Die aantal mense wat die waarheid omtrent aborsie besef word al hoe meer. Is daar hoop vir diegene wat reeds die fout gemaak het om ’n aborsie te hê?

In die vorige uitgawe van die Wêreld van Môre het ons ’n paar van die komplekse kwessies rakende aborsie ondersoek. Ons lees hoe dr. Bernard Nathanson, Lawrence Lader en andere, aborsie op misleidende wyse op aanvraag aan Amerika en groot dele van die wêreld verkoop het. Ons het dr. Nathanson se bekentenis gelees en hoe hy en andere vervalste opgeblaasde statistiek aan die media gevoer het omtrent die aantal aborsies wat in agterkamers uitgevoer is en die gevolglike sterftes, met die doel om simpatie vir aborsie met toestemming aan te moedig. Ons het gesien hoe die media die waarheid verdraai en die feit onderdruk het dat ’n groot persentasie Amerikaners wél teen aborsie gekant is. Dit geld veral vir millenniales – dié wat ongeveer tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar oud is – maar mens sou dit nooit weet nie, want dit word geheim gehou agter die rookskerm van die linksgesinde media se vooroordeel.

Ons het ook kennis geneem daarvan dat sommige van die mees uitgesproke pro-aborsioniste later van kant verander het om leiers in die pro-lewe-beweging te word. Onder hulle was dr. Nathanson en Norma McCorvey – of te wel Jane Roe, van die Roe versus Wade Hooggeregshof-besluit om aborsie te wettig. Carol Everett, wat op een stadium vyf aborsieklinieke bedryf het, is nou uitgesproke teen die aborsiebedryf; en die voormalige aborsiedoktor, dr. Anthony Levatino, het ook van kant verander.

Ons het ook opgemerk dat geldelike gewin ’n dryfveer in die aborsiebedryf is, maar ook – net so belangrik – dat baie mense gemotiveer word deur ’n misleide idee dat hulle vroue help. Vooroordeel teen God en godsdienstige mense dra tot ’n verdraaide wêreldbeskouing by.

Voordat ek hierdie onderwerp in meer besonderhede ondersoek, wil ek die leser daaraan herinner dat nie hierdie artikel of die een wat dit voorafgegaan het, bedoel is om enigiemand te veroordeel nie. Ons doel is om kennis oor te dra en te wys dat daar hoop is. Dit sou nogtans verkeerd wees om te sê dat aborsioniste, diegene wat aborsies gehad het en diegene wat die praktyk ondersteun of versuim om te praat wanneer dit gepas is om dit wel te doen, sonder skuld voor God is. Aborsie is moord! Selfs moord kan vergewe word en daar is hoop en vryskelding van skuld soos wat ons later in hierdie artikel sal sien.

Verandering van kante

Kom ons kyk meer in diepte na die verhale van mans en vrouens wat voorheen pro-aborsie was, maar wat tot ’n ontnugtering gekom het en pro-lewe geraak het. Laat ons sien dat daar wel hoop vir die aborsionis is sowel as vir diegene wat ’n besluit geneem het waaroor hulle later bitter berou gekry het, hetsy dit ’n besluit was om aborsies uit te voer, om ’n aborsie te hê of om aborsie aan te moedig. Die verhale van diegene wat van opinie verander het van om lewens te beëindig na lewens te red, is verskillend, maar almal is fassinerend.

Linda Couri het op 24-jarige ouderdom ’n aborsie gehad en was verlig dat haar probleem verdwyn het – of so het sy gedink. Sy het aangehou om vir Planned Parenthood te werk en het gedink dat sy die simpatieke ding gedoen het deur berading aan jong vroue te verskaf. Nadat ’n bevreesde 16-jarige haar die vraag gevra het: “Is dit ’n baba?” was daar ’n stryd binne-in haar. Behoort sy die waarheid te vertel?: “Ja, natuurlik is dit ’n baba” (haar eie woorde) of behoort sy ’n eerlike, maar misleidende antwoord te gee: “Dit is die produk van konsepsie”? Sy het die toepaslike telefoonnommer gegee, maar moes gerusstelling by ’n kollega kry dat wat sy gedoen het, reg was. Daar was ’n stryd binne-in haar. Daar was ook ander voorvalle wat haar skuldig laat voel het en elf jaar na haar eie aborsie het sy besef dat sy ’n verskriklike fout begaan het.

Dr. Anthony Levatino was mede-eienaar van wat op een tydstip die enigste OB-GYN kliniek in verskeie distrikte in die staat New York was, wat D&E (Dilation and Evacuation of te wel Verwydering en Skoonmaak) aborsies vir tweede trimester babas uitgevoer het. Sy ontnugtering het gekom toe sy eie jong aangenome dogter deur ’n motor getref is en gesterf het. Daardie verskriklike tragedie was ’n skokkende ontnugtering. Hy het die verband tussen sy werk by die kliniek en die waarde van ’n menslike lewe gesien. Hy het besef dat hy op die verkeerde pad was en het dus daarvan afstand gedoen.

Hierdie verhale en dié van ander het almal ’n paar dinge in gemeen. Hulle wêreldbeskouings oor die kwessie van aborsie was byvoorbeeld gevorm en geskaaf deur die kultuur en media rondom hulle. Soos aangehaal in my vorige aflewering oor hierdie onderwerp, het Levatino dit só verduidelik: “Almal in die aborsiebedryf weet dat almal wat by die pro-lewe-beweging betrokke is, eksentriek is. Ek weet, want CNN vertel dit vir my en hulle sal nooit leuens vertel nie”.

Baie mense mislei hulleself ook deur te glo dat hulle die simpatieke ding doen. ProLifeAction.org het Levatino se bekentenis in hierdie verband aangehaal:

Ek het baie keer van ander verloskundiges gehoor: Wel, ek is nie regtig pro-aborsie nie, ek is pro-vrou. Hoeveel keer het u al daardie een gehoor? Die vrouegroepe in hierdie land is nie alleen nie. Hulle het egter ’n baie goeie werk gedoen deur die konsep aan die bevolking te verkoop, naamlik dat om op een of ander manier ’n lewe te vernietiging, pro-vrou is. Baie verloskundiges gebruik egter daardie verontskuldiging vir selfregverdiging en ek kan vir u sê dat baie van hulle dit glo. Ek het ook. Dit is nie moeilik om daarvan oortuig te word nie.

Linda Couri het uit daardie wêreldbeskouing gekom. Ons mag ’n afsku hê aan die vernietiging van die menslike lewe in die baarmoeder maar ons moet verstaan hoe dit kan wees dat baie mense gereeld gedurende die dag aan hierdie aktiwiteit deel het en nog steeds snags kan slaap. Hulle opvoeding tydens hulle kinderjare het ’n sterk wêreldse waardesisteem ingesluit. Dit is insiggewend om te lees hoe me. Couri haar vroeëre lewensbeskouing beskryf het tydens ’n 2012 konferensie wat genoem is “CONVERTED: From Abortion Provider to Pro-Life Activist:

As jongmens het ek regtig meer waarde aan vryheid geheg as enigiets anders ... Ek het ook godsdiens, veral Christelikheid ... as regtig wreed en dom beskou. Ek het mense wat van my verskil het as veroordelend, saai, oppervlakkig en anti-intellektueel beskou. Ek wou dus glad nie naastenby soos hulle wees nie. Ek het gedink hulle is nogal pateties. Ek wou nie eens hulle menings oorweeg nie. Vir my het dit gelyk of godsdienstige mense nie betrokke was in wat ek as “die regte wêreld” beskou het nie. Godsdienstige mense was in ’n soort vreemde fantasiewêreld. Nie net pro-lewe mense nie, maar alle godsdienstige mense was wat my aanbetref, eksentriek. Dit is dus die soort van lewenspatroon waaruit ek kom.

Nog ’n oorloper

Kathi Aultman, M.D., het op 15 Maart 2016 voor ’n Senaat Regsbankkomitee teen aborsie getuig. Dr. Aultman was nie altyd teen aborsie nie. Sy het persoonlik eerste en tweede trimester aborsies uitgevoer en het sélf een gehad. Sy het in die aborsiebedryf gekom met ’n soortgelyke wêreldbeskouing as dié van Linda Couri. Hier is haar aangetekende bekentenis:

Teen die tyd wat ek by die mediese skool ingeskryf het, het ek geglo dat die beskikbaarheid van aborsie op aanvraag ’n kwessie van vroueregte was. Ek het gevoel dat ’n vrou beheer oor haar liggaam het en nie gedwing behoort te word om ’n kind te dra wat sy nie wil hê nie. My betrokkenheid tot vroue-probleme is versterk omdat ek blootgestel was aan die diskriminasie wat daar aan die orde van die dag by die mediese skool en residensie was op daardie stadium en aan die lot van die behoeftige vroue wat ons in ons program gedien het. Ek het ook geglo dat dit verkeerd was om ongewenste kinders in ’n oorbevolkte wêreld in te bring waar hulle waarskynlik verwaarloos of mishandel sou word.

Sy het verder aan die komitee verduidelik hoe sy opleiding ontvang het vir verwydering en skoonmaak [dilation-and-evacuation] om tweede trimesterprosedures uit te voer. Sy het verduidelik, “die fetus is doodgedruk en in stukke verwyder”. Om ten volle te verstaan wat in haar getuienis gevolg het, wil ek na my vorige artikel terugverwys waar ek aangehaal het uit die BabyCentre, ’n gewilde V.K. webwerf wat week vir week die ontwikkeling van bevrugting tot geboorte beskryf. Dít beskryf week tien:

U baba is nou amptelik ’n fetus! Hy/Sy is gereed vir groei en sal binne die volgende drie weke meer as verdubbel in grootte. U baba sluk en skop nou en al sy/haar belangrikste organe is ten volle ontwikkel. Bykomende fynere besonderhede raak ook sigbaar, soos vingernaels en ’n bietjie donsige haartjies op sy/haar haar koppie. U baba se geslagsorgane begin nou wys. Met u beplande skandering wat binnekort behoort plaas te vind, sal u dalk kan sê of u ’n seuntjie of ’n dogtertjie gaan hê (“Your Pregnancy at 10 Weeks”. BabyCentre.co.uk, November 2016).

Die tiende week is nog steeds die eerste trimester. Wanneer dr. Aultman dus van die tweede trimester praat, werk sy met ’n baba wie se belangrikste organe ten volle ontwikkel is. Hier is meer van haar verrassende getuienis voor die Amerikaanse Senaat:

Na elke prosedure moes ek die weefsel noukeurig ondersoek om seker te maak dat geen liggaamsdeeltjies oorgebly het wat infeksie of bloeding sou kon veroorsaak nie. Ek was gefassineerd deur die klein, maar perfek gevormde ingewande, niertjies en ander orgaantjies en ek het dit geniet om hulle wonderlike sellulêre detail onder die mikroskoop te bekyk. Ek besef dit is moeilik om te dink dat iemand dit kan doen en so onbetrokke kan wees, maar as gevolg van my opleiding en kondisionering was ’n menslike fetus glad nie anders as die kuiken-embrio’s wat ek in die kollege ontleed het nie. Ek kon hulle met streng wetenskaplike belangstelling bekyk, sonder enige emosies waarmee ek normaalweg na ’n baba sou kyk. Ek was nie harteloos nie. Ek was net opgelei om hierdie dinge te kompartementaliseer. Wanneer ’n vrou wat ’n miskraam of stilgeboorte beleef het, ingekom het en sy wou die baba gehad het, was ek saam met haar ontsteld en het haar pyn gevoel. Volgens my denkpatroon het die verskil daarin gelê of die baba gewens of ongewens was.

Net soos andere, het dr. Aultman egter haar eie gewetenskrisis beleef: “Ek het persoonlik geen besorgdheid of berou oor die aborsie gehad nie tot na ek my eerste kind gehad het. Dit was toe dat ek getreur het oor die kind wat kon gewees het”. Sy noem drie verskillende voorvalle na die geboorte van haar kind wat vir haar die verband tussen ’n fetus en ’n kind laat raaksien het. Sy het toe eers sover gekom om die betrokke menslike lewetjie te waardeer.

Hierdie voorbeelde is nie geïsoleerd nie. Dr. Aultman het getuig: “Ek het later agtergekom dat min dokters vir baie lank aborsies kan doen ... Alhoewel baie mense ’n aborsie beskou as net die verwydering van ’n massa weefsel, weet die aborsionis presies wat hy of sy doen omdat hulle die liggaamsdeeltjies na elke prosedure moet tel. Uiteindelik sink die waarheid in en as hulle ’n gewete het, kan hulle dit nie meer doen nie”.

Die generasie van die milleniums is tans, volgens ’n aantal meningspeilings, die mees pro-lewe van alle groepe, maar hulle kyk nie hierna vanuit ’n godsdienstige oogpunt nie. Te danke aan tegnologie wat ons in staat stel om op ’n vroeë stadium in die baarmoeder in te kyk, het hulle sonder dat hulle dit besef, tot dieselfde gevolgtrekking gekom as ’n koning van ouds wat die Goddelike vir die wonder van lewe geëer het: “Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:13-14).

Verwerking van die trauma

Die Bybel vee nie die lewens van sy helde skoon nie – dit word eerlik op sy bladsye weergegee. Ons leer van God se denke en van Sy deernis wanneer ons na hulle lewens kyk. Twee individue is prominent as voorbeelde van God se liefde, deernis en gewilligheid om enigiemand te aanvaar wat werklik berou het oor foute van die verlede. Die eerste een is ’n man met die naam Saulus, wat die nuutgestigte Christelike Kerk wreed vervolg het.

Saulus, wie se naam uiteindelik na Paulus verander is, het ’n bekentenis gemaak oor die soort man wat hy voor sy oomblik van waarheid was. “[E]k het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee. En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede” (Handelinge 26:10-11). Wat het die transformasie wat in Saulus se lewe plaasgevind het, teweeg gebring?

Saulus het op die grond neergeval en was deur ’n groot lig verblind op pad na Damaskus. Hy kon vir drie dae nie sien nie. Aan die einde van daardie tyd het God vir Ananias gestuur om te bid en hom die hande op te lê. “En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop” (Handelinge 9:18). Hy het van daardie dag af opgehou om die Kerk te vervolg en het ’n ywerige dienskneg van Christus geword.

Israel se koning Dawid van ouds staan ook uit as iemand wat ernstige sondes gepleeg het. Hy het toegelaat dat hyself in egbreuk betrokke raak en het daarna probeer om dit met leuens en moord te bedek. Sy oomblik van waarheid het aangebreek toe die profeet Nathan hom gekonfronteer het oor hierdie laakbare gedrag (2 Samuel 12).

Dawid het tot die besef van die erns van sy sondes gekom, hy het dit bely en diep berou daaroor gehad. Psalm 51 bevat sy gebed van bekering tot God. Hy het besef dat niks wat hy kon doen, sy vorige dade sou kon verander nie. Hy het besef dat offergawes en boetedoening as ’n manier om die lei skoon te vee van die sonde vir God niks sou beteken nie. Hy skryf: “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19).

Dawid het besef hoe hulpeloos hy was en dat slegs God die vlek van sonde kan verwyder. Nog een van sy psalms beklemtoon die punt: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie” (Psalm 32:1-2).

Laastens het God aan ons die gawe van Sy Seun gegee, wat ’n duidelike pad na vryheid van die skuld van sonde bied. Soos die apostel Petrus verduidelik: “... julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Petrus 1:18-19). Die apostel Johannes vertel aan ons: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Bernard Nathanson het ’n belangrike rol gespeel om die idee van permissiewe aborsie in Amerika te laat posvat. Hy het nederig begin en het ’n finansiële ryk op ’n moordbedryf gebou wat volgens sy eie berekening, direk of indirek, verantwoordelik was vir die beëindiging van sowat 75,000 klein lewetjies. Hy het nogtans die laaste jare van sy lewe daaraan gewy om die besluit waarin hy so instrumenteel was om te keer – ’n besluit wat hy erken het op leuens en misleiding gebaseer was en die verspreiding daarvan waaraan hy deel gehad het. Nathanson het as ’n Jood grootgeword en homself as ’n ateïstiese Jood beskryf. Hy was ’n man wat deur sy skuldgevoel geteister was en tien jaar nadat hy ’n pro-lewe-voorstander geword het, het hy vergifnis gesoek deur ’n belydende Christen te word.

Carol Everett, Norma McCorvey, Linda Couri en baie, baie ander mense het die lig gesien. Vir dokters Nathanson, Levatino en Aultman het die “skille van hulle oë afgeval”. Vroue het begin om bitterlik berou te hê oor besluite wat in die verlede geneem is. Mans het ook berou gehad oor hulle bydrae om vroue onder druk te plaas om die lewetjies wat hulle gedra het te vernietig. Bo en behalwe aborsie, is dit vir ons almal belangrik om ons     eie sondes te herken en om te weet dat ’n liefdevolle God gewillig is om te vergewe.

Ons almal neem slegte besluite, maar wat ons doen nadat ons ons foute erken het, is die belangrikste. Nadat Paulus besef het dat die rigting wat hy gevolg het, eintlik die verkeerde pad was, het hy berou gehad en is gedoop. Die Bybelse verhaal wys ons dat sy vorige skuld vergewe is. Net so het koning Dawid, ten spyte van sy verskriklike sondes, berou gehad en is vergewe. God sal dieselfde doen vir enige een van ons. Dit maak nie saak hoe vreeslik ons keuses ookal was nie, God sal ons vergewe as ons Sy oplossing vir die probleem nastreef!

Indien u berading wil hê, skryf aan ons of skakel u streekkantoor soos gelys op bladsy 2 en ons sal u in kontak bring met ’n leraar wat omgee. Moenie met onopgeloste skuld leef indien daar ’n oplossing is nie. Leer meer oor die groot potensiaal wat God vir u in gedagte het. Indien aborsie moontlik deel van u verlede is of nie, ons het drie gratis hulpbronne wat u nuttig mag vind: Twee boekies, Behoort u Gedoop te word? en U uiteindelike Lotsbestemming, asook ons beeldsending met die titel “Tiny Fingers and Toes”. Dit kan gevind word by TomorrowsWorld.org. U kan ook eksemplare van ons boekies vanaf u naaste streekkantoor bestel. Alles wat ons aanbied is gratis.