Jesus het amper 2000 jaar gelede die gelykenis van die tien maagde vertel (Mattheus 25:1-13). Vir baie mense is dit 'n mooi Bybelstorie oor lampe, olie en huweliksvoorbereiding; tog is die gelykenis eintlik 'n waarskuwing van toestande wat aan die einde van die tyd sal voorkom. Die teikengehoor is die geslag wat die wederkoms van Jesus Christus sal aanskou! Die gelykenis is gekoppel met profesieë oor die laaste dae wat vandag vervul word (sien Mattheus 24; 25).

Presies hóe het die gelykenis betrekking op ons? Daar word dikwels veronderstel dat Christus in gelykenisse gespreek het om die betekenis van Sy leringe duidelik te maak, tog onthul die Skrif presies die teenoorgestelde (sien Mattheus 13:10- 17). Die Bybel dui aan dat God die ware begrip van die Skrif van die wêreld verskuil het, maar Hy onthul daardie noodsaaklike inligting deur Sy Gees aan diegene wie Hy roep (1 Korintiërs 2:7-16). Diegene wat gewillig is om deur God se Gees gelei te word, sal die ware betekenis van die Skrif naspeur en verstaan. Wat kan ons van die gelykenis van die tien maagde leer? Watter belangrike lesse wat vandag op ons van toepassing is kan ons hieruit leer?

Die tien maagde

Eerstens moet ons oorweeg: wie is die tien maagde? Die gelykenis beeld tien maagde uit wat onderweg is om die bruidegom (Jesus Christus), te ontmoet. Die tien maagde is beskryf as “die afwagtende Christengemeenskap” (sien The Expositor's Bible Commentary). Baie mense wat hulself vandag “Christene” noem, verwag die Messias se wederkoms, maar die gelykenis, sowel as vele ander teksverse, dui aan dat baie belydende Christene wat uitsien na Christus se wederkoms, nie die beloning wat hulle verwag, sal ontvang nie (Mattheus 7:21-23), omdat hulle nie die belangrike lesse geleer het wat in hierdie gelykenis vervat is nie. Hulle sal geskok en verras wees, maar dit is wat die Bybel duidelik sê.

Ons word vertel dat vyf van die maagde wys was en vyf dwaas. Presies wat beteken dit om wys of dwaas te wees? Hoe omskryf die Bybel hierdie terme? In watter kategorie val u? Jesus verduidelik dat die wyses diegene is wat nie net na Sy leringe luister nie, maar dit werklik navolg (Mattheus 7:24- 29). Jesus omskryf 'n dwase persoon as een wat luister, maar nie die woord van God navolg nie! Dwase maak redes en verskonings op waarom die gebooie en opdragte van die Skrif nie meer vandag op ons van toepassing is nie.

Spreuke verskaf bykomende definisies. 'n Wyse persoon vrees ongehoorsaamheid aan God se woord en soek na kennis, wysheid en begrip (Spreuke 4:4-9; 9:10), maar “sotte verag wysheid en tug” (1:7); hulle is nie gewillig om 'n poging aan te wend om hierdie belangrike behoeftes te bekom nie. 'n Wyse persoon sal raad vra en luister na teregwysing (Spreuke 10:8), maar dwase ignoreer raad en verag teregwysing (Spreuke 11:14). 'n Dwaas reageer met onmiddellike woede op situasies, tog sal 'n wyse persoon beledigings ignoreer en selfbeheersing toepas (Spreuke 12:16). Dwase is altyd reg in hul eie oë en ten volle oortuig van hul eie menings, terwyl 'n wyse persoon gewillig is om na raadgewing te luister (Spreuke 12:15; 28:26). 'n Wyse persoon voorsien waarheen besluite en optredes sal lei en streef daarna om foute te voorkom, maar dwase voorsien nie die gevolge van hul optrede nie en beland dus gedurig in die moeilikheid (Spreuke 22:3). Ons keuse van vriende beïnvloed ook hoe ons uitdraai, soos Spreuke 13:20 sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met die dwase verkeer, versleg”.

Die les in hierdie deel van die gelykenis is om bewus te wees van die kategorie waarin ons optredes ons plaas! Soek ons om gelei te word deur God se Gees en om Sy onthulde opdragte uit te voer, of soek ons gedurigdeur na 'n manier om die Skrif te omseil, sodat ons ons eie ding kan doen? Die gelykenis dui aan dat ten minste 50 persent van diegene wat hulself as lidmate van God se Kerk beskou, moontlik dwase besluite kan neem! Dit moet vir ons 'n waarskuwing wees namate ons die eindtyd nader.

Olie aldan nie?

Die gelykenis dui aan dat die dwase maagde geen olie vir hul lampe saamgeneem het nie, maar dat die wyse maagde ekstra voorraad saamgeneem het om op die bruidegom se koms te wag. Kommentare bied verskeie idees oor wat die olie simboliseer (byvoorbeeld genade of goeie dade), tog dui die Bybel aan dat olie simbolies van God se Gees is. Toe Saul en Dawid as konings van Israel gekies is, het Samuel hulle met olie gesalf en die “Gees van die Here” het oor hulle vaardig geword (1 Samuel 10:1-6; 16:13). Die Bybel stel dit duidelik dat indien ons in die Koninkryk van God wil wees, ons vrugte moet dra (Mattheus 3:8; Johannes 15:1-8).

Galasiërs 5:22-26 lys die vrugte van die Gees, wat God wil hê ons moet vertoon. Dit sluit liefde ['n spontane besorgdheid vir ander mense], vreugde, vrede, geduld, getrouheid en selfbeheersing in. God se Gees is regverdig en maklik om deur gebed te bekom (Jakobus 3:17). Ander opvallende vrugte van God se Gees sluit die moed van oortuiging en 'n gesonde, onderskeidende verstand in (2 Timotheus 1:7). Diegene wat hierdie vrugte kortkom, word ongeduldig, wil nie na insette luister nie, fokus op hulself, verloor hul geloof, stel hul oortuigings bloot en kan nie tussen reg en verkeerd onderskei nie. Hulle laat toe dat hul voorraad olie [God se Gees] min en uitgeput raak.

God se Gees is 'n dinamiese eienskap, dit vermeerder en verminder in ons lewens, afhangende van hoe ons dit koester en benut. Dit is waarom Paulus vir Timotheus vermaan het om “... die genadegawe van God aan te wakker ...” (2 Timotheus 1:6). Ons word ook gewaarsku: “Blus die Gees nie uit nie” (1 Thessalonicense 5:19). Ons wakker God se Gees aan deur gereelde gebed en Bybelstudie, deur te vas en daarna te streef om die vrugte van die Gees te beoefen, deur op te tree in 'n liefdevolle, geduldige wyse, selfs al neig ons normaalweg om opvlieënd te wees! Dít is wat dit beteken om “deur die Gees van God gelei [te] word” (Romeine 8:14). Indien ons deur die Heilige Gees gelei word, is ons kinders van God en medeerfgename saam met Jesus Christus (Romeine 8:14-17). God gee Sy Gees aan diegene wat Hom gehoorsaam (Handelinge 5:32). Sonder God se Gees is ons nie werklik Christene nie (Romeine 8:9). Indien ons toelaat dat ons voorraad olie min word, sal die vrugte van God se Gees nie duidelik sigbaar wees in ons lewens nie en sal ons nie gereed wees om Christus te ontmoet wanneer Hy terugkeer nie. Ons sou ons geleentheid om as eerstevrugte in die eerste opstanding te wees, dwaaslik vermors het! Dit is nog 'n noodsaaklike les wat ons uit die gelykenis van die tien maagde kan leer. Wanneer laas het u u olie nagegaan?

'n Onthullende vertraging

Een van die mees belangrike aspekte van die gelykenis, is wat gebeur het toe die bruidegom sy koms vertraag het.

Dwarsdeur die eeue het baie mense probeer voorspel wanneer Christus sou terugkeer. Die dissipels het aanvanklik gedink dat Hy in hulle tyd sou terugkeer (Lukas 19:11), maar die Bybel dui egter aan dat daar 'n lang vertraging sou wees (Mattheus 24:48; 25:5, 14, 19). Wat ons gedurende hierdie vertraging doen, onthul baie oor ons oortuiging en die diepte van ons bekering. Die meeste mense is blosend entoesiasties wanneer hulle aanvanklik die waarheid leer ken en tog vervaag dit dikwels. Jesus waarsku dat sommige mense die gebooie sal begin ignoreer en verbreek en terugval in hul genotsugtige, wêreldse leefwyse (Mattheus 24:45-51). Hy waarsku ook dat sommiges sal struikel en die geloof sal prysgee weens beproewinge en vervolging en dat, selfs nog andere, die pad byster sal raak in hul najaging van rykdom en tydelike, wêreldse plesiere (Mattheus 13:18-23). Dit is ontnugterend om in die gelykenis van die tien maagde daarop te let dat hulle almal aan die slaap geraak het terwyl hulle op Christus se wederkoms gewag het!

Die onlangse geskiedenis van die Kerk van God is ook leersaam. Kerkskrywes en -leringe het veroorsaak dat baie mense afgelei het dat Christus in die 1970's sou kom. Toe dit nie gebeur nie, het sommiges begin om te vertak na hul eie godsdiensondernemings. Mnr. Armstrong was van mening dat Christus in sy leeftyd sou kom. Toe hy gesterf en Christus nog nie teruggekeer het nie, het sommiges begin wonder of mnr. Armstrong nie oor baie ander aangeleenthede ook verkeerd was nie. Die gevolglike leerstellingbesprekings en veranderinge het gelei tot verdeling en selfs verdere versplintering. Vandag het baie mense duidelike gebooie en opdragte van die Bybel verwerp om te glo dat “liefde vir die Heer en geloof in Jesus” al is wat benodig word. Baie hiervan het gebeur omdat Jesus Christus nie teruggekeer het toe baie Hom verwag het nie. Ons uitdaging en nog 'n les uit hierdie gelykenis, is om aan die waarheid en ons oortuigings vas te kleef en voort te gaan met die werksopdrag wat Jesus gegee het totdat Hy terugkeer! Die Bybel stel dit duidelik dat, wanneer ons ons eers verbind het en dan begin terugkyk en dink oor hoe anders dinge kon gewees het, of wat ons mis, ons nie waardig is van die koninkryk van God nie (Lukas 9:62). Is ons wakker en gefokus op die doelwit van die koninkryk? Of het ons aan die slaap geraak? Verlustig ons ons in die nostalgie van dít wat ons prysgegee het? Hierdie gelykenis moet 'n wekroep wees!

Die middernagsroep

Die gelykenis impliseer dat die slapende maagde almal verras was om die bruidegom in die middel van die nag teë te kom. Hoe hou dit verband met u en u situasie? Besef u die belangrikheid van die tye waarin ons leef? Is u bewus van bepaalde profesieë wat byna daagliks voor u oë vervul word? Of is u aan die slaap gesus deur diegene wat sê, dat alle profesie in Jesus vervul is en dat Ou Testamentiese profesieë nie toepaslik is op die oortuigings van Nuwe Testamentiese Christene nie?

Besef u waar die werk van God vandag gedoen word? Wie onderrig werklik volgens die Skrif (Jesaja 8:20) en wie verwater die waarheid en verander leerstellings? Wie verkondig die ware evangelie wat Jesus en die apostels gepreek het (Markus 1:14-15), en wie verkondig 'n ander evangelie (Galasiërs 1:6-9)? Wie waarsku die wêreld van die profetiese belang van vandag se nuusgebeure soos Christus gedoen het (Mattheus 24; Markus 13; Lukas 21) en wie preek in Christus se naam (Mattheus 24:5), van 'n ander Jesus (2 Korintiërs 11:1-4)? Kan u diegene herken wat soos wolwe daarop uit is om die kudde van God te verdeel en te verorber? Kan u diegene uitken wat met 'n Laodicese (louwarm) gesindheid aangetas is? Ons moet die “middernagsroep” kan herken wanneer ons dit hoor, want God se dienaars sal aktief betrokke wees in die lewering van hierdie waarskuwing (sien Jesaja 58:1; Esegiël 2; 3; 33). Satan sal egter ook valse en misleidende leraars hê, wat aktief besig is in die eindtyd en hulle sal baie mislei wat aan die slaap is, soos die tien maagde! Ons kan nie bekostig om op hierdie belangrike tydstip in die geskiedenis aan die slaap te raak nie (sien 1 Thessalonicense 5:1-6)!

Die lampe

Die lampe van die tien maagde verduidelik nog 'n belangrike les. Die lampe van die wyse maagde wat olie saamgebring het, het helder gebrand. Deurdat hierdie lampe met olie gevul was, kon hulle 'n lig vir die wêreld wees, ter vervulling van Christus se verwagtinge van sy verkose dissipels (Mattheus 5:13-16). Indien ons God se Gees koester, sal andere in ons lewe die vrugte van liefde, gehoorsaamheid, geloof en goeie dade sien. Ongelukkig was die lampe van die dwase maagde aan die kwyn, omdat hulle olie opgeraak het. Indien ons God se waarheid begin prysgee, of Sy wette en opdragte begin ignoreer of ongehoorsaam is, begin ons om die Gees van God te verloor. Die vrugte van God se Gees sal verdwyn en vervang word met selfsugtige gedagtes en optrede, wat dikwels ydel en lelik is (Galasiërs 5:19-21). Seksuele sondes, argumente, dwaalleringe en verdeeldheid sal floreer en eenheid in kerke en gesinne sal verdwyn (1 Korintiërs 1:10- 17). Individue wat toelaat dat hul lampe in hierdie toestand verval, sal nie die bruilofsfees bywoon nie en sal nie hul roeping om eerste-vrugte in God se koninkryk te wees, vervul nie. Hierdie is 'n ernstige waarskuwing! In watter toestand is u lamp? Brand dit helder, of is dit besig om uit te gaan? Indien u nie seker is nie, vra ander mense wat hulle sien. Vra God om u die toestand van u lamp te wys en wees gereed om na Sy antwoord te luister.

Nie leen nie – koop!

'n Besonder ontnugterende les van die gelykenis is dat, ongeag die hoeveelheid geloof, moed, karakter, oortuiging, gereedheid, goeie dade of graad van bekering wat u behaal het, dit nie uitgeleen, gedeel, gegee of van iemand anders geleen kan word nie! Hierdie is baie persoonlike eienskappe wat deel is van die geestelike huis wat elkeen van ons in samewerking met God bou (1 Korintiërs 3:5-17). Die Skrif onthul egter ook dat dít wat ons bou deeglik getoets gaan word. Indien dit die toets deurstaan, sal ons beloon word, maar indien dit die toets faal, sal ons die beloning verloor. Hoe ons dus bou en die soort materiaal waarmee ons bou, is baie belangrik. Ons moet versigtig bou en ons oortuigings wyslik kies!

In hierdie verband moet ons onsself 'n paar baie persoonlike vrae afvra. Het ek die Waarheid ontdek en is my gedagtes ge-open om daardie waarheid te verstaan? Hierdie is 'n spesiale geleentheid wat min vandag gegun word (Mattheus 13:10-17; Johannes 6:44, 65). Het u 'n groot deel van u hart, gedagtes en energie, in hierdie “kosbare pêrel” wat u aangebied is, belê (Mattheus 13:44-46), of het u “ywerige ore” wat eerder na “nuwe waarhede” en fabels wil luister (2 Timotheus 4:3-4)? Het u dít wat u glo noukeurig bewys, of volg u bloot u gevoelens en luister na die jongste leerstelling of selfaangestelde profeet of leermeester wat u pad kruis (1 Thessalonicense 5:21)? Soek u eerste na die koninkryk van God, of is ander prioriteite belangriker in u lewe (Mattheus 6:33)? Streef u daarna om naby aan God te wees terwyl Hy gevind kan word, of stel u die mees belangrike besluite in die lewe uit tot later (Jesaja 55:6-9)? Sien u ywerig uit na en berei uself aktief voor op Christus se wederkoms, of hoop u vir meer tyd om die kortstondige plesiere van hierdie wêreld te geniet? Jesus sê dat ons skat, ons belegging van geld, tyd en energie, sal wees waar ons hart is (Mattheus 6:19-21). Ons mag andere dalk om die bos lei, maar ons kan God nie om die bos lei nie. Die gelykenis van die tien maagde maak dit duidelik dat ons nie op 'n ander Christen se rug God se koninkryk kan ingaan nie. Ons moet self die belegging maak en die poging aanwend!

Gereed aldan nie?

Die laaste les van die gelykenis het te doen met ons gereedheidsvlak by Jesus se wederkoms. Diegene wat gereed is, sal genooi word om deel te hê in die bruilof. Diegene wat nie gereed is nie, sal dit misloop, hoewel hulle gehoop het om by die vieringe ingesluit te word! Hoe maak ons gereed vir Christus se wederkoms? Die Skrif sê dat die bruid ter gereedmaking vir die bruilofs-fees, “haar gereed maak” (Openbaring 19:7-9). Sy neem toe in haar begrip van die waarheid, leer om volgens elke woord van God te leef, bou sterk en vaste Christenkarakter, kom beproewinge te bowe, bly getrou en byt vas tot aan die einde. Sy is gereed wanneer die bruidegom kom. Diegene wat hierdie voorbeeld volg, sal na die bruilofsfees genooi word en dan sal die deur gesluit word.

Andere wat uitsien na die wederkoms van Christus en begeer om die bruilof by te woon, maar onvoorbereid aangetref word, is nie noodwendig bose mense nie. Hulle mag eenvoudig besig wees met dít wat hulle dink reg is, insluitende “goeie dade” (Mattheus 7:21-23), maar nie doen wat Jesus Christus hulle opdrag gegee het om te doen nie! God beveel ons by-voorbeeld: “Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig” (Eksodus 20:8). Jesus en die apostels het die Sabbatdag onderhou (Lukas 4:16; Handelinge 17:2), en dit sal in die koninkryk ook onderhou word (Jesaja 66:23). Mense word egter vandag vertel dat God dit sal aanvaar as ons enige dag as dag van aanbidding onderhou, maar dit is nie wat God ons in Sy woord vertel nie, en dit is nie die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het nie! Aan diegene wat daarop aandring om dinge op hul eie manier te doen, sê Jesus: “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mattheus 7:23). Hulle sal nie genooi word na die bruilofsfees nie, omdat hulle nie gereed sal wees met die bruidegom se aankoms nie. Die deur na die bruilofsfees sal gesluit wees en hulle sal buite gelaat word, smekend om ingelaat te word! Die vraag wat elkeen van ons moet vra is: waar sal ons wees wanneer die deur gesluit word? Sal ons binnekant saam met Jesus Christus sit, of sal ons buite wees, ontnugter en teleurgesteld (Mattheus 24:51)?

Die gelykenis van die tien maagde bevat noodsaaklike lesse wat uiters toepaslik en spesifiek gemik is op diegene wat aan die einde van die tyd leef. God het hierdie waarskuwings vir ons voordeel geïnspireer, omdat Hy ons liefhet en wil hê dat ons onder Sy eerstevrugte moet wees in die komende koninkryk van God. Ons moet ag slaan op die waarskuwings en die lesse van hierdie belangrike gelykenis leer, sodat ons nie 'n ongelooflike beloning misloop nie!