Nie lank gelede nie, het ek my dogter se kollege openingseremonie bygewoon. Dit was 'n opwindende dag vir studente wat baie hard gewerk het om hulle studies te voltooi en dit was bemoedigend om te dink aan die harde werk en vasberadenheid wat dit van elkeen van daardie gegradueerdes geverg het om net daar te wees.

Die afskeidsrede is gelewer deur 'n jong man wat 'n merkwaardige verhaal vertel het van uitdagings en struikelblokke wat hy moes oorkom. Dit was nogal aandoenlik. Hy was daar saam met sy vrou en sy jong dogter en ek kon nie help om hierdie man te bewonder vir wat hy reeds in sy lewe bereik het nie.

Teen die einde van sy toespraak het hy gepraat van die vrouens in sy lewe – sy moeder, sy dogter, sy vrou – hoe belangrik hulle vir hom was. Daarna het sy toespraak egter 'n verbysterende wending geneem. Hy het die manne in die gehoor toegespreek en gesê: “Regtigwaar, die beste ding wat ons vir die vroue in ons lewens kan doen, is net om uit die pad te kom”.

Ek het by myself gedink, Nou toe nou! wat 'n skokkende stelling! Van enige raad wat hy aan 'n generasie jong manne kan gee, is dít nou die beste advies wat hy kon aanbied? Ek het aan die duisende manne in die gehoor gedink en myself afgevra: Gaan dit hulle inspireer om groot drome te droom, om leiers van die samelewing te wees en daarna te streef om te dien en van hulleself aan hulle gesinne te gee?

Ek het my kop geskud en van daardie toespraak af weggestap. Nie omdat ek daarteen is dat mans leer om die vroue in hulle lewens te eer, te respekteer en te bewonder en om hulle die ondersteuning en die ruimte te gee om hulle heel beste te wees nie – nee, net die teenoorgestelde. Ek was eerder teleurgesteld dat die geleentheid verby gegaan het om beide mans en vrouens daarop te wys dat hulle mekaar kan help. 'n Huweliksvennootskap verg spanwerk en opoffering van die man sowel as die vrou.

Wat is dus die beste wat 'n man kan doen? Die antwoord kan gevind word deur om 'n man se ware doel te verstaan – daardie doel word in die Bybel geopenbaar.

God het mans gemaak om manne te wees. Hy het vroue gemaak om vrouens te wees. Hy het ons in gesinne geplaas en – vir baie van ons – in huwelike. Hy het mans instruksies gegee oor hoe om hulle verhoudings te laat werk. Wat is dus die beste wat 'n man kan doen om sy Godgegewe potensiaal te bereik? In hierdie kort artikel sal ons drie belangrike punte oorweeg.

 

Punt een: Wees lief vir u vrou en respekteer haar

U mag sê: “Elke getroude man weet dat hy dit behoort te doen”. Wag en dink net eers vir 'n oomblik. Wanneer ons rondkyk en soveel ongelukkige huwelike en egskeidings sien, word daar dalk nie oor die algemeen na so 'n liefde gestreef as wat sommige mense dalk mag aanneem nie. Heel moontlik verstaan ons nie behoorlik wat dit beteken om ons vrouens lief te hê en te respekteer nie. Dit is 'n belangrike onderwerp vir getroude mans, sowel as vir diegene wat nog nie getroud is nie, wat een of ander tyd in die toekoms die gelukkigste huwelik moontlik wil hê.

Let op na die statistieke. In die Verenigde State het huwelike wat in die 1950's voltrek is 'n 25 persent waarskynlikheid gehad om binne 25 jaar beëindig te word: Huwelike wat in die 1970's voltrek is, het 'n 50 persent waarskynlikheid gehad om binne dieselfde tyd beëindig te word. Dit is 'n Amerikaanse tragedie.

Dit is egter nie net in die Verenigde State waar soveel huwelike misluk nie. 'n Soortgelyke tendens kom in baie ander nasies voor. In Engeland en Wallis het byvoorbeeld 35 persent van alle huwelike wat in die jaar 2000 voltrek is reeds in 2017 in mislukkings geëindig. Dit is nie nét 'n Amerikaanse probleem nie en ook nie nét in die Britse Eilande nie. Psychology Today het inderdaad in 2019 berig dat tussen 1970 en 2008 die egskeidingsyfer regoor die wêreld meer as verdubbel het. Die tema van die artikel was getiteld: “Egskeidingsyfers regoor die wêreld: 'n liefdesverhaal”, maar dit is die verhaal van gebroke liefde, 'n pynlike en hartverskeurende ramp.

Wat is dus fout met hedendaagse huwelike? Heel moontlik weet mans nie wat “wees lief vir u vrou” regtig beteken nie. Baie van hulle het die feit nie raakgesien dat die Bybel praktiese en duidelike voorskrifte aan mans gee oor liefde en die huwelik nie. Let op wat die apostel Paulus geskryf het: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit” (Efésiërs 5:28-29).

Paulus sê dat indien u getroud is, is dit nodig dat u u vrou behandel soos u self behandel wil word. Praat met haar. Wees bewus van haar behoeftes. Wees geduldig en bedagsaam selfs wanneer sy moedeloos of ontsteld is. Dit is wat liefde is. Dit is nie net 'n verbygaande gevoel of romantiese begrip nie; dit is 'n verbintenis om vir 'n ander mens om te gee soos wat u vir uself sou sorg – in goeie of in slegte tye. Dit word weerspieël in die apostel Petrus se soortgelyke opdrag: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Petrus 3:7).

Beskerm die swakkere geslag

Sommige mense mag dalk met Petrus 'n probleem hê omdat hy sê dat vroue die swakkere geslag is, maar dit is regtig nie moeilik om te verstaan nie. Gedurende 2022 het die wêreld van mededingende swem hierdie eenvoudige feit erken in reaksie op 'n man wat as 'n transgender “vrou” in universiteitsbyeenkomste begin deelneem het en in die proses het hy van 'n middelmatige manlike mededinger gevorder tot 'n rekordbreker in dames se byeenkomste. Die “World Swimming Coaches Association” het in sy beleid bepaal dat transgender “vroue” nie teen vroulike swemmers mag meeding nie en het gesê wat voor die hand liggend behoort te wees: “Die gemiddelde verskille in krag, stamina en liggaamsbou tussen die geslagte is beduidend” (“Position Statement on Transgender Swimming” WSCACoach.org). Daar is natuurlik uitsonderings, maar oor die algemeen is dit die waarheid.

Waarom het God dus mans geskep om groter en sterker te wees? Om vroue te oorheers? Om hulle fisies of emosioneel te onderdruk? Nee, dit was eerder God se bedoeling dat 'n man leer om die vrou aan wie hy sy lewe toegewy het te versorg, aan te moedig en te beskerm.

Sulke verbintenisse was voorheen in die Westerse beskawing as vanselfsprekend aanvaar. “Vrouens en kinders eerste!” het die ongeskrewe maar vaste reël in rampe op see geword. Hierdie beleid word die “Birkenhead Dril” genoem na aanleiding van die bekende toepassing daarvan toe die Royal Navy se koninklike skip, die HMS Birkenhead, gesink het en ontruim moes word waartydens die skip se kaptein daarop aangedring het dat plekke op die reddingsbote eerste aan die vroue en kinders aan boord, gegee word.

Dit was ook die geval toe die RMS Titanic gesink het en baie mans hulle plekke op reddingsbote aan hulle vrouens en kinders afgestaan het en in die ysige water van die Noord-Atlantiese Oseaan gesterf. Dit is maklik om te wonder of ons as 'n samelewing die punt bereik het waar vandag se mans geen sin vir verantwoordelikheid voel om vroue in 'n noodgeval soos dié te beskerm nie. Is dít wie ons is?

Waar moet mans dan die waardes vind wat hulle leer om opofferings te maak – soos om 'n plek in 'n reddingsboot prys te gee – sowel as om getrou en toegewyd te bly wanneer hulle vrouens vertroosting en versorging nodig het? Die antwoord word gevind in 'n tweede uitdaging vir mans om hulle rol na die beste van hulle vermoëns te vervul?.

 

Punt Twee: Vrees God en bewaar Sy Gebooie

Daar het ongeveer 3,000 jaar gelede 'n baie wyse koning geleef. Sy reputasie vir wysheid het trouens wyd en syd versprei. Daar is baie van sy leringe in die Bybel bewaar. Sy naam was Salomo en hy het hierdie eenvoudige en kragtige raad gegee: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13).

“Mens” beteken hier “mensdom” – mans sowel as vrouens – die hele mensdom. Laat ons net vir 'n oomblik vra wat sou gebeur indien elke mens/man vandag so sou optree. Hoe sou hulle optrede die wêreld vir vroue verander?

Indien alle mense God gevrees het, sou daar in die eerste plek geen misdaad gewees het nie. Daar sou geen huishoudelike geweld wees nie. Vroue sou in 'n donker en verlate stegie kon afstap sonder om te vrees vir geweld.

Ons behoort te verstaan dat “vrees God” nie van ons verwag om verskrik of bang vir Hom te wees nie. Hy wil eenvoudig hê dat ons Sy ontsagwekkende krag en wysheid erken en aan Hom die gehoorsaamheid sal gee, nie net omdat Hy dit verdien nie, maar ook om ons veilig en beskerm te hou. Ons behoort te verstaan dat Hy, as ons Skepper, ons beter ken as wat ons onsself ken. Hy weet wat ons nodig het en wat ons op die lange duur werklik gelukkig sal maak.

Wat van die “Gebooie” wat Hy ons vra om te onderhou? Dit is die Tien Gebooie soos ons dit vind in die Ou Testamentiese boeke, Exodus en Deuteronómium. Alhoewel daar dikwels in die hedendaagse lewe negatiewe betekenisse aan die Gebooie geheg word wat die foutiewe wanpersepsie laat ontstaan dat dit vanaf 'n ongevoelige, veeleisende, gebiedende God kom wat liefdeloos en ongevoelig is, is die waarheid egter dat dit ons leer hoe om lief te hê. Dink aan die eenvoud van die sewende Gebod: “Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:14).

“Owerspel” is 'n woord wat ons nie gereeld in vandag se samelewing hoor nie, alhoewel die praktyk daarvan baie algemeen voorkom. Dit beteken bloot om seksuele verhoudings te hê met iemand met wie u nie getroud is nie. Indien mans hierdie een-voudige opdrag met die nodige erns opneem as wat dit verdien, sou vroue veilig wees in die wete dat hulle huwelike veilig sou wees.

Jesus het die Gebod uitgebrei

Daar is 'n verdere stap, soos dit deur Jesus Christus geleer word, wat verduidelik dat daar benewens fisiese owerspel ook owerspel van die hart is: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matthéüs 5:27).

Pornografie is 'n vloek in ons Westerse nasies. Dit is nie nét 'n vloek vir mans nie – vrouens raak ook daaraan verslaaf. By die Amerikaanse Sosiologiese Vereniging se jaarvergadering in 2016 het sosioloë hulle kollegas verbaas met die navorsing wat gedokumenteer is dat terwyl mans wat pornografie kyk hulle kanse op egskeiding verdubbel het, vroue wat pornografie kyk se kanse op egskeiding verdriedubbel het (“Divorce rates double when people start watching porn,” Science.org, 2016). Hierdie bevinding herinner ons aan die bevindings van die American Academy of Matrimonial Lawyers, wat tydens 'n vergadering in 2002 bevind het dat 'n “'obsessiewe belangstelling in Internetpornografie' 'n beduidende faktor was in 56 persent van hulle egskeidingsake die vorige jaar” (“National Review: Getting Serious on Pornography,” NPR.org, 2010).

Wag 'n oomblik en deurdink hierdie onderwerp. Wat sou gebeur indien mans van jongs af geleer word dat dit nie net verkeerd is om hoerery en egbreuk te pleeg nie, maar dat dit selfs verkeerd is om wellustige gedagtes teenoor 'n vrou te koester? Wat sou gebeur indien ons kultuur ouers se pogings sou ondersteun om hulle kinders te beskerm teen onvanpaste beelde in die media, in rolprente en op die Internet? Wat 'n ander wêreld sou dit nie wees nie.

Manne, terwyl u hierdie artikel lees, dink oor u verhoudings. Indien u 'n probleem met pornografie ervaar, kry asseblief hulp. U kan en moet dit oorkom. Pornografie is sonde – sonde vernietig vertroue. Sonde skeur huwelike uitmekaar. Ja, God vergewe beslis en Hy sal vergewe – indien ons ons bekeer en vergifnis vra. Ons moet egter eers erken dat ons gesondig het en ons moet 'n innige begeerte hê om dit met die hulp van God te oorkom.

Kom ons streef as mans daarna om meer te doen as om net “uit die pad te kom” van die vroue in ons lewens. Wat daarvan om ons lewe aan God te wy? Wat daarvan om ons te onderwerp daaraan om Sy Wette te onderhou, sodat ons vrouens en ons gesinne geseën sal word? Indien ons dit doen, sal ons verhoudings positief ontwikkel. Die vroue in ons lewens sal meer vertroue in ons kry. Óns sal gelukkiger wees en húlle sal gelukkiger wees. Wanneer mans leer om hulle rol na die beste van hulle vermoëns te vervul, sal vroue net soveel die vrugte pluk as hulle mans.

'n Paar jaar gelede het 'n bekende maatskappy vir manlike velsorgprodukte 'n storm ontketen met 'n advertensieveldtog met die titel: “The Best a Man Can Be”. Die bedoeling was dat die meeste mans boelies is wat sagter behoort te word. Ons het egter agtergekom wat régtig nodig is, is dat mans sterker word in die waardes wat werklik hulle verhoudings met vroue ondersteun – nie dat hulle boelies of bespotlik gemaak word nie, maar dat hulle die beste verpersoonliking wat God wil hê ons moet wees, sal ontwikkel. Dit bring ons by 'n derde belangrike sleutel om ons rol na die beste van ons vermoëns te vervul?

 

Punt drie: Verbind u daaraan om soos Christus te word

Tweeduisend jaar gelede was daar 'n man met die naam Jesus wat hierdie aarde bewandel het en Christus genoem is. Baie mense in ons wêreldse, humanistiese kultuur van vandag wil nie van Hom hoor nie, maar Hy was die verpersoonliking van opregte en ware manlikheid. Hy was die standaard. Trouens, Hy was God in die vlees. Hy was vir alle ewigheid by die troon van die Vader en Hy het Homself van sy Goddelikheid ontledig. Paulus skryf van Jesus Christus: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Filippense 2:6-8).

Hy was by die troon van God, by die Vader. Hy het dit vir ons onthalwe prysgegee – deur vlees en bloed te word, om saam met ons te wandel. Hy het Homself verootmoedig.

Hy was egter nie 'n swakkeling nie. Daar is 'n algemene wanopvatting van Jesus Christus as 'n soort vroulike individu wat sag en swak was. Miskien is dit omdat baie prente Hom so uitbeeld. Dink egter daaraan dat Hy 'n skrynwerker was. Hy was 'n bouer. Destyds was daar geen kraggereedskap nie. Sy hande was sterk en gewoond aan werk.

Weereens, die feit dat Jesus Christus opreg na ander mense se belange omgesien het, het nie van Hom 'n swakkeling gemaak nie. Trouens, hier is 'n voorbeeld van die tipe mens wat Hy was: “EN Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi” (Matthéüs 21:12).

Jesus Christus was nie 'n boelie nie – maar Hy was ook nie bang om ferm op te tree wanneer dit nodig was nie. Die tempel was die huis van God. Nadat Hy bedrieërs daar gevind het wat die mense uitbuit en bedrieg, het Hy hulle uitgejaag. Let op wat Paulus aan die broers in Éfese geskryf het: “... totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efésiërs 4:13).

Indien u 'n man is wat omgee vir u gesin en u vrou, is u daartoe verbind om soos Christus te word. Indien u 'n verskil in u samelewing wil maak en iets tot stand wil bring wat die moeite werd is, word dan soos Christus. Indien u 'n sterk en bestendige voorbeeld wil stel vir ander om te volg, word soos Christus. Hy is ons standaard om na te volg. Hy is die maatstaf. Hy gee die pas aan. Wat ons, veral vrouens, in hierdie wêreld nodig het, is mans soos Christus.

Respekteer vroue soos wat Jesus gedoen het

Ons vind een van die aangrypendste en kragtigste gedeeltes in die Bybel aan die einde van Christus se lewe:

“En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdaléna. En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem” (Johannes 19:25-27).

Jesus het die hele wêreld liefgehad – elke mens. Dit is waarom Hy Sy lewe gegee het. Die rede waarom Hy mense toegelaat het om Hom dood te maak was sodat ek en u 'n ontsnappingsroete uit sonde kan hê.

Terwyl Jesus daar aan die kruis gehang het, het Hy in Sy laaste oomblikke nie die vrou vergeet wat aan Hom geboorte gegee en Hom grootgemaak het nie. Hy het voordat Hy gesterf het seker gemaak dat Sy moeder versorg sou word – 'n laaste daad van 'n dinamiese, kragtige, man wat omgee.

Moenie toegee aan die hedendaagse siniese mening nie – die idee dat die Bybel vroue minderwaardig ag en mans aansê om dit te doen nie. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die Bybel hou die manne aanspreeklik om vroue goed te behandel en daag die mans uit om dit met God se hulp te doen. Indien u 'n man is, dink aan u lewe. Dink daaraan hoe u ander mense behandel. Dink daaraan hoe is u verhouding en interaksie met vroue – veral u vrou, indien u getroud is. Voldoen u aan die standaard van Jesus Christus? Indien u 'n vader van jong seuns is, is dit u verantwoordelikheid om elkeen van hulle te leer hoe om 'n ware man te wees – nie net 'n oordrewe vleispaleis van 'n filmheld nie, maar 'n opregte man soos Jesus Christus. Ons moet ons seuns leer om vroue te eer en te respekteer, nie net “uit hulle pad uit te kom nie”.

Indien u 'n vrou is? Wat van die mans in u lewe? Ingeval u 'n man het, respekteer hom. Waardeer hom. Waardeer wat hy vir u doen. Sê vir hom u is dankbaar vir dit wat hy vir u opoffer. Maak u seuns groot om self dapper en getroue mans te wees wat vroue respekteer en hulle eie manlikheid waardeer.

Ons leef in moeilike tye. God is egter op die uitkyk vir mans en vrouens wat uitdagings die hoof kan bied. Ons lees: “... want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9).

Manne, om uit die pad te kom is nie die antwoord nie. Dit verdoesel eerder die belangrike punt: Ons moet ophou om volgens Satan se manier te leef en liewer volgens Christus se voorbeeld te leef om sodoende te word wat God wil hê ons moet wees, ter wille van die vroue in ons lewens.