Jy gaan iets nodig hê om daardie vis mee skoon te maak”. My vriend oorhandig toe aan my ’n splinternuwe Swisterse weermagmes, steeds nog in die verpakking. Hy het my sopas die basiese beginsels van kunsvlieghengel geleer in die pragtige bergstrome in die noordweste van Colorado en nou is ons besig om daardie dag se vangs vir aandete voor te berei.

Ons het ’n paar dae alleen gekampeer en visgevang, maar vir my was dit ’n geleentheid om van iemand te leer wat ek bewonder vir sy kennis van die natuur.

Hierdie was maar net een van baie soortgelyke geleenthede gedurende my tienderjare waar ek voordeel getrek het uit die leiding van hierdie persoon wat ek nou as ’n mentor beskou, hoewel ek destyds nie met die term vertroud was nie. Ek het die wonderlike geleentheid gehad om gedurende hierdie belangrike tyd in my lewe baie ure saam met hom tydens veldski, staptogte en praatjies deur te bring en kyk nou terug en besef hoe belangrik sy invloed op my lewe was. Ek het uiteindelik na dieselfde kollege as hy gegaan en sy hulp om my voortydig voor te berei, was van onskatbare waarde.

Ek het nogtans meer as net sy kennis gerespekteer. Sy verantwoordelike, volwasse voorbeeld, tesame met sy goedhartigheid en mededeelsame gees, het my gewys wat ek in my lewe wou nastreef. Hy het raad gegee oor hoe om te leef en dit is dalk die grootste geskenk wat ’n mentor kan gee.

Die belangrikheid van mentorskap

Wat is ’n mentor? Een woordeboek definieer ’n mentor as “’n ervare leidsman, raadgewer, gids” (HAT, Vyfde Uitgawe). Streng gesproke omvat die rol van raadgewer maar net een faset van ’n mentor, soos wanneer een persoon ’n ander oor verskillende aspekte van ’n beroep onderrig. Hierdie tipe mentorskap kan van onskatbare waarde vir iemand wees wat probeer om ’n vaardigheid aan te leer of om in ’n spesifieke beroep sy voete te vind.

Mentorskap omvat nogtans baie meer as dit. Volgens die Nasionale Mentor Vennootskap: “Op sy mees basiese vlak help mentorskap, omdat dit aan ’n jong persoon die waarborg gee dat daar iemand is wat vir hulle omgee. ’n Kind word nie alleen gelaat in die hantering van dag-tot-dag uitdagings nie” (“The Value of Mentoring”,Mentoring.org).

Omgee neem mentorskap verder as die rol van “raadgewer” en verhef dit tot ’n verhouding waar die mentor persoonlik in die langtermyn welstand van die persoon wat gementor word belê. Mentors laat blyk oor ’n lang tyd – dalk selfs oor baie jare – dat hulle verhouding met diegene wat gementor word, regtig saak maak.

Trouens, ons almal het ander mense se hulp nodig in ons groei tot volwassenheid. Alles wat ons weet, kom van ander mense af en diegene wat ons die meeste bewonder en respekteer help baie om ons wêreldbeskouing te vorm. Veral gedurende ons vormingsjare kan ’n sterk mentor ’n groot verskil maak aan die rigting wat ons lewens inslaan. Vir jong mense wat uit gebroke gesinne kom, kan ’n mentor wat omgee, ’n saak van lewe en dood beteken.

Meer as ’n mentor

Die gevoel van versorging wat ek alreeds van my ouers gehad het, is verder verryk deurdat ek ’n mentor gehad het. ’n Goeie mentor kan nogtans op verskillende maniere selfs die plek van ’n afwesige of belangelose ouer inneem. Die storie van ’n suksesvolle mentorskap wat deur die Nasionale Mentor Vennootskap versprei word, vertel ons van James Mackay, ’n jong man wie se pa in die tronk was toe hy gebore is. James het baie soos sy pa grootgeword, omring deur bendes en dwelms. Sy kleiner boetie het in bendegeweld gesterf en sy ma was geweldig ontsteld, byna tot by die punt van selfmoord (“Abrigal and James”, Mentoring.org).

James was ’n mislukking op hoërskool en het geen positiewe rolmodelle gehad nie, sy toekoms was sonder vooruitsigte. Hy het van YouthBuild VSA gehoor, ’n program wat lae-inkomste jongmense help om hulle hoërskool diplomas of GEDs [sertifikate] te kry, terwyl hulle konstruksievaardighede om bekostigbare behuising te bou aanleer. Terwyl hy by YouthBuild gewerk het, het James vir Abrigal, ’n ouer man wat tien jaar in die tronk deurgebring het, ontmoet. Hy het ’n soortgelyke agtergrond as James gehad. Terwyl Abrigal in die tronk was, het ouer mans hom uitgedaag om sy lewe te verander en vaderfigure vir hom geword en hom sodoende gehelp.

“Ek het gesien dat James ’n jong man was wat hulp nodig het”, sê Abrigal. “Ek het gedink dat ek daardie hulp kan verleen”. James het nou sy eie woonstel, is vir verdere onderrig ingeskryf en doen ’n graadkursus (ibid.).

Die les van hierdie storie is dat diegene wat eens gementor is, self effektiewe mentors kan word. Hulle word miskien die beste mentors omdat hulle die waarde van mentorskap verstaan. Op hierdie manier is hulle in staat om terug te gee wat hulle ontvang het en om moontlik ander te inspireer om dieselfde te doen.

Om mentors te vind

U hoef nie in dieselfde situasie as James te wees om voordeel uit mentors te trek nie. Soos ek tydens my tienderjare ontdek het, kan ’n verhouding met ’n gerespekteerde, kundige en deernisvolle ouer persoon dikwels ’n jong mens se lewe verryk.

Ongelukkig leef ons in ’n era waar van die ouer mense probeer om jonger mense te misbruik. Maak seker dat u wys is in u keuse van mentors. ’n Mentor wat probeer om u in aktiwiteite in te sleep wat hom bevoordeel, maar u in gevaar stel, is nie ’n geskikte mentor nie. ’n Mentor wat u in aktiwiteite betrek wat u weet onwettig is, of wat teen God se Wet is, behoort vermy te word. Indien u verhouding met ’n mentor wrywing met ander volwassenes in u lewe veroorsaak, behoort u seker te maak dat u goeie raad kry en diegene wat reeds bewys het dat hulle u beste belange op die hart dra vertrou, dat hulle moontlik reg mag wees wanneer hulle u ontmoedig om met ’n verhouding voort te gaan wat u skade kan berokken.

Gelukkig is daar baie verskillende maniere om wonderlike mentors te vind wat oneindig baie tot u lewe kan bydra. Moontlik ken u al ’n paar mense in u buurt, kerk of skool wat die geleentheid sal geniet om ’n vaardigheid aan u te leer, hulle lewenservaring met u te deel of sommer net tyd saam met u deur te bring. Indien daar so ’n persoon is wat reeds hierdie rol in u lewe vervul, waardeer die geleentheid wat aan u gegun is en probeer om so veel as moontlik van hierdie individu te leer.

Daar is baie jeug-agentskappe beskikbaar wat mentorskap aan diegene sonder ander hulpbronne verskaf. ’n Soektog na sulke agentskappe in die Verenigde State is op dieMentoring.org se webtuiste beskikbaar. Indien u buite die VS woon, kyk uit vir soortgelyke organisasies in die land waar u woon.

Dalk is u op ’n stadium in u lewe waar u iemand onder u vlerk kan neem deur self ’n mentor te word. Baie ouer tieners kan positiewe rolmodelle vir jonger kinders wees, selfs in staat wees om hulle te help om selfvertroue en kundigheid te verkry. Indien u vind dat u self so ’n behulpsame invloed kan wees, kyk uit vir geleenthede om ander om u te help.

Wanneer u na mentors op soek is, maak seker dat u nie die spesiale hulp miskyk wat altyd enige tyd vir enigiemand beskikbaar is nie. Jesus het die volmaakte voorbeeld van iemand gestel wat omgegee het tot voordeel van ander. Hy is nou beskikbaar om diegene te help wat Hom soek. Moontlik is die beste manier om sukses te verseker, om te leer hoe Jesus Homself in verskillende situasies gehandhaaf het. Die Evangelies in die Nuwe Testament teken Sy woorde en dade aan wat, soos Hy gesê het, lewe bring (Johannes 6:63). Deur daarna te streef om te leef soos Hy geleef het, sal u altyd die beste moontlike mentor volg (1 Johannes 2:6).