Namate 2012 op dreef kom, word die Europese Unie getrotseer deur ongekende onsekerheid en ontwrigting. Die regerings en volke van Europa is vasgevang in sosiale, politieke en ekonomiese ellende wat die toekoms van die EU in ’n krisis dompel. Die wêreld buite Europa ervaar alreeds die gevolge, namate nasionale banke die wêreldmarkte oorstroom het met dollar likiditeit, in die hoop om wêreldwye ekonomiese ineenstorting te voorkom.

Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds, het gesê dat Europa nou besig is om in die afgrond, van ’n verlore dekade van groei en vooruitgang, te staar. Ekonomiese data dui daarop dat dinge heel moontlik erger kan raak as in 2008. Professor Simon Johnson, ’n voormalige hoofekonoom van die IMF, het selfs gewaarsku dat die wêreld “reguit op ’n groot depressie afstuur”.

Hier is hoe die Economist-tydskrif dit opsom: “Wanneer die wêreld se derde grootste effektemark begin om te wankel, doem daar rampspoed op. Nie net die Italiaanse ekonomie is op die spel nie, maar ook Spanje, Portugal, Ierland, die euro, die Europese Unie se enkelmarkstelsel, die wêreldwye bankstelsel, die wêreldekonomie, en feitlik enigiets anders denkbaar” (12 November 2011, bl. 13).

Waarheen is hierdie ekonomiese en politieke chaos op pad? Hoe sal dit Europa en in besonder Groot-Brittanje, beïnvloed? Hoe pas vandag se vinnige gebeure in met Bybelprofesie?

Europese Unie ontknoping?

Die Europese Unie wat so moeitevol, stap-vir-stap, oor die afgelope halwe eeu saamgestel is, het onder geweldige druk gekom en is besig om onder swaar ekonomiese werklikhede te ontknoop. Kritici het van die begin af gesê dat die idee om al die ongelyksoortige nasies van Europa in ’n supra-nasionale entiteit met ’n gemeenskaplike geldeenheid te verenig, aanmatigend en bestem is tot mislukking. Vandag sien ons ook dat die fondamente van die EU en die euro geldeenheid tot in die kern geskud word te midde van ’n grootse geskarrel om besparingmaatreëls in te stel, skuld af te betaal, en nasionale begrotings te balanseer. EU-leiers sukkel om woeste finansiële markte te beheer. Baie mense het tot die gevolgtrekking gekom dat die euro nie kan oorleef sonder veelomvattende hervorming en herstrukturering nie.

Aan die hart van die EU se verknorsing lê die Eurosone, die 17 lande wat die euro as hul gemeenskaplike geldeenheid deel. Sommige van sy lede, soos Griekeland, is toegelaat om aan te sluit, ten spyte van ’n ekonomie wat nouliks voldoen het aan die kriteria vir aansluiting. Swakker Eurosone staatshuishoudings wat op die rug ry van die euro se krag, kan groot skuld laat ophoop deur te leen van wat “goedkoop geld” geword het.

 Die wêreldwye “kredietkrisis” van 2008 het daardie skuldbelaaide lande wat verbind is tot die euro, hard getref. Hierdie nasies het nie meer die buigsaamheid gehad om beheer uit te oefen oor hul eie geldeenheid nie. Nog minder was daar ’n “lener as die laaste uitweg” binne die Eurosone waarheen lande wat in die moeilikheid geraak het, kon kyk vir hulp. Dit het gou duidelik geword dat die ryker lande van die Eurosone gedwing sou word om hulppakkette te verleen aan lidlande wat armer is, ’n projek wat selfs nog groter bedrae geld sou betrek, namate die krisis verdiep, tot op die punt waar selfs die gesondste ekonomieë dit nie langer kon bekostig nie.

Dit is dus geen verrassing dat Duitsland – die EU se grootste en gesondste ekonomie – begin het om die voorrang beheer oor die Eurosone te aanvaar nie. Waarnemers let ook daarop dat Duitsland vasbeslote is om te kry wat Duitsland wil hê, – selfs al sou dit beteken dat demokratiese aanspreeklikheid in die proses verwerp word.

Gedagtig aan die verwoestende hiperinflasie wat die Weimar Republiek tussen die Eerste en Tweede wêreldoorloë geteister het, het Duitsland geen sin aan ’n Anglo-Saksiese “markgeleide” oplossing, wat sou beteken dat meer geld gedruk moes word om skuld te delg, nie. Inteendeel, Duitsland dring aan op groter verantwoordelikheid onder politieke leiers, gepaard met besparing, gebalanseerde begrotings en die afbetaling van skuld. Om dit te fasiliteer, neem Duitsland die voortou om aan te dring op ’n hersiening van die EU-verdrae om selfs groter politieke en ekonomiese eenheid moontlik te maak, insluitende maatreëls om lande wat versuim om hul verantwoordelikhede na te kom, uit die Eurosone te verwyder.

Wat ons nou ervaar, is ’n dooiepunt tussen die finansiële markte en die Duits-geleide oplossing. Op die spel is die ineenstorting van die euro en die ontbinding van die Eurosone, met kollaterale skade aan die wêreldekonomie, wat soos ’n besmetting kan versprei en die Verenigde Koninkryk, Verenigde State en ander nasies dieper in ’n finansiële krisis kan dompel.

Kan die Verenigde Koninkryk die Duits-geleide druk, om meer betrokke te raak by die sorgwekkende euro, weerstaan? Die nasie staar nou die bedreiging van ’n Duits-geïnspireerde finansiële transaksie-belasting in die gesig, wat Londen se status as ’n wêreld-finansiële kern bedreig. Sommige mense twyfel of Brittanje sy gesogte “armlengte”-afstand van die Eurosone kan behou en terselfdertyd goeie verhoudings met ander EU-lande kan handhaaf. Duitsland en Frankryk veral voel gegrief oor die Verenigde Koninkryk se huidige “half-los” verhouding met die EU, maar die Britte blyk onwrikbaar te wees in hul vasberadenheid om nooit ondergeskik te word aan ’n Duits-gedomineerde vereniging van nasies nie.

Sal die EU in staat wees om uit te hou totdat kalmer waters bereik kan word? Of, sal oorweldigende kragtige ekonomiese, maatskaplike en politieke kragte die EU uitmekaar skeur en uitloop op ’n kleiner en meer doeltreffende unie – of selfs ’n heeltemal nuwe unie? Korttermyn ontwikkelinge is aan die broei, selfs terwyl hierdie tydskrif gedruk word. Gelukkig gee ’n baie verontagsaamde gesag aan ons ’n raamwerk vir die langer termyn antwoord.

Tien gee hul soewereiniteit oor

Die Bybel skets ’n dramatiese prentjie van ’n kortstondige, omvattende herbelyning van nasies in Europa. Dit, glo ons, is presies wat nou moeisaam besig is om in Europa vorm aan te neem. ’n Nuwe Europa sal verrys uit al die chaos om op die wêreldtoneel los te bars. Dit mag ’n tyd duur om vorm aan te neem, maar dit is op pad.

Daar sal ’n unie van tien nasies in Europa tot stand kom, wat vir ’n kort tydjie hulle soewereiniteit sal oorgee aan een algehele sterk leier (Openbaring 17:11-13). Hierdie leier sal ’n bongenoot word van ’n groot Europese godsdienstige leier (verse 3-6). Saam sal hulle die Heilige Romeinse Ryk weer opwek om hulle filosofie, ideologie en mag aan die wye wêreld te projekteer (vers 18). Dit sal ’n tyd van ontsaglike gevaar word. Die Bybel voorspel dat Brittanje en Amerika, sowel as baie ander nasies, die slagoffers sal word van hierdie kortstondige wêreldmoondheid.

God sal hierdie ontluikende supermoondheid gebruik om die Anglo-Saksiese volke van Brittanje, Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland, onder andere – wat gedwaal het deur opstand en onkunde – te straf (vers 17). Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, vra asseblief vir u gratis eksemplaar van, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?

Vir baie mense lyk hierdie merkwaardige Bybelse vooruitsig te vergesog en ongelooflik. Dit is nogtans tog waar en sal plaasvind net soos God dit voorspel het in die profesieë wat Hy geïnspireer het. Wat ons nou in Europa sien ontwikkel, is die voorbereiding van die verhoog vir ’n rampspoedige wêreldkrisis wat die einde van die mens se wanbestuur sal aandui, die ingryping van Jesus Christus om menslike uitwissing te voorkom en die vestiging van Christus se aardse heerskappy in die Koninkryk van God (vers 14).

Die profeet Daniël het hierdie reeks gebeure wat die huidige tydperk sal verander, ten beste opgesom toe hy Nebukadnésar se droom vertolk het: “Maar in die dae van dié [tien] konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan – net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar” (Daniël 2:44-45).

U behoort dringend die geprofeteerde wêreldgebeure wat vinnig oor hierdie geslag toesak, te verstaan en ook hoe u daarop moet reageer. Skryf vir ons gratis boekie, Veertien Tekens wat Jesus Christus se Wederkoms Aankondig, om meer hieroor te leer. Dit mag al later wees as wat u dink.