Die gesin is die grondslag van ’n gemeenskap. ’n Suksesvolle huwelik bring vreugde aan die uitgebreide gesin en aan die gemeenskap – maar ’n huwelik kan ook uitdagende probleme meebring. Hoe kan u u huwelik verbeter?


Wanneer ’n man en ’n vrou ’n verbintenis aangaan om man en vrou te word, is daar gewoonlik ’n vreugdevolle byeenkoms om die bevestiging van ’n nuwe gesin te vier. ’n Bruilof is ’n vreugdevolle gebeurtenis en gaan dikwels gepaard met musiek, blomme, familie en vriende. Die huwelik is een van die belangrikste gebeurtenisse in ’n persoon se lewe. ’n Formele, openbare verbintenis is die begin van ’n leeftyd saam en die bruid en bruidegom mag selfs die tradisionele woorde soos “in goeie tye of slegte tye, in rykdom of armoede, in gesondheid of siekte totdat die dood ons skei” herhaal.

Indien u beplan om te trou, is u ten volle daarop voorbereid? Indien u alreeds getroud is, hoe vorder u met u verbintenis?

U mag wonder, hoe vaar dit met huwelike op ’n nasionale grondslag? Is hulle stabiel? Is hulle suksesvol? Die egskeidingsyfers gee aan ons ’n aanduiding. In 2001 was daar in die VSA 9.8 huwelike en 4.5 egskeidings vir elke duisend mense. Australië het 6.9 huwelike en 2.52 egskeidings per duisend mense gehad. In die Verenigde Koninkryk was daar 6.8 huwelike en 3.08 egskeidings per duisend mense. Dit beteken dat daar omtrent een egskeiding vir elke 2.2 huwelike in die VSA en in Engeland was en omtrent een egskeiding per 2.7 huwelike in Australië (United Nations Monthly Bulletin of Statistics, April 2001).

Hierdie statistieke voorspel niks goeds vir die stabiliteit van ons samelewing nie. U kan egter die beginsels vir ’n suksesvolle huwelik in u eie lewe toepas.

Ons in die Westerse wêreld behoort ons gesinne en ons huwelike te verstewig. Die stabiliteit en gesondheid van die nasie is grootliks afhanklik van die stabiliteit en gesondheid van die gesin. In baie samelewings word Bybelse waardes by die deur uitgegooi. Ek en u kan egter ’n verskil maak in ons eie gemeenskap en in ons eie gesin. Die Bybel onthul die oorsake van – sowel as die oplossings, vir ons probleme. Dit openbaar ons doelwit sowel as ons lotsbestemming. Die Skepper God is die Een wat die huwelik in die eerste instansie ingestel het. Wanneer u Sy goddelike doel en plan deur ons Verlosser, Jesus Christus, verstaan, sal u die geestelike belangrikheid sowel as die betekenis van die huwelik insien. God beplan om Sy geestelike onsterflike gesin uit te brei. Hy het die menslike gesin geskep om elkeen van ons voor te berei vir ’n glorieryke toekoms. Die apostel Paulus het geskryf: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efesiërs 3:14-15).

God se doel is om ’n geestelike gesin te skep. Daardie inspirerende waarheid behoort ons te motiveer om ons gesins- en huweliksverhoudings te verbeter. Wanneer u God in u huwelik erken, wanneer u die beginsels en strategieë van ’n suksesvolle gesinslewe toepas, kan u u huwelik verryk, verbeter en selfs red!

Daar is werklik beproefde Bybelse sleutels tot ’n suksesvolle huwelik. U behoort dit te ken en in u eie huwelik toe te pas. Andersins mag u dit graag wil deel met vriende of familie wat beplan om in die nabye toekoms te trou. Dit mag nou wel nie maklik wees nie, maar die pogings kan tot groot belonings en ’n liefdevolle verhouding lei.

Die eerste sleutel: Gee 100 persent

Die ou gesegde: “Die huwelik is ’n 50-50 proposisie” is geheel en al verkeerd! Die sogenaamde moderne, verligte, professionele mense mag sê: “Onafhanklikheid is ons prioriteit. Ons sal met ons verstand ooreenstem om saam te werk, maar ek behou nog my persoonlike ontsnaproete ingeval dinge nie uitwerk nie”. ’n Mens behoort te vra: Wat is dan die raamwerk van ons huweliksverbintenis? Is dit wedersydse gerief? Of, is dit ’n verhouding wat op die Bybel gebaseer is en in diepte en karakter sal groei vir die res van ons lewens? Wat sê die Bybel? Kyk na hierdie vers wat fundamenteel is vir gelukkige verhoudings en vir die karakter wat ons benodig vir alle ewigheid: “Ek het julle in alles getoon dat ons ... die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Of, soos dit in die Nuwe Vertaling gestel word: “Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang”.

Een van die grootste gawes wat u kan gee, is u tyd! Jare gelede toe ek nog baie aktief was in sport, was ek geneig om my vrou af te skeep met die tyd wat ons saam kon deurbring. Ek onthou nog die keer toe ek my voorgeneem het om tyd aan haar af te staan vir ’n spesiale aktiwiteit wat aan haar plesier sou verskaf. Sy wou graag op ’n kanovaart gaan – dit was nie my gunsteling aktiwiteit nie – maar ons het op ’n Sondagnamiddag op ’n kanovaart gegaan op ’n meer in Oos-Texas waar ons omring was deur dennebome, blou lug, watervoëls en rustigheid! Wat ek as ’n opoffering van my tyd beskou het, het ons verhouding verinnig – my vrou het die aktiwiteit geniet en my poging waardeer. Soos Jesus sê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang”.

Ware liefde is om te gee sonder om iets terug te verwag. Wanneer twee persone elk 100 persent gee, is daar ’n sterk band, ’n sterk oorvleueling wat buigsaamheid sal waarborg asook die vermoë om die mas op te kom in krisisse en probleme. Indien ’n 50-50 opsie aanvaar word, waarborg dit ’n ingeboude swak skakel in die verhouding!

God se leefwyse is die gee-manier – die volwasse benadering tot die lewe en huwelik. Die Bybel beveel ook mans en vroue om op seksuele gebied aan mekaar te gee. In die eerste eeu het die apostel Paulus hierdie opdrag gegee aan die nie-Joodse Christelike bekeerlinge wat in die seksueel-losbandige stad Korinthe gewoon het: “Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ’n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie” (1 Korinthiërs 7:2-5).

Is u gewillig om hierdie opdrag uit te voer? Bewys u liefde aan u huweliksmaat? Eenvoudige drukkies en soentjies wanneer u werktoe gaan of wanneer u terugkeer, isbelangrik. ’n Duitse versekeringsmaatskappy het ’n paar jaar gelede ’n verslag die lig laat sien en daarin tot die gevolgtrekking gekom dat mans wat hul vrouens elke dag soen, minder geneig is om ongelukke te maak en oor die algemeen finansieel ook meer suksesvol is as mans wat hul vrouens nie elke dag soen nie. Ek maak dus seker dat ek my vrou elke dag soen voor ek werktoe gaan. Een dag het ek vergeet en met my motor agteruit teen ’n boom vasgery. Nodeloos om te sê, sedertdien maak ek seker dat ek haar elke oggend soen!

In sy kommentaar oor die probleem van selfsugtigheid, skryf Dr. John A. Schindler: “Die enigste persoon wat in staat is tot ware toegeneentheid, is die persoon wat homself en sy eie, onmiddellike belange kan vergeet terwyl hy die belange en welvaart van iemand anders eerste plaas. Wanneer beide huweliksmaats dit kan doen, sal hulle geen huislike of seksuele probleme ondervind nie” (How to Live 365 Days a Year, bl. 142).

Hoeveel mans en vrouens beoefen hierdie beginsel? Hoeveel Christelike mans en vrouens beoefen werklik hierdie beginsel?

Die tweede sleutel: Eer en respekteer u huweliksmaat

Waardeer u werklik u gade? Respekteer u hom of haar as ’n menslike wese wat na die beeld van God geskape is? Lees wat God se opdrag is aangaande ons verhouding met andere: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (Filippense 2:3).

Ja, u behoort u huweliksmaat te waardeer – hoër te ag as uself. Vir ydele, self-bevredigende individue, mag dit heeltemal te verouderd klink, maar dit is ’n lewende wet. Bekeer u dus van selfsugtige ambisies en verwaandheid. Verander u gesindheid. Waardeer u huweliksmaat as ’n potensiële kind van God. Soos die spreekwoord sê: “Moet u nie verknies oor klein, onbelangrike goedjies nie”. Wees bedag op en waardeer die positiewe waardes wat u in mekaar vind! Indien u u huweliksmaat misbruik of mishandel het, hetsy fisies of verbaal, behoort u u daarvan te bekeer! U behoort u voor God te verootmoedig en Hom om vergifnis te smeek en u behoort u huweliksmaat om verskoning te vra! Ek weet dat dit soms moeilik is om te sê: “Ek is jammer”. ’n Verskoning kan egter heelwat doen om ’n verhouding te genees en te herstel!

Hoe bewys u agting en respek aan u gade? Daar is baie maniere, soos die gee van ’n spesiale geskenk, deur sorgvuldig te luister, dankbetuiging en algemene bedagsaamheid in u woorde en stemtoon.

Hoe geduldig is u met u gesin? Geduld is ook ’n manier om liefde te betoon, soos ons uit 1 Korinthiërs 13, die sogenaamde “liefdeshoofstuk”, leer. Ons lees: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:4-8). Lees gerus die hele hoofstuk. Bid dat God aan u die vermoë sal skenk om volgens daardie eienskappe te leef en volgens daardie eienskappe te groei.

U kan u huwelik verbeter deur te luister, begrip te hê asook deur vir mekaar ruimte te gee. U kan u huwelik verbeter deur eer en respek aan u huweliksmaat te betoon! Kyk na hierdie uiters belangrike opdrag wat God aan die mans gee: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle [julle vrouens] saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Petrus 3:7).

God beveel die man om sy vrou te eer. Hou in gedagte, u is beide “mede-erfgename van die genade van die lewe”. Die heel belangrikste sleutel is waarskynlik om te verstaan hoe God waarde heg aan elke menslike wese, insluitende u huweliksmaat, ongeag u opinie van hom of haar. Elke menslike wese op hierdie aarde het die potensiaal om in die geestelike gesin van God ingebore te word as ’n verheerlikte, onsterflike kind van God. Die apostel Paulus herinner ons aan God se plan vir ons: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18).

Die derde sleutel: Stel ’n positiewe voorbeeld

Die apostel Petrus gee opdrag aan Christene om ’n goeie voorbeeld te stel, selfs vir hulle nie-Christen huweliksmaats: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het” (1 Petrus 3:1-2).

Onthou dat u nie ’n ander persoon teen sy of haar wil kan verander nie, maar u kan uself verander. Ons het almal Godgegewe verantwoordelikhede in ons huwelik en gesin. God sê aan die mans: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Vervul u, as die man, u godgegewe verantwoordelikheid? Sommige mans en vrouens plaas groot klem op hul oordeel van hulle huweliksmaats se gedrag, om hul eie gebrek aan getroue diens te verontskuldig. Onthou, ons sal almal voor die regterstoel van Christus staan, soos ons vertel word in Romeine 14:10. Maak seker dat u u eie, Godgegewe verantwoordelikheid as man of vrou nakom!

Jare gelede het die Tomorrow’s World-tydskrif se Hoofredakteur, Roderick C. Meredith, twee baie nuttige artikels geskryf waarin hy eggenote en eggenotes se verantwoordelikhede in die huwelik uitgespel het. Sy artikel “What All Husbands Need To Know!” het my besonder gehelp in my huwelik van meer as 40 jaar. Kortliks opgesom: ’n Eggenoot het vyf areas van verantwoordelikhede teenoor sy vrou: Liefde en respek, ondersteuning en aanmoediging, leierskap en leiding, hulp en beskerming en inspirasie om te groei (Plain Truth, Junie 1966).

’n Paar maande voor dit het hy ’n soortgelyke artikel geskryf: “True Womanhood – Is It a Lost Cause?”, waarin die vereistes uiteengesit word wat ’n vrou sal help om haar eggenoot en die hele gesin by te staan. Daardie areas is: Meegevoel en dienslewering, teerheid en skoonheid, intelligensie en begrip, Christelike deugsaamheid en geloof, hoop en moed (Plain Truth, November 1965).

Wanneer ons hierdie Bybelse karaktereienskappe in ons lewens toepas, verryk ons die lewens van andere en ons versterk daardeur ons huwelik en gesin.

Die boek Titus sit die Bybelse verantwoordelikhede van Christelike vrouens uiteen en verduidelik dat ouer vroue “jong vroue kan leer om versigtig te wees, [en] hulle mans en kinders lief te hê” (Titus 2:4). Vervul u as vrouens en moeders wat hierdie artikel lees, u Godgegewe verantwoordelikhede? Indien u dit doen, sal u ’n positiewe voorbeeld vir u man wees. God sal u pogings seën indien u Hom in u huwelik erken en Jesus Christus versoek om Sy lewe in u te leef. Streef daarna om met God se hulp, die beste eggenoot of eggenote te wees wat u kan wees.

Die vierde sleutel: Kommunikeer in liefde

Hoe dikwels vind ons paartjies wat in hul gesprekke nie op mekaar ingestel is nie? Effektiewe kommunikasie beteken om effektief te luister sowel as om te praat. Ons behoort te luister om te verstaan – probeer om die ander persoon se standpunt te verstaan. Probeer om die ander persoon se gevoelens en behoeftes te verstaan! Betoon respek deur u volle aandag te gee.

Die apostel Paulus gee aan ons ’n grondliggende beginsel om doeltreffend te kommunikeer, “terwyl ons in liefde die waarheid betrag, [sodat ons] in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efesiërs 4:15). Sommige mense praat die waarheid in haat, maar Christene wat na volwassenheid streef in Christus sal ag gee op die uitwerking wat hul woorde kan hê op diegene wat na hulle luister.

Wanneer u met u gade praat, openbaar u bedagsaamheid en besorgdheid? Kommunikeer u met respek? Ons behoort sekerlik geduldig te wees met mekaar, want “die liefde is lankmoedig en vriendelik” (1 Korinthiërs 13:4). Die Nuwe Vertaling sê: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik”. Praat altyd bewustelik die waarheid in liefde!

In ons dolle lewens mag die huweliksmaats elkeen sy eie koers inslaan en selde tyd vind om met mekaar te praat. Sommige studies het getoon dat baie paartjies gemiddeld minder as 20 minute per week in mekaar se geselskap deurbring! Skrywers Leonard en Natalie Zunin stel ’n vierminuut-reёl voor om munt te slaan uit die kort tydjies wat u saam mag hê. Hulle wys daarop dat die sukses of mislukking van ’n huwelik kan afhang van wat tussen man en vrou in slegs agt minute per dag gebeur: Vier in die môre wanneer hulle wakker word en vier in die aand wanneer hulle herenig na die dag se werk” (Contact: The First Four Minutes, bl. 133).

Die Zunins wys korrek daarop dat u taalgebruik, gesindheid of manier van praat aan die begin van die dag, u hele verhouding kan beïnvloed. Leer om in die eerste vier minute wanneer u saam is aan die begin van die dag, uitdrukking te gee aan ’n positiewe, liefdevolle gesindheid. Indien u moeite doen, sal u ’n toevallige argument of onnodige grief wat die hele dag kan duur, vermy. Gee ook spesiale aandag wanneer u aan die einde van die dag weer bymekaar kom. Selfs al is u moeg, sal ’n positiewe woord van aanmoediging of waardering – ’n drukkie of ’n soentjie, kan vir die hele aand ’n groot verskil aan u verhouding maak.

Sleutel 5: Bid saam

Baie van u wat hierdie artikel lees, mag getroud wees met iemand wat nie ’n gelowige is nie. Indien wel, sal u nie in staat wees om saam met u gade te bid nie – maar u kanvir u gade bid én vir ’n suksesvolle huwelik! Soos voorheen genoem, kan u ’n Christelike voorbeeld vir u lewensmaat stel. Die Skrif gee hierdie opdrag aan vrouens wat nie-Christen mans het: “Net so moet julle, vroue, aan julle eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word” (1 Petrus 3:1). U liefdevolle, toegeeflike, Christelike voorbeeld kan ver strek om ’n positiewe invloed op u lewensmaat uit te oefen. Let wel, die klem val op u gedrag, nie op u poging om u lewensmaat in u geloof in te argumenteer nie!

Indien u en u gade egter albei bid, kan u natuurlik saam bid. Wanneer ek en my vrou saam bid, begin ek gewoonlik die gebed en raak na ’n rukkie aan my vrou. Sy sal dan verder bid en wanneer sy klaar is, sal ek ons gesamentlike gebed afsluit. Dit is wonderbaarlik hoe intieme en persoonlike gedagtes na vore kom in ons gedeelde gebede. Op hierdie wyse deel ons met mekaar en met ons God.

Een van my vrou se geliefkoosde uitdrukkings is: “Laat ons daaroor bid”. Ek waardeer haar gewilligheid om God in ons huwelik te betrek en ook in ons gesamentlike lewe. Ons behoort almal God en ons Verlosser in elke aspek van ons lewens te erken. Die Skrif vermaan ons: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

’n Huwelik verg werk, opoffering en voortdurende vertroeteling om suksesvol te wees. Dit beteken om alles te gee in die nakoming van u Godgegewe verantwoordelikhede as man of vrou. Daar sal struikelblokke, verskille en selfs geskille wees, maar, met God se hulp kan u u huwelik verbeter – u kan selfs u huwelik red indien dit in gevaar verkeer!

Vra God om u te help om hierdie beginsels in u lewe toe te pas. Onthou net, u kan nie u gade dwing om te verander nie – u kan slegs uself verander. U voorbeeld van liefde en diens kan egter ’n geweldige invloed op u lewensmaat uitoefen. Onthou ook dat u dit nie op u eie kan doen nie. U benodig die hulp van u Verlosser in u eie lewe. Soos die apostel Paulus geskryf het: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Mag God u, u huwelik en u gesin seën namate u strewe om volgens Sy woord te lewe!