Hoe kan u werklik die traumatiese gebeure verstaan wat die ganse wêreld begin affekteer? Hoe kan u sin maak uit van die moeilikhede wat klaarblyklik veral die Amerikaners en Britse afstammelinge tref wat oor die wêreld versprei is? Wat is die noodsaaklike “sleutel” wat u sal help om die profetiese betekenis van die snelbewegende gebeure waaroor elke dag in die koerante en op televisie-nuus berig word, ten volle te snap?

Kan die antieke profesieë wat die Almagtige God eeue gelede geïnspireer het, vir u “bewaarheid” word? Kan dit u help om ’n sin vir begrip en doel in u lewe te vind? Kan dit u help om te weet hoe om goddelike beskerming te soek en te vind in die jare wat voorlê?

Terwyl u hierdie belangrike vraagstukke oordink, moet ek hierdie uitdaging aan u bied: U moet gewillig wees om vir uself te bewys dat die Bybel – in sy oorspronklike geskrifte – werklik die geïnspireerde Woord van u Skepper is. U moet gewillig wees om te verstaan dat die grote God wat ons lewe en asem gee, hierdie boek geïnspireer het en dat God in die Bybel sê wat Hy bedoel en bedoel wat Hy sê!

Waar Jesus Christus praat van dít wat die meeste mense die Ou Testament noem, sê Hy dat: “Die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35). Jesus sê ook: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Weer sê Jesus waar Hy van die Ou Testament – die enigste geskrewe Skrif wat toe beskikbaar was – praat: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Ongeveer ’n kwart van die hele Bybel is profesie. Dit is noodsaaklik dat ons waarlik God se openbaring aan die mensdom verstaan en begryp hoe Hy die opkoms en ondergang van nasies sal lei – hoe Hy wêreldgebeure en die besluite van mense sal lei om Sy plan hier op aarde mee te bring en die hele mensdom die lesse te leer wat ons moét leer ten einde God se uiteindelike doel vir die mens se bestaan te verwesenlik.

Die Ewige God het aan koning Nebukadnesar van ouds vertel dat hy uit sy amp verwyder en grootliks verneder sou word “totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:32). Die Bybel onthul duidelik dat ons Skepper in beheer is van belangrike wêreldgebeure – dat Hy groot nasies op die been bring en hulle ook tot ’n val bring om Sy doel te volbring. God se Woord vertel ons ook: “Die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem” (Hebreërs 12:6). God dui herhaaldelik aan dat Hy, ons Skepper, ganse nasies sal “tugtig” of straf indien nodig, sodat hulle in die proses lesse leer.

God beloof om die toekoms te openbaar

God se geïnspireerde profeet Amos skryf: “Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ’n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:6-7). Die grootste profeet van alle tye, Jesus Christus, sê dat die verskriklikste verdrukking in menseheugenis Sy Wederkoms onmiddellik vooraf sal gaan. Nadat Hy die eindtyd gebeure van toenemende oorloë, hongersnood, siekte-epidemies en massiewe aardbewings beskryf het, sê Jesus: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheus 24:21-22).

Die meeste studente van profesie versuim om te vra: “Sal hierdie Groot Verdrukking alle dele van die aarde ewe veel raak? Of sal dit hoofsaaklik spesifieke nasies raak, voor die basuinplae en sewe laaste plae, wat later toeslaan, die hele wêreld sal tref en die ganse mensdom sal verootmoedig, net voordat Jesus terugkeer?”

Die antwoord is dat hoewel baie nasies betrokke gaan wees in die komende Verdrukking – party as “werktuie” wat God sal gebruik om ander te straf – onthul die Bybel dat die eerskomende Groot Verdrukking hoofsaaklik sal fokus op die tugtiging van God se “geboorteregvolke”. God het aan hierdie volke die grootste seëninge en grootste mag gegee in moderne geskiedenis, tog is hulle vinnig besig om hul rug te keer op die God wat aan hulle die seëninge gegee het. Trouens, hierdie nasies begin om God se naam en alles waarvoor Hy staan, te “verag”!

Ons moet dringend te wete kom wie God se geboorteregvolke is. Ons eie lewens kan daarvan afhang, want die Groot Verdrukking – die grootste verdrukking in menseheugenis – is bestem om binnekort hoofsaaklik op hierdie einste mense toe te slaan.

Die “geboorteregvolke”

Toe God vir Abraham sê om Ur van die Chaldeërs te verlaat, sê Hy: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Genesis 12:1-3).

Later sê God vir Abram (soos hy eers genoem is): “Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word” (Genesis 13:14-16). Tog, nes liberale leraars probeer het om baie van die Bybel “weg te vergeestelik”, het hulle ook probeer om hierdie teksverse – en die gevolglike beloftes van God – weg te verduidelik deur te sê dat dit slegs van toepassing is op die relatief klein nasie van antieke Israel, of slegs op die geestelike seëninge van die Kerk. God praat egter duidelik van fisiese seëninge, soos nasionale grondgebied, militêre mag en beheer oor die “poorte” van hul vyande. Hierdie ontsagwekkende beloftes kan nie nietig verklaar of “weg vergeestelik” word nie!

Byvoorbeeld: Nadat Abraham sy algehele onderdanigheid en vertroue in God bewys het deur sy bereidwilligheid om sy seun, Isak, te offer, sê die Ewige God: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem” (Genesis 22:16-17).

Aan Rebekka, wat later die vrou van Abraham se seun, Isak, sou word, is hierdie seën gegee: “Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!” (Genesis 24:60). Van watter poorte kan hierdie profesieë praat? Watter soort poort kan God se geboorteregvolke help om beide ekonomiese en militêre mag in verskillende wêrelddele te verkry en te behou?

Indien u militêre strategie, geopolitiek en wêreldhandel bestudeer het, sou u herken dat die “seestrate” die belangrikste – en bykans die enigste – poorte is wat die afgelope honderd jaar van enige belang was. Aan wie is daar beheer gegee oor bykans al hierdie seestrate? Aan Brittanje en die VSA!

Tot onlangs het Amerika die Panamakanaal beheer, een van die belangrikste seestrate op aarde – en die Britse volk het wêreldwyd beheer gehad oor die ander hoof seestrate! Hulle het die Suezkanaal, Singapoer en die Malakka Seestrate, die Straat van Hormuz en die Bab el Mandeb en sodoende die suidelike ingang tot die Rooisee beheer, soos die Suez die noordelike ingang beheer het. Die Britte het ook die belangrike vlootbasis in Simonstad, hier in Suid-Afrika, beheer, om die roete om die suidpunt van Afrika te beskerm. Hulle beheer steeds Gibraltar (wat die westelike ingang tot die Middellandse See bewaak, asook die Falkland Eilande (wat gebruik is om skeepvaart om die suidpunt van Suid-Amerika te beheer), tog loop hierdie laaste twee poorte selfs nou die gevaar om uit Britse beheer te ontglip. Hou die daaglikse nuus dop!

“So, wat daarvan?” kan party mense vra.
Die antwoord is dat God aan die Amerikaanse en Britse afstammelinge ongekende hulpbronne en welvaart gegee het, asook hierdie “poorte” om handel en vlootoptrede oral oor die wêreld te beheer – om hulle in staat te stel om uit te styg tot ’n vlak van mag en voorspoed wat veel verder strek as dié van die Romeinse Ryk of enige ander groep van nasies in menseheugenis!

Hierdie feit mag nie “weg vergeestelik” word nie!
As gevolg van Abraham se gehoorsaamheid en God se groot doel, is hierdie ontsagwekkende seëninge deur Abraham, Isak en Jakob na die hedendaagse afstammelinge van Josef oorgedra, naamlik die Amerikaanse en Britse afstammelinge. Diegene van ons wat gewillig is om te verstaan, moet groot dank, lofprysing en aanbidding skenk aan die Ewige God, dat Hy Sy plegtige beloftes hou en Sy liefde en mag in hierdie laaste dae van menseheugenis toon!

Hoe God se belofte na ons oorgedra is

In Sy geïnspireerde Woord spel God Sy beloftes van nasionale grootsheid aan Abraham uit en brei daarop uit deur vir sy kleinseun te sê: “Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem. Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom” (Genesis 35:10-11).

Die naam “Israel” is aan Jakob en sy nageslag toegeken. Watter van Jakob se nasate sou voortaan die naam “Israel” dra? Die regte antwoord sal u dalk verbaas!

Die meeste mense neem aan dat “Israel” en “die Jode” sinoniem is! Hulle is egter nie! Jakob, wie se naam na “Israel” verander is, het twaalf seuns gehad. Een van hulle se naam was “Juda”, waar die Jode vandaan kom. Een van die jonger seuns se naam was “Josef”. Dit was vir hom wat Simeon, Levi, Juda en die ander broers as slaaf verkoop het. Die Bybel vertel ons dat hulle jaloers was op Josef: “En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ’n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ’n lang rok met moue gemaak. Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie” (Genesis 37:3-4).

Nadat hy in slawerny verkoop is in Egipte, het Josef opgang gemaak deur “goewerneur” te word van die ganse nasie met net Farao bó hom! Josef het ongewone vermoë gehad om mense en materiële rykdom met vaardigheid en wysheid te bestuur.

Aan die einde van Israel se lewe, lei God hom om aan Josef, nie Reuben, Juda of een van die ander ouer broers nie, die “geboortereg” erfporsie van groot rykdom en mag te gee. Juda, vader van die Joodse volk, ontvang die “septer”-belofte – dat die koningslyn en die Messias uit hom sou kom wat uiteindelik oor alle nasies sou heers (Openbaring 11:15). Let op die duidelike Bybelse bewys: “En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel – want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad” (1 Kronieke 5:1-2).

Net voordat Jakob (of “Israel”) dus oorlede is, lei God hom om sy hande op Josef se twee seuns (nie Juda nie) te plaas en aan hulle die “geboortereg”-belofte te gee (Genesis 48:14-22). Kort hierna, terwyl hy sterwend was, “het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar” (Genesis 49:1). Let daarop dat hierdie belofte in die “laaste dae”, die einde van hierdie tyd, tot vervulling sou kom. God sê van Juda, die Jood: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees” (vers 10). Juda het ongewone briljantheid in baie opsigte getoon en sou deur sy broers “geloof” (vers 8) word. Die woord Juda beteken eintlik “lof”. In die hedendaagse tye het die Albert Einsteins, Leonard Bernsteins, Alan Greenspans, Ernest Oppenheimers en talle van die wêreld se uitnemende wetenskaplikes, musici, dokters en ekonome uit die Joodse volk gekom – in verhouding veel meer as van enige ander etniese groep op aarde! Van Juda het koning Dawid en later ook Jesus Christus Self, asook die meeste van Sy Apostels gekom. Daarom verdien die Joodse volk beslis lof en respek vir hul vermoëns en bydraes tot die mensdom. Ons moet ook altyd die feit in gedagte hou dat Jesus Christus ons Verlosser – toe Hy ’n mens was – ’n Jood was.

Soos die Bybel egter duidelik toon, het die geboortereg aan Josef behoort (1 Kronieke 5:2). Wanneer ons dus Genesis 49 lees, sien ons net een of twee verse wat die lotsbestemming beskryf van die moderne nasies wat van Jakob afstam. Wanneer ons egter lees wat God Jakob geïnspireer het om oor Josef se afstammelinge te profeteer in die “laaste dae” – sjoe!

Waarom is die geboorteregbelofte vertraag?

Indien hulle die “geboorteregbelofte” beërwe het, waarom het Amerika en die Britse afstammelinge eers in die laaste 200 jaar tot ware grootsheid gekom? In Levitikus 26 waarsku God Israel dat indien hulle tot die aanbidding van afgode verval, Hy die volk “sewevoudig” vir hul sondes sou straf. Die implikasie van die Hebreeuse woord wat “sewevoudig” vertaal is, dui op die tydsduur van die straf, nie bloot die intensiteit nie, soos in Nebukadnesar se “sewe keer” (sewe jaar) van straf (sien Daniël 4:32). Wat is ’n profetiese “keer”? Openbaring 12 en 13 gebruik die uitdrukking “1,260 dae” en “tyd, tye en ’n halwe tyd” en “42 maande” uitruilbaar. Twee-en-veertig maande van 30 dae elk is gelyk aan 1,260 dae of 3 ½ jaar. Dan is dit duidelik dat 2,520 dae – twee maal 1,260 dae – gelyk is aan “sewe keer”. Numeri 14:34 en Esegiël 4:6 stel die beginsel vas dat ’n dag gelyk is aan ’n jaar in die vervulling van Bybelprofesie. Van 721 v.C, toe Israel vir die eerste keer in ballingskap gegaan het, sou hierdie “sewe keer” verlenging van hul straf vir 2,520 jaar duur – tot 1800 n.C., toe die VSA en die Britse Ryk inderdaad hul vinnige opkoms tot wêreldoorheersing begin het. God het sy belofte om Israel te seën, nagekom; Hy het dit ook vertraag volgens Sy beloofde straf!

Vir die afgelope 200 jaar of meer, het die Britse afstammelinge van die volke van die VSA, Kanada, Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika die keurgebiede van die aarde bewoon en ongeëwenaarde seëninge van voorspoed en nasionale mag ontvang. Selfs nie eens die mense van die Romeinse Ryk, toe dit op sy kruin was, het die rykdom en mag – en wêreldwye invloed – gehad waarmee Amerika en die Britse volke geseën is nie. Saam het ons die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë gewen (deur God beheer; sien “Die Weerfaktor”-artikel in hierdie uitgawe); wonderbaarlike omstandighede en ongelooflike misstappe deur ons vyande het aan Amerika en Brittanje beslissende oorwinnings in daardie groot oorloë gegee. Saam was hierdie nasies vir baie jare absoluut onoorwinlik.

Na die Eerste Wêreldoorlog moes die VSA egter toegee in die konflik in Korea en het toe werklik ’n mate van vernedering in die Vietnam-oorlog gesmaak. Amerika het gou ’n beperkte “oorwinning” behaal in die Eerste Golfoorlog (hoewel hulle nie Bagdad bereik of Saddam Hoessein uit die kussings gelig het nie). In die Tweede Golfoorlog kom Amerika egter verskriklike struikelblokke teë in hul pogings om “die werk in Irak klaar te maak”. In die maande en jare wat voorlê, sal dit baie moeilik wees – indien nie onmoontlik nie – om Irak en die res van die Islamwêreld te “demokratiseer”. Amerika moet ’n paar vreeslike lesse leer, namate hulle afdwaal van God – tog verwag baie Amerikaners nog dat die God van die hemel “hul altyd sal help” soos Hy in die afgelope geslagte gedoen het!

Onthou, die wonderlike fisiese seëninge wat Amerika ontvang het, is nie gegee as gevolg van die nasie se inherente goedheid nie. Dit het ons toegeval weens ’n hele reeks ontsagwekkende beloftes wat die Ewige God aan die Bybelse patriarge, naamlik Abraham, Isak en Jakob, gemaak het. Let noukeurig op hierdie beloftes. Onthou dat Jesus gesê het dat “die Skrif nie gebreek kan word nie” (Johannes 10:35).

Amerika en die Britse Ryk in profesie

Lees die wonderlike profesie aandagtig: “Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob – daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (Genesis 49:22-26).

Onthou, hierdie geïnspireerde profesie sê vir ons wat sou gebeur met Efraim en Manasse, Josef se seuns, wat bestem is om ’n enkele “groot” nasie en ook ’n “menigte” of gemenebes van nasies te word (Genesis 48:8-19). Hulle sou die naam “Israel” dra (vers 16)!

Waar het ons, in die laaste dae, een werklike groot nasie en ’n groep verwante volke gesien wat ’n “menigte van nasies” geword het, wat die afgelope 200 jaar almal saam geseën is met nasionale rykdom en mag bo alle ander nasies? Wanneer u oorweeg waar hierdie kragtige profesieë in hedendaagse tye vervul kon word, is dit duidelik dat slegs die VSA en volke van Britse afkoms hierdie spesifieke voorspellings kon vervul!

In hierdie laaste dae is dit duidelik dat die VSA oorweldigend die magtigste en voorspoedigste nasie op aarde is. Laat ons egter nie vergeet dat die Britse Ryk, tot en met die einde van die Tweede Wêreldoorlog, die grootste en magtigste groep van nasies was wat ooit in menseheugenis bymekaargekom het nie! Daar is dikwels gesê: “Die son sak nooit oor die Britse Ryk nie.” Hierdie magtige ryk wat bestaan het uit Brittanje, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Indië, Suid-Afrika, beide Noord- en Suid-Rhodesië (nou Zambië en Zimbabwe), Egipte, die Soedan en baie ander nasies en gebiede, het om die aarde gestrek en die lot van honderde miljoene mense gelei, een van die magtigste seevlote ter wêreld besit, die belangrikste “seestrate” op aarde beheer en sy taal, letterkunde en handel oor die hele wêreld versprei op ’n wyse wat geen ander mag tevore gedoen het nie.

Tesame was die VSA en die Britse Ryk absoluut onoorwinlik – totdat hulle van God begin wegdraai het. Die twee “broers”, Efraim en Manasse, is beheer gegee oor die meeste van die wêreld se ontwikkelde hulpbronne. Hulle deel ’n gemene taal, kultuur en godsdiens. Wanneer ’n mens die geïnspireerde profesie van Genesis 49:22-26 lees, moet jy geraak word deur die woorde van hierdie merkwaardige profesie vir hierdie twee “broeder”-nasies in die laaste dae: “Die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (verse 25-26).

Hierdie woorde stem baie ooreen met die godsdiens- en patriotiese gesange van die twee nasies wat hul gemeenskaplike seëninge “uit die diepte van ons seë, deur ons ver verlate vlaktes beskryf”. Regdeur sy toesprake en in sy skrywes, het Sir Winston Churchill kommentaar gelewer oor die merkwaardige en betekenisvolle verhouding tussen die Amerikaners en Britse afstammelinge. Een van hierdie vooruitsiende stellings is vervat in Churchill se toespraak aan die Amerikaanse Kongres op 26 Desember 1941: “As u my sal toelaat om ’n ander taal te gebruik, sal ek sê dat dié een blind is wat nie kan sien dat ’n groot doel en bestemming hieronder uitgewerk word nie, iets waaraan ons die eer het om getroue dienaars te wees. Dit is nie aan ons gegee om in die geheimenisse van die toekoms te loer nie. Tog is dit my hoop en geloof, seker en gewyd, dat in die tyd wat voorlê, die Britse en Amerikaanse volke vir hul eie veiligheid en die beswil van almal, in majesteit, geregtigheid en vrede saamstap”.

Inderdaad, soos Churchill dit gestel het, word ’n “groot doel en bestemming” hier op aarde uitgewerk. Die Amerikaanse en Britse volke is gebruik as God se “dienaars” om ’n mate van vrede en mensevryheid in die hedendaagse wêreld te bewaar – tot en met onlangse jare!

Soos ons egter al verder van God en Sy weë afdwaal, het Hy die val van die voormalige Britse Ryk meegebring. Hy het die meeste van die seepoorte weggeneem wat voorheen deur Brittanje en Amerika beheer is. Hy is tans besig om beide hierdie volke te verootmoedig namate bykans alles begin verkeerd loop in hul oorloë, namate die Amerikaanse dollar aanhou om in waarde te verminder en respek vir Amerika en Brittanje oral oor die wêreld afneem! Wat sal dus die uiteinde van dit alles wees?

God se liefdevolle regstellende straf

God het die Amerikaners en Britse afstammelinge geroep as “beskermhere” van die groot seëninge wat Hy aan Abraham belowe het. Hierdie seëninge is nie gegee omdat hulle in enige geestelike of morele sin “beter” is nie. God waarsku herhaaldelik spesifiek in baie profesieë, dat indien Sy volk hulle van Hom wegkeer, Hy hierdie seëninge sou wegneem en hulle in nasionale verdrukking en oneer sou bring! Die Groot Verdrukking wat Jesus Christus voorspel, is spesifiek voorspel om Israel en Juda in die laaste dae te tref (Jeremia 30:4-6). God sê: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word. En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (verse 7-9).

Hierdie tyd van “Jakob se benoudheid” wat op die afstammelinge van die ganse Huis van Israel sal kom, gaan beslis hoofsaaklik op die afstammelinge van Efraim en Manasse kom, wat in die eerste plek hierdie seëninge van God ontvang het!

God dui aan wanneer hulle uiteindelik gered sal word: “Vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie”. Dan ook: “Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek”. Dit is ten tye van die opstanding uit die dode wanneer koning Dawid weereens koning oor Israel gemaak sal word. Toe die profeet Esegiël geïnspireer is om die hereniging van al die stamme van Israel in Esegiël 37:24 te beskryf, sê hy: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel”. Ook vers 25: “My kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig”.

Hoewel die God van die hemel op die Amerikaners en Britse afstammelinge die grootste nasionale verdrukking in menseheugenis sal bring, sal Hy hulle uiteindelik terugbring: “Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei” (Jeremia 31:9). Nadat hulle genoeg verneder is om hul les te leer, sal God hulle red. Intussen moet ons almal besef dat God Sy woord gehou het! Hy het aan die seuns van Abraham deur die seuns van Josef – Efraim en Manasse – die ontsagwekkende seëninge gegee wat Hy beloof het. Wanneer ons die noodsaaklike “sleutel” tot ons nasionale oorsprong verstaan, moet ons ons nie net verheug nie, maar ook waak daarteen dat ons, individueel, beskerm mag word van hierdie komende Groot Verdrukking, mits ons ons waarlik bekeer en tot God wend. Toe Jesus Christus van die vreeslike gebeure praat wat voorlê, sê Hy: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Elkeen van ons moet verstaan en hierdie belangrike “sleutel” tot begrip van die eindtydprofesie vir onsself bewys!