Vraag: Jesus se dood en opstanding het die sluier, wat tussen mense en God die Vader was, gelig (Mattheüs 27:51; 2 Korinthiërs 3:14-16). Aangesien ons nou direkte kontak het met die Vader, anders as die mense uit die antieke tyd wat slegs die God van die Ou Testament – Jesus Christus (1 Korinthiërs 10:4) – geken het, waarom is dit nodig dat ons tot Jesus moet bid? Behoort ons in werklikheid enigsins tot Christus te bid, aangesien Hy gekom het om die Vader aan ons bekend te maak (Johannes 14:7)?

Antwoord: Dit is verrassend om te sien hoeveel belydende Christene God die Vader omtrent heeltemal ignoreer in hul gebede. Dit is ironies, aangesien Christus Self Sy dissipels in die “modelgebed” geleer het om op hierdie wyse te bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9). Ja, Jesus Christus persoonlik het geleer dat ’n Christen se gebede hoofsaaklik aan God die Vader gerig moet word!

Selfs al het Christus, as die Logos – die Woord – van ewigheid af saam met die Vader bestaan (Johannes 1:1-4), het Hy altyd opgesien na Sy Vader. Om Sy Vader se wil te volbring, was Hy gewillig om ’n mens te word (Johannes 1:14-15). Hy het Homself as ’n dienaar van Sy Vader beskou en het op geen wyse probeer om die aandag af te lei van God die Vader nie. Inteendeel, Hy het Homself as ondergeskik beskou, soos Hy ook aan Sy dissipels gesê het: “Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek” (Johannes 14:28).

Jesus het nooit Sy Vader se wil teengestaan nie. Terwyl Hy geweet het dat Hy kort daarna gekruisig sou word, het Christus tot Sy Vader gebid: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Lukas 22:42). Jesus was inderdaad een in gedagte, gesindheid en doel met Sy Vader (Johannes 10:22-39).

Dus, ja, ons behoort Christus se woorde en voorbeeld te volg en ons gebede te rig aan God die Vader. Wanneer ons egter tot die Vader bid, mag ons nooit vergeet dat ons dit slegs kan doen op gesag van Sy geliefde Seun, Jesus Christus, nie. “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kolossense 3:17).

Die apostel Paulus skryf oor sy hoop aangaande Christene “dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kolossense 2:2-3). Ons Verlosser leer ons nie slegs om tot God die Vader te bid nie; Hy het daardie gebede moontlik gemaak. God die Vader wil nie hê dat ons ’n liefdevolle, persoonlike verhouding met Sy geliefde Seun moet vermy nie (Mattheüs 17:5).

Die Skrif gee aan ons die voorbeeld van die diaken Stéfanus – die eerste aangetekende martelaar van die Apostoliese Kerk. “En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Hereaanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!” (Handelinge 7:59). Selfs teen die heel einde van sy lewe, terwyl hy besig was om vermoor te word vir sy manhaftige prediking, het Stéfanus nie tot God die Vader uitgeroep nie, maar na Jesus Christus, sy Verlosser. Stéfanus het geweet dat hy ’n diepgaande verhouding gehad het met beide God die Vader en met Jesus Christus.

Jesus het aanbidding – en verering van andere – wat tot Hom gerig was, aanvaar. Toe Hy aan Sy dissipels verskyn het ná Sy opstanding, “kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom” (Mattheüs 28:9). Sedert Sy opstanding sit die verheerlikte Jesus Christus aan die regterhand van God die Vader (Hebreërs 10:12; 1 Petrus 3:21-22). As ons Hoëpriester en Middelaar (1 Timotheüs 2:5), doen Hy voortdurend voorspraak vir Christene. As ons Hoëpriester en ons Redder, is Hy ons aanbidding waardig en ook om ons gebede te ontvang. Indien ons ’n verhouding met Christus het, sal ons Hom gehoorsaam wees en tot God die Vader bid, maar ons sal nie vergeet dat dit ons verhouding met Christus is wat ons toelaat om die Vader te ken nie (Johannes 17:20-23).

Nee, dit is nie verkeerd om tot Jesus Christus te bid nie – maar ons mag nie Christus se opdrag ignoreer om tot Sy Vader te bid nie. Ons sal Christus baie meer tevrede stel en eer as ons gehoorsaam is en doen wat Hy ons leer, eerder as om Sy direkte opdrag, om allereerste tot Sy Vader te bid, te verklein of te ignoreer.