Die verkoolde en swartverbrande hout van geboue is verwyder, maar die letsels sal nog vir ’n lang tyd in die toekoms bly voortbestaan in die gedagtes van party Londenaars. Duisende oproeriges het vir vier nagte amok gemaak deur die strate van Londen in Augustus verlede jaar. In nabootsing daarvan het oproere uitgebreek in Birmingham, Manchester, Nottingham en Bristol. Nadat hulle winkels geplunder en verwoes het, het jeugdiges met klapmusse oor die kop, voortgegaan om alles wat oorgebly het, aan die brand te steek. Goed georganiseerde boewe het doelbewus die polisie en brandweerspanne aangeval.

Motors, winkels en privaat huise is deur die vlamme verswelg. Vyf mense is dood in die maalstroom. ’n Meubelwinkel in Croydon, wat al vir vyf geslagte deur dieselfde familie bedryf word, is tot op die grond afgebrand, nadat daar sedert 1867 op dieselfde perseel handel gedryf is en dit die Londen-Blitz oorleef het!

Wat Londenaars verbaas en geskok het, was dat toe dié wat in hegtenis geneem is, in die dae na die onluste in die hof verskyn het, daar ’n breë spektrum van oortreders was. Ja, die stereotipe arm en werklose jeugdiges was daar. Nogtans was daar ook ’n pa van in sy dertigs, ’n posbode en ’n elfjarige seuntjie. Die dogter van ’n ryk sakeman wat reeds “alles gehad” het, is ook in hegtenis geneem. Dit is beweer dat sy elektriese goedere ter waarde van £5,000 gesteel het, alhoewel sy nog by haar ouers woon, in ’n huis met ’n groot erf en ’n tennisbaan!

Wat het verkeerd geloop? Te midde van handegewring en nabetragting van politici en polisie, kom die antwoorde nie maklik nie. Die afgesaagde woorde van die humaniste klink eenvoudig net nie waar nie. Woorde soos “armoede, rassisme en maatskaplike agterstand” wat normaalweg opgehaal word as die oorsaak van ’n oproer soos hierdie, klink leeg wanneer dit teen die bitsigheid van die aanvalle en die profiel van die aanvallers opgeweeg word. Daar was heeltemal te veel bewyse van berekende beplanning deur bendeleiers om die oproer eenvoudig weg te praat as ’n spontane daad.

Eerste Minister, David Cameron, het ’n nugter opsomming van die situasie aangebied. Hy het gesê Brittanje “ly al vir dekades aan ’n stadig-bewegende morele ineenstorting”. Gedurende sy toespraak aan sy kiesers in Oxfordshire het hy voortgegaan: “Dit is ’n wekroep vir ons land. Maatskaplike probleme wat al vir dekades lank sweer, het in ons gesig ontplof”. Hy het gesê dat die “gemeenskap deurtrek is met ontoerekenbaarheid, selfsugtigheid en ’n gebrek aan verantwoordelikheid. Te veel kinders word groot sonder vaders, skole slaag nie daarin om dissipline te handhaaf nie, belonings word uitgedeel sonder dat daar opofferings was en kriminele gedrag bly ongestraf” (“Cameron promises to tackle ‘moral collapse’ after riots”, The Times, 15 Augustus 2011 bl. 3).

Baie mense glo dat hy reg is.

Risiko en beloning

The Spectator se voorbladstorie vir 13 Augustus 2011, dra die titel: “Burning Issues”. Let op hoe die tydskrif die oorsaak van die onluste ontleed: “Daar was in die afgelope dekades genoeg onluste regoor die wêreld om ons ’n goeie idee te gee oor wat hulle veroorsaak. Armoede en politieke ontevredenheid is selde die hoofsaaklike oorsaak. Onluste is oor die algemeen ’n berekening van risiko en beloning”. Dit is duidelik dat diegene wat daarby betrokke was, gedink het dat hulle daarmee sal kan wegkom. Hulle moet egter gesien word vir wat hulle is – misdadigers wat misdade pleeg van “inbraak en betreding”, met diefstal, verwoesting van eiendom en brandstigting. Sommiges van hulle staan selfs tereg op aanklagte van moord in Birmingham, nadat drie jong mans gedood is toe hulle na bewering opsetlik raakgery is deur ’n motor wat in die oproer betrokke was.

Die oproeriges het die kans gewaag – sommiges het daarmee weggekom. Meer as 2,000 is egter in hegtenis geneem en teen die middel van September was net meer as 1,700 van hulle aangekla.

In die dae wat op die onluste gevolg het, het die hofdata nuwe inligting oor die oortreders aan die lig gebring. Volgens verslaggewer Andrew Gilligan, in The Sunday Telegraphvan 21 Augustus 2011: “Byna geeneen van diegene wat aangekla is oor die onluste in Ealing, Clapham Junction, Enfield en ander plekke, kom uit die onmiddellike omgewing nie ... Van die 26 mense wat aangekla is as gevolg van die Ealing onluste, het net drie uit Ealing self gekom” (“London riots were orchestrated by outsiders”, 21 Augustus 2011, bl. 4). Die artikel kom tot die gevolgtrekking dat daar ’n hoë graad van orkestrasie was deur goed-georganiseerde professionele misdadigers wat op soek was na goedere van groot waarde. Dit was nie slegs ’n geval van spontane opstand as gevolg van polisie-brutaliteit nie. Dit was ’n amok-making wat georganiseer was deur bendeleiers van oor die volle breedte van Londen in die middel van die somer.

Die Bybel praat oor tye soos hierdie, maar nogtans is die meeste mense nie bewus van die verband tussen die profesieë van die Ou Testament en vandag se moderne nasies nie. Die Wêreld van Môre gaan in die besonder voort met die beklemtoning van die besondere toepaslikheid van die Ou-Testamentiese profete aan die hedendaagse Amerikaners, Britte en noordwestelike Europeërs – die hedendaagse afstammelinge, tesame met die Jode, van die antieke stamme van Israel en Juda. Vir meer inligting oor hierdie konneksie, vra asseblief u gratis eksemplaar aan van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Bestel of lees dit aanlyn bywww.TomorrowsWorld.org / www.wvm.co.za of vra ’n kopie aan van die Streekskantoor die naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif).

Let asseblief op God se woorde aan die hedendaagse afstammelinge van Josef: “En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers. En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop” (Jesaja 3:4-5).

Wanneer ’n volk God verwerp

Wanneer ’n volk God se Wet verwerp as die basis van sy moraliteit, spreek dit vanself dat dit vervang sal word deur humanistiese waardes en redenerings. Humanistiese filosofie wil ons laat glo dat die menslike natuur inherent goed is. Is dit so? Is ons as menslike wesens wesenlik goed, met ’n klein bietjie kwaad wat af en toe na vore kom? Die antwoord mag u verras. Die profeet Jeremia stel dit bondig: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Die apostel Paulus voeg by: “... omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Romeine 8:7).

Die misleiding van baie humaniste is so diepgaande dat hulle die eenvoudige stelling dat kinders geleer moet word wat reg en wat verkeerd is, heftig sal verwerp. Nogtans is waarheid, ordentlikheid, werketiek en vriendelikheid nie inherent in kinders nie. Dit is aangeleerde beginsels, wat afgelei is van die “Wet van God” soos opgesom in die TienGebooie. U kan meer aangaande hierdie beginsels leer deur u kopie van ons gratis boekie, Die Tien Gebooie, aan te vra.

Eerste Minister Cameron praat nou hard, maar sal sy woorde oorgaan in dade? Indien sy Minister van Werke en Pensioene, Iain Duncan Smith, sy sin kry, ja, dan sal hulle – maar Duncan Smith dra nie net ’n groot stok nie, hy dra ook ’n wortel. Hy wil graag dieselfde soorte van beleid implementeer as dié wat in Boston, Massachusetts en in Glasgow, Skotland gewerk het. Dit behels dat aan bendelede onderrig gegee en beskerming verleen word. Baie bendelede erken dat hulle onwillige deelnemers is aan hulle bendes se bedrywighede en daartoe gedwing word deur intimidasie en afknouery.

Deur die rug van bendes te breek en die belhamels op te sluit verminder geweld, misdaad en afpersing dramaties. “Dan”, soos Fraser Nelson geskryf het in die 20 Augustus 2011 uitgawe van The Spectator, “sal ordentlike mense die strate weer terugneem, soos hulle in New York gedoen het, en skielik sal daardie gemeenskappe begin floreer”.

Baie mense in Brittanje glo regtig dat die nasie ’n laaste wekroep ontvang het. Tensy die kultuur van “sagkens met misdadigers” nie net verander nie, maar vervang word met die bemagtiging van ouers om beter dissipline op hul kinders toe te pas, sal die land in anargie verval. Jare van weifeling deur die dubbelsinnige praatjies van politici het nie gewerk nie. Sal die regering eers “oë knip” of voortgaan om ’n mislukte en gebroke moraliteit te ontken?