wetenskapsfiksie-karakter dien wat die toekoms van KI en robotika uitbeeld” en nie as ’n werklike, funksionerende voorbeeld van daardie toekoms nie. Soos James Vincent in November 2017 vir The Verge geskryf het, sien Hanson Robotics se voormalige hoofwetenskaplike, Ben Goertzel, Sophia as ’n kunstige manier om ander mense te inspireer om te glo in die potensiaal vir KAI en nie ’n werklike prestasie van daardie potensiaal nie.
Skepping of nabootsing?
Alhoewel Sophia baie bespreking inspireer het – in sommige kringe selfs bespotting – is daar werklike vordering met betrekking tot die vooruitgang op die gebied van KI en bereik dit nuwe hoogtes van tegnologiese prestasies en illustreer dit tog ook hoe ver ons nog sal moet vorder.
In die somer van 2020 het die San Francisco-maatskappy, OpenAI sy kunsmatig intelligente stelsel GPT-3 bekend gestel. Die New York Times het in November van daardie jaar berig dat GPT-3 opgelei is deur masjienleer om menslike taal te “verstaan” deur dit byna een triljoen woorde op die internet te voer – ’n proses wat maande lank geduur het, wat derduisende miljoen dollar gekos het en ’n gespesialiseerde super-rekenaar benodig het. Hulle resultate is indrukwekkend. Toe die KI-stelsel gevra is om die vraag, “Hoe word ons meer kreatief?” volgens die styl van sielkundige Scott Barry Kaufman te beantwoord, het die New York Times berig dat GPT-3 met die volgende paragraaf gereageer het:
“Ek dink kreatiewe uitdrukking is ’n natuurlike neweproduk van om op te groei in ’n diverse wêreld. Hoe meer divers die wêreld is, hoe meer word ’n mens blootgestel aan verskillende mense, aan verskillende geleenthede, aan verskillende plekke en aan verskillende uitdagings. Hoe meer divers dit is, hoe groter is die kans dat ’n mens twee en twee bymekaar kan sit om iets nuuts te vorm. In baie opsigte dink ek, as ’n mens kreatief wil wees, behoort ’n mens jou daarvoor te beywer. Indien u ’n skrywer wil wees, moet u skryf; as u ’n musikant wil wees, skep dan musiek, indien u ’n komediant wil wees, beywer u daarvoor om komedie te skep en hoe meer ’n mens skep, hoe meer waarskynlik is dit dat ’n mens ’n paar interessante dinge sal ondervind”.
Selfs Kaufman het toegegee dat die paragraaf eienaardig baie na iets lyk wat hy self sou sê, hoewel dit heeltemal oorspronklik van die KI gekom het. GPT-3 se vermoëns eindig egter nie by die nabootsing van skrywers nie. Dit het die vermoë getoon om poësie, verhale en musiek voort te bring, speletjies te speel waarvoor dit nie geprogrammeer was nie – soos skaak en Go en selfs oorspronklike, funksionele rekenaarkodes te skep. Sommige van hierdie uitslae het selfs die skeppers van die stelsel verras.
David Chalmers, professor in filosofie en neurale wetenskap aan die Universiteit van New York, noem GPT-3 “een van die interessantste en belangrikste KI-stelsels wat ooit geproduseer is” en sê die vermoë daarvan om splinternuwe take aan te leer nadat dit aan enkele voorbeelde blootgestel is “sinspeel op algemene intelligensie” (DailyNous.com). Is GPT-3 egter besig om te dink? Is dit ’n stelsel op die vooraand van kunsmatige algemene intelligensie?
Nee, dit is nie. In ’n artikel van die New York Times word opgemerk dat “indien ’n mens tien paragrawe in die styl van Scott Barry Kaufman vra, mag dit dalk vyf paragrawe gee wat oortuigend is en vyf ander paragrawe wat nie is nie”. Soos die rekenaarwetenskaplike Mark Riedl verduidelik het: “Dit is baie duidelik. Dit is baie goed om teks te lewer wat redelik klink. Wat dit egter nie doen nie, is om vooruit te dink. Dit beplan nie wat dit gaan sê nie. Dit het nie regtig ’n doelwit nie”.
Die skepping van GPT-3 was nogal ’n prestasie vir sy menslike skeppers. Wat het GPT-3 egter self bereik?
Die neurochirurg, Michael Egnor, skryf op MindMatters.ai en beklemtoon dikwels die fundamentele verskil tussen rekenaarverwerking en ware intelligente denke. Hy haal die waarnemings van die filosoof, Ed Feser, aan en herinner ons:
Op sigself gereken en afgesien van die ontwerpers se bedoelings, is die elektriese strome in ’n elektroniese rekenaar net so sonder intelligensie of betekenisloos soos die stroom wat deur die kabels van u broodrooster of haardroër loop. Daar is hoegenaamd geen intelligensie nie. Die intelligensie is alles in die ontwerpers en gebruikers van die rekenaar ...
Ons sal sekerlik voortgaan met die ontwikkeling van toenemend gevorderde masjiene wat menslike produksie op dramatiese en oortuigende maniere kan naboots. Gegewe die indrukwekkende prestasies van GPT-3, wie weet wat om van toekomstige GPT-4 of GPT-5 te verwag? Soos Egnor egter beklemtoon: “Daar is nie ’n greintjie intelligensie in ’n rekenaar nie. Mense is intelligent en ons gebruik rekenaars om ons menslike intelligensie voor te stel en te benut. Al die logika in ’n rekenaar is in werklikheid menslike logika, wat op ’n rekenaar ingesleutel word”.
Die kundige hande van ’n span digitale kunstenaars kan ’n virtuele weergawe van die Grand Canyon lewe gee en naboots, met voldoende verwerkingskrag, besonderhede so fyn soos die tekstuur van die rots en die visuele effekte van stofdeeltjies wat in die lug hang en die sonlig weerkaats. Die resultaat bly egter slegs ’n nabootsing. Die Grand Canyon is verteenwoordig, maar nie regtig weer geskep nie.
So werk programmeerders met merkwaardige vaardighede ook saam om stelsels soos GPT-3 te vervaardig, maar die resultate van hulle werk bly presies net dít: nabootsings. Die skeppers van die eerste digitale sakrekenaar het nie ’n masjien geskep wat rekenkunde verstaan nie. Hulle het eenvoudig ’n stelsel ontwerp wat hulle rekenaarwerk kan naboots. Tot dusver lewer pogings om kunsmatige algemene intelligensie te produseer, geen hoop om masjiene te skep wat werklik verstaan wat hulle doen nie – ongeag die groot omvang van ons nuutste nabootsings.
Is verstand bloot materie?
Is daar dus ’n fundamentele probleem in die soeke na KAI? Word daar een of ander aanname gemaak wat navorsers se pogings verdoem om die menslike verstand weer te gee deur middel van mikroskyfies en netwerke – een of ander ontbrekende element wat ware AGI vir altyd buite ons bereik hou?
Pogings om werklik menslike intelligensie te skep en die gepaardgaande eienskappe daarvan – bewussyn, vrye wil en abstrakte denke – se oorsprong is van die begin af gegrond in fundamentele materiële aannames. Navorsers aanvaar as vanselfsprekend dat die materiële wêreld – die fisiese materie en energie van die heelal en die fisiese kragte wat daarop inwerk – ál is wat aan die werklikheid verbonde is. Hulle werk berus op die idee dat materie in wese, ál is wat nodig is vir verstand.
Materie het ’n uitwerking op die menslike verstand. Mense is fisies-chemiese wesens. Soos die res van die skepping rondom ons, bestaan ons uit verskillende rangskikkings van atome en molekules. Die menslike brein – wat ’n wesenlike rol in die menslike verstand speel – is duidelik ’n fisiese voorwerp, wat bestaan uit ’n groot netwerk neurone wat betrokke is by ingewikkelde chemiese en elektriese oordragte. Neurowetenskaplikes beskik oor baie instrumente wat hulle in staat kan stel om te kan meet hoe verskillende dele van die brein aktiwiteite en gevoelens, kan opwek. Studies toon dat skade aan die brein ’n mens se persoonlikheid dramaties kan verander en navorsers het bevind dat die toepassing van ’n magnetiese veld op ’n gedeelte van die brein selfs die morele keuses wat ’n persoon maak, kan beïnvloed. Ongetwyfeld speel ons fisiese brein ’n belangrike rol om ons te maak wie ons is.
Die gebruik van wilskrag om fisiese probleme te oorkom
Daar is oorvloedige bewyse dat ons verstand ook meer behels as ons brein – dat iets buite die fisiese, chemiese beperkings van die menslike brein ook kragtig bydra tot die menslike verstand.
In hierdie verband wys neurochirurg, Egnor, gereeld na die werk van twee beroemde individue in sy veld van breinwetenskap: Roger Sperry en Wilder Penfield.
Roger Sperry het die Nobelprys vir Fisiologie en Geneeskunde gewen vir sy beroemde gesplete brein-navorsing met proefpersone waarvan die corpus callosum geskei is – die konneksie tussen die regter- en linker-helftes van hulle brein is heeltemal verwyder. Dit het gelyk asof die proefpersone heeltemal goed funksioneer, selfs met die een helfte van die brein wat glad nie in staat was om met die ander helfte te kommunikeer nie. Sperry se toetse het interessante besonderhede blootgelê – soos gevalle waar proefpersone nie ’n voorwerp kon beskryf wat net deur een oog gesien kon word nie, aangesien die brein se taalsentrum in dié halfrond geleë was sónder toegang tot die beeld wat die oog gesien het.
Hy het egter ook gevind dat sy proefpersone se normale redenasies en abstrakte denke ongeskonde was. Chirurgie het die inligting beperk tot die inligting waartoe hulle toegang gehad het – byvoorbeeld die regteroog kon slegs inligting aan die linkerhemisfeer oordra – maar die vermoë om te redeneer, gevolgtrekkings te maak en konseptueel te dink, was nie in die minste geraak nie, alhoewel hulle brein letterlik in twee verskillende dele verdeel was – nie in staat om met mekaar te kommunikeer nie.
Om sy navorsingsresultate volledig te verklaar, het Sperry tot die gevolgtrekking gekom dat ’n mens die area van idees en bewussyn nie net as ’n neweproduk van die chemikalieë en molekules van die brein behoort te beskou nie, maar eerder as lewensbelangrike elemente wat op daardie chemikalieë en molekules reageer. “Geestelike kragte in hierdie spesifieke skema word as’t ware in beheer geplaas”, het Sperry afgesluit. “Dit gee die bevele en meet en pas die fisiologiese en fisies-chemiese prosesse aan tot ’n groter mate as wat die genoemde prosesse dit beheer. Dit is ’n metode wat die verstand weer in sy oorspronklike plek plaas, óór materie in ’n sekere sin – nie onder, buite of langsaan nie”.
Deur die menslike verstand bloot te verminder tot die fisiese komponente van die brein volgens die formulering van Sperry, word daar nie rekening gehou met die komplekse aktiwiteit van menslike denke, bewussyn en wil nie. Alhoewel Sperry nie ontken dat mense ’n fisiese brein het soos dié van diere nie, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat sy siening van die verstand “wel ontken dat die hoër menslike eienskappe in die verstand en aard van die mens dieselfde is, of verminderbaar is tot die komponente waaruit dit vervaardig is”.
Nog ’n voorstel dat “verstand” die fisiese brein oorheers, word gevind in neurochirurg Wilder Penfield se vooruitgang op die gebied van breinchirurgie om epilepsie te beheer. Penfield het bevind dat, wanneer hy breinoperasies op wakker pasiënte uitgevoer het, hy bepaalde verskynsels kon uitlok deur verskillende dele van die brein te stimuleer. Pasiënte sou besienswaardighede, reuke en ander fisiese gewaarwordinge ervaar – selfs emosies – wat veroorsaak was deur niks anders as sy elektriese stimulasie van dele van die brein nie.
Tog het hy opgemerk dat een resultaat nooit uit sy werk voortgespruit het nie: Geen stampe of stote van die brein het ooit abstrakte gedagtes by ’n pasiënt opgelewer nie. Dit het nooit ’n beweging in die pasiënt se intellek of konseptuele denke opgelewer nie. Terwyl fisiese gewaarwording uit die brein van sy pasiënte ontlok kon word, kon abstrakte gedagtes en konsepte nie voortgebring word nie. Om die waarheid te sê, aangesien pasiënte met hom kon kommunikeer en redeneer oor die denkbeeldige sensasies wat hy uitgelok het, het hy begryp dat hulle menslike intellek, redenasie en wil op ’n sekere manier geskei was van die werk wat hy aan die fisiese brein gedoen het.
Alhoewel Penfield sy loopbaan as materialis begin het – omdat hy geglo het dat daar niks meer aan die menslike verstand was as die versameling van materiaal waaruit die brein bestaan nie, het sy 30-jarige loopbaan in neurochirurgie hom gedwing om die posisie te heroorweeg en met die teendeel af te sluit: Dat iets, wat bestaan buite die brein, die menslike verstand voltooi en bydra tot die hoër vermoëns daarvan.
Die ontbrekende bestanddeel
Die idee wat Sperry en Penfield deur middel van hulle navorsing ontwikkel het naamlik dat die menslike verstand nie heeltemal tot die fisiese komponente van die brein gereduseer kan word nie en dit ’n addisionele element besit – word in die geïnspireerde bladsye van u Bybel weerspieël. Daar word aan ons vertel dat “dit die Gees in die mens [is], en die asem van die Almagtige wat hom verstandig maak” (Job 32:8). Dit is inderdaad die gees in die mens wat hom kennis en begrip gee: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God” (1 Korinthiërs 2:11). Dit is nie ’n onsterflike siel nie; dit is ’n noodsaaklike Godgegewe element van die sterflike menslike verstand wat mans en vrouens maak wie en wat hulle is.
Die gees in die mens en die merkwaardige menslike brein lewer saam die verskynsel wat ons as die menslike verstand ken. Net soos ’n speler wat by ’n klavier sit, musiek voortbring, werk die menslike gees en brein saam om gedagtes, planne en bewussyn moontlik te maak. Skei die speler en die klavier en die musiek stop. Skei ook die menslike gees van die menslike brein en gedagtes hou op. Die boek Psalms beskryf inderdaad die menslike toestand by die dood: “Sy gees gaan uit, en hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:4).
Oorweeg die verskil tussen ’n “speler-klavier” – ’n klavier met ’n draaiende trommel wat vooraf geprogrammeerde instruksies weergee om die klawers te bespeel – en ’n ervare musikant wat by ’n fyn ingestelde instrument gaan sit om ’n meesterstuk uit te voer. Daar mag dalk aanvanklik ’n oppervlakkige ooreenkoms wees, maar wanneer die vooraf-geprogrammeerde note klaar gespeel het, eindig die ooreenkoms. So het ook alle menslike pogings om KAI te skep, tekortgeskiet aan die wonderlike werklikheid van die menslike verstand.
Ons mag dalk – in werklikheid sal ons dit sekerlik doen – al hoe nader aan oortuigende namaaksels van die egte ding kom. Die droom om die wonder van die menslike verstand werklik en volledig weer te gee op die gebied van silikon en koperdraad, sal waarskynlik net dít bly – ’n droom.
Beperkte KI en onbeperkte menslikheid
Die menslike brein sal voortgaan om fassinerende benaderings van homself te skep, namate wetenskaplikes meer komplekse sagteware ontwikkel wat met vlees-en-bloed-mense kan kommunikeer. Dit sal sekerlik ’n al hoe omvattender toepassing skep van wat nou beperkte probleemoplossende kunsmatige intelligensies is.
Hoe meer ons egter vorder deur onsself na te maak deur middel van KAI, hoe meer sal ons ontdek wat die komplekse nuanses van ons eie menslike beeld betref. Hoe meer ons leer in ons pogings om ons menswees te “reproduseer” hoe meer leer ons oor onsself – met inbegrip van die wonderlike ontdekking dat ons baie meer is as ’n samestelling van chemikalieë wat geproduseer word deur herhaalbare fisiese prosesse. Ons is eintlik meer as die som van ons fisiese dele. Ons is inderwaarheid iets verstommends.
Inderdaad, hoe gepas is hierdie woorde wat aan Wilder Penfield toegeskryf word: “Hoe min weet ons van die aard en gees van die mens en God. Ons staan nou voor hierdie innerlike grens van onkunde. Indien ons dit sou oorbrug, mag ons dalk die betekenis van lewe ontdek en die mens se bestemming verstaan”. God openbaar inderdaad wat die mensdom nié kan ontdek nie – nie net dat daar ’n gees in die mens is nie, maar ook dat die mensdom ’n wonderlike eindbestemming het wat deur ons Skepper bepaal is.
Daardie bestemming sal uiteindelik nie gevind word in die mens se stryd om tegnologie na sy eie beeld te skep nie, maar in sy herontdekking dat hy self gemaak is na die beeld van ’n Ander Een. Met een voet in die fisiese ryk en een in die geestelike ryk, dra ons die vingerafdrukke van ons Goddelike Ontwerper op ’n wyse wat ons met verwondering behoort te vervul en te laat nadink: Vir watter doel het Hy ons so gemaak? Hoe het ons ons lewens in harmonie gebring met daardie doel?
Ons pogings om iets na ons eie beeld te skep, behoort die nederige betekenis van die feit dat ons volgens Sy beeld gemaak is, te beïnvloed.