’n Groot deel van die Westerse wêreld het vergeet van HIV hoewel dit steeds voortgaan om miljoene lewens te verwoes. Daar is egter ’n gewaarborgde manier om dit vir ewig te beëindig.

Die getalle van seksueel oordraagbare infeksies styg oor die hele wêreld en het in sommige plekke epidemiese vlakke bereik! Wanneer was die laaste keer dat u van MIV of VIGS gehoor het? Die wêreldwye ramp van VIGS – asook MIV, die virus wat dit veroorsaak – is deur die media in ontwikkelde lande opsy gestoot, ondanks die feit dat ’n groot aantal mense elke jaar MIV opdoen. Hierdie dodelike siekte is nog steeds hier en saai nog steeds verwoesting in ontwikkelende lande.

Kan VIGS ooit gestop of voorkom word? Die opwindende en selfs “ongemaklike waarheid” is “ja, dit kan!” Het u geweet dat regerings- en gesondheidsagentskappe regoor die wêreld, met inbegrip van die beroemde Wêreldgesondheids-organisasie (WHO) en die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC), presies weet hoe om die verspreiding van MIV en VIGS onmiddellik te staak? Nogtans weier wêreldregerings en gesondheidsagentskappe om te pleit vir die enigste bewese metode van MIV/VIGS-voorkoming. Die openbare joernaal vir gesondheidsbeleid, Health Affairs, het in 2009 berig dat die koste om die siekte slegs in die ontwikkelende lande te behandel, teen 2031 jaarliks $35 miljard kan beloop. Waarom weier die wêreldleiers en die belangrikste gesondheidsinstansies om die eenvoudigste en sekerste uitweg te volg om hierdie epidemie hok te slaan? Waarvoor is hulle bang?

Die omvang van MIV/VIGS-infeksie

Alhoewel die algehele aantal nuwe MIV-gevalle volgens die CDC gedaal het, was daar in 2016 nagenoeg nog steeds 1,8 miljoen nuwe gevalle wêreldwyd. MIV is die virus wat die siekte veroorsaak wat bekend staan as VIGS. Een miljoen mense sterf jaarliks aan VIGS en daar is 37,6 miljoen mense wat nou met MIV leef. Sedert die epidemie rondom 1981 begin het, het 35 miljoen mense aan VIGS-verwante siektes gesterf – ’n getal wat gelykstaande is aan die bevolking van Pole, die Soedan of die staat Kalifornië. Wát as die hele bevolking van een van hierdie nasies of die staat Kalifornië heeltemal uitgewis sou word? Dit is die wêreldwye impak van VIGS in net die afgelope 37 jaar.

Mense in ontwikkelde lande ervaar ook MIV-infeksies, maar teen baie laer koerse as dié in die ontwikkelende wêreld. Moontlik is dit waarom diegene in ontwikkelde lande deesdae so min van VIGS hoor. Volgens die CDC dra “Afrika, suid van die Sahara, die grootste las van MIV/VIGS, met tweederdes van die wêreldwye aantal nuwe MIV-infeksies in 2016. Ander streke wat betekenisvol geraak word deur MIV/VIGS, sluit in Asië, die Stille Oseaan, Latyns-Amerika, die Karibiese Eilande, Oos-Europa en Sentraal-Asië”. In Mei 2018 was daar ’n artikel in die New York Times met die volgende opskrif: “VIGS woed onbeheerst voort in Venezuela en plaas ’n antieke kultuur in gevaar”. Die Times het berig: “Die siekte bedreig ’n hele inheemse bevolking, die Warao-volk van die Orinoco Delta omdat regeringsprogramme ineenstort”. Venezuela is maar een van baie nasies wat deur VIGS oorrompel word.

VIGS weeskinders is ’n ander groep slagoffers wat in die afgelope jare wêreldwye aandag getrek het. Volgens die internasionale liefdadigheidsorganisasie “VIGS Weeskinders”, is daar wêreldwyd soveel as 25 miljoen VIGS-weeskinders. Wát as nie een van hierdie 25 miljoen weeskinders nodig gehad het om die VIGS-verwante dood van hulle vader of moeder of albei, te ervaar nie? Hoe anders sou hulle kinderjare en hulle lewens nie gewees het nie?

Geskiedenis van VIGS

Volgens AIDS.gov, was MIV en die uitbraak daarvan wat ons nou sien, die eerste keer wêreldwyd deur seldsame, opportunistiese infeksies geïdentifiseer wat in 1981 in oënskynlik gesonde homoseksuele mans voorgekom het. Binne ’n jaar het VIGS-simptome by babas verskyn wat besmette bloed deur bloedoortappings ontvang het. Minder as ’n jaar later, in 1983, het openbare gesondheidsondersoeke ontdek dat MIV – die virus wat VIGS veroorsaak – ook versprei is deur heteroseksuele kontak.

Tussen 2002 en 2011 het MIV-infeksiesyfers onder elke bevolkingsgroep in die Verenigde State afgeneem – behalwe onder homoseksuele mans (Journal of the American Medical Association, 23/30 Julie 2014). Onder homoseksuele mans tussen 13 en 24 en ouderdom 45 en hoër, het MIV-getalle toegeneem. Onder die 13 tot 24-jariges spesifiek, het MIV-infeksies meer as 130% toegeneem (ibid.). Volgens CDC.gov, het daar in 2016, 77% van die nuwe VIGS-gevalle in die VSA onder homoseksuele en biseksuele mans en dwelmgebruikers wat die dwelm inspuit voorgekom, terwyl 23% in heteroseksuele mans voorgekom het.

Volgens die VN spuit meer as 13 miljoen mense wêreldwyd dwelms in. Die VIGS-virus, MIV, word deur seksuele kontak met ’n besmette persoon versprei, deur besmette naalde te deel, van moeder tot kind tydens swangerskap, kindergeboorte of deur borsvoeding en deur middel van besmette bloedoortappings. Die uiteinde is egter dat HIV ’n seksueel-oordraagbare besmetting of ’n SOI is. Net soos ander SOI’s, is gedragspatrone die beste manier om hierdie dodelike siekte te beheer en te voorkom – soos selfs die beste openbare gesondheidsagentskappe weet en ook so onderrig. Daar is egter een bewese metode van MIV/VIGS-voorkoming, wat openbare gesondheidsagentskappe en regerings heeltemal ignoreer omdat dit nie polities korrek is nie. Dit is ’n etiese optrede wat toenemend verban is in ons moderne samelewing.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het ’n lys van ses sleutelvoorkomingstrategieë opgestel wat bestem is om die voorkoms van MIV en VIGS te verminder. Dit is:

  1. Manlike en vroulike kondoomgebruik
  2. Toets en berading vir MIV en Seksueel Oordraagbare Infeksies
  3. Vrywillige mediese manlike besnydenis
  4. Antiretrovirale geneesmiddelterapie
  5. Gebruik van naald-uitruilprogramme vir intraveneuse dwelmgebruikers
  6. Vermindering van moeder-kind MIV-oordrag (met inbegrip van toediening van antiretrovirale medikasie aan swanger moeders).

Wat is die opvallende weglating uit hierdie lys van voorkomende VIGS-strategieë? Terwyl die WGO mediese manlike besnydenis as ’n MIV/VIGS voorkomingstegniek voorstaan – alhoewel dit in baie kringe polities verkeerd is – het hulle nie die moed om die een aksie wat die goedkoopste en effektiefste MIV/VIGS voorkomingstrategie beskikbaar is, sterk aan te beveel nie: Beperking van seksuele aktiwiteit tot ’n monogame huwelik tussen ’n man en sy eie vrou!

Die Bybelse sleutel om VIGS te stop!

Ongeveer 3,500 jaar gelede het God, deur Sy profeet Moses, eenvoudige wette en insettinge gegee om Sy volk uniek en geseënd onder die nasies te maak. Baie van hierdie opdragte het betrekking op openbare gesondheid en maatskaplike infrastruktuur gehad, behalwe dié ter aanvulling van hulle godsdienstige gebruike.

In Exodus 15:26 beloof God: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak.”

Die Antieke Egiptiese geskiedenis toon dat hulle baie van dieselfde siektes gehad het as dié wat ons moderne samelewing teister, met inbegrip van hartsiektes, kanker, SOI’s en ander aansteeklike siektes. God het aan Israel gesê dat indien hulle Sy Wette sou gehoorsaam, Hy hulle teen allerhande siektes sou beskerm. Het God egter bonatuurlike beskerming beloof in ruil vir onderdanigheid of was daar meer daaraan verbonde?

Levitikus 26:14-16 waarsku: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek — dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering [of degeneratiewe siektes] en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag ...” Dit is ’n aanduiding van die simptome van sommige van die opportunistiese infeksies wat slagoffers van VIGS doodmaak. Hierdie siektes vernietig die immuunstelsel en veroorsaak dat die liggaam wegteer, soms letterlik die “vlees” en selfs die oë “wegteer” en dat die hart uiteindelik ophou klop.

Dit is belangrik om te onthou dat die Here van die Israeliete dieselfde Een is wat later Jesus Christus geword het. Hy is die Verlosser van wie die apostel Paulus in Hebreërs 13:8 gesê het dat Hy “gister en vandag dieselfde is, en tot in ewigheid.” Hy was dieselfde Wese as wat Hy vandag is en vereis nog dieselfde gehoorsaamheid as 3,500 jaar gelede. Hy wil diegene wat vandag gehoorsaam is, seën deur “nie een van hierdie siektes” op hulle te lê nie (Exodus 15:26), net soos Hy met die Israeliete van ouds wou doen.

Dit is ontnugterend om te besef dat hierdie Bybelse sleutel om VIGS te voorkom die een is wat wetenskaplikes, dokters en regeringsamptenare weet sal werk, maar te bang is om dit aan te moedig. Die meeste amptenare bedoel dit goed en wy hulle roeping daaraan om mense te help, maar hulle vermy dit totaal om hierdie kragtige voorkomingsmetode aan te beveel.

In die Bybel gee Exodus in hoofstuk 20 die Tien Gebooie. In vers 14 van daardie hoofstuk gee God ’n kort, duidelike opdrag wat, indien dit gehoorsaam word, die verspreiding van MIV/VIGS en feitlik alle SOI’s sal stop! Die opdrag se vyf eenvoudige woorde is: “Jy mag nie egbreek.” Jesus het hierdie opdrag in Matthéüs 19:17-18 herhaal. Die apostel Paulus het dit in 1 Korintiërs 6:18 nog sterker beklemtoon toe hy gesê het: “Vlug vir die hoerery.”

Vandag is “egbreuk” en “hoerery” verouderde terme. Ironies genoeg verloor hulle hulle betekenis omdat die definisie van die huwelik ook verander het. Om God se maatreël ter voorkoming beter te verstaan, moet ons verstaan wat owerspel of egbreek en hoerery volgens die Bybel beteken.

Omskrywing van “verouderde” woorde

Om egbreuk en hoerery te verstaan, moet ons besef wat hulle oorsprong in die Bybelse omskrywing van die huwelik is. God het die huwelik in Génesis 2 omskryf as tussen een man en een vrou. Hierdie heteroseksuele huweliksverhouding was ontwerp om ’n “goddelike nageslag” voort te bring (Maleági 2:15). God het ook die huwelik ontwerp as ’n middel om ’n man en sy vrou te help om een liggaam te word, fisies en geestelik (Génesis 2:24, 1 Korinthiërs 6:16). ’n Monogame heteroseksuele huwelik is die enigste plek wat God bedoel het vir ’n seksuele verhouding. Hy is die Ewige wat seks in die eerste plek ontwerp het! Hy het seks as ’n seën vir ’n man en sy vrou binne die huwelik ontwerp. Hy het alle reg om te bepaal hoe en wanneer dit gebruik mag word. God het bevel gegee dat seks buite die huwelik nie mag plaasvind nie – nie net voor die huwelik nie (dit is hoerery), maar ook nie met iemand anders as u huweliksmaat nadat u getroud is nie (dit is owerspel).

Hoe doeltreffend sou seksuele verhoudings in ’n monogame huwelik tussen een man en sy vrou die verspreiding van SOI’s soos sifilis, menslike papillomavirus (genitale vratte en servikale kanker), gonorree, herpes, hepatitis B en MIV/VIGS voorkom het? Die duidelike antwoord is dat hierdie siektes wesenlik binne ’n generasie sou verdwyn!

Waarom maak beperking van seks in ’n huwelik tussen een man en een vrou mense so kwaad? Miskien wil niemand voorgesê word dat daar ’n “regte” en ’n “verkeerde” manier is om te lewe nie. Die mensdom wil die vryheid hê om sy eie keuses te maak terwyl hy ook die gevolge ignoreer. Die pynlike werklikheid is egter dat ons optredes altyd gevolge het. In die geval van seksuele aktiwiteite buite die huwelik, is sommige van hierdie gevolge dodelik!

Génesis 1:26 herinner ons daaraan dat God die mens na beeld geskape het. God het ons ontwerp om baie siektes en selfs vorms van seksueel verwante depressie te vermy, indien ons kies om binne Sy definisie van die huwelik te leef. God wil ons en ons lewens seën. Hy is nie ’n selfsugtige en egoïstiese God wat in die skadu rondsluip en wag om op ons toe te slaan wanneer ons Sy gebooie verbreek nie. God het Sy Gebooie aan ons gegee om ons te beskerm en te seën (Deuteronómium 5:33), nie om ons te beperk en te straf en ons vryhede in te kort, soos baie mense verkeerdelik beweer nie.

Die hartseer ironie van MIV en VIGS is dat die Bybel die oplossing het waarna die hele wêreld smag – ’n oplossing wat ons wêreldleiers weet sal werk. Geen regdenkende kenner van volksgesondheid sal ontken dat die beperking van seksuele verhoudings tot ’n monogame, heteroseksuele huwelik, die verspreiding van ’n menigte van SOI’s, met inbegrip van VIGS, sou verhoed nie! Die Bybel beskryf voorkomende gesondheidsgedrag wat feitelik 100% effektief is om VIGS en ander SOI’s te stop en ons leiers weet dat dit sal werk! Wat ook opwindend is, is dat hierdie Bybelse voorkomende middels geen kontra-indikasies en geen nadelige newe-effekte het nie. Ongelukkig is te veel van ons leiers nie geïnteresseerd in die gesondheid van hulle mense nie. Hulle is meer geïnteresseerd in die werwing van stemme om hulleself in hulle amp te hou. Gevolglik het hulle natuurlik nie die moed om die politieke en maatskaplike teenreaksie te hanteer wat sou volg indien hulle sou toelaat dat die goddelike voorkomingspogings aangemoedig word nie.

’n Visie van die toekoms

Hoe sou die wêreld dus wees indien mense werklik die sewende gebod onderhou het: “Jy mag nie egbreek nie”? Stel u voor hoe die samelewing sou wees indien seksuele verhoudings net binne ’n huwelik tussen een man en sy vrou sou plaasvind. Hoe sou dit tienerswangerskappe beïnvloed? Hoe sou dit die verskynsels van afwesige vaders en enkelouergesinne beïnvloed? Wat sou gebeur met die wydverspreide en emosioneel verwoestende gruweldaad van verkragting? Hoe sou lewens en samelewings verander word indien alle kinders kon grootword in ’n gesin met ’n liefdevolle vader en moeder – albei teenwoordig omdat hulle nie aan VIGS gesterf het nie? Hoe anders sou gesinne gewees het indien hulle nie ’n geliefde moes sien sterf van VIGS-verwante aftakelende siektes nie? Die meeste van die 35 miljoen mense wat aan Vigs gesterf het, het gesinne gehad wat gely het wanneer hulle moes toekyk hoe geliefdes sterf. Baie kinders het toegekyk hoe hulle ouers sterf. Dieselfde lyding gaan vandag voort oor die wêreld heen. Hoe anders sou die wêreld vandag gewees het indien hierdie 35 miljoen mense nie gesterf het nie? Hoe anders sou die lewens van hulle gesinne en vriende gewees het indien hulle nie so ’n gruwelike verlies ervaar het nie?

Die lyding wat uit MIV/VIGS en die meeste ander SOI’s voortspruit hoef nie plaas te vind nie. Dit is heeltemal voorkombaar! Hierdie lyding sal in die nabye toekoms voorkom word, wanneer Jesus Christus weer kom en Sy Koninkryk op hierdie aarde vestig wat ten volle gebaseer sal wees op Sy liefdevolle, lewegewende Wette – Wette wat God verduidelik, vir ons eie beswil ontwerp is (Deuteronómium 10:13). Is dit nie die tipe lewe waarna almal op aarde werklik smag nie?

Een van die voormalige dinge wat sal verbygaan wanneer God se Wette ten opsigte van die huwelik ten volle onderhou word, is hierdie verskriklike siekte wat ons VIGS noem. Dit sal verbygaan omdat die leiers van hierdie toekomstige samelewing die moed, wysheid en liefde vir die mense oor wie hulle regeer sal hê, om hulle die waarheid te vertel oor hoe om sulke onnodige lyding te voorkom en hoe om ’n vreedsamer en oorvloediger lewe te leef. Hoe baie verlang u daarna om deel van so ’n samelewing te wees? Hoe innig hoop u op ’n tyd wanneer mense nie meer sal ly nie? Verlang u na ’n tyd wanneer die lot van VIGS-weeskinders een van die eertydse dinge sal wees waarna daar slegs in geskiedenisboeke verwys sal word?

In die Bybel gee God aan ons kragtige sleutels om siektes en die onvermydelike gevolge daarvan te vermy en te beëindig. Alhoewel die samelewing vandag nie belangstel nie, kan u kies om Sy Bybelse aanwysings noukeurig te volg. Indien u kies om dit te doen, is dit moontlik om baie van die seëninge betreffende gesondheid te beleef wat met gehoorsaamheid aan God se Wette en voorskrifte gepaard gaan.

Vir ’n meer gedetailleerde visie van hoe die lewe kan verander indien ons die gesondheids- en ander riglyne van die Bybel volg, vra vir ons boekie, Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien?