Glo u in die ware God – die God van die Bybel? Indien wel, dan is dit van kardinale belang dat u die een basiese gesindheid begryp waarvoor God in mense soek. Wat is dit?

In hierdie wêreld se verwarde Christendom sal baie mense aan u sê dat wat God bo alles van ons verwag, is om Jesus “aan te neem”. Wat u egter vir uself moet afvra is: “Watter Jesus?” Wat het Jesus Self gesê is die heel belangrikste gesindheid vir ’n mens om te hê?

Let op hierdie stelling van Jesus Christus: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

Selfs in die apostel Paulus se tyd was daar vals predikante wat die ware leringe van Christus verdraai het: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4). U mag dus al baie gehoor het van “’n ander Jesus” wat slegs lippediens verwag – maar dit is nie die Jesus Christus van die Bybel nie!

Dit is lewensnoodsaaklik dat ons geloof het in die ware Christus wat aan ons geopenbaar is in die geïnspireerde woorde van die Heilige Bybel – nie in die idees en tradisies van mense nie! Dit is net so deurslaggewend dat ons Jesus Christus gehoorsaam moet wees – nie net op Sy naam beslag lê of Hom aanvaar met ’n leë menslike geloof of tydelike emosionele gier nie.

Die apostel Jakobus, een van Jesus se eie fisiese broers, was geïnspireer om ons te waarsku teen leë, vrugtelose geloof: “Jy glo dat God één [die Vader en Christus] is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?” (Jakobus 2:19-20).

Selfs die demone glo aan God en Christus! Dit is, hulle weet dat Jesus Christus ’n werklike persoon was wat gekruisig was, en dat God Hom uit die dood opgewek het. Hulle was daar. Hulle het Christus se opstanding gesien. Hulle weet! Vreemd soos dit egter vir sommige mense mag voorkom, deur slegs hierdie dinge “te glo” is nie genoeg nie! Die demone weier om hulle lewens en wil aan God te onderwerp en te doen wat Hy sê!

Wat van u? Is u tevrede om net te “glo” dat daar iewers ’n God is en dat Sy Seun, Jesus Christus, vir u gesterf het? Het u ’n leë geloof, of ’n lewende geloof wat u noodsaak om u lewe heeltemal aan God te onderwerp – om u lewe aan Hom te gee deur die ware Jesus Christus, om so gewillig te wees om te doen wat God sê, kom wat wil? Dít is die soort geloof wat God behaag en tot die ewige lewe in Sy Koninkryk lei!

Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Mattheüs 16:24-25).

Wat was Jesus se antwoord toe ’n jong man Hom die pad na die ewige lewe gevra het? “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Jesus is die “Lig” wat God na die wêreld gestuur het om ons te wys hoe om te lewe. Hy was ons voorbeeld, maar nogtans het wêreldse mense met dosyne verskonings te voorskyn gekom waarom of hoekom daar met die Tien Gebooie weggedoen is op die een of ander wyse.

In Sy geïnspireerde Skrif toon God duidelik aan dat, omdat ons nasies ons gedistansieer het van Hom en Sy wette, Hy dit nodig ag om ons liefdevol te tugtig om ons na Hom terug te bring. God het ons voorvaders gewaarsku dat, indien ons mense hul distansieer en “verderflik handel” en om te “doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God”, dan sal Hy ingryp om ons tot ons sinne te skud (Deuteronomium 4:23-25). “Dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe” (verse 26-27). God sê dat die “klein klompie” wat sal oorbly, heeltemal heidens sal word totdat ons waarlik verootmoedig is en Hom sal begin soek met ons hele hart (verse 28-29).

Wanneer sal dit alles dan gebeur? “As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister” (vers 30).

Ons is verseker nou “aan die einde van die dae”. Die mensdom is nou in staat om alle menslike lewe op hierdie planeet te vernietig, soos Jesus in Mattheüs 24 voorspel. Ons is nou uiters korrup, net soos die apostel Paulus voorspel vir die laaste dae in 2 Timótheüs 3:1-5: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (vers 1). Dit lyk dus of ’n aantal faktore saamvloei om die finale verootmoediging en tugtiging van ons mense teweeg te bring. In ’n “tweeledige” voorspelling – toepaslik voor Israel se eerste ballingskap en nou weer aan die einde van die dae – sê God: “En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:18-19).

Dít is een rede vir die bestaan van hierdie tydskrif. Ons wil al ons lesers waarsku teen die gevare wat voorlê, en diegene help wat nou deur God geroep word, om te leef volgens Sy lewenswyse en om in hulle eie lewens die oorspronklike Christenskap van Jesus en Sy Apostels te hervestig – die enigste ware Christenskap en die Weg wat seëninge en vreugde sal bring, selfs te midde van die beroeringe in ons wêreld.

Ons het baie artikels in die Wêreld van Môre gehad wat bewys lewer dat ware Christenskap gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie behels! U moet dus besluit of u aan die God van die Bybel gehoorsaam sal wees of die godsdienste van hierdie wêreld. Dit is so eenvoudig soos dit.

Eenvoudig? Dit behoort eenvoudig te wees, maar die menslike verstand speel slinkse speletjies met ons. Ons wil mos nie hê dat daar op ons neergesien word of dat ons verstoot word deur ons medemens, ons familie, ons span of ons klublede nie.

Baie van ons is soos die Jode in Jesus se tyd: “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:42-43). Indien u iets in God se leerstellings vind wat mag veroorsaak dat u by ander mense in onguns verval, sal u terugstaan, dit verontagsaam en gevolglik ongehoorsaam wees? Miskien sê u: “Dit maak nie juis ’n verskil nie”.

Dink hieroor: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

’n Opregte Christen moet onthou dat hy nie aan homself behoort nie. Hy is deur die bloed van Jesus Christus gekoop en betaal! Dit volg dus vanselfsprekend dat hy daarna sal streef om God ten volle te gehoorsaam. ’n Ware Christen weet dat Christus regtig sy “Here”, sy werklike “Baas” is. Dit is die gesindheid wat God verlang: Totale onderwerping aan Hom. Dit is die gesindheid wat aan God toon dat – anders as ontroue Satan en sy ongehoorsame demone – u en ek altyd getrou sal wees, deur daadwerklike geloof te hê om te doen wat God sê.

Vra God vir die gesindheid van totale onderwerping aan Hom. Spandeer tyd om Sy weë te leer deur die Bybel te bestudeer. Onthou om te doen wat die Skrif sê. Lees ons boekies en die artikels in die Wêreld van Môre noukeurig. Vergelyk nadenkend dít wat ons u leer met u Bybel. Moet nie bekommerd wees oor “wat ander mense dink nie”. Volg die opdrag: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Dan, met God se leiding deur Sy Gees, sal u Hom toelaat om binne u daardie een basiese gesindheid van gehoorsaamheid aan Christus se woorde te bou wat, as daarmee volhard word, u plek sal verseker in die ewigdurende Koninkryk van God.