Dit is bekend dat wyle Carl Sagan, die bekende sterrekundige en kosmoloog, sy bekroonde boek, Cosmos, begin het met ’n gewaagde bewering: “Die kosmos is al wat is of ooit was of ooit sal wees”. Die grootheid wat ons sien wanneer ons ons teleskope op die ruimte rig, kan veroorsaak dat ons nederig voel deur sulke verhewe verklarings.

Danksy vooruitgang in astronomie en foto’s vanuit die ruimte-gebaseerde Hubble-teleskoop, kan ’n gesin dit deesdae buite waag op ’n donker nag, weg van stadsliggies, dan kan ouers aan grootoog kinders verduidelik dat uitgestrekte ruimtes anderkant die ontelbare sterre lê wat hulle daarbo sien – nie net sterre nie, maar miljarde der miljarde sterrestelsels, nebulae, quasars, pulsars en ander verstommende verskynsels – ’n ontelbare versameling van wêrelde in ’n skynbaar oneindige verskeidenheid wat verspreid is oor ’n heelal van ontsaglike, ondenkbare grootte!

Verstom deur so ’n geweldige skoonheid, kan ’n nuuskierige kind natuurlik aan sy of haar ouers ’n eenvoudige vraag stel: “Waar het die heelal in die eerste plek vandaan gekom?”

Waarvandaan, inderdaad? In hierdie geval, is ’n kind se vraag ’n wetenskaplike se dilemma. Soos die tydskrif, New Scientist, in sy uitgawe van 13 Januarie 2012 beweer, kan mens dit “Die Genesis probleem” noem: “Sonder ’n ontsnap klousule moet fisici en filosowe uiteindelik antwoord op ’n probleem wat al vir die beste deel van 50 jaar by hulle spook: Hoe kry mens ’n heelal, volledig met die wette van fisika en al, uit niks uit?”

’n Uitdyende heelal?

Mense was in staat om die rand van die kosmos te aanskou, het die verborge wette wat in hierdie wonderlike, ordelike heelal werk ondersoek, maar nie eens die mees geskoolde wetenskaplikes was in staat om aan te toon waar die heelal vandaan kom, waarom dit hier is, of waarom dit is soos dit is nie.

Vir ’n tyd lank was sulke soort vrae beskou as die gebied van filosowe en teoloë. Volgens wetenskaplikes, kan die heelal eenvoudig net as gegewe aanvaar word, en baie het dit beskou as ewig. Alles het egter verander in die 1920’s, toe die Belgiese astrofisikus, Edward Lemaître, ’n verrassende ontdekking gemaak het.

Terwyl hy met die Einstein veldvergelykings gewerk het – wiskundige formules wat die Nobelprys-wennende fisikus, Albert Einstein, afgelei het van sy bekende algemene relatiwiteitsteorie – het Lemaître tot die gevolgtrekking gekom dat as Einstein se karakterisering van ruimte, tyd en materie korrek was, dan was die heelal nie van ewigheid af gebalanseerd en staties nie. Inteendeel, dit moes uitgedy het met verloop van tyd! Nog meer ontstellend, die vergelykings het getoon dat die heelal kleiner was in die verlede en dat – indien vêr genoeg teruggekyk word in die verlede – die heelal toe ’n oneindige warm, oneindige digte, oneindige klein puntjie was, wat Lemaitre ’n “oer-atoom” genoem het. Indien dit op hierdie manier verstaan word, toon Einstein se vergelykings dat die ontsaglike groot heelal en alles daarin, elkeen van die miljarde der miljarde planete, sterre, en sterrestelsels – selfs ook die ruimte self – ’n begin gehad het as ’n oneindige klein puntjie, kleiner as die kleinste subatomiese deeltjie.

Aan die begin was Lemaître se gevolgtrekkings oor die algemeen verwerp. Die befaamde sterrekundige, Fred Hoyle, het die spot gedryf met die idee van ’n heelal wat uitgedy het van ’n mikroskopiese beginpunt en dit spottend “die oer-knal” genoem. Selfs Einstein het na bewering aan Lemaître gesê: “Jou wiskunde is goed, maar jou fisika is verskriklik”. Die idee van ’n nie-ewige heelal, wat op een of ander manier “tot stand gebring” is, was vir party wetenskaplikes ’n ongemaklike weerklank van die openingswoorde van die Bybel: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Genesis 1:1).

Dat ’n stowwerige, antieke geskrif – algemeen verwerp as onbetroubaar en onwaardig om oorweeg te word deur die wetenskap – so ’n voorsprong het bo moderne kosmologie was, om die minste te sê, ontstellend vir “gesofistikeerde” wetenskaplikes.

Tog, binne ’n dekade, het klinkklare data en wetenskaplike waarneming Lemaître se gevolgtrekkings bevestig. Sterrekundige Edwin Hubble het ontdek dat liggolwe wat planeet Aarde van verre sterrestelsels af bereik, op ’n besondere manier verskuif word, in ooreenstemming met Lemaître se teorie. Net soos die klankgolwe van ’n trein se fluit verander van ’n hoë toonhoogte na ’n laer toonhoogte wanneer die trein verby ’n waarnemer langs die spoor verbygaan, so toon die “rooi verskuiwing” van liggolwe van verre sterrestelsels dat dié sterrestelsels van ons af weg beweeg, in ’n uitdyende heelal.

Teen die 1960’s, het fisici Arno Penzias en Robert Wilson, ’n flou, eenvormige uitstraling in die heelal opgespoor wat volmaak pas by Lemaître se teorie van ’n kosmos wat ’n beperkte aantal jare gelede begin het as ’n oneindige klein “saadjie”, voor dit uitgedy het tot vandag se heelal. Penzias en Wilson het, in effek, die “eggo” ontdek wat Hoyle minagtend gedoop het as die “oer-knal” – die oomblik van die heelal se skepping.

Skokkende implikasies

Vandag word die “oer-knal” as vanselfsprekend aanvaar as een van die mees gevestigde wetenskaplike teorieë. Wat eens skokkend vir wetenskaplikes was, is nou algemeen aanvaar – ons heelal was nie altyd hier nie, en daar was ’n oomblik van “skepping” toe alles – letterlik alles – op een of ander manier tot stand gekom het.

Nogtans het die implikasies van hierdie goed-gedokumenteerde teorie – die “Genesis probleem” – fisici nie enigsins beter laat voel nie. Soos New Scientist opgemerk het, “Die oer-knal is nou deel van die huisraad van moderne kosmologie, maar Hoyle se ongemak het nie weggegaan nie. Baie fisici veg al vir dekades ’n agterhoedegeveg daarteen, hoofsaaklik as gevolg van die teologiese ondertoon. Indien daar ’n oomblik van skepping is, is daar dan nie ’n Skepper nodig nie?” (13 Januarie 2012).

Daardie “agterhoede”-geveg duur vandag nog voort. Baie teorieë is al aangevoer om ’n “skeppingsoomblik” te vermy – wat wissel van verskeie heelalle tot ’n kosmos wat uitsit en inkrimp in eindelose kringlope, tot “kosmiese eiers” wat geboorte skenk aan heelal “kinders” – maar geen ander teorie pas die feite soos ’n heelal wat op ’n oomblik in tyd begin het nie. In hul April 2012 geskrif: “Het die heelal ’n begin?”, evalueer Tufts Universiteit se fisici, Audrey Mithani en Alexander Vilenkin, drie teorieë wat belowe om te verduidelik hoe die heelal “’n begin kon omseil”. Hulle gevolgtrekking? Nie een maak voorsiening vir ’n heelal wat “werklik vir ewig in die verlede kon bestaan nie”.

Die feite is steeds soos dr. Vilenkin dit oorgedra het aan sy gehoor op ’n “Toestand van die Heelal”-simposium wat gehou was ter ere van die fisikus Stephen Hawking se 70ste verjaardag: “Al die bewyse wat ons het, sê dat die heelal ’n begin gehad het”.

Vir fisici wat hoop om ’n “skepping” te vermy, gaan die probleem nie weggaan nie. Die “Genesis-probleem” is egter gladnie ’n probleem vir diegene wat werklik die boek van Genesis glo nie! In die heel eerste sin van die Bybel maak God aanspraak op die titel van Skepper van die hemel en die aarde! Selfs die uitdying van die heelal vind ’n weerklank in die woorde van die Skrif waar gepraat word van God “wat die hemele uitspan soos ’n tentdoek” (Jesaja 40:22; Psalm 104:2).

Buite die bereik van die sterrekundiges se teleskope en die fisici se vergelykings, onthul die Skrif die ewige en bonatuurlike Skepper van alle dinge! Die psalmdigter besing God: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het” (Psalm 8:4).

Wanneer die kind – of die fisikus – die vraag vra: “Waar het die heelal vandaan gekom?”, kan ons met vertroue antwoord: Die heelal kom van die denke en krag van die Almagtige God van die ganse skepping, vir Sy groot doel en heerlikheid en vir die vervulling van Sy plan met ons lotsbestemming!