Billy Graham is Amerika se Pastoor genoem. Hy was ’n godsdienstige reus in Amerika en was deur miljoene mense regoor die wêreld geliefd en gerespekteer. Volgens ’n ABC News-berig het hy vir meer as 210 miljoen mense in 185 lande en gebiede tydens sy “Billy Graham Crusades” gepreek. Sy grootste kruistog het een miljoen mense in Seoul, Suid-Korea gelok.

Graham het sedert Dwight D. Eisenhower, met elke president van die Verenigde State kennis gemaak en het die meeste van hulle op ’n voornaam-basis geken voordat hulle president geword het. Hy het in alle opsigte ’n morele lewe geleef en was getrou aan sy vrou van 64 jaar, wat in 2007 gesterf het. Hy het reëls vir homself in plek gestel om versoeking of beskuldiging van ontrouheid te vermy. Daar word na hierdie reëls in enkelvoud verwys as die Billy Graham-reël en meer onlangs as die Mike Pence-reël, wat mnr. Pence van die evangelis oorgeneem het. Eenvoudig gestel, is dit om nooit alleen te wees saam met ’n dame of selfs om nie ’n maaltyd alleen met ’n dame te geniet as dit nie sy eie vrou is nie. Sommige mense beskou hierdie soort diskresie as seksisties en selfs lagwekkend, maar in die lig van die seksuele skandale en die #MeToo-beweging, lyk dit of Billy Graham en Mike Pence, die Amerikaanse Vise-president, die kritici een voor was.

Graham se boodskap word opgesom as: “God is lief vir u en Jesus Christus het gekom om die straf vir u sondes te betaal”. Hy het gepraat van ’n toekomstige opstanding en die noodsaaklikheid om ’n keuse te maak om Christus eerste te stel. Sy boodskap was nie anders as dié van baie evangeliste nie, maar hy het sy veldtogte na nuwe vlakke geneem. Deur deeglike beplanning het hy ’n beroep op kerke gedoen om die menigtes in kennis te stel wanneer hy ’n dorp besoek het. Dit was altyd goed georganiseerde byeenkomste, met idees van aansporing om gehoordeelname te bevorder met gevolglike “berouvolle sondaars” wanneer die altaaroproep aan die einde gedoen word. Honderde en duisende mense was geroer om met die paadjie af te stap onder begeleiding van ’n treurige lied: “Net soos ek is”.

Belangrike vrae

Soos reeds opgemerk, het Billy Graham, so ver as wat mens kon sien, ’n morele lewe gelei, uitspattighede vermy en beskeie saam met sy vrou en vyf kinders geleef. Dit sou goed wees as ons almal daardie standaard volg! Wanneer dit nogtans kom by sy evangeliese boodskap, behoort ons dit nie afsonderlik, analities, en sonder emosie te evalueer teen die Skrif nie? Is dit verkeerd om te vra, “is die boodskap van die evangeliese beweging volledig of skort daar iets?” Is daardie vraag buite orde?

Onthou dat Jesus ons beveel het wat ons moet doen, soos wat dit in die bekende Bergpredikasie staan: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matthéüs 7:13-14). Dit was ’n algemene tema van Billy Graham.

Laat ons egter die presiese aard van die Evangelie wat Jesus verkondig het ondersoek. “Evangelie” is ’n woord wat lukraak in godsdienstige en nie-godsdienstige kringe rondgeslinger word. Ons hoor van “christelike musiek” [gospel music] en “evangelieprediking”, maar wat IS die Evangelie volgens die Bybel? Baie mense dink hulle weet, maar weet hulle regtig? Die woord evangelie beteken bloot “goeie nuus”. Wat IS daardie goeie nuus?

Baie evangeliegesindes verstaan tereg dat ’n man met die naam Jesus op ’n besondere manier deur God verwek is. Hy was waarlik die Seun van God! Die feite van Jesus se lewe, dood en opstanding IS goeie nuus! So is ook die feit dat Hy ’n volmaakte lewe gelei en gesterf het om die straf vir ons sondes te betaal. Baie word egter dikwels uit die boodskap van die Evangelie uitgelaat. Terwyl na sonde verwys word, word dit selde gedefinieer en wanneer dit gedefinieer word, stem dit ooreen met die Bybel se geïnspireerde definisie? Baie mense neem aan dat hulle weet wat sonde is. Die meeste mense dink dat dronkenskap en egbreuk sonde is maar daar is ander gedrag wat kontroversieel bly: Dans, kaartspeel, ’n glas wyn. Wat van om fliek toe te gaan of na gewelddadige sportsoorte te kyk (Amerikaanse voetbal of boks)? Wat van feesdae: Kersfees, Halloween, Valentynsdag? Is Sondag die dag wat in die Skrif beveel word as die dag vir rus en aanbidding of is dit Saterdag? Is alle dae “heilige tyd” en daarom is daar geen verskil nie? Word dit aan elke individu oorgelaat om te besluit en kan u ’n gerieflike dag van aanbidding kies?

Waarom word die Bybelse definisie van sonde bykans wêreldwyd vermy? Die Bybel vertel dit immers aan ons! Dit definieer die sonde as oortreding van die Wet (1 Johannes 3:4, NV). Die New Bible Commentary is nie vaag in die verduideliking oor watter wet nie: “Die Wet in gedrang is natuurlik die Wet van God. Die essensie van sonde is dan die verontagsaming van God se Wet”.

Moontlik is u al gevra, “Ken u die Here?” Hoe beantwoord u dit? Die apostel Johannes verduidelik wat die regte antwoord op hierdie vraag is: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:3-4).

Dan is daar die vraag: “Watter Evangelie het Jesus vir die drie-en-’n-half jaar voor Sy dood, begrafnis en opstanding verkondig?” Indien ons die Nuwe Testament noukeurig lees is die antwoord duidelik. Die boek Markus begin in vers 1: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus,” en verduidelik in verse 14 en 15: “EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” (Vir ’n deeglike Bybelse verduideliking van hierdie onderwerp, kontak die kantoor die naaste aan u vir ons gratis boekie, Glo u die Ware Evangelie? Die adres is op bladsy 2 van hierdie tydskrif.)

Wat is die beloning van die wat gered is?

Baie mense aanvaar dat die beloning van die wat gered is en die beërwing van die Koninkryk van God beteken om onmiddellik na die dood hemel toe te gaan, maar is dít wat die Bybel ons leer? Oppervlakkig mag dit dalk so lyk, maar ’n deeglike bestudering van die Skrif openbaar dat die hemel NIE die beloning van die wat gered is, is nie en dat ons nie onmiddellik na die dood verander word nie! Jesus het twee stellings gemaak wat teenstrydig voorkom maar nie so is nie. In wat genoem word die saligsprekings (Beatitudes) wat die hart van Sy boodskap is, verklaar Hy: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” en “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:3, 5). So, watter een is dit: Die hemel of die aarde? Sal die armes van gees hemel toe gaan terwyl die sagmoediges op die aarde bly?

’n Eenvoudige wanbegrip van die Engelse taal skep die verwarring. Let op dat vers drie sê: “... die koninkryk van die hemele.” Die woord van dui op eienaarskap eerder as op die plek, soos in “God se Koninkryk”. Dit is die koninkryk van die hemele, nie die koninkryk in die hemel nie. Matthéüs 5:5 vertel ons egter dat die sagmoediges die aarde sal beërwe – wat duidelik die plek van ons erfenis aandui.

Markus, Lukas en Johannes gebruik die uitdrukking, “koninkryk van God”, terwyl Matthéüs meestal die uitdrukking “koninkryk van die hemele” gebruik. Mattheüs gebruik egter die uitdrukkings afwissellend in Matthéüs 19:23-24. Dit is God se Koninkryk, nie die koninkryk IN God nie!

’n Verdere vraag wat ons behoort te vra is: Wanneer ontvang die mense wat gered is hulle beloning? Die apostel Paulus verduidelik dat die dooies in Christus opgewek sal word met die geklank van die “laaste basuin” (1 Korinthiërs 15:51-52). Vergelyk dit met Matthéüs 24:31 en 1 Thessalonicense 4:13-17. Let daarop dat Paulus die dood met slaap vergelyk, net soos Jesus dit in Johannes 11:1-14 doen. Let ook op dat Lasarus se suster verstaan het dat die ontwaking van die dooies “in die opstanding in die laaste dag” sal plaasvind (Johannes 11:23-24).

Wat is sonde? Wat is die ware Evangelie wat Jesus Christus verkondig het? Wat is die beloning van die gereddes? Hierdie is slegs drie van die vele vrae wat ons behoort te vra wanneer ons die waarheid soek. Ware Christelikheid is veel meer as net ’n akademiese oefening. Hoe ons leef, is van uiterste belang. Dit maak nie saak hoe mooi die lied mag wees nie, elkeen van ons kan nie “net soos ek is” bly en ons Skepper behaag nie. Ons moet weet wat sonde is en ons daarvan bekeer. Ons moet Jesus Christus as persoonlike verlosser aanvaar. Ons moet ook die goeie nuus wat Jesus drie-en-’n-half jaar voor sy dood, begrafnis en opstanding verkondig het, verstaan, glo en daarvolgens handel.