Met omtrent een vyfde van die hele wêreld se bevolking, bly China ’n raaisel vir baie mense in die Weste. Duisende jare gelede was China ’n imperiale staat met grootse ambisies van gebieds- en selfs wêreldoorheersing. Alhoewel dit deur die 20ste eeu geskud was deur oorlog en ekonomiese rampe, word daar by die aanbreek van die 21ste eeu gesien dat nuwe aandag geskenk word aan China as ’n ekonomiese en politieke supermoondheid in wording. Wat openbaar u Bybel oor China se toekoms en sy plek in eindtydse profesieë? Die antwoord mag u verras!


Sestien jaar gelede toe finansier Philip Schaefer ’n konferensie vir beleggers, onder die titel “Die Chinese Eeu: Vanaf Wallstraat tot die Groot Muur”, georganiseer het, het baie min mense nog die sinsnede “die Chinese Eeu” gehoor as beskrywend van daardie geheimsinnige nasie se opkoms tot ’n nuwe vlak van wêreldmag.

Deesdae, met Amerika se snelle agteruitgang en beleggers soos Warren Buffet wat openlik verklaar dat die 21ste eeu “China se Eeu” is, gee baie meer mense aandag. Met die Chinese nasie wat hard werk om die Weste te oortref op beide ekonomiese en militêre gebied, is dit bestem om die wêreld binnekort te oorheers op die wyse wat Amerika en Brittanje in staat was om dit te doen gedurende die laaste eeu? Sal die 21ste eeu inderdaad “China se Eeu” wees?

Met ’n beraamde bevolking van 1.3 miljard, is China die nasie met die grootste bevolking op aarde. Dit het by verre die grootste finansiële reserwes van alle nasies – wat nou beraam word op US$2.1 biljoen! China se militêre- en vlootmagte word voortdurend ontwikkel. Mense wat China dophou het agtergekom dat die nasie doelbewus ’n koers beplan het wat ekonomiese groei met militêre mag verbind. China se gemiddelde groeikoers van rofweg 9% oor die afgelope 20 jaar het gelei tot ’n tienvoudige toename van die per capita Bruto Binnelandse Produk (BBP) en ’n 21-voudige toename van koopkrag vir militêre uitgawes. China werk dus stadig maar seker daaraan om sy gewapende magte te omskep in ’n volskaalse militêre mag wat in staat sal wees om Chinese mag reg oor die wêreld te kan projekteer.

Joernalis Willy Lam berig vroeër vanjaar in ’n artikel in die Wall Street Journal: “China het onlangs aangekondig dat sy BBP gegroei het met meer as 7.1% in die eerste helfte van hierdie jaar, wat die land op koers plaas om Japan as die wêreld se tweede grootste ekonomie teen die einde van hierdie jaar te vervang. Dit is egter nog nie tyd om al fees te vier nie. Boere en trekarbeiders, wat meer as 65% van China se 1.3 miljard mense uitmaak, baat nie veel by hierdie groei nie. Baie daarvan word opgehoop deur die sentrale regering. Verlede jaar het Beijing belasting en ander heffings van meer as ses biljoen yuan ($878 miljard) geïn, ’n ongelooflike vier biljoen yuan meer as vyf jaar gelede. Sedert die draai van hierdie eeu het fondse wat in die koffers van die Beijing tesourie gevloei het, met nagenoeg 22% per jaar vermeerder, meer as dubbel die gemiddelde 10% BBP groeikoers van die afgelope twee dekades” (“Rich China, Poor Peasants”, 24 Julie 2009).

Dus sal China binnekort die tweede grootste ekonomie in die wêreld wees – net ’n kortkop agter Amerika. Soos ’n ander artikel in die Wall Street Journal berig: “Die Pentagon beskou China as die land met die grootste moontlikheid om iewers in die jare wat kom, oor die vermoë te beskik om Amerika militêr, op ’n wêreldwye skaal, uit te daag ... Adml. Wu Shengli, die hoofoffisier in die Chinese vloot – amptelik bekend as die Volksbevrydingsweermag Vloot – het gesê dat die diens vinniger sal beweeg om sy arsenaal te moderniseer en om groter en meer geskikte oorlogskepe te bou ‘om die vermoë om in gemeenskaplike gebiedswaters seeoorloë te veg, te versterk’ deur hoë tegnologiese wapentuig te gebruik. In ’n onderhoud met China se amptelike Xinhua nuusagentskap net voor die vloot se 60ste herdenking die volgende week, het hy ook gesê dat die vloot sy vermoë om op die oop see te kan opereer, sal verbeter. Ander beamptes het in die afgelope maande gepraat van China wat sy eerste vliegdekskip bou, en het sodoende bygedra tot Amerika se besorgdheid dat China sy mag wil laat geld” (“China, Friend or Foe?”, 18 April 2009).

Dit is nogtans belangrik om te besef dat die Chinese hulself vir baie dekades beskou het as agterruiters op die wêreldtoneel – ’n verskriklike verleentheid vir ’n nasie wat waarde heg aan sy historiese verlede as ’n groot wêreldmag. Ten spyte van China se vervloë glorie, was die nasie vir baie eeue teruggehou deur ’n reeks van swak regerings en onverstandige probeerslae. China het hulself voortdurend gedomineerd gevind deur die Amerikaners of die Engelse. Die kommunistiese rewolusie het toe begin – en skielik het miljoene Chinese begin om ’n gevoel van trots in hul eie regering te hê, iets wat hulle voorheen kortgekom het. Kommunisme is sekerlik nie die antwoord op die mensdom se probleme nie. Desnieteenstaande het dit aan miljoene Chinese ’n sin van betekenis gegee en stadig het die nasie ’n mate van selfvertroue begin ontwikkel en, ook stadig selfs ’n mate van materiële voorspoed en militêre mag, wat dit vir baie, baie dekades nie geniet het nie. Dit is dus nie buitengewoon om te dink dat so ’n nasie graag ’n mate van hul oorheersing in Suidoos Asië sal wil terugwen nie.

Baie mense begin nou aandag skenk. Die hoog aangeskrewe beleggingsadviseur, Jim Rogers, het nie so lank gelede nie sy gesin vanuit Amerika na Singapoer verskuif, en gesê dat hy graag nader wil wees aan waar die “ware aksie” is in die toekomstige ekonomiese stelsel van die wêreld. Rogers is bekend daarvoor dat hy aan ondervraers sê dat hy sy dogters aangeraai het om Mandaryn Chinees te leer, sodat hulle voorbereid kan wees vir die toekoms! Wat is sy beweegrede? Lees wat het hy onlangs aan die tydskrif, TIME, gesê: “Regdeur die geskiedenis het die middelpunt van die wêreld verskuif na waar die kapitaal is, waar die bates is. U sien geen tydperk in die geskiedenis waar dinge na die skuldenaars verskuif het nie en Amerika is die grootste skuldenaar-nasie in die wêreld se geskiedenis. Tensy dinge hierdie keer anders is, tensy die wêreld baie, baie dramaties verander het, sal die middelpunt van invloed, die middelpunt van mag, die middelpunt van die aarde, die middelpunt van die aardbol, in die rigting van Asië verskuif, omdat dít is waar al die geld is. Het u al ooit gehoor van iemand wat sê: ‘Laat ons gaan na waar al die skuldenaars is?’ Dinge gebeur eenvoudig net nie op daardie manier nie” (“Q&A: Investment Guru, Jim Rogers”, 28 April 2009).

Is Rogers reg? Of is iets op die punt om baie, baie dramaties te verander? Die werklike vraag is: Waarheen gaan dit alles lei? Wat gaan werklik gebeur? Wat dui diegeïnspireerde Woord van God aan?

God se openbaring

Op verskeie plekke in u Bybel dui God duidelik aan dat Hy in beheer is van al die belangrikste wêreldgebeure. In die boek van Daniël lees ons dat antieke Koning Nebukadnésar vir sewe jaar van sy mag onthef was en gras moes eet soos beeste, ten einde hom ’n les te leer. Wat was daardie les? God antwoord: “... totdat jy erken dat die Allerhoogstemag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:32). Selfs die meeste belydende Christene verstaan nie die realiteit van God se beslissende outoriteit en hoe werklik God regtig is nie. In hierdie huidige geslag sal hulle egter begin verstaan – aangesien God meer kragtig as ooit tevore begin ingryp in menslike sake. Weereens, God se geinspireerde Woord sê aan ons: “Die Here vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag” (Psalm 33:10-11).

Alhoewel China nou besig is – en toenemend sal voortgaan – om een van die magtigste en invloedrykste nasies in die wêreld te word, openbaar u Bybel duidelik dat dit nie diegrootste bedreiging vir Amerika sal word nie. Ons 21ste eeu sal nie “China se Eeu” wees nie.

God se geïnspireerde Woord sê eerder aan ons dat ’n magtige ryk in Europa sal verrys – een wat in werklikheid die hele wêreld ekonomies en handelsgewys sal domineer. Indien ons die Bybel toelaat om homself te interpreteer – sal dit nie nodig wees dat ons moet “raai” wie hierdie mag is, of waar dit moontlik sal verrys nie.

Soos bykans alle Bybelstudente weet, het die Almagtige God deur Daniël ’n reeks van vier koninkryke openbaar wat op die wêreldtoneel sal verrys – die vierde sal uiteindelik ontwortel word deur die “vyfde koninkryk” wat letterlik die regering van God onder Jesus Christus sal wees (Daniël 2:36-45). Toe Hy die “vierde Koninkryk” beskryf het, sê God se woord aan ons: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44). As ons die beskrywings van hierdie vier dominante ryke soos aangeteken in Daniël 2 en Daniël 7 saam lees, is dit duidelik dat die “vierde dier” die Romeinse Ryk is. God gaan voort met die verhaal in Openbaring 13. Hier het ons ’n beskrywing van die “herleefde” Romeinse Ryk wat voortduur tot in die Middeleeue. Alhoewel die oorspronklike Romeinse Ryk in 476 n.C. ondergegaan het met ’n “dodelike wond”, was daardie wond “genees” toe Justinianus in 554 n.C. die Heilige Romeinse Ryk laat herleef het – met ses verdere herlewings wat sou volg (Openbaring 13:3).

Johannes beskryf hierdie ryk verder: “En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? En ’n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:4-7). Hierdie ryk was ’n baie magtige ryk, wat – onder die invloed van die pousdom – die ware heiliges van God gruwelik vervolg het en gedurende die Donker Middeleeue, God se Kerk so te sê heeltemal uitgewis het.

Dan, egter in nog ’n geïnspireerde visioen, sien Johannes “uit die aarde ... ’n ander dier ... opkom” (vers 11). Hierdie dier het soos ’n “lam” gelyk – net soos Jesus Christus wat regdeur die Bybel as ’n “Lam” beskryf word. Nogtans het hierdie dier “gepraat soos ’n draak”. Die term “draak” word regdeur hierdie einste boek – die boek van Openbaring – gebruik om Satan die duiwel aan te dui “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9).

Die “tweede dier” wat in Openbaring 13:11-18 beskryf word, is baie duidelik ’n groot godsdienstige mag wat die hele mensdom mislei. Hierdie mag sal ook ontsagwekkende wonderwerke verrig aan die einde van hierdie tydperk. “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (verse 13-14).

Hierdie godsdienstig-politiese mag is nou in wording in die Europese vasteland. In die begin sal dit lyk asof hierdie mag “goed doen”, maar uiteindelik sal dit die godsdienstige, finansiële en politiese leisels van mag in die Westerse wêreld oorneem. Sy oorheersing van handel en finansies sal selfs oor die hele aarde strek.

Openbaring 18 beskryf hierdie moondheid – as ’n moderne “Babilon”. God se Woord sê: “Omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:3).

Uiteindelik beskryf God egter die vernietiging van hierdie stelsel wanneer “... die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie” (vers 11). God se Woord stel dit so: “Wee, wee die groot stad ... omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: Watter stad is soos die groot stad?” (Openbaring 18:16-18). Dus sal hierdie magtigste politieke, militêre en handelsmag op aarde gestig word teen die eindtyd – ’n mag wat oorheers en sterk beïnvloed sal word deur ’n vals godsdienstige stelsel: “En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (vers 24).

Wie se Eeu sal dit wees?

Nee, ons 21ste eeu sal nie uiteindelik die “Eeu van China” wees soos baie politieke en ekonomiese voorspellers verwag nie. Ten spyte van Europa se kortstondige opkoms in die jare wat voorlê, sal dit ook nie die “Eeu van Europa” wees nie. God se Woord maak dit egter duidelik: Jesus Christus se wederkoms sal binnekort plaasvind, wat dit die Eeu van Jesus Christus sal maak!

Direk na die beskrywing van die algehele vernietiging van die laaste “dier”-moondheid, sê God se Woord aan ons: “En na hierdie dinge het ek iets soos ’n groot stem van ’n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!” (Openbaring 19:1). In vers 11 sê God aan ons deur Johannes: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16).

Waar sal dit dus alles eindig? Dit sal eindig met die Wederkoms van die “Koning van die konings” wat binnekort voorlê – die Allerhoogste Alleenheerser, Jesus Christus wat in onuitspreeklike heerlikheid uit die hemel sal neerdaal! Dan sal die “laaste basuin” weerklink en engele stemme sal aankondig: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in allewigheid” (Openbaring 11:15).

Regdeur die Bybel gee God aan ons duidelike aanduidings dat ons op die “uitkyk” moet wees vir die vervulling van Sy geïnspireerde profesieë. Hy – en Hy alleen – weet wat die einde is van die begin af. Daar is geen aanduiding van enige Chinese vlootmag in die Skrif se eindtydse profetiese panorama nie – maar kan ’n 200 miljoen-man sterk landmag vanuit die Ooste (Openbaring 9:16) saamgestel word sonder China? Kennis van Bybelse profesieë stel ons in staat om China se opbou dop te hou met inligting waaroor die wêreld se politieke kenners nie beskik nie!

Terwyl die wêreld se oë op China gerig is, sal studente van God se Woord weet dat die “werklike aksie” in Europa en in die Midde-Ooste sal plaasvind. Tien nasies of groepe van nasies sal verenig onder ’n oppermagtige diktator wat u Bybel die “Dier” noem. ’n “Koning van die Suide”, suid van Jerusalem – die gebied waar ons die Arabiese Moslem nasies vind – sal hul magte in ’n dramatiese konflik met hierdie Europese “Dier”-moondheid lei en so die laaste eindtydse reeks oorloë ontketen wat sal uitloop op die wederkoms van Jesus Christus!

Ja, dit sal ’n aantal jare neem vir alles om volledig te gebeur. Terwyl ons egter wag en waak, behoort ons op ons hoede te wees vir die groot doel wat die Almagtige God hier benede uitwerk – deur mense te leer dat ons weë nie vrede bring nie. Die menslike ras is nie in staat om hulself te regeer nie. ’n Geesgeleide Wêreldregering onder Jesus Christus is die enigste oplossing vir die verskriklike leed en lyding wat elke nasie op aarde toenemend affekteer.

Werklikwaar, elkeen van ons moet uit die diepte van ons harte en dringend Jesus Christus se opdrag gehoorsaam: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).