Foto’s vanuit die ruimte onthul ongelooflike sterrestelsels en nebulae [newelvlekke]. Wat het dit met u toekoms te doen?


Die mens word baie beperk deur tyd en ruimte, nogtans het ons ’n begeerte om ons heelal te verken. Daardie ingebore drang het gelei tot die Apollo Ruimteverkenningsprogram in die 1960’s. Op 20 Julie 1969 het Neil Armstrong en Edwin “Buzz” Aldrin, Jr. op die maan geloop. Hulle het 21 uur daar spandeer en na die aarde teruggekeer met 21 kg. maanrots. In Desember 1972, het Apollo 17 op die maan geland. Ruimtevaarders Eugene Cernan en Harrison Schmitt was die laaste van 12 Amerikaners wat die maan se geheimsinnige oppervlak bewandel het.

Sedertdien was niemand terug daarheen nie.
Op 15 April 2010 het die Amerikaanse President, Barack Obama, ’n belangrike toespraak gelewer by die Kennedy Ruimtesentrum in Florida om ’n verandering in die Amerikaanse ruimtebeleid aan te kondig. Hy het verklaar: “Vroeg in die volgende dekade sal ’n groep bemande vlugte die stelsels uittoets en beproef wat nodig is vir verkenning buite die Aarde se lae wentelbaan. Teen 2025 verwag ons nuwe ruimtetuie wat ontwerp sal wees vir lang vlugte, wat ons sal toelaat om te begin met die heel eerste bemande vlugte verder as die maan, diep die ruimte in. Ons sal dus begin deur ruimtevaarders, vir die eerste keer in die geskiedenis, na ’n asteroïde te stuur. Teen die middel van die 2030’s, glo ek, sal ons mense kan stuur om in ’n baan om Mars te wentel, en hulle weer veilig terugbring na die Aarde. Daarna sal ’n landing op Mars volg. Ek verwag om hier rond te wees om dit te sien”.

Ander nasies is ook besig met ruimteverkenning. China is vinnig besig om Amerika en Rusland in te haal. In Oktober 2003 het die Volksrepubliek van China sy eerste “taikonaut” die ruimte in gelanseer. Slegs Rusland en Amerika het voorheen ’n man die ruimte in gelanseer. In 2007 het twee Chinese ruimtevaarders ’n reeks “buite-ruimtetuig aktiwiteite” – algemeen bekend as “ruimtewandelings” – uitgevoer. In Desember 2011 het Chinese wetenskaplikes hul eerste suksesvolle koppeling tussen ’n wentelende platform, Tiangong-1, en ’n ruimtetuig, die Shenzhou-8, gevier. China beplan om vervolgens ’n 60 ton bemande ruimtestasie te bou wat teen 2016 wetenskaplikes in staat sal stel om navorsingsprojekte in die ruimte uit te voer.

Wat is die mens?

Die mens word gefassineer deur die heelal en dit hoort ook so. Ons is ’n deel van God se groot skepping. Koning Dawid van ouds het hom verwonder oor sy plek in die kosmos. As ’n jong skaapwagter het hy die heerlikheid van die hemel elke nag aanskou. Hy skryf: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4-5). Het u aan u plek in die heelal gedink – nou en in die toekoms?

So ongelooflik as wat dit mag klink, dui die Bybel aan dat die aarde en die heelal geskape is vir die mens! Trouens, koning Dawid skryf verder: “... wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers [gesag of heerskappy hê] oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. o Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Psalm 8:5-10).

God het aan die mens heerskappy gegee oor die fisiese aarde en sy skepsels. Ons is veronderstel om te leer hoe om dit as getroue rentmeesters te bestuur, te beheer en te dien. Waarom het God dan aan ons soveel heerskappy oor die aarde gegee? Die antwoord is verstommend. Baie mense is te bang om dit te glo, selfs al maak die Bybel dit duidelik. God gee ons nou die geleentheid om opgelei te word vir groter gesag en rentmeesterskap in die toekoms! God het ’n ongelooflike plan vir die hele mensdom. So ongelooflik as wat dit mag lyk, wil God die heelal met u deel! Dit is wat u Bybel openbaar! Die boek Hebreërs haal Dawid se Psalm aan: “U het hom ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel” (Hebreërs 2:7-8).

Onder God se inspirasie voeg die skrywer dan ’n opmerking by: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom [die mens] het Hy [God] niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (vers 8, laaste deel). Dit lyk asof niks in die heelal uitgesluit sal wees van die mens se heerskappy nie. Hierdie ontsagwekkende gebeurtenis lê nog in die toekoms, maar dit is God se belofte, en is verseker!

Die Grieks vir “alle dinge” in vers 8 is ta panta, en beteken letterlik “die alles”. In die onbeperkte sin van die woord, beteken ta panta “die heelal”. God wil nie slegs aan u heerskappy oor die aarde gee nie; Hy wil die ganse heelal met u deel. Ons kan dit slegs doen wanneer ons die ewige lewe beërwe het, wanneer ons God se onsterflike kinders word. God het ’n ontsagwekkende doel vir ons, en dit behels ons toekoms in die heelal!

Daardie doel sal ons kapasiteit en ons begrip veel wyer uitbrei as wat ons onsself nou kan indink. Besef ons ons huidige beperkings? Dink ons dat ons, as asemhalende, voedsel-etende, water-drinkende wesens baie ver die ruimte in sal kan vaar? Terwyl die planeet Mars moontlik bereik kan word teen ’n koste van miljarde dollar, is die ster wat die naaste aan ons sonnestelsel is – Proxima Centauri – 4,2 ligjare ver. Indien ons teen die spoed van lig kon reis, sou dit ons 4,2 jaar neem om daarheen te gaan. Ons ruimtetuie en verkenningstuie reis natuurlik baie stadiger; Voyager 1 sal 70,000 jaar nodig hê om so ver as die afstand tussen die aarde en Proxima Centauri te reis. Ons sal nooit die ruimte kan oorwin, nog minder ver die heelal in kan reis, tensy ons deur die menslike beperkings van tyd en ruimte kan breek. Daar is egter hoop vir die toekoms! God het ’n plan vir sy kinders om tyd en ruimte te bowe te kom!

Wat sal u doen?

U Bybel openbaar dat God se doel vir elke man en vrou vreugde sal bring vir alle ewigheid. Wat presies sal getroue, Godvresende, ware Christene vir alle ewigheid doen? Baie belydende Christene glo dat die menslike siel, tydens afsterwe, óf na ’n vurige hel óf na ’n salige hemel gaan, of moontlik ’n geruime tyd sal deurbring in die vagevuur voordat hulle die hemel bereik. Wat leer die Bybel werklik? Dit leer dat daar ’n menslike gees in die mens is – nie ’n onsterflike siel nie (Job 32:8; 1 Korinthiërs 2:11). “Die siel wat sondig, dié moet sterwe" (Esegiël 18:4). Ja, die Bybel leer ons dat die siel kan sterf!

Jesus verklaar in Mattheüs 10:28: “... maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna vuur]”. Die Bybel leer ons dat siele sterflik is, nie onsterflik nie, en heeltemal vernietig kan word deur vuur. Jesus sê so. Die onboetvaardige goddelose mense sal inderdaad gepynig word, en dan in ’n poel van vuur verbrand word. Dit staan bekend as die “tweede dood” (Openbaring 20:14-15). Die tweede dood is finaal; dit is ’n dood waaruit daar geen opstanding is nie. U wil beslis nie in ’n poel van vuur gegooi word nie! U behoort die lewe te kies, en die verlossing wat God ons bied deur Jesus Christus! U behoort te bekeer en gedoop te word, soos die apostel Petrus verkondig het op die Pinksterdag (Handelinge 2:38).

God het ’n wonderlike plan van verlossing vir die hele mensdom. Hy wil hê dat u deel van Sy gesin moet wees, vir alle ewigheid. Paulus skryf: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efesiërs 3:14-15).

God is die Vader van ’n gesin. Een van die ontsagwekkendste aktiwiteite wat Christene sal beoefen, vir alle ewigheid, is geestelike samesyn met ons liefdevolle gesinslede. Dit is ’n koninklike gesin (1 Petrus 2:5, 9). Jesus Christus sal terugkom as die Koning van die konings en Here van die here. Jesus Christus sal ons dan “konings en priesters vir onse God gemaak [het], en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Ja, ons sal konings en priesters wees en dien onder ons Verlosser, Jesus Christus!

Ons sal die koninkryk van God beërwe: “... en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid” (Daniël 7:18). Daardie heiliges sal met Christus se wederkoms in die eerste opstanding wees. Hulle sal oor hierdie aarde heers, onder die Koning van die konings dien, en miljarde mense help. Wanneer Christus weer kom, sal ware Christene opgewek of verander en onsterflikheid gegee word (1 Korinthiërs 15:51-54). Ons sal ook “die beeld van die hemelse dra” (vers 49). Ons sal heerlikheid, mag, onsterflikheid en ’n geestelike liggaam hê.

Onthou, ná Jesus se opstanding het Hy na die hemel opgevaar en sy voor-vleesgeworde glorie is aan Hom herstel, soveel so dat “sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:16). Nogtans was Jesus na Sy opstanding in staat om Homself in die vlees te openbaar; Hy het aan Sy dissipels verskyn en met hulle brood en vis gedeel (Johannes 21:13). Die heiliges sal ook in staat wees om hulself aan die fisiese nasies te openbaar, tydens die Millennium. As konings en priesters, sal ons regeer en onderrig gee. Trouens, die priesters in antieke Israel was die leermeesters. Gedurende die Millennium sal ons onderrig gee in God se manier van lewe – die weg van waarheid, die weg van die Bybel, die manier van lewe wat Christus as voorbeeld gestel en geleer het. As konings en priesters, sal ons aan die wêreld die weg na vrede leer: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).

Heersers in God se Koninkryk

In God se Koninkryk sal koning Dawid regeer oor die huis van Israel en die huis van Juda, omdat die twee nasies een sal wees (Esegiël 37). Jesus het gesê dat die Twaalf Apostels oor die twaalf stamme van Israel sal regeer: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe” (Mattheüs 19:28-29).

Watter ander verantwoordelikhede sal die heiliges hê? In Lukas 19 het Jesus die gelykenis van die ponde gegee en daardeur geopenbaar dat getroue Christene oor stede sal heers – party sal vyf bestuur en ander tien. Jesus het ons ook geleer dat diegene wat oorwin, oor die nasies sal heers (Openbaring 2:26). Het die stede en nasies van hierdie wêreld goddelike regering nodig? Beslis! Dit is die rede waarom ons bid: “Laat U koninkryk kom”! U, as deel van God se verheerlikte, onsterflike gesin, kan deel wees van die oplossing vir die wêreld se probleme!

God se Koninkryk sal op aarde regeer. Jerusalem sal die hoofstad van die wêreld wees. Luister na hierdie inspirerende profesie: “So sê die Here: Ek keer terug na Sion, en sal midde-in Jerusalem woonen Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg” (Sagaria 8:3). Getroue Christene sal Jesus Christus dien as konings en priesters, hier op hierdie aarde – nie bo in die hemel soos baie mense verkeerdelik leer nie! Hier is hoe die apostel Johannes die opstanding beskryf wat sal plaasvind wanneer Jesus Christus terugkeer na die aarde toe: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Na die duisend jaar sal Satan die duiwel losgelaat word om die nasies te mislei. Diegene wat daardie verleier volg, sal vernietig word deur vuur uit die hemel (Openbaring 20:9). Satan en sy demone sal in die poel van vuur gewerp word (Mattheüs 25:41). Dan sal die boek van die lewe vir die eerste keer vir miljarde mense oopgemaak word, in die Wit Troon Oordeel. Dit is die tyd van die tweede opstanding – die periode van oordeel wanneer baie van u vriende en familie, wat nooit ’n werklike geleentheid vir verlossing gehad het nie, daardie geleentheid gegee sal word. Wat sal na afloop van die Wit Troon Oordeelstyd gebeur? “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:14-15).

Dit is die ware “helvuur” van u Bybel. Na die Wit Troon Oordeel sal alle mense wat ooit geleef het, óf vernietig word in die poel van vuur, óf verheerlikte kinders van God word, om vir ewig in die onsterflike gesin van God te leef. Petrus skryf dat die aarde heeltemal gereinig sal word deur vuur: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).

Die aarde sal hernu word, so ook die hemele. Dan sal God se hemelse troon na die gesuiwerde aarde kom: “En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openbaring 21:3).

Die ganse heelal!

Let daarop dat God aan Christene nie slegs die aarde gee nie (Mattheüs 5:5) – Hy gee ook aan ons die ganse heelal: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7; Romeine 8:32). God se doel is om ons voor te berei om oor die heelal te regeer. Ons sal in staat wees om in ’n oogwenk na verafgeleë sterrestelsels te reis. Ons sal nie beperk word deur tyd en ruimte nie. God wil hê dat ons die skepping moet bevry van verval en korrupsie. Soos Paulus skryf, “... dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21).

God het ’n ongelooflike lotsbestemming voorhande vir Sy getroue kinders. Ons sal vir alle ewigheid aktief, vervuld en salig gelukkig wees. Die profeet Jesaja het toe hy die koms van die Messias, en Sy ewige koninkryk voorspel het, geskryf: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Wil u deel in die wonderlike toekoms wat God vir u beplan het? Sien u uit na die dag wanneer God se troon van genade na die aarde sal kom? Slegs dan, uiteindelik, sal daar geen pyn, lyding en dood meer wees nie. Johannes skryf van ons inspirerende uiteindelike lotsbestemming: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Dit is die ewigheid wat God vir u beplan het. Mag God u help om Sy groot liefde en doel vir u te verstaan, en om u voor te berei vir u ontsagwekkende ewige lotsbestemming!