Dit is nie toevallig dat namate méér mense die onderhouding van morele en etiese beginsels heeltemal verwerp, baie demokratiese nasies hul regerings in ’n krisis bevind nie. Slegs wanneer ’n regering op God se volmaakte Wet van vryheid gegrond is, kan dit bly voortbestaan. Vryheid kan slegs seëvier wanneer burgers eerbaar en wetsgehoorsaam is. ’n Volmaakte wêreldregering wat vryhede vir die hele mensdom verseker, sal gevestig word in die wêreld van môre – maar hoe dit gaan gebeur, mag u verras.


In 1947 het die Britse eerste minister Winston Churchill ’n stelling gemaak wat so dikwels aangehaal word dat dit amper ’n cliché geword het. Tog bly dit steeds waar: “In hierdie wêreld van sonde en ellende is daar reeds baie regeringsvorms beproef en sal daar nog baie beproef word. Niemand gee voor dat demokrasie volmaak of alwetend is nie. Trouens, daar word gesê dat demokrasie die swakste vorm van regering is – behalwe vir al die ander wat van tyd tot tyd beproef was”.

Die Verenigde State se minister van binnelandse sake, John Foster Dulles, het gesê: “Ons nasie is gestig as ’n proefneming in menslike vryheid. Sy instellings weerspieël die geloof van ons stigtervaders dat mense hul oorsprong en lotsbestemming in God gehad het; dat Hy aan hulle onvervreembare regte geskenk het, dat hulle deur morele wetgewing voorgeskrewe verpligtings gehad het en dat menslike instellings mense hoofsaaklik behoort te help om hul Godgegewe moontlikhede te ontwikkel”.

Namate Amerikaners, Kanadese, Britte en Suid-Afrikaners al verder afdwaal van die allerhoogste morele Wet, die Tien Gebooie, sien ons hoe daardie proefneming in demokrasie sy einde bereik en ten gronde gaan. Namate burgers die deugde, soos voorgeskryf deur daardie volmaakte Wet van vryheid verwerp, verrot regerings van binne af buitentoe.

Vir ’n regering om sukses te bereik, moet dit gegrond wees op God se heilige en regverdige Wet. Indien dit nie stewig op daardie rotsbodem van geregtigheid gegrond is nie, sal dit skandelik ineenstort! Die VSA se regering was oorspronklik op baie van daardie Wette gegrond, maar hedendaagse Amerikaners oortree dit met grootskaalse minagting.

Horace Greeley, ’n Amerikaanse joernalis van die 1800’s, het gesê: “Vryheid kan nie daargestel word sonder moraliteit nie, ook nie moraliteit sonder geloof nie. Dit is onmoontlik om ’n volk wat hul Bybels lees, verstandelik of maatskaplik, te verslaaf. Die beginsels van die Bybel is die grondslag van menslike vryheid”.

John Adams, tweede president van die VSA, het gesê: “Ons Grondwet is slegs ontwerp vir ’n morele en gelowige volk. Dit is heeltemal ontoereikend vir enige ander regering”. Op 6 Maart 1799 bepleit Adams ’n nasionale dag van plegtige verootmoediging, vas en gebed en kwoteer Spreuke 14:34: “Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies”. Die Bybel verklaar dat al God se Gebooie geregtigheid is en dat sonde wetteloosheid is (Psalm 119:172; 1 Johannes 3:4). Namate die VSA en ander Westerse nasies God se Gebooie verwerp en ’n onsedelike, hedonistiese lewensstyl aanneem, strek dit ander lande meer tot oneer en verloor hulle die kosbare gawe van vryheid in die proses.

Ons sien vandag die VSA se federale tekortbesteding wat buite beheer die hoogte inskiet. Die huidige Bush administrasie se planne is om die nasionale skuld oor die volgende twee jaar te verhoog met $1 biljoen en met $2.75 biljoen binne ’n dekade. Ongedissiplineerde besteding bedreig ’n ganse ekonomiese stelsel waarop die wêreld staatmaak.

Een van die grootste inherente swakhede van demokratiese regerings is die droewige feit dat die verkiesingsproses so ontwerp is dat politici astronomiese hoeveelhede geld kan spandeer om hul kiesers te behaag en herverkiesing te verseker. Alexis de Tocqueville, ’n Franse geskiedkundige wat in die vroeë 1800’s deur die toé jong Verenigde State getoer het, het voorspel: “Die Amerikaanse republiek sal voortbestaan totdat politici besef dat hulle die volk met hul eie geld kan omkoop”.

Thomas Jefferson, skrywer van die Onafhanklikheidsverklaring en derde president van die VSA, het gewaarsku: “Ek plaas ekonomie onder die eerste en belangrikste deugde en staatskuld as die grootste van gevare. Om ons onafhanklikheid te bewaar, moet ons nie toelaat dat ons regeerders ons met onophoudelike skuld belas nie”. Jefferson maak ook hierdie stelling: “Daar bestaan nie ’n werktuig wat ’n regering só korrup maak en wat ’n volk só ontmoedig soos staatskuld nie. Dit sal tuis meer verderf meebring as al die buitelandse vyande”.

Die vryhede wat demokratiese nasies geniet het, was ’n wonderlike seën van die Skeppergod. Tog het die burgers ook die verantwoordelikheid om hoë morele, etniese en geestelike standaarde te handhaaf. Vir ’n regering om susesvol te wees, moet die mense deugsaam en wetsgehoorsaam wees.

Patrick Henry, beroemd vir sy stelling gedurende die Amerikaanse vryheidsoorlog: “Gee my vryheid of gee my die dood”, het ook gesê: “Geen vrye regering of die seëninge van vryheid kan vir enige volk behoue bly sonder ’n vasberade aanhang van geregtigheid, gematigdheid, bedaardheid, spaarsamigheid, deug en deur ’n gereelde terugkeer tot grondbeginsels nie”.

President Theodore Rooseveldt was selfs meer reguit: “Amerikanisme beteken die deugde van dapperheid, eer, regverdigheid, waarheid, opregtheid en moedigheid – dié deugde wat Amerika gemaak het. Die dinge wat Amerika sal vernietig is voorspoed teen enige prys, vrede teen enige prys, veiligheid eerste pleks van verpligtings eerste, die liefde van ’n gemaklike lewe en die word-vinnig-ryk teorie van die lewe”.

Alexander Hamilton, die eerste Amerikaanse minister van finansies het gesê: “Natuurlike vryheid is ’n gawe van die liefdadige Skepper aan die ganse mensdom; burgerlike vryheid is daarop gegrond”.

’n Vertaling van die lirieke van die lied “America the Beautiful”, sluit in “Amerika! Amerika! God herstel jou elke gebrek, bevestig jou siel in selfbeheersing, jou vryheid in wet”. Die nasie se wette, gegrond op die Amerikaanse grondwet en Verklaring van Regte, help om hierdie vryhede te verseker. Sy vryhede is bekragtig in wet. Sonder wet en moraliteit kan daar geen vrede wees nie.

Cecil B. De Mille, regisseur van die klassieke rolprent The Ten Commandments, het gesê: “Die Tien Gebooie is die handves en gids van menslike vryheid, want daar kan geen vryheid wees sonder die Wet nie”.

Selfs onlangse Amerikaanse presidente het aan God die eer gegee vir die seëninge van Amerika se vryhede. Aan die einde van sy staatsrede in Januarie 2003 sê George W. Bush: “Die vryheid wat ons so hoog op prys stel, is nie Amerika se gawe aan die wêreld nie, dit is God se gawe aan die mensdom”. Meer as 40 jaar vroeër, sê John F. Kennedy in sy inhuldigingstoespraak: “Die regte van die mens kom nie van die vrygewigheid van die staat nie, maar van die hand van God”.

Alexander Tytler, wat in 1776 The Decline and Fall of the Athenian Republic geskryf het, maak die opmerking dat die gemiddelde bestaan van die wêreld se vernaamste beskawings 200 jaar was. Hy beskryf hul lewensiklusse wat vorder van slawerny tot geestelike geloof, tot groot dapperheid, tot vryheid, tot oorvloed, tot selfsugtigheid, tot selfvoldaanheid, tot ongevoeligheid, tot afhanklikheid – en terug na slawerny.

Tytler skryf: “’n Demokrasie kan nie bestaan as ’n blywende vorm van regering nie. Dit kan slegs bestaan totdat ’n meerderheid van kiesers besef dat hulle vir hulself gunste en gawes uit die skatkis kan losstem. Van daardie oomblik af, stem die meerderheid kiesers altyd vir díe kandidate wat die meeste voordele uit die staat se skatkis belowe, met die gevolg dat ’n demokrasie altyd ineenstort weens ongebonde fiskale beleid gevolg deur ’n diktatorskap”.

Die vroegste Amerikaanse leiers benadruk die behoefte vir deugde, ’n klem wat in vandag se samelewing bespot word. Hulle het geweet dat, vir ’n regering om staande te bly, hoë morele standaarde die norm moet wees. Deugde is van die hoogste belang vir ’n regering om suksesvol te wees. Niks som goddelike deugde beter op as die Tien Gebooie nie.

In Augustus 2003, is baie mediafokus geplaas op die omstrede Tien Gebooie monument in Alabama, nadat ’n federale regter beveel het dat die 2,270kg granietmonument van daardie staat se wetgewende gebou verwyder moes word. Dit was ’n tragiese dag toe die Tien Gebooie van openbare vertoon verban is.

Die stigtingsvaders het Amerika se wette gegrond op die Tien Gebooie; die hoogste, heiligste Wette wat ooit aan die mensdom gegee is, die einste Wet waarop die Judeo-Christen beginsels en siviele wette in die Westerse wêreld vir eeue gegrond was. James Madison, die vierde Amerikaanse president, wat beskou word as die vader van die Amerikaanse grondwet het gesê: “Ons het al ons politieke instellings gewaag op die vermoë van die mensdom vir selfregering, op die vermoë van ’n ieder en ’n elk van ons om onsself te regeer, om onsself te handhaaf volgens die Tien Gebooie van God”.

Met verwysing na die Tien Gebooie sê Abraham Lincoln: “Dit lyk vir my dat niks minder as oneindige wysheid moontlik hierdie uitstekende en volmaakte morele kode kon ontwerp en aan die mensdom gegee het nie. Dit is in alle lewensomstandighede vir die mens geskik en sluit alle verpligtings in wat verskuldig is teenoor hulle Skepper, hulself en hul medemens”.

Die Amerikaanse Hooggeregshof het geweier om die appél teen ’n federale regter se bevel om die Tien Gebooie te verwyder, aan te hoor. In die tussentyd word voorstellings van Moses en die Tien Gebooie in die Hooggeregshofgebou in Washington uitgebeeld. ’n Marmerbeeld van Moses word bo die hoofingang van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers vertoon.

God het antieke Israel beveel om die Tien Gebooie prominent te vertoon. Dit is werklik ’n treurige verklaring dat die Verenigde State, die leidende volk van die Westerse wêreld, ’n grondwetlike krisis beleef om te besluit of die Tien Gebooie enigsins in die openbaar ten toon gestel mág word. Gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie sal die grootheid van Amerika as ’n nasie verseker. Om die Tien Gebooie te verpletter, is om die nasie te vernietig.

Let op wat Moses, wat selfs deur talle wêreldlike gesaghebbendes erken word as ’n groot wetgewer, die Israeliete beveel: “Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel ... Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deuteronomium 4:5-9).

God is nie ná aan die volk wanneer hulle Sy regverdige gebooie, insettinge en verordeninge vertrap nie. Inteendeel, Hy word al verder verwyder.

Daar is ’n georganiseerde beweging wie se doelwit dit is om alle verwysings na God en die Judeo-Christen geloof geheel en al van alle openbare plekke in die Verenigde State te verwyder, insluitende die aanhaling “In God We Trust” [Op God vertrou ons] wat op munte en note verskyn. Die Amerikaanse Hooggeregshof het ingestem om oorweging te skenk daaraan of “under God” [onder God] uit die belofte van getrouheid verwyder moet word.

In 1962, het die Amerikaanse Hooggeregshof bepaal dat vrywillige gebed nie in die volk se openbare skole toegelaat word nie. In 1963 het dit bepaal dat die Bybel ook nie in klaskamers gelees mag word nie. In 1980 het dit bepaal dat die Tien Gebooie nie in openbare skole ten toon gestel of vir kinders in die klaskamer geleer mag word nie.

Let op wat God sê nadat Hy Sy heilige, regverdige en gewyde gebooie aan Israel gegee het: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan” (Deuteronomium 5:29).

Dit is geen toeval dat, namate God se gebooie verwerp word, geweld en onheil regdeur die land uitbreek nie. Volke ly wanneer hulle probeer om enige verwysing na God of die Tien Gebooie uit die samelewing te verwyder. Die profeet Hosea maak dit duidelik: “Hoor die woord van die HERE o kinders van Israel! Want die HERE het ’n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak. Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg ... My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp ... omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander ... Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade ... want hulle het nagelaat om die HERE te vereer” (Hosea 4:1-3, 6-7, 9-10).

In sy inhuldigingstoespraak in 1789 maak president George Washington díe stelling: “Die goedgesinde glimlag van die hemele kan nooit verwag word vir ’n nasie wat die ewige reëls van orde en reg, wat deur die hemele self gegee is, verontagsaam nie”. In sy afskeidstoespraak beklemtoon Washington dat geloof en moraliteit noodsaaklik is vir ’n regering. Hy sê ook: “Ware geloof besorg aan ’n regering sy sekerste ondersteuning”.

Beide John Adams en Thomas Jefferson het op 4 Julie 1826 gesterf, presies 50 jaar, tot die dag, nadat hulle die Onafhanklikheidsverklaring onderteken het.

Adams skryf in ’n brief aan Jefferson: “Het jy ooit in die geskiedenis een enkele voorbeeld teëgekom van ’n nasie wat deur en deur korrup was en wat later na deug herstel is? ... En sonder deug kan daar geen politieke vryheid wees nie ... Sal jy my sê hoe om te voorkom dat matigheid en werkywer tot welgesteldheid lei? Sal jy my sê hoe om te voorkom dat weelde verwyfdheid, besopenheid, spandabelrigheid, ontug en dwaasheid voortbring?”

Hoe profeties! Adams het geweet dat die Verenigde State bestem was om welgesteld te wees, maar hy het gevrees dat welgesteldheid die volk deeglik korrup sou maak. Revisionistiese geskiedkundiges het Jefferson se godsdienstige geloof bevraagteken. Tog skryf hy in 1781: “Ek sidder vir my land wanneer ek dink dat God regverdig is; dat Sy geregtigheid nie vir altyd kan slaap nie”. By ’n ander geleentheid sê hy: “Kan die vryhede van ’n volk veilig bly wanneer ons die oortuiging verwyder het dat hierdie vryhede ’n gawe van God is?”

Die apostel Jakobus het baie te sê omtrent God se Wet van vryheid. Baie mense beweer dat God se Wet onderdrukkend is – ’n vloek en slawerny. In teenstelling sê Jakobus dat dit ’n wonderlike seën is. “Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jakobus 1:25). Jakobus sê dat ons God se Wet moet bestudeer en daarvolgens leef. As ons daarin volhou, sal ons geseënd wees. Dit is duidelik dat hy die Tien Gebooie bespreek.

“As julle ewenwel die koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed ... Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ’n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word” (Jakobus 2:8, 10-12).

Die apostel Paulus verbind duidelik God se Wet met vryheid en liefde. Hy skryf in Romeine 8:2 “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood”. Hy sê in 2 Korintiërs 3:17 “waar die Gees van die Here is, daar is vryheid”.

Hy skryf: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie ... Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Galasiërs 5:1, 13-14).

Die einste dryfkrag van Jesus Christus se kern evangelieboodskap was regering. Christus het duidelik gewys dat die Koninkryk van God rotsvas gegrond sal wees op God se regverdige gebooie.

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:17-19).

In die Koninkryk van God sal Jesus Christus “vir die gevangenes ’n vrylating [uitroep] en vir die geboeides opening van die gevangenis” (Jesaja 61:1). Sy regering sal op God se Wet gegrond wees. Sy regering en Wet sal deeglik verweef wees en sal nie ontrafel soos demokrasieë en ander vorms van regering gedurende die afgelope duisende jare nie.

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom” (Jesaja 2:2).

Berge en heuwels is simbolies van nasies. Soos Openbaring 11:15 wys, sal die regerings van hierdie wêreld die Koninkryke van Jesus Christus word en Hy sal vir ewig en altyd regeer!

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Jesaja 2:3).

Die Bybel toon dat God se heiliges oor nasies en op aarde sal regeer, as Konings en Priesters (Openbaring 5:10). Dit wys ook dat hulle God se Wet sal onderhou en toepas as wêreldheersers, tot almal se voordeel.

Voor die Koninkryk van God op aarde gevestig word, sal ons die ineenstorting sien van die Verenigde State van Amerika, Brittanje, Kanada, Suid-Afrika en ander demokratiese nasies namate hulle God se Wet versmaai. Gedurende die Groot Verdrukking sal ’n genadelose herrese Romeinse Ryk hierdie nasies wat God se Wet van vryheid verwerp het, verslaaf.

Jesus Christus sal egter hierdie goddelose stelsel, wat miljoene mense vir duisende jare verslaaf het, verbrysel. Sy regering sal nooit vernietig word nie en sal vir ewig bestaan, anders as al die mensdom se vergeefse regeringspogings oor die afgelope 6,000 jaar.

“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Die profeet Daniël herhaal hierdie woorde: “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie ... en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid ... Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:14, 18, 27).

Op die Vryheidsklok in Filadelfia, Pennsylvanië, staan in Engels gegraveer: “... en [roep] ’n vrylating [uit] in die land aan al sy bewoners” (Levitikus 25:10), verwysend na die trompet wat in antieke Israel geblaas is by die inleiding van die Jubeljaar elke 50ste jaar, wanneer slawe vrygelaat en skulde vergewe is.

Die Vryheidsklok was gegiet om die 50ste herdenking van Pennsylvanië se stigting in 1701 te vier. Die kolonieleiers het 1751 as “Jubeljaar” verklaar. Dit is gepas dat die Vryheidsklok in Filadelfia, die “Stad van Broederliefde”, is waar die Amerikaanse stigtingsdokumente – die Onafhanklikheidsverklaring en die Amerikaanse Grondwet – opgestel is. Inderdaad, soos die Bybel duidelik toon, is wet, vryheid en liefde onafskeidbaar.

Jesus Christus se Wederkoms sal die vrymaking van die mensdom aankondig in God se Koninkryk, wat op God se Wet van vryheid wat uit Sion voortvloei, gevestig sal wees!

Die mensdom moet die pynlike les leer dat hul pogings tot selfregering, sonder God se riglyne, nuttelose optrede is. Wanneer die Koninkryk van God op aarde gevestig is, sal almal vryheid geniet en liefde betuig deur die Tien Gebooie te onderhou. Dan sal God se volmaakte regering stewig gegrond wees op God se volmaakte Wet van vryheid!