U kan u gees bemeester en beheer oor u lewe kry!


Die meeste mense wil graag meer wilskrag hê. Ons dink dikwels egter dat om dit te ontwikkel omtrent soveel aardigheid is as om ’n tand te trek of om ’n splinter te verwyder. Soos wat elke nuwe jaar begin, neem miljoene mense weereens besluite om ’n verandering in hul lewens te maak: Meer te oefen, minder te eet, op te hou rook of drink of om meer tyd saam met hul gesinne deur te bring. Wel, waarom beland so baie goed-bedoelde doelwitte op die ashoop?

Die apostel Paulus het geprofeteer dat mense wat in die eindtyd leef gebombardeer sal word deur ’n vernietigende spervuur van versoekings. Hy het gesê dat baie mense in die laaste dae genotsugtig sou wees; “liefhebbers van hulleself ..., geldgieriges ... sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën .... Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timoteus 3:2-5).

Wat presies is “wilskrag”? So vreemd as wat dit mag klink, glo baie sosiale wetenskaplikes nie eens meer in die bestaan daarvan nie! In hul boek, Willpower: Rediscovering the Greatest Human Strength, beskryf outeurs Roy Baumeister en John Tierney hierdie verskuiwing: “Die wil het so onbelangrik geword dat dit nie eens gemeet of vermeld word in moderne persoonlikheidsteorieë nie. Sommige neuro-wetenskaplikes ontken na bewering die bestaan daarvan. Baie filosowe weier om die term te gebruik ... hulle verkies om te praat van vryheid van dade, nie van ’n mens se wil nie, omdat hulle dit betwyfel of daar enigsins so ’n ding soos ’n wil is” (bl. 8).

Geen wil beteken geen kapasiteit om morele keuses te maak nie. Geen wil beteken geen verantwoordelikheid vir sonde nie. Foute en tekortkominge kan geblameer word op genetika, agtergrond, ouers, omgewing, of net bloot “ongeluk”. Die “nie-bestaan van die wil”-teorie is net nog ’n manier waarvolgens ’n verwarde en misleide mensdom sy begeerlikhede kan najaag sonder die pyn van skuldgevoelens en skaamte.

Wilskrag is egter ’n werklikheid. God sê so! Hy sê aan ons dat wilskrag (of “self-beheersing”, soos die Bybel daarna verwys) noodsaaklik is vir sukses in die lewe. Die wyse koning Salomo verduidelik dat enigiemand wat daarna streef om ander te lei, eers moet leer om die self te regeer: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem” (Spreuke 16:32). Hy het verder aangeteken: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28). Sonder wilskrag, of selfbeheersing, is ons blootgestel aan die verwoesting van versoeking en sonde. In teenstelling daarmee, lewer selfbeheersing tasbare voordele van geluk en welstand. Om beheer te verkry oor die wil, is noodsaaklik vir ons innerlike vrede, tevredenheid en uiteindelike sukses.

Wat van u? Kan u u gedagtes en impulse aanwend en kanaliseer in ’n positiewe rigting? Of voel u soms deurmekaar gewaai deur die misleidende winde van versoeking? Die goeie nuus is dat indien u graag wil, kan wilskrag ontwikkel en versterk word. Deur dit te doen, kan baie makliker wees as wat u dink.

Vlug weg van versoeking

Die apostel Paulus het gesê ons “worstelstryd” is teen owerhede of bose geeste wat probeer om ons te mislei (Efesiërs 6:12). Dus, as Christene, moet ons altyd gereed wees om staande te bly en die goeie stryd van die geloof te stry (2 Timótheüs 2:3; 1 Timótheüs 6:12). Soos die apostel Jakobus skryf, “... weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7).

Veg is egter nie die hele antwoord nie. Wat dikwels die belangrikste is, is om van versoeking af weg te vlug. Hier is wat Paulus skryf in verband met die hantering van seksuele versoeking: “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korinthiërs 6:18). Paulus het geweet om nie “rond te hang” om te sien wat mag gebeur toe hy versoek was nie – hy het geweet hy moet vlug, soos hy uit ’n brandende gebou sou vlug!

Paulus het ’n soortgelyke verduideliking gegee aan die jong evangelis Timótheüs, ten opsigte van die versoekings van rykdom: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede ... Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid” (1 Timótheüs 6:9, 11).

Is om van versoeking af weg te vlug ’n teken van swakheid, of gebrek aan wilskrag? Nee! Dit hou ons wilskrag sterk. Inteendeel, om in die teenwoordigheid van enige vorm van onsedelikheid te vertoef, is wat ons wilsbesluit bietjie vir bietjie sal ondergrawe, totdat ons uiteindelik sal swig voor die versoeking.

Skrywers Baumeister en Tierney beskryf navorsing wat hierdie gesonde Bybelse beginsel bevestig. Die proefpersone is in ’n kamer gesit om na ’n film te kyk. Sommige was binne armlengte van ’n bakkie lekkers geplaas, ander het aan die oorkant van die vertrek, weg van die bakkie lekkers, gesit. Na afloop van die film, is gevind dat diegene wat naaste aan die aanloklike lekkergoed gesit het, aansienlik minder wilskrag gehad het as die ander! Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat dié wat die verste van die lekkers af gesit het, minder geestelike krag gebruik het om dit te weerstaan, en het daarom meer wilskrag “in reserwe” gehad wat gespaar was vir die volgende oefening.

Dit beklemtoon Paulus se raad aan Timótheüs. Indien ons versoek word deur wellus, of hebsug, of enige onetiese begeerte, moet ons maak dat ons wegkom, sonder versuim! Ons moet ten minste die versoeking so ver weghou as moontlik. Indien u worstel met verslawing aan alkohol, moenie drank in die huis hou of plekke besoek waar u weet dat dit toeganklik is nie. Indien dit vir u moeilik is om pornografie te weerstaan, plaas ’n filter op u rekenaar (en laat iemand anders wie u vertrou, die wagwoord hou). Om ons wilskrag te versterk, moet ons daadwerklike pogings aanwend om van versoekings af weg te vlug.

Beoefen u wilskrag

Atlete berei hul voor vir sportwedstryde deur te oefen. Hulle oefen, dan oefen hulle nog meer. Om bloot te weet hoe om ’n kolf te swaai, ’n bal te skop, of ’n basketbal te skiet, bring nie vaardigheid nie. Dit verg honderde of duisende herhalings, uur na uur, dag na dag, voor die bewegings so natuurlik raak dat dit bykans outomaties is.

Paulus beskryf die geestelike reis as ’n wedloop wat met volharding gehardloop moet word (Hebreërs 12:1). Hy lê klem daarop dat Christene dit doen deur gebruik te maak van God se Gees, wat baie voordele inhou, insluitende selfbeheersing (Galasiërs 5:22).

Goddelike selfbeheersing is soos ’n spier wat wegkwyn as dit nie ontwikkel word nie. Wanneer ons besluit om iemand te vergewe wat ons benadeel het, beoefen ons geestelike krag oor ons wil. Wanneer ons dit weer en weer doen, herhaal ons die patroon, dit word meer natuurlik vir ons, selfs tweede natuur. Dit is geen wonder dat Jesus Christus gesê het ons moet ons broer “sewentig maal sewe” keer vergewe nie (Mattheüs 18:22). Hy wil hê dat ons die gewoonte om ander mense te vergewe moet ontwikkel. Hy wil hê dat ons selfbeheersing-“spier” goed geoefen moet wees!

Skrywers Baumeister en Tierney beskryf ’n eksperiment wat ondersoek ingestel het na kollege studente se begeerte om in een van drie gebiede te verbeter: Fisiese fiksheid, studiegewoontes en finansiële bestuur. Heel voorspelbaar, hoe meer selfbeheersing studente beoefen het met betrekking tot hul doel, hoe beter het hulle gevorder. Daar was egter ook nog ’n onverwagse bevinding. Diegene wat die “selfbeheersing-spier” die meeste geoefen het in hul fokus-gebied, het ook begin om in ander gebiede van hul lewens te verbeter! “Dit lyk of die uitoefening van selfbeheersing in een gebied, alle gebiede van die lewe verbeter. Hulle het minder sigarette gerook en minder alkohol gedrink. Hulle het hul huise skoner gehou. Hulle het die skottelgoed gewas in plaas daarvan om dit in die wasbak te pak en hulle het hul wasgoed meer dikwels gedoen. Hulle het minder uitgestel. Hulle het hul werk en take gedoen in plaas daarvan om eers televisie te kyk of te kuier saam met vriende. Hulle het minder gemorskos geëet, en hulle slegte eetgewoontes met gesonder kos vervang ... Sommiges het selfs gerapporteer dat hulle hul humeure beter kon beheer” (Willpower, bl. 136).

Ja, u kan verbeter net soos hierdie studente dit gedoen het! Verbind uself om een area in u lewe te beheer, en die voordele sal deurvloei na die res van u lewe! Paulus skryf dat geestelik volwasse mense “geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Stel dus ’n paar doelwitte, maak nie saak hoe eenvoudig nie. Miskien wil u vroeër gaan slaap, of meer hoflik wees teenoor ander motorbestuurders, of om regop te sit om ’n beter liggaamshouding te handhaaf. Indien u daarop fokus om vol te hou met selfs die eenvoudigste doelwitte, kan die gevolglike vordering in selfbeheersing begin om oor te vloei na die moeiliker strewes in u lewe.

Bly goed gevoed

Elke ouer weet dat as mens wil hê klein kindertjies moet hul beter gedra, dan moet mens seker maak dat hulle magies vol is. Dus, voed u liggaam om u wilskrag te voed. Gebalanseerde voedsame etes, matig geëet, help ons om goeie besluite te neem, goed te funksioneer en ons wilskrag effektief te beoefen. Indien wilskrag soos ’n spier is, het dit energie nodig. Ons brein, waardeur ons wilskrag omgesit word in fisiese aksie, het glukose nodig om te kan werk. Sonder behoorlike brandstof in voldoende hoeveelhede, sal ons brein nie funksioneer nie en ons wilskrag sal verswak.

Die skrywers van Willpower verduidelik: “Geen glukose, geen wilskrag. Die patroon is herhaaldelik waargeneem toe navorsers meer mense in meer situasies getoets het ... Glukose uitputting kan die mees sjarmante metgesel in ’n monster verander. Die ou advies oor die eet van ’n goeie ontbyt geld vir die hele dag, veral op dae wanneer u fisies of geestelik gespanne is. Indien ’n toets,  ’n belangrike vergadering of ’n lewensbelangrike projek voorlê, moet u dit nie sonder glukose aanpak nie. Moet nie ernstige probleme met u eggenoot uitpluis net voor ete nie” ( bl. 49, 57).

Fisiese brandstof is egter net die begin. Dit is nodig, maar nie voldoende nie. Jesus Christus waarsku Sy volgelinge om nie te veel te fokus op die lewe se fisiese aspekte terwyl die geestelike verwaarloos word nie. Hy sê: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël” (Johannes 6:27). Wat is die geestelike voedsel wat vir ewig hou? “Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee ... En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Johannes 6:33, 35).

Hoe voed ons van Christus? Deur ons wil aan Hom te onderwerp, en deur Hom te vra om Sy lewe in ons te leef (Galasiërs 2:20). Ons ontwikkel fisies wilskrag deur brandstof aan die brein te voorsien. Ons ontwikkel geestelik wilskrag deur die “brandstof” in te neem van gebed, Bybelstudie, meditasie asook om per geleentheid te vas. Christus sê Self: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Ons wilskrag word versterk deur gereelde kontak met God, en deur Sy wil te doen in ons lewens. Jesus sê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Gebed, Bybelstudie, meditasie en vas is die geestelike “voedsel” wat ons nodig het om nader aan ons Verlosser te beweeg.

Kry voldoende rus

’n Geoefende spier het tyd vir rus en herstel nodig. Hierdie beginsel van fisiese aktiwiteit geld ook vir ’n geestelike aktiwiteit, en die uitoefening van ons wilskrag. Ons kan nie verwag om voortdurend teen die hoogste versnelling te werk sonder om gereeld ons “batterye te herlaai” nie. Baumeister en Tierney herinner ons: “Dit behoort nie nodig te wees dat ons iets so voor die hand liggends vertel moet word nie, maar knieserige kleuters is nie die enigstes wat hul teen broodnodige rustydjies verset nie. Volwassenes ontneem hulself gereeld van broodnodige slaap, en die resultaat is minder selfbeheersing. Deur te rus verminder ons die liggaam se glukose vereistes, en ons verbeter ook die liggaam se algehele vermoë om glukose in die bloedstroom beter te benut. Dit is gevind dat gebrek aan slaap die verwerking van glukose, wat dadelik ’n uitwerking het op selfbeheersing belemmer. ... Onvoldoende slaap het ’n verskeidenheid slegte uitwerkings op gees en liggaam. Versteek tussen al bogenoemde is verswakkende selfbeheersing en verwante prosesse soos besluitneming. Om die meeste nut uit u wilskrag te verkry, maak voorsiening vir genoeg tyd om te slaap. U sal uself die volgende dag beter gedra – asook die volgende nag makliker aan die slaap raak” (Willpower, bll. 59-60).

In ons moderne Westerse kultuur word ons van slaap ontneem. Dit is geen wonder dat ons minder selfbeheersing het as ooit tevore nie! Wanneer ons geestelik uitgeput raak, sal die krag van ons wilskrag afneem. Ons behoort tyd in te ruim om te herlaai en te herstel.

Soms beteken dit net die versorging van ons fisiese gesondheid, kry genoeg rus en vaste slaap. Fisiese rus kan egter net soveel doen om ons uitgeputte gees op te kikker. Hy belowe: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en My las is lig” (Mattheüs 11:28-30).

Is die spanning van die lewe vir u te veel? Is u uitgebrand deur al die probleme en besluite en versoekings wat u elke dag die hoof moet bied? Jesus Christus sê aan ons, u hoef nie “die pad alleen te loop nie”. Wat ons waarlik sal vernuwe is ons onderwerping aan Sy wil, bemagtig deur Sy Gees, om die vrug van gehoorsaamheid aan Sy wette in ons lewens te ervaar.

Beslissende wilskrag

Vreemd genoeg, ons ondervind die meeste wilskrag wanneer ons onder die krag van God kom. Om te leef onder en deur Sy krag is bevrydend, kalmerend en berustend namate ons die krag van Sy Gees in ons lewens ervaar. In die laaste instansie beteken die ontwikkeling van wilskrag om heeltemal en sonder voorbehoud op God en Sy krag te vertrou om ons te lei.

Het u werklik die leisels van u lewe aan God oorhandig? Het u tot op die punt in u lewe gekom waar u gewillig is om u totaal aan Hom te onderwerp in gehoorsaamheid? Vertrou u Hom regtig om u lewe te lei, in die wete dat Hy weet wat die beste is vir u?

Wanneer u voor versoeking te staan kom, oorweeg dan wat antieke Koning Dawid geskryf het: “Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie” (Psalm 37:3-7).

Ons leef in tye van stres, nie van “rus” nie. Ons sien voortdurend woelinge rondom ons – geweld en oorlog in elke uithoek van die wêreld en ’n groeiende vrees van globale ekonomiese ineenstorting. Ons kom te staan voor voortdurende versoekings om ons Christelike waardes te kompromitteer. Wat kan ons dus doen? Ons kan nie uitsluitlik op ons eie krag versoekings weerstaan en beproewings verduur nie. Ons het die stamina, krag en wilskrag nodig wat slegs van God af kan kom.

Dink aan die voorbeeld van Christus. Die nag voordat Hy Sy lewe afgelê het vir die hele mensdom, het Hy te staan gekom voor die moeilikste keuse in Sy lewe. Om ons Verlosser te kon word, moes Hy ’n onuithoubare pynlike dood verduur. Die versoeking om terug te draai en weg te loop, moes geweldig gewees het. Hy het saam met Sy dissipels na die Olyfberg gegaan en aan hulle gesê: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het ’n entjie verder geloop en toe uitgeroep: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:40, 42-44).

Het Christus net “op Sy tande gekners” en Sy wil “geforseer” om die regte ding te doen? Nee! Wat Hom in staat gestel het om hierdie folterende toets te slaag, was Sy bereidwilligheid om Hom te onderwerp aan die wil en die krag van die Vader.

Dit is hoe ons ook die wilskrag kan bekom om ’n versoeking te weerstaan en te oorwin. Namate ons ons lewens oorgee aan ware gehoorsaamheid aan die Een wat ons gemaak het, kan ons vervul word met Sy geestelike krag. Paulus skryf aan die broeders in Filippi: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:12-13).

As ons Hom soek en aan Hom gehoorsaam is, sal God in ons werk om Sy wil in ons lewe “te wil en te werk”. Ons kan oorwin, ons kan ons gees en ons lewe bestuur. Deur God se krag, kan ons wilskrag hê!