Miljoene Amerikaners wat na aan die hoofstad woon het verlede herfs vir weke lank in vrees gelewe dat ’n skerpskutter hulle sonder waarskuwing om die lewe sou bring. Die Verenigde State het ’n gevaarlike plek geword, selfs om net vir ’n wandeling te gaan, terwyl dit definitief nie veilig is om saans in enige van die groot Amerikaanse stede te gaan stap nie. Pleks van die reuk van blomme te geniet mag ’n mens dalk eindig met madeliefies op jou graf. ’n Mens staan ’n goeie kans om beroof, verkrag of vermoor te word.

Ek het aangename herinneringe van ’n reis na Brussels in België waar ’n mens omtrent enige plek, dag of nag, in veiligheid vir ’n wandeling kan gaan. As ’n toeris was die grootste gevaar vir my eerder om te verdwaal. Dieselfde geld in Duitsland, Denemarke, die Skandinawiese lande en die grootste deel van Wes-Europa. Die parke in die stede was skemeraand gevul met blommeprag, jong ouerpare met kinders en ou dames wat die duiwe voer - in veiligheid.

Die VSA was altyd bekend as die land van vryheid en die tuiste van die dapperes. Hoekom is sy strate dan nou onveilig? Wat het gebeur met die VSA - en hoekom? Kan die probleme opgelos word deur meer polisiemanne te ontplooi? Tuisland sekuriteit? Strenger vuurwapenbeheer? Beter hospitale? Beter skole? Sal enige van hierdie maatreëls ’n oplossing bied? Sal enigeen hiervan werklik “die antwoord” wees?

Oorsaak en gevolg

Kortsigtige leiers probeer dikwels landsburgers paai met sosiale ‘pynstillers’ of ‘politiese aspiriene’ wat die onmiddellike pyn van sosiale probleme tydelik verdoof. Hierdie teenvoeters faal egter uiteindelik net soos sommige uitbuitende medici dikwels faal om die onderliggende oorsaak van degeneratiewe siektes (bv. stres, besoedeling, swak dieet en gebrek aan oefening), te behandel.

Vuurwapenbeheer mag tot ’n mate verligting bring - maar wat van die ontelbare wapens wat alreeds in die hande van kriminele is? Gevangenisse mag misdaad - tydelik - verhoed, maar is heel dikwels ’n skool vir meer uitgeslape misdaad en maak misdadigers net meer gehard.

'n Artikel in die San Gabriel Tribune beskryf die hartseer vooruitsigte van ’n twaalfjarige Kaliforniese seun wat ’n ernstige misdaad begaan het. Die joernalis, Keith Sharon, beskryf die seun se moontlike omstandighede in die tronk: “Sy ouderdom is geen paspoort tot beter behandeling nie, behalwe vir die plasing van sy bed. Die kanse dat hy die tronk as ’n beter persoon sal verlaat is dieselfde as vir die ander seuns: Vyf-en-vyftig persent is binne twee jaar weer terug in die tronk”.

Natuurlik ken ons almal die gemeenskap se “antwoord” op die vigsepidemie - kondome word aan 10 tot 12 jarige seuns en meisies verskaf - kinders wat totaal onvoorbereid is vir seksuele verhoudings. Afskuwelik! Die werklike antwoord op hierdie en soortgelyke probleme wat die mensdom in die gesig staar, is nie om maar net die gevolge te behandel nie, maar om ook tot die oorsaak deur te dring.

Ons moet erken dat die VSA besig is om uitmekaar te val! Wanneer u die nasionale skuldlas in ag neem - die ergste in die geskiedenis - die dwelmprobleme, misdadigheid, gebroke huisgesinne, rassespanning, VIGS en ander geslagsiektes - sal u sien dat die VSA nie werklik meer baie jare oor het alvorens een of ander groot ineenstorting die land tref nie.

Kort voor lank sal dit egter duidelik wees dat die VSA onder ’n tipe van ’n nasionale vloek is. Hoekom? En, wat kan daaromtrent gedoen word?

Die ANTWOORD

Of ons dit nou besef al dan nie, ons kry swaar as gevolg van die verbreking en verplettering van sekere fundamentele wette van die heelal. Verbreek ons wette wat op die wetenskap of natuurkunde van toepassing is? Nee. Dit is baie ernstiger as dit. Talle mense is mislei om te dink dat God die Skepper baie “ver weg” is. Biljoene mense is geleer dat God se geestelike Wet, die Tien Gebooie, nie vandag meer op die mensdom bindend is nie.

As gevolg van ’n verwarde, doen-jou-eie-ding “waardestelsel” ken Amerikaners nie meer die onderskeid tussen reg en verkeerd nie. Gevolglik is Amerikaanse stede toenemend onveilig. Meer en meer Amerikaanse hoërskool meisies raak swanger; ongeveer een-en-'n-halfmiljoen klein menslike wesentjies word elke jaar vermoor terwyl nog in die baarmoeder en hulle moordenaars word betaal met geld waarop gedruk staan: “Op God vertrou ons”. Wat ’n skynheilige nasie!

Ons moet besef dat die mensdom nie die gesag het om te besluit wat reg of verkeerd is nie. Slegs God die Skepper het daardie outoriteit om sodanige besluit te neem - en Hy het ons hierdie basiese inligting gegee in Sy “Beslissende Handleiding vir Oorlewing” - die Bybel.

Toe aan Jesus gevra is wat die weg tot uiteindelike oorlewing is, gee Hy ’n ondubbelsinnige antwoord. ’n Jongman vra: “Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:16-17). Jesus begin toe sommige van die Tien Gebooie opnoem sodat daar geen misverstand kon wees na watter wet Hy verwys nie.

Indien ons hele gemeenskap, van die nederigste tot die invloedrykste, net sal glo in en lewe volgens die Tien Gebooie, sal ons ’n werklike Utopia hê. Daar sal geen behoefte aan tronke wees nie, want daar sal geen misdaad wees nie; geen behoefte aan astronomiese uitgawes vir ’n weermag nie, want daar sal nie meer oorloë wees nie; geen behoefte vir honderde miljoene Rand vir dwelmverwante probleme nie, want mense sal innerlike vrede en kalmte hê, in hulself asook teenoor hulle gesinne. Daar sal geen uitgawes ten opsigte van VIGS en talle ander geslagsiektes wees nie, want mans en vrouens sal leer om getrou te wees aan ’n dierbare geliefde voor en tydens die huwelik.

Die apostel Jakobus is geïnspireer om te skryf: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jak. 2:10-12).

Neem kennis dat “die wet” waarvan Jakobus skryf die Tien Gebooie is. Hy sê dat Christene deur die wet “geoordeel” sal word (vers 12) en dat die Tien Gebooie spesifiek die “wet van vryheid” genoem word.

Indien die mensdom gehoorsaam is aan die Tien Gebooie sal hulle waarlik vrygemaak word van oorlog, misdaad, egskeiding, dronkenskap, dwelms, geslagsiektes en die meeste geestelike en emosionele spanning en skuldgevoelens wat by so baie mense spook.

Christus se Boodskap van Vrymaking

In teenstelling met die nuttelose redenasies van talle godsdienstiges, het Jesus Christus se boodskap baie te doen met God se Wet. Jesaja word geïnspireer om te sê in ’n profesie oor die koms van die Messias: “Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing [wet] groot en heerlik te maak” (Jes. 42:21).

Tydens die Bergpredikasie en regdeur Sy bediening het Jesus die Wet beklemtoon en uitgebrei. Hy sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matt. 5:17). Onthou asseblief dat “vervul” nie “tot niet maak” beteken nie. Christus het die Wet vervul deur dit te onderhou - en stel daardeur vir ons die voorbeeld om in Sy voetspore te volg: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Pet. 2:21).

Jesus sê ook: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:19).

Dus, ware volgelinge van die Jesus van Nasaret moet selfs die “minste” van die Tien Gebooie onderhou - insluitende die weeklikse Sabbatdag. Jesus het nie toestemming gegee dat God se Wet verbreek mag word nie. Let op Mattheus 5:28: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het”. In hierdie vers beklemtoon en verheerlik Jesus duidelik God se Wet - Hy skaf dit nie af of verklaar dit nie nietig nie. Jesus het die ware betekenis van die Wet meer volledig en bindend op Sy dissipels gemaak.

Besef u wat ’n beter nasie en ’n beter wêreld ons sou hê as die vroulike geslag met ’n diepe respek behandel sou word sodat mans - selfs nie eers in hulle gedagtes - die vroulike geslag in ’n wellustige en pornografiese lig sal beskou nie? Eerder sal elke man sy vrou as sy Godgegewe ‘ander helfte’ beskou, waardig met gelyke respek behandel - as sy getroue liefling en die moeder van sy kinders. Daar sal geen egbreuk of egskeiding wees nie, geen gebroke huisgesinne met verwarde kinders wat soms misdadige neigings het nie.

Hoe sou dit wees as ons Jesus se vervulling van die Wet oor moord sou nakom? Daar sal geen bose haat wees nie, geen aanrandings, verminkings, of moord nie. Die apostel Johannes is immers geïnspireer om te skryf in 1 Johannes 3:15: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie”.

Mans en vrouens orals sal leer om die gees van die Tien Gebooie te verstaan en te gehoorsaam. Die gees van die Wet doen geensins weg met die letter van die Tien Gebooie nie! Eerder wend dit die beginsels van God se geestelike Wet aan tot die gees of gesindheid van die mens. Die gees van die Wet vereis dat hierdie gesindheid gesuiwer moet wees, vry van haat, wellus en selfsug.

Waarom het talle van u nog nooit hierdie boodskap gehoor nie? Hoekom het die meeste predikers óf nagelaat om selfs oor die Tien Gebooie te praat, óf andersins probeer om die geloofwaardigheid van God se Wet subtiel te vermy deur te sê dat dit ‘afgeskaf’ of ‘aan die kruis gespyker is?’

Die Nuwe Verbond

Talle onwetend misleide predikers probeer die indruk skep dat die Tien Gebooie afgeskaf is aangesien ons onder die Nuwe Verbond is. Niks kan verder van die waarheid af wees nie! Let op God se beskrywing van die nuwe verbond in die Bybel: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie - my verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jer. 31:31-33).

Die “nuwe” verbond behels duidelik dat Jesus Christus Sy wette op ons harte en verstand sal skryf - en dit dan só deel van ons eie natuur sal maak! In 2 Petrus 1:4 sê Petrus dat ons “deelgenote kan word van die goddelike natuur”. Die Nuwe Verbond behels dat God die Vader en ons Here Jesus Christus inderdaad inkom en binne-in ons kom woon - en ons deelagtig maak aan dieselfde Goddelike natuur waaruit Hulle bestaan, deur die Heilige Gees!

Jesus sê in Johannes 14:23: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak”. Paulus sê ook: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

Duidelik behels die Nuwe Verbond dat God die Vader en Jesus Christus in ons woon deur die krag van die Heilige Gees! Watter tipe lewe sal Jesus Christus in ’n ware Christen lewe? Paulus is geïnspireer om te sê in Hebreërs 13:8: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”. Die basiese lewenswyse van Christus verander dus nie.

Jesus self sê aan ons: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly” (Joh. 15:10). Jesus het dus Sy Vader se gebooie onderhou en as die God - die Rots - van die Ou Testament (1 Kor. 10:4), het Jesus hierdie gebooie vir Israel gegee! Hy was hulle God - handelend namens die Vader - en Hy en die Vader is “een” (Joh. 10:30). Hulle het nie verskillende wette of verskillende waardesisteme nie.

Die geliefde apostel Johannes was geïnspireer om te skryf: “Hy wat sê: Ek ken Hom - en sy gebooie nie bewaar nie - is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Joh. 2:4). Dus moet enige ware Christen dan noodwendig die pad van die Tien Gebooie bewandel. ’n Ware Christen moet die gebooie en hulle betekenis bestudeer en opreg poog om daarvolgens te lewe met die hulp van die Heilige Gees, as ’n lewenswyse.

Waarom het die meeste van u nog nooit gehoor dat Christelikheid op hierdie manier verduidelik word nie? Hoekom praat misleide mense skynbaar altyd oor die persoon van Christus, maar nie oor Sy boodskap van gehoorsaamheid aan God en die goeie nuus oor Sy komende Koninkryk wat binnekort op hierdie aarde opgestel gaan word nie?

Wat lê voor?

Tensy ons nasionaal bekeer van die verbreking van God se wette, lyk ons toekoms inderdaad bleek. Elke groot nasie en ryk wat in die verlede tot die dieptes van immoraliteit gedaal het soos wat ons tans ondervind, het tot ’n val gekom.

Wat kan ons dus verwag? Sal leraars wakker skrik en begin om gehoorsaamheid teenoor die wette van God te verkondig? Sal politieke leiers hulle wend na die Skepper uit ware goddelike vrees en God en Sy weë ’n lewensbelangrike deel van die volkslewe maak? Sal opvoedkundiges, psigoloë en sosioloë begin om hulle konsepte te bou op die beginsels van God en Sy Woord?

Die antwoord skyn voor die hand liggend te wees. Die VSA, tesame met die meeste Engelssprekende nasies, gaan ’n tydperk van nasionale rampspoed en ellende tegemoet - eintlik ’n nasionale straf - ongekend in die mens se geskiedenis. Met die maande en jare wat verbysnel sal meer en meer krisisse opduik. Die nasionale skuldlas en onsedelikheid sal toeneem en die misdaadsyfer sal styg. Stede sal selfs minder veilig word soos wat hulle oorkom word deur wetteloosheid, bende-oorloë, rasse-onluste - en uiteindelik voedsel oproer weens die dreigende droogte en die hongersnood wat voorspel is om die mensdom te tref.

Persoonlik kan u uself bring tot intense bewustheid van wat besig is om te gebeur. U kan begin om die Bybel ywerig te bestudeer en te sien wat regtig daar staan. U kan begin om God aan te roep in ernstige gebede en Hom vra om leiding, krag en bevryding vir u en u gesin in die stormagtige jare wat voorlê. Wend u dan tot Hom met u hele hart en begin Sy wette gehoorsaam. Neem die ware Jesus Christus as u persoonlike Saligmaker aan, gee u lewe ten volle aan Hom oor en laat Hom toe om Sy lewe in u te lei.

In u opregte soeke na God en u geloof in die ware Evangelie van Sy Seun, leer om te doen wat Hy sê. Hy sal u lewe verryk met begrip en doelgerigtheid. Hy sal u die gawe van die ewige lewe skenk in Sy toekomstige Koninkryk (Joh. 3:16). Hy sal u red uit die wêreldwye katastrofe wat so duidelik deur Jesus voorspel is. Jesus self waarsku in Lukas 21:36: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan”.