Antieke geskiedenis, opgeteken in u Bybel, bevat belangrike inligting aangaande die geprofeteerde verval van die Verenigde State van Amerika en die nasies van Britse afkoms. Is u voorbereid daarop?

’n Antieke verhaal onthul die toekoms van ons moderne nasies.


Die geluid van voetstappe weerklink regdeur die tronk toe onverwagte besoekers die deur nader. Die gevangenes kon gedempte stemme daarbuite hoor. Skielik swaai die deur oop en die wagte kyk vinnig rond. Hulle gryp een van die gevangenes – ’n man van omtrent 30 jaar oud – en haas met hom uit die sel.

Sodra hulle buite kom, word ’n nuwe stel klere aan die gevangene gegee en word hy aangesê om te bad en te skeer. Terwyl hy hiermee besig was, het sy gedagtes vinnig gewissel. Waar neem hierdie manne hom heen? Hoekom? Die wagte haas met hom uit die gevangenis, en bring hom voor die koning van Egipte – die magtigste man in die wêreld. Die koning het sy mond oopgemaak om te praat en min het hierdie jong man geweet dat voordat hierdie gesprek tot ’n einde sou kom, sy lewe vir ewig sou verander.

Die man was Josef, die koning was Farao. Josef se broers het hom 13 jaar vroeër as ’n slaaf verkoop, toe hy net 17 jaar oud was (Genesis 37:25-36). Nadat hy valslik beskuldig is dat hy sy meester se vrou aangerand het, is Josef in die tronk gegooi (Genesis 39:20), net om jare later vrygestel te word onder verstommende omstandighede.

Duisende jare later is dit nog steeds skokkend om te dink aan die wreedheid wat Josef verduur het. Ons kan nogtans inspirasie daaruit put wanneer ons besef hoe God hom gehelp het om swaarkry te oorkom, die wysheid en krag van God se plan om Josef se mense en die hele volk van Egipte te red. Daardie plan het afgehang van Josef se gewilligheid om hom getrou, in geduld en vertroue, aan God se wil te onderwerp.

In die verhaal wat in Genesis opgeteken is, vind ons dat Josef skielik vrygelaat is deur Farao na 13 jaar van slawerny en tronkstraf. Hy was onverwags verhef tot die tweede hoogste amp in die magtigste regering van daardie tyd. Hoe het dit gebeur?

Farao se gemoed was versteur deur ontstellende drome. Een daarvan het sewe siek koeie wat sewe gesonde koeie opeet, behels. Die tweede droom behels sewe en verskroeide maer koringare wat sewe vet en mooi are verslind (Genesis 41:1-7). Die koning se skinker het Josef geken as ’n vertolker van drome, hy het Josef na Farao gebring. Hier is Josef se uitlegging: “Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer” (Genesis 41:25, 29-30).

Josef het voorgestel dat ’n wyse en pligsgetroue bestuurder aangestel word om graan in te samel ter voorbereiding vir die droë jare. Farao het Josef gekies vir hierdie belangrike taak en so die grondslag gelê om Egipte en die omliggende nasies te red van ondergang (Genesis 41:56-57). Egipte het floreer onder die bestuur van Josef, dus so die “uitlener as ’n laaste uitweg” geword gedurende ’n baie moeilike tyd. God het ook Egipte se welvaart gebruik om Josef te herenig met sy broers wat van Kanaän na Egipte gekom het, op soek na graan (Genesis 42:1-3).

Hierdie opgang van gevangenisskap na mag is vandag, 3,600 jaar later, nog steeds verstommend! Dit getuig van God se krag om nie net gesinne en stamme te bewaar nie, maar wel ook hele nasies. Wat kan ons dus leer uit Josef se opgang na mag? Wat het uiteindelik gebeur met Josef se gesin? Kan ons sy afstammelinge deesdae identifiseer? Alhoewel Josef uitgestyg het, is sy nageslag bestem vir ’n val?

Josef se toekoms geprofeteer

Nadat Josef herenig is met sy broers, het hy sy vader Jakob, wie se naam verander is na Israel, laat haal (Genesis 32:28). Wat ’n vreugdevolle reünie moes dit nie gewees het met die vader wat hy vir dekades nie gesien het nie! Jakob het daarna sy seuns byeengeroep om hulle mee te deel wat met hulle eindtydse afstammelinge sal gebeur: “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar” (Genesis 49:1). Die bejaarde patriarg het toe ’n profesie gegee oor wat meer as drie millennia later sal gebeur. Terwyl hy onder die inspirasie van God gepraat het, het hy Josef se toekoms beskryf: “Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein, sy takke klim oor die muur” (Genesis 49:22). Met ander woorde, Josef se eindtydse nageslag sou “waterryk” wees en feitlik oorloop met voedsel.

Josef se nageslag sou ook militêr magtig wees, wat deur God se krag, beslissende oorwinnings sou behaal (Genesis 49:23-24), hulle sou ook ryke seëninge verkry, meer as dié van ander volke (Genesis 49:25-26). Jakob het ook ’n spesiale seën oor twee van Josef se seuns – Manasse en Efraim – uitgespreek en gesê: “Hy [Manasse] sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer [Efraim] groter wees as hy, en sy nageslag sal ’n menigte van nasies word” (Genesis 48:12-19).

Die meeste mense neem aan dat Efraim en Manasse – ook die ander stamme wat weggebreek het van Juda in die dae van Rehábeam – “verlore” geraak het nadat hulle gevange geneem is deur antieke Assirië in 721 v.C. (2 Konings 17:5, 23). Tog het Jesus Christus Sy dissipels gestuur om te gaan preek vir die “verlore skape van die huis van Israel” (Mattheüs 10:06). Alhoewel hulle verstrooi was, het Christus en Sy dissipels geweet waar hulle was en hoe om hulle te vind! Die apostel Jakobus het geweet waar die “verlore” stamme was en het sy brief aangehef met die inleiding: “... aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is ...” (Jakobus 1:1). Verlore? Glad nie!

Nadat hulle vrygelaat is uit die Assiriese ballingskap het die tien “verlore” stamme van Israel – insluitende die stamme van Efraim en Manasse – na Wes-Europa verhuis. Die stam van Efraim het uiteindelik bestaan uit Groot-Brittanje en meeste van die Britse Gemenebes-lande. Manasse word vandag geïdentifiseer as die Verenigde State van Amerika. (Om meer te leer oor hoe die Skrif en die geskiedenis die moderne identiteit van hierdie twee stamme vasgestel het, bestel gerus ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?)

Josef se vrygewigheid

Josef se geloof en wysheid – gelei deur God – het ’n belangrike rol gespeel in die behoud van Egipte en die omliggende nasies, gedurende die katastrofiese droogte. Hy was deur sy mense as ’n redder beskou, want hy het nie “koring teruggehou” van diegene wat dit nodig gehad het nie (Genesis 47:25; Spreuke 11:26). Josef se beleid – terwyl hy weliswaar Farao se mag bevestig het – was ’n seën vir ’n volk wat baie swaargekry het. Soos die historikus Josefus opmerk: “[Farao] het staatgemaak op Josef, wat die koring aan hulle verkoop het en so onteenseglik ’n redder geword het vir die groot menigte van die Egiptenaars. Ook het hy hierdie mark van koring nie net vir die mense van daardie land beskikbaar gestel nie, maar vreemdelinge het ook die vrymoedigheid gehad om te koop, Josef wou hê dat alle mense, wat van nature verwant is aan mekaar, hulp moet ontvang van diegene wat in vreugde geleef het” (Antiquities of the Jews, VI. 3).

Josef was ’n voorstander van ’n vryemark wat toeganklik is vir almal wat kos nodig het. Sy werke en beleid was ’n seën! Die Skrif openbaar dat Josef se eindtydse afstammelinge – ten spyte van hulle sondes en swakhede – volgens profesie ’n soortgelyke voordelige impak op die wêreld sou hê. God beloof aan Abram: “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Genesis 12:2-3). Dink daaraan dat, as begunstigdes van die wêreldwye ekonomiese stelsel, aangevuur deur die Westerse nasies, baie lande verbasend gegroei het in die afgelope jare: “In 2006 en 2007 het 124 lande teen ’n koers van 4% of meer gegroei. Dit sluit meer as 30 lande van Afrika in, twee-derdes van die vasteland” (The Post-American World,Zakaria, bl. 2).

Die gesamentlike uitwerking wat Amerika en Groot-Brittanje – die moderne afstammelinge van Josef – op die wêreld-ekonomie gehad het, is niks minder as verstommend nie: “Vir byna drie eeue is die wêreld onderskraag deur die teenwoordigheid van ’n groot liberale heerser – eerstens Brittanje, en daarna Amerika. Hierdie twee supermoondhede het gehelp om ’n vrye wêreld-ekonomie te skep en in stand te hou, terwyl hulle handelsroetes en seelane beskerm het, asook in die laaste instansie opgetree het as uitleners, terwyl hulle die reserwe geldeenheid behou en in die buiteland belê het, asook hul eie markte oopgehou het. Hulle het ook die militêre ewewig gehandhaaf teen die groot aanvallers van hul tye, van Napoleon se Frankryk, tot Duitsland, tot die Sowjet-Unie” (ibid., bl. 45). God het hierdie twee seuns van Josef gebruik om die welvaart te skep waarmee ons vandag geseën is.

Betreffende Amerika vandag, skryf Zakaria: “Ten spyte van sy misbruik van mag, was die Verenigde State die skepper en onderhouer van die huidige orde van ’n vryemark en demokratiese regering – ’n stelsel wat heilsaam en voordelig was vir die oorgrote meerderheid van die mensdom” (ibid., bl. 45). God het Amerika geseën! Ten spyte van sy vele, toenemende sondes, is God lankmoedig en genadig. Die hele wêreld het baat gevind as gevolg van God se seëninge oor Israel.

Is daardie seëninge besig om tot ’n einde te kom? Is God se geduld met Amerika se toenemende ongehoorsaamheid besig om tot ’n einde te kom? Wat hou die toekoms in vir ’n post-Amerikaanse wêreld?

Die lewe ná Josef

Josef het 110 jaar lank geleef (Genesis 50:26). Na sy dood het ’n nuwe Farao Josef se beleid van welwillendheid beëindig, die Israeliete is onder dwangarbeid geplaas, uit vrees vir hul toenemende sterkte en getalle. Opsigters is oor die Israeliete aangestel. ’n Voorspoedige en lewenskragtige samelewing het verval in slawerny en dwangarbeid.

Kon hierdie ’n voorafskaduwing wees van die lot van Josef se nakomelinge? Skrywers, kommentators en selfs politici bespreek vandag dikwels die “verval van Amerika”. Baie mense regoor die wêreld verwelkom die vooruitsig dat Amerika “verneder” moet word – om nie langer ’n leier te wees nie, maar eerder ’n gelyke vennoot op die internasionale toneel.

Sommige mense aanvaar naïef dat, selfs met Amerika wat besig is om agteruit te gaan, die meeste van die seëninge waaraan die Westerse wêreld gewoond geraak het, sal voortgaan. Tog kan niks verder van die waarheid af wees nie! Soos skrywer en historikus Robert Kagan uitwys: “Amerikaners wil sekerlik graag glo dat ons gekose orde voortbestaan omdat dit reg en regverdig is – nie net vir ons nie, maar vir almal. Ons aanvaar dat die triomf van demokrasie die triomf is van ’n beter idee, die oorwinning van mark-kapitalisme die oorwinning is van ’n beter stelsel, ook dat beide onomkeerbaar is ... Indien en wanneer Amerikaanse mag afneem, sal die instellings en norme wat Amerikaanse mag ondersteun het, ook afneem ... Ons mag dan ontdek dat die VSA ’n noodsaaklikheid was om die huidige wêreldorde bymekaar te hou en dat die alternatief vir Amerikaanse mag nie vrede en harmonie was nie, maar chaos en rampspoed” (“Why the World Needs America”, The Wall Street Journal, 11 Februarie 2012).

Sal Amerika se toekoms dus een van vrede en orde wees, of chaos en rampspoed? Die antwoord kan gevind word in u eie Bybel! Dink aan die Bybelse beginsel dat God Israel beloon het met rykdom en belangrikheid as ’n beloning vir gehoorsaamheid, maar dat in tye van opstand, Israel geteister is deur toenemende vloeke, toenemende siektes, omgewingsrampe en militêre terugslae (Deuteronomium 28:1-25). Deur middel van Moses het God gewaarsku dat wanneer sonde in Israel begin toeneem, sy voormalige posisie van wêreld-ekonomiese leierskap sal plek maak vir versmorende skuld en ekonomiese ondergeskiktheid (Deuteronomium 28:44). Nadat Israel in ballingskap gegaan het in 721 v.C., is God se beloftes van seën uitgestel vir sewe profetiese “tye” – 2,520 jaar (Levitikus 26:18) – nogtans, selfs nadat die seëninge heringestel was, het Efraim en Manasse dit verkwis deur voortdurend ongehoorsaam te wees aan hul Skepper.

Is die Amerikaanse kultuur besig om te beweeg na groter vroomheid, of erger losbandigheid? Dink daaraan dat Amerika vandag ’n politieke stelsel het wat vol geveinsdheid en hebsug is. Sy strate en stede raak toenemend gevaarlik. Baie van sy kinders word groot sonder sedelike standaarde of leiding. God se wette word bespot en verban uit die openbare areas. Die industrie van vermaak bespot Christelikheid openlik, terwyl sy media onsedelikheid onderskryf en bevorder. Miljoene mense het nou sover gekom om onbeteuelde hebsug en selfsug te aanvaar as “die Amerikaanse lewenswyse”.

Waar sal dit egter heen lei? Moses het gewaarsku dat indien eindtydse Israel sou weier om hulle te bekeer, hul ’n volledige en algehele ineenstorting sal beleef, wat tot nasionale slawerny sal lei! Let op na sy waarskuwing vir Israel: “Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het” (Deuteronomium 28:47-48).

Tensy dit ’n dramatiese verandering van rigting inslaan, sal Amerika ondergaan. Jesus Christus waarsku ons oor ’n tyd wat kom, bekend as die “Groot Verdrukking” (Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21). Dit is ook ’n tyd bekend as ’n “tyd van benoudheid vir Jakob”, wanneer Israel weer in ballingskap sal gaan (Jeremia 30:7). Die geprofeteerde “Dier”-moondheid sal moderne Israel aanval en oorwin, net soos sy antieke voorganger, Assirië, in 721 v.C. gedoen het. Hierdie “Dier”-moondheid sal kragte saamsmee met ’n groot vals kerk en vir ’n kort tydjie sal hierdie godsdiens-politieke mag voorspoed bring vir nasies oor die hele wêreld (Openbaring 18:11-15).

Hierdie welvaart sal nogtans kom teen ’n verskriklike prys. Hierdie kortstondige, lasterlike wêreldmoondheid sal streng regeer en totale oorgawe aan sy wil vereis (Openbaring 13:1-8). Godsdienstige en persoonlike vryheid, wat vandag as vanselfsprekend aanvaar word in baie lande, sal verdwyn (vers 15). Kort voor Jesus Christus se wederkoms sal hierdie moondheid ’n verwoestende vyf maande militêre optrede uitvoer, soos beskryf in Openbaring 9:5-12. Dit sal ’n verwoestende teenaanval uitlok van ’n 200-miljoen-man sterk leër vanuit die Ooste (verse 15-18).

Hierdie eindtydse ontbranding sal onteenseglik lei tot ’n kernoorlog wat een-derde van die planeet se bevolking sal doodmaak. Die wêreld sal gebring word tot op die rand van totale uitwissing. Was dit nie vir Christus se wederkoms na die aarde nie, sou geen vlees gered word nie (Mattheüs 24:22). God, in Sy genade, sal egter nie toelaat dat die mensdom hulself vernietig nie. Jesus Christus sal terugkeer na die aarde, Sy Koninkryk vestig en met billikheid en geregtigheid vir ’n duisend jaar lank regeer (Openbaring 20:06). Dit sal egter nie gebeur voordat die wêreld deur ’n tyd van ongekende rampspoed gegaan het nie (Mattheüs 24:21).

Verneder vir grootheid

Kan ek en u dus die toekomstige gruwels van die Groot Verdrukking en die Dag van die Here gespaar word? Die bemoedigende antwoord is ’n volstrekte “Ja!”

Kyk weer na die voorbeeld van Josef. As ’n jong man het hy ’n buitengewone vermoë en dryfkrag tot sukses getoon. Dit kon opgemerk word in sy diens aan Potifar asook in sy werk vir die tronkbewaarder (Genesis 39:2-3, 5, 21-23). Selfs voor Josef se verblyf in Egipte, het God aan hom spesiale drome gegee wat sy uiteindelike leierskapsrol oor sy broers voorspel het (Genesis 37:5-11). Josef het nogtans nog baie gehad om te leer voordat hy gereed was om die leisels van mag oor te neem. God moes hom toets en leer. Hy het toegelaat dat Josef verneder, sy hoogmoed en ydelheid onderdruk word! Met elke dag wat verbygegaan het, namate Josef getrou gehoorsaam was aan God, het hy geleer om geduldig te vertrou op God en Sy wil. Hy het ’n man geword wat God kon gebruik in die hoogste vlakke van die regering in die grootste nasie van sy tyd.

Die dringende roeping vir ons vandag is duidelik. Indien ons ons Verlosser, Jesus Christus, liefhet, behoort ons daarna te streef om Hom en Sy wette te gehoorsaam (Johannes 14:15). Instede daarvan om op ons eie vernuf en krag staat te maak, moet ons eerder na Hom opsien vir ons seëninge (Deuteronomium 8:18). Ons moet werklik God se wil eerste plaas, sonder voorwaardes, soos Jesus Self gedoen het (Mattheüs 26:39).

Is ons werklik bereid om verootmoedig te word, soos wat Josef was? Dit is die hoogste toets! Die profeet Maleagi skryf: “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees ...” (Maleagi 4:1). Jesus Christus het aan sy volgelinge gesê: “En hy wat op hierdie steen val [in opregte en algehele bekering], sal verpletter [of gebreek] word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel” (Mattheüs 21:44). God het groot beloftes gemaak aan vandag se Christene – selfs dat hulle in Sy Koninkryk saam met Hom sal regeer (Openbaring 20:6). Ons behoort eerstens, soos Josef, absoluut verbonde te wees aan die wil van God in ons lewens!

Die apostel Johannes skryf: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:8-9). Nou is die tyd vir diegene wat “ore het om te hoor” om hulle te bekeer (Mattheüs 13:09). Selfs in hierdie laaste dae, beloof God hulp en verlossing aan diegene wat Hom heelhartig soek.

Die Amerikaanse era sal binnekort eindig, soos die Bybel voorspel. Moenie toelaat dat die ondergang van Amerika u verras nie! Jesus Christus het ’n bemoedigende opdrag gegee oor hoe ons die komende onstuimige tye tegemoet kan gaan met moed en geloof: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie ... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36). Maak seker dat u en u geliefdes gereed is vir die wêreld ná Amerika!